Produksie Luanne Toms | Foto’s Elsa Young/Frank Features

WIE WOON HIER? Este en Walter Buchholz en hul kinders, Erwin (13) en Therese (10)

WAAR Vredehoek, Kaapstad

GROOTTE 110 m2

’n Mens moet jou hoed afhaal vir Este en Walter Buchholz, wat 16 jaar gelede hul huis in Kaapstad ongesiens gekoop het terwyl hulle nog in Londen gewoon het.

“Ons het die woonstel op ’n eiendomswebtuiste gesien en het ons hart verloor op die oorspronklike Arts & Crafts-detail in die gebou,” onthou Este. “Ons het in die 90’s ná universiteit in Vredehoek gewoon en het gehou van die gerieflike ligging; ons kon nie ons geluk glo toe daar ’n woonstel in dié ongelooflike ou gebou te koop is nie!”


Niks is hier net vir die mooi nie; elke artikel hou ’n spesifieke betekenis of herinnering in. – Este

Die plakkate teen die trapmuur tussen die leefarea en kinders se verdieping is ’n versameling van die paartjie se gunsteling-uitstallings en verskeie oorsese reise oor die jare.

Nadat ’n vriend, wat namens hulle na die eiendom gaan kyk het, nie uitgepraat kon raak oor die loodglasvensters en uitsigte op Tafelberg nie, was die wedloop aan om ’n aanbod te maak. “Dit was opwindend, en die onderhandelings is hoofsaaklik in die Turkse hoekwinkel daar in Hammersmith gevoer,” vertel Walter laggend. “As ek reg onthou, het ons rekening vir Turkse koffie en fakse later ’n klein fortuin beloop.”

Met die transaksie beklink, het die tweeslaap-kamerwoonstel hulle wortels in hul geboorteland gegee, asook blyplek wanneer hulle kom kuier het.

Die paartjie, wat op Stellenbosch ontmoet het as studente in politieke wetenskap, het nog 10 jaar in Londen aangebly, waar Walter sy meestersgraad in modeontwerp aan die London College of Fashion behaal het, terwyl Este as uitvoerende werwingsbeampte gewerk het. In dié tyd is hul kinders, Erwin en Therese, gebore – wat hulle vyf jaar gelede laat besluit het om permanent huis toe te kom.

In die leefarea word verskillende patrone, kleure en teksture gekombineer vir ’n dramatiese, treffende voorkoms. Este het die twee Art Deco-leunstoele by haar ouma en oupa geërf; die oranje-en-swart inksketse is deur ’n Franse kinderboekillustreerder.

Plascon het die donker-indigo kleur vir die sitkamermuur presies volgens Walter se spesifikasie gemeng. Art Deco-stoele oorgetrek in Palma Campari-lap van Hertex

Die vloer in die kompakte kombuis is bedek met ’n kombinasie van teëls wat die paartjie in Brittanje bymekaargemaak het en ander wat hulle plaaslik by Moroccan Warehouse gekoop het.

Planne word werklikheid

Aangesien Este en Walter albei groot aanhangers van binneontwerp is, het hulle in Londen lank beplan aan hoe hulle die ruimte sou aanpas sodat dit aan hul gesin se behoeftes voldoen. “Dit was ’n wonderlike deel van ons tuiskoms; ons het uiteindelik die geleentheid gehad om ons planne uit te voer,” sê Este.

Hul visie was om die uitleg te vereenvoudig en vertikaal tot in die dakspasie uit te brei. “Oorspronklik was al die leefareas op een verdieping, met te veel mure en gange,” verduidelik Walter.

“Van die klein ingang het ’n mens reguit teen ’n trap op vasgekyk in ’n muur aan die bopunt wat dan na die ou, aparte leefareas en twee slaapkamers gelei het.” Hulle het besluit om die trap ligblou te verf. Nie net helder dit die ruimte op nie, dit skep ook ’n gevoel van opwinding en intrige vir wat in die res van die ruimte voorlê.

Daarna het die paartjie elke liewe binnemuur op die eerste vlak uitgebreek, behalwe dié wat privaatheid aan die hoofslaapkamer en badkamer gee. So is ’n groot oopplan-leefarea geskep. Hulle het ook die kombuis se agtermuur, wat noord front, vervang met stapeldeure wat lig inlaat en een groot, oop ruimte skep van die kombuis af reg deur na die balkon, wat oor die volle lengte van die leefareas strek.

Aangesien dit ’n klein ruimte is, moes Este en Walter met slim planne vorendag kom om dit prakties te laat werk. Vir bêreplek het hulle verskeie mure bedek met kaste en boekrakke van die vloer tot die plafon.

Die grootste strukturele verandering in die woonstel was om die solderruimte te gebruik vir die kinders se slaapkamers, badkamer en ’n TV-/speelkamer. Die plan was om soldervensters uit te bou vir ekstra ruimte, maar die gebou se erfenisstatus het dit nie toegelaat nie.

Die vloerplanke in die leefarea is geverf met standaard- grys stoepverf om die ruimte lig en ruim te laat voel. Die gordynlap – genaamd Plant Life – is deur die Britse tekstielontwerper Louise Body. Kuipstoele oorgetrek in rooi-en-wit lap van Hertex; grys geverfde stoel oorgetrek in ’n vintage-Liberty Bauhaus-afdruk; lap op wiegstoel van Skinny laMinx

Die turkoois verf vir die fokusmuur in die hoofslaapkamer is spesiaal vir Este en Walter gemeng. Die twee koper-hangligte is by Sainsbury’s in Londen gekoop en verfraai met koper-blomkranse van Tord Boontje en ’n verskeidenheid voëls van sy en vere. Die paartjie het die bed by The Iron Bed Company in Londen gekoop. Gordynlap van Hertex

Ons is lap-versamelaars; elke stuk het betekenis vir ons en gelukkig werk als goed saam. – Este

Die stoep net buite die leefarea is ’n belangrike deel van die woonstel; dit sirkuleer vars lug en bied nog kuierplek vir die gesin.

Erwin kyk TV in die speelkamer, net buite sy en Therese se slaapkamers in die solder. Este het die oulike poewe gemaak met IKEA-lap as basis en materiaal wat sy sowat 12 jaar gelede in Spanje gekoop het. Gestreepte sitsakke van Ashanti Design

Kreatiewe inspirasie

Vandag is die 110 m2-woonstel ingeklee met ’n verskeidenheid kunswerke, meubels, boeke, artefakte, ontwerpitems, familiefoto’s en geliefde lap wat dit ’n plek van kreatiewe inspirasie maak. Dis ’n buigsame ruimte wat kan aanpas by die gesin se veranderende behoeftes.

Walter is ’n dosent in modeontwerp by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, en hy doen die meeste van sy administrasiewerk by die huis langs die eetkamertafel. “Hy kan so maklik die chaos van huiswerk en speeltyd om hom uitskakel; dis merkwaardig hoe hy kan bly fokus op wat hy gedoen moet kry,” sê Este. “Ek wens dikwels dat ek ’n stil hoekie in die malligheid van ’n besige gesin gehad het, maar die kinders is nou tieners en ek is deeglik bewus van hoe min tyd ons as gesin saam oorhet.”

Este is tans bedryfshoof vir The Nal’ibali Trust, maar sy begin binnekort ’n vryskutloopbaan as sakefasiliteerder; Walter werk aan sy eerste solo-kunsuitstalling – wat beteken hul kreatiewe ruimte gaan nou saam met hulle ’n nuwe hoofstuk in. “Ek dink dis wonderlik dat als in ons huis die verhaal vertel van ons 20 jaar saam as paartjie,” sê Este. In ’n wêreld van generiese interieurs is hul huis ’n vars bries en bied dit ’n blik op ’n ruimte wat ’n gesin met hul hartsgoed versier het.

Die wit metroteëls in die stort is gekombineer met grys voegbry. Metroteëls van Builders

Die metaalkaste wat die kinders as hangkas gebruik, was ’n Gumtree-vonds. Erwin se slaapkamer het ’n prettige fokusmuur van geel en wit strepe. 

VERSKAFFERS