Foto’s Francois Oberholster
Die helderblou tuinhek sit so half astrant tussen pragtige handgestapelde klipmure by Terry de Vries se huis op Barrydale. Die klip is pure Karoo, maar die kobaltblou hek herinner aan Mexiko.
Terry, ’n oudjoernalis en jare lange Stellenbosser, woon sedert Junie 2018 op Barrydale. Sy is ’n bondel energie, maar terselfdertyd ook die ene rustigheid. Hoewel sy ’n B.Sc.-landbougraad het, is sy deesdae ’n transformasie-fasiliteerder en bied sy jogaklasse, labirintstappe en meditatiewe stilwordsessies aan by haar plek, Kamala Retreat House.