Foto’s Francois Oberholster l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Charles en Candice Nortje; hul apporteerhonde Grace, Delilah, Lily, Summer en Bluebell; en die Skotse terriër George

WAAR Kommetjie, Wes-Kaap

GROOTTE 342m²

Die Nortjes het die kombuis saam met hul argitek, Steve Lennard, ontwerp; daarna het Phil Bettison, ’n skrynwerker van Kommetjie, die kaste geïnstalleer. “Dit was vir ons belangrik om soveel plaaslike verskaffers en vakmanne moontlik te gebruik,” sê Candice. Tolix-stoele van Beach House Living

Candice maak al jare lank kombuistoestelle in skakerings van akwamaryn en ment bymekaar.

Vir die huis se interieur het die paartjie ’n helder oopplan-ruimte voorsien met hoë plafonne, ontblote dakbalke en soveel vensters moontlik om die uitsigte en natuurlike lig ten beste te benut. ’n Dakvenster in die leefvertrek het veral saans ’n spesiale bekoring wanneer die maan daar inskyn. Eetkamertafel van Block & Chisel; leerrugstoele van Beach House Living; seemeeu in vlug van MRP Home

"Ons huis is ons toevlug uit die chaos van die wêreld daarbuite. Daar’s regtig geen ander plek waar ons eerder sou wou wees nie …” sê Candice Nortje, wat in die kusdorpie Kommetjie woon.

Met ’n skerp oog vir dekor en die slag om die regte dekor-items saam te voeg, is ’n veilige hawe presies wat Candice in die Nortjes se verruklike huis in die Klein Slangkop-ekolandgoed, tussen ongerepte strande en die Tafelberg Nasionale Park, geskep het.

“Dis regtig so na as wat ’n mens aan idillies kan kom. Dit voel asof ons heeltyd met vakansie is – alhoewel dit net 45 minute se ry van Kaapstad af is.”

Candice is vanjaar se wenner van Tuis se Rookie Stylist-kompetisie in vennootskap met MRP Home. Haar inskrywing het uitgetroon bo die meer as 1 700 Instagram-inskrywings wat ons van lesers ontvang het – almal met lieflike hoekies wat hulle in hul eie huise mooigemaak het. Dis geen wonder dat die res van Candice se huis net so indrukwekkend en propvol kleurinspirasie is nie.

Die bouwerk

Candice en haar man, Charles, het gereeld verby die erwe in die landgoed gestap en gedroom oor hul eie perfekte strandhuis omring deur fynbos. In 2013 het hulle ’n geloofsprong gemaak en ’n eiendom hier gekoop. Bouwerk het in 2014 begin en hulle kon in 2015 intrek.

Om so na aan die strand te bou, het ’n eiesoortige stel struikelblokke opgelewer. “Daar is streng maatreëls wat moet verseker dat die brose ekostelsel so min moontlik tydens die bouproses versteur word,” verduidelik Candice.

Die Nortjes het die landgoed se bouriglyne na die letter gevolg, met oorvleuelende plankbekleding aan die buitekant – een van die klassieke elemente van die Cape Cod-styl – as deel van die ontwerp. Die argitek Steve Lennard, wat ook in die ontwikkeling woon, het die planne opgetrek.

Die huis staan hoofsaaklik op seesand, daarom is ’n betonblad gegiet en die onderste verdieping gebou van bakstene en sement vir sterkte en stewigheid. Die boonste vloer, met ’n houtraamstruktuur, is bo-op gebou.

Nadat die voltooide houtraamwerk geïsoleer is, is die huis aan die buitekant met Nutec-planke in ’n tradisionele oorvleuelende patroon beklee. Dié bekleding is uiters duursaam en bied merkwaardig goeie weerstand teen die seelug. “Dit verg verrassend min onderhoud, wat dit ideaal vir ons huis hier teen die kus maak,” sê Candice.

In die fynste detail

Toe die Nortjes gereed was om in te trek, het Candice ’n duidelike prentjie gehad van hoe sy hul huis wou inklee.

“My mikpunt was ’n stylvolle see-toevlug – nie jou stereotipiese strandhuis nie, eerder ’n tydlose ruimte met informele sjarme.” Met dié doel voor oë het sy wit meubels aangevul met laag op laag bykomstighede in ’n palet van pastelle wat herinner aan getypoele, dryfhout en sandverweerde glas.

Candice het reeds jare voor hul droomhuis werklikheid geword het, mooigoed daarvoor begin bymekaarmaak. “My oog vang dadelik enigiets in ’n mentgroen, turkoois of akwamaryn palet! Party mense sou dit ’n obsessie noem, maar ek verkies om dit te sien as ’n algehele verbintenis tot dit wat vir my mooi is,” verduidelik Candice met ’n breë glimlag.

“Ek glo die dinge waarmee ons ons omring kan lukraak en sonder betekenis wees, óf dit kan die kern van wie ons is en waarvan ons hou, weerspieël.”

Dis vir Candice heerlik om haar mooigoed rond te skuif, daarom is die rakke en ander oppervlakke versier met weldeurdagte klein stillewes wat kort-kort verander. Die resultaat is ’n huis wat nie net ’n ontwerpstelling maak nie, dit vertel ook die ontvouende verhaal van die mense wat hier woon. “Die stilering van ons huis is ’n voortdurende proses. Dit maak die ruimte lewendig en interessant, en hou kosbare herinneringe in.” 

greenway, nortje, kommetjie, beach house, clapper

’n Patryspoortvenster verleen ’n skeepselement aan die ingangsportaal. Die kompasontwerp van mat glas deur Window Art is simbolies van die reis wat die Nortjes na hul droomhuis onderneem het. Hulle het saamgestelde eikehoutvloere vir die hele huis gekies. Hoewel dit soos regte hout lyk, is dit beter bestand teen wisselende temperature en humiditeit, wat dit ideaal maak vir toestande teen die kus. “Dis ook uiters slytbestand en hanteer sanderige voete en die honde se nat pote baie goed,” sê Candice. Vloere ingesit deur Forest Flooring

Kraffie en glase, turkoois emalje-emmertjies as kruiepotte en turkoois Pastel Hamman Stripe-strandhanddoek van MRP Home

Broodblik, plantpot, koekiefles en koekstaanders en koepels van MRP Home; kroegyskas van Checkers

Aluminium-veiligheidshortjies van Plantation Shutters was uiteindelik die perfekte vensterbekleding. “Dis so veelsydig en verskaf wisselende vlakke van lig, veiligheid en privaatheid – iets wat gordyne of blindings jou nie bied nie,” sê Candice.

Prentlyste en huisvormige rakkies van MRP Home

Wit koekiefles, mentkleurige koffieblik, koekstaander en koepel van MRP Home

CANDICE SE WENKE VIR STILERING IN ’N BEPAALDE PALET

• As jou begroting knap is, maak voorwerpe met verloop van tyd bymekaar en belê in ’n paar spesiale stukke wat tot jou spreek.

• Kies ’n fokuspunt en bou jou dekor daarrondom met artikels in dieselfde skakering, asook neutrale tone vir balans.

• Wanneer jy ’n versameling monochroom voorwerpe stileer, kan jy visuele trefkrag skep met verskillende vorms, groottes en teksture.

• Versamelings het groter impak wanneer dit in ’n groep bymekaar, pleks van rond en bont in ’n ruimte, geplaas word.

• Skep visuele grense en vermy ’n roesemoes deur voorwerpe op ’n rak, in ’n kas of op ’n skinkbord te stileer.

• Vir ’n gevoel van tydloosheid, kies dinge wat met jou hart praat, nie volgens die heersende mode nie.

In die leefvertrek het Candice ’n basiese raamwerk van wit meubels gekies met gelaagde bykomstighede in skakerings van akwamaryn. ’n Skuifdeur met ’n patryspoortvenster steek die opwashoekie weg. Wit L’aubagne-kandelaber van Ambiente Luce; grys kuipstoel van Block & Chisel; turkoois hondekussing van Ora Pets; groenblou en ment Tweedle Weave-kussings van MRP Home

Candice het die binne-afwerking skoon en eenvoudig gehou. “Ek wou ’n helder, lugtige atmosfeer deur die hele huis skep, en het daarom ’n hoofsaaklik wit palet gekies.” “Vitamin Sea”- houtwoorde van Bokke & Blomme

Dié boekrak in die tuiskantoor is Candice se grootste trots. “Dit vertel van twee mense wat graag reis, lees en kos maak, en ’n groot liefde het vir die see en die wonderlike lewe daarin.”

“Ons het sowaar al walvisse hier uit die bed gesien! Ek glo nie baie mense kan op so ’n voorreg aanspraak maak nie,” vertel Candice. Kopstuk van The Bedroom Shop; bedkassies van @home; blou hanglampe van Fidders; mentkleurige kussing van MRP Home

Candice en Charles het ’n laag mat viniel teen die dubbelglas-daklig geplak om die lig te versag en hitte te bestuur. Stortkop van Victorian Bathrooms

’n Daklig oor die hele agterkant van die badkamer laat lig by die vertrek instroom. Bateau-bad van Victorian Bathrooms; wit keramiekvoëltjies op kamerverdeler van MRP Home

Verfkleur op die deur: Plascon Surf’s Surprise

Seafoam-bandana van Kingsley and Gray

VERSKAFFERS

@home 0860 834 834

Ambiente Luce 021 853 2555

Beach House Living 028 313 0383

Block & Chisel 087 015 0181

Fidders 021 886 4655

Forest Flooring 021 461 3565

Kingsley & Gray 083 680 8444

Lennard & Lennard 021 783 2624

MRP Home 0800 212 535

Ora Pets 021 200 0466

Phil Bettison 082 649 7130

Plantation Shutters 021 577 1705

The Bedroom Shop 044 382 2835

Victorian Bathrooms 021418 0855

Window Art 087 550 3030