Foto's Greg Cox

DIE EIENAAR

Pieter Hoffman

WAAR Die plaas Twist Niet, tussen Vanwyksvlei en Carnarvon

GROOTTE 170 m²

Hier in die helder Karoo-son moet jy jou eie magic skep met wat jy in die hande kan kry, glo Pieter Hoffman. Vir hom het dit die jaar ná matriek met ’n stoepsittery op die plaas Twist Niet begin, in daardie sielsalige stilte wat jy diep in dié kontrei kry. Stokalleen. Geen hond by die voete nie, maar wors en ’n soutribbetjie in die droogkas. Dit was die jaar 2000, en Pieter het besef hy het nie ’n benul waarheen hy met sy lewe wil gaan nie.

Twist Niet, die plaas wat pa Stephen naby sy aftrede gekoop het, is ongeveer 30 km van Vanwyksvlei en 110 km van Carnarvon, die soort dorpe waar die kleinspan nader draf as ’n stadsmotor voor die koöperasie stilhou.

Van magic was hier geen sprake nie. Ook nie van elektrisiteit nie. Pieter het toegesien dat die damme reggemaak word, en saans was ’n PM9-batteryradio sy enigste geselskap. “Ek het die huis net-net leefbaar gemaak en ’n eenvoudige sementvloer oor die grondvloer laat lê,” vertel hy. “Die plaas het soveel werk nodig gehad.”

Intussen het hy van ’n mooi plaashuis met houtvloere en -kosyne gedroom. “Ek was teleurgesteld. Die huis met sy grondvloere en lae en lae tapyt het nie aan my drome voldoen nie. Mens kon sien die plaas het vir die vorige generasies hier net genoeg gegee. Die ou mense se vooruitgang kon jy mos aan die lae tapyt en verf meet,” vertel hy in sy rustige Karoo-aksent.

En so het die huis nog amper 18 jaar bly staan terwyl Pieter eers Stellenbosch Kollege (nou Boland Kollege) toe is om toerisme te studeer, en toe twee jaar Londen toe met ’n werkvisum. Terwyl die lewe vir ander twintigjariges daar ’n groot partytjie was, het Pieter elke pond gespaar wat hy kon afknyp. Pa Stephen was destyds bankbestuurder op Carnarvon, en die hartseer stories van plase wat noodgewonge verkoop moes word, het ’n lewenslange indruk gelaat.

Ná die Londen-jare is Pieter terug Carnarvon toe, waar hy sy eerste huis in 2006 gekoop het sonder dat hy besef het dit sou die eerste bousteen vorm van sy Lord Carnarvon-gastehuisgroep met 26 kamers, wat bestaan uit die Officer’s Mess, Lord Carnarvon Small Hotel en die Lord’s Kitchen-restaurant.

Rondom 2017 het Pieter gevoel sy taak op Carnarvon is volbring; sy gastehuise gaan goed aan, hy het intussen die Medisynekas-geskenkwinkel-en-apteek gekoop ... en daardie ou drome van die plaashuis met die houtvloere het al hoe harder begin praat.

Karoo farmhouse, patio, stoep, pink bathroom, stee
Twist Niet se voorheen vervalle plaashuis sit waardig in sy landskap, as’t ware “geraam” deur die vierkantige muurtjie wat Pieter voor laat bou het. “Dit anker die huis,” sê hy. Sonkrag het uiteindelik ook elektrisiteit na Twist Niet gebring. Sonkrag-installasie deur Danbez Traders

As Pieter van iets droom, moet oom Gerrit Louw van Carnarvon Boukontrakteurs dit maak, vertel hy oor sy hoë drankkabinet wat geïnspireer is deur ’n kas in die Mei 2019-uitgawe van Tuis. Die skildery bo die bank is Pieter se eie handewerk.

Die twee stoele was deel van die stel wat ouma Kitty vir Pieter in sy hoërskooljare gekoop het. Bo die bossie roosmaryn hang ’n gunsteling-skildery deur Johan Steyn.

Dis moeilik om te glo dié kaggel was nie altyd hier nie. Pieter het dit laat inbou. 

Die huis het nog sy oorspronklike binnedeure wat meestal deur vorige eienaars gemaak is. Dié een lei na die kombuis. Die koperlamp en ronde tafel was veilingkopies. Glastafel van Decofurn

Die rakke vol geel en amber glasware is Pieter se trots. Dit kom alles van “Carnarvon se tannies”, die Milnerton-mark en tweedehandswinkels. Die glasskinkbord op die boonste rak was ’n trougeskenk aan Pieter se ouers

Oral lê los matte van HofmeyrMills Auctioneers se veilings. Die sementvloer is afgewerk met Duram Flexement en verseël met Woodoc 25.

Die sementwerkvlak het ’n struktuur van lateie en is nes die vloere met Woodoc 25 verseël. Die plafonbalke is ou telefoonpale. Metro-teëls en wasbak van Italtile

Die ou spens is as opwaskamer en kookplek ingerig. Pieter het die lae venster perfek geplaas sodat hy Twist Niet se berg kan sien terwyl hy hier werskaf. “Van hier kan ek altyd die eerste stofwolk van my gaste sien.” Hanglamp van Herholdt’s Electrical Wholesalers

By die voordeur hang die huis se oorspronklike hoederak. “Dié skryftafeltjie is so klein, hy gaan eendag in my ouetehuiskamer pas,” skerts Pieter. Die “gatklippe” van San-mense kom van die plaas.

Oral is iets van mense wat ’n invloed op my lewe gehad het. – Pieter

Die hoofslaapkamer digby die voordeur was deel van ’n groot sitkamer wat in twee slaapkamers verdeel is. Links bo teen die plafon is een van die staalkabels wat die struktuur versterk, te sien. Die bouer Gerrit Louw van Carnarvon Boukontrakteurs het die hemelbed gemaak van vierkantstaal en “ ’n prentjie in Pieter se kop”. Die ronde mat kom van die Milnerton-mark en die geweefde mat was ’n veilingkopie. Hanglamp van Herholdt’s Electrical Wholesalers; deken van The Cotton Company

Die Frans Claerhoutskets bo die kers is een van ’n paar wat Pieter gekoop het nadat hy die kunstenaar besoek het. Hanglamp van Herholdt’s Electrical Wholesalers; beddegoed van Volpes; dekens van MRP Home

’n Projek met respek

Pieter het opnuut na Twist Niet se vervalle plaashuis begin kyk. “Die lewe is so kort; hoeveel huise kan ek nog regmaak,” het hy hom filosofies afgevra en besluit hy moet gebruik wat hy het. In die plaasskuur het ou vensterrame en deurkosyne van die Carnarvonhuise wat hy gerestoureer het, gewag.

“Hoe meer dinge ’n mens oorspronklik kan hou, hoe beter is die storie van die huis,” verduidelik hy. “Tannie Bettie Vermeulen, wat nou in ’n aftreeoord op Oudtshoorn woon, is hier gebore. Haar kinders boer nog hier naby en as sy vandag hier instap, kan sy aan die oorspronklike hoederak by die voordeur vat.”

Die uitleg binne was onprakties en ongesellig, met ’n behoorlike afstand tussen die kombuis by die agterdeur en ’n sitkamer voor. Maar in ’n huis waar kabels van buitemuur tot buitemuur gespan is om die struktuur te versterk, is die oplossing vir jou uitlegprobleme nie so eenvoudig soos mure uitbreek nie. Trouens, Pieter het ’n nuwe muur laat inbou om die oorspronklike sitkamer by die voordeur in twee nuwe slaapkamers te verdeel.

Net een muur is uitgebreek – dié tussen ’n slaapkamer en die oorspronklike eetkamer – om die nuwe groot sitkamer te skep. Oom Gerrit Louw van Carnarvon Boukontrakteurs het die bouwerk gedoen. Hy is vertroud met die ou plaashuise se strukturele kabels en mure gebou van stene wat in ’n steenoond gebak is. Dié is eenvoudig gevorm uit plaasgrond, met kaf om dit te bind.

“Jy gaan maar so stuk-stuk te werk en ons het die muur onder die kabels uitgebreek,” verduidelik Pieter op sy bedaarde manier as ’n mens hom hieroor pols.

[DIE DEKOR: ’N REIS NA DIE VERLEDE]

Die meubels, glasware en selfs geure van die dorphuise waar Pieter as enigste kind saam met sy ouers gaan kuier het, onthou hy in fyn detail – tot by die reuke van elkeen se Aga in die kombuis.

Die grootste invloed op sy styl was sy ouma Kitty van Heerden, op haar dag die burgemeester van Vosburg, wie se naam oral in geselse opduik. Wanneer die hele Hoffman-familie in Pieter se skooldae op Gansbaai vakansie gehou het, is dié twee en sy ma, Lizette, op die eerste dag altyd reguit na Dit & Dat, ’n tweedehandswinkel.

Wanneer hy deesdae mooigoed op Kaapstad se Milnerton-mark uitsnuffel, reis hy terug na kleintyd se kuiers. By Hofmeyr-Mills se veilings is hy so ’n gereelde gesig dat hy en die mede-eienaar, Paul Hablutzel, vandag goed bevriend is.

Hy raak erg nostalgies wanneer hy van die ou Karoo-veilings vertel. “Vooraf sou ’n man met ’n koperklok en ’n bord met ’n lys van goedere deur die strate stap, en die veiling so bemark.” Dit was wonderlike tye, maar Pieter onthou die hartseer verhale net so goed. “ ’n Tannie sou so onder ’n vyeboom op haar laaste kombuisstoel sit en kyk hoe haar hele lewe opgeveil word, tot die stoel waarop sy nog sit. Maar nou is daai generasies almal weg,” sê hy gelate.

Dis dié herinneringe wat sy wegbreekplek so spesiaal maak. “Hierdie huis is my hawe en ’n heenkome as ek net wil wegkom. Hier’s baie persoonlike goed wat ek nie met vreemdes wil deel nie. Oral is iets van mense wat ’n invloed op my lewe gehad het, en dit voel lekker. Dis wonderlik as mens ’n spoor kan laat.”

Die kleinste slaapkamer is as ’n ruim badkamer ingerig, met ’n tweedehandse bad en spieëls uit onder meer Pieter se Van Heerden- en Hoffman-grootouers se huise. Hy wou iets van die Karoo se helder sterre inbring, vandaar die teëls met die stermotief. FS Star-teëls in die kleur Sage van Tile House; metro-teëls van Italtile; groen handdoek van The Cotton Company; ander handdoeke van Mungo Design

Dié binnehof is tussen die plaashuis en ’n eenslaapkamerkothuis (links). Die swart tuinstel het Pieter by ’n klasmaat se ma, tannie Elsabé Potgieter, gekoop toe sy verhuis het. Plonspoel gebou en plaveistene gemaak deur Carnarvon Boukontrakteurs; mat van Decofurn; wit handdoek van Mungo Design; liggrys handdoek en swart-en-wit sarong van The Cotton Company

Pieter Hoffman met sy honde Bamsie en Mollie op die voorstoep.

Die agterstoep met sy “poustertstoele”, soos Pieter na die Adirondack-stoele verwys, en plantbakke uit die jare sewentig kry middagson en het ’n uitsig oor die vuurmaakplek (onder).

Die vuurmaakplek is omring deur ’n asbosskerm, net soos dié wat nomadiese veeboere jare gelede gepak het as beskutting teen wind en koue. Dit word elke jaar aangevul en raak uiteindelik dig en kompak. Mollie pas solank die vuur op. Buite- en binnemure geverf met wit Plascon Micatex

VERSKAFFERS

Carnarvon Boukontrakteurs 053 382 3685, 082 864 8531

Danbez Traders 084 444 4452

Decofurn 087 740 1800

Die Medisynekas 053 382 3219

Herholdt’s Electrical Wholesalers 051 447 1961

Hofmeyr-Mills Auctioneers 021 761 1803

Italtile 0861 555 109 

MRP Home 0800 212 535

Mungo Design 021 201 2374, 044 533 1395 

The Cotton Company 060 505 7894

Tile House 021 506 3020

Volpes 041 402 6800