’n Houtdek maak oop op ’n inheemse, waterwys tuin waar die gesin op windstil dae en aande kuier; ’n buitemat van herwinde plastiek rond die area af. Spatsels lig- en donkergroen verleen trefkrag aan die strak wit muur. Tafeldoek van H&M Home
Foto’s Henrique Wilding | Stilering Misi Overturf
Roché en Barend Potgieter met hul dogter, Núa Nova (5)
WAAR Simondium, Paarl
GROOTTE 235 m2
Die stad het sy voordele, maar soms raak dit als net te veel.
Daarom het Roché en Barend Potgieter nie twee keer gedink om hul trendy blyplek in die stad agter te laat en Wynland toe te trek toe ’n eenvoudige drieslaapkamerhuis langs Roché se pa se olyfplaas op Simondium in die mark kom nie.
“Ons wou graag hê ons dogter, Núa Nova, moet op ’n grasperk kan speel en oop ruimtes verken,” verduidelik Roché hul besluit om Kaapstad se middestad te groet. “En ek wou graag ’n uitsig hê!”
In ’n vinnige opknap van drie maande het hul doodgewone dubbelverdieping-dorpshuis ontpop in ’n stylvolle plattelandse villa. Hul slim aanbouings sluit ’n was-en-nutskamer en ’n tweede sitkamer met ’n ingeboude braai in. “Die idee was om ’n kalm ruimte te skep met gemaklike vloei en genoeg ruimte vir kindervriendelike kuiers,” sê Roché. “Ter wille van veiligheid en gerief wou ons direkte toegang na die huis uit die motorhuis hê, daarom het ons ook die ingang aangepas.”
Houtskoolgrys mure en kaste in die beskeie kombuis skep ’n naatlose voorkoms. ’n Pasgemaakte staal-en-houtraam deur die Jones Group skep ’n nuttige ontbytkroeg aan die agterkant van die stoof en vergroot as’t ware die kombuis.
Kashandvatsels en houtrakke van Ikea; hanglampe van Builders; vadoek van Mungo; ronde seetoneel gedruk op pleksiglas van Photoblox
Kreatiwiteit en kleur
Barend is ’n digitale bemarker en Roché is die dryfkrag agter Photoblox, ’n druk- en ontwerp-ateljee wat in pasgemaakte dekor spesialiseer. En haar kreatiwiteit is duidelik te sien in die manier hoe sy haar huis se mooimaak benader het. ’n Belangrike element van die opknap is die treffende kleurskema.
“Ons woonstel in die stad was kleurryk en besig, en in die nuwe huis wou ek als eenvoudig hou,” sê Roché. Sterk, skoon geometriese lyne en selfversekerde gebruik van houtskoolgrys verf oorheers die ontspanne interieur sonder dat dit te steriel of gestileerd voel. Kuns oorheers ook nie die mure nie – ’n voorkoms in lyn met die Potgieters se pretensielose, afgeskaalde styl.
Die gesin bring ’n groot deel van hul tyd in die binnehof deur wat ’n veilige, windbeskutte speelplek vir Núa Nova én genoeg sitplek vir die grootmense bied. “Ons het wel ’n tuin, maar ons leef omtrent in die binnehof met sy kunsgras, veral in die somer,” sê Roché. “Núa lê graag onder die sterre in haar tent en wanneer die Paarl se hittegolwe tref, bad ons haar sommer buite in ’n emmer!” Vir nog kindervriendelike ruimtes het die Potgieters ’n pophuis en pakplek vir speelgoed onder die trap gebou. “Só kan al haar speelgoed maklik weggepak word en die huis lyk in ’n japtrap weer netjies,” sê Roché.
Danksy die nuwe 6 x 5 m-braaikamer kan Barend ’n vuurtjie aansteek ongeag die weer. Rakke bied staanplek vir vase, braaihout en ander items. Die trap lei na die drie slaapkamers bo.
Oop gloeilampe van Builders; beesskedel van BlocArt; houtkis van Plastic World
Swart Forescolor-akrielbekleding was ’n elegante, bekostigbare oplossing vir ’n klein probleem met klammigheid langs die trap.
Die trap lei na die drie slaapkamers bo.
’n L-vormige rusbank bied ruim sitplek in die leefvertrek waar ’n grafiese mat die ruimte anker. ’n Ronde koffietafel eggo die ronde afdruk teen die muur en Roché het ’n Krohk-kunswerk van superbalist.com op hout geblok. Die grys tema strek reg deur – tot by die ingeboude uitstalkas.
L-vormige rusbank van @home; mat van Incanda; strooikussings van MRP Home
Photoblox het die teëlmotief vir die spatpaneel op pleksiglas gedruk. Die vloerteëls spog met handgetekende geometriese motiewe. Teëls van Stiles
Die storie agter Photoblox
Nadat Roché in Kaapstad en Londen by argitekspraktyke gewerk het, het sy argitektoniese animasie gaan studeer. “In daardie tyd het ek begin eksperimenteer met die ontwerp van platverpakte meubels. Die maatskappy wat ek gekontrakteer het om my saagwerk te doen, het ook ’n drukker gehad, en so het ek in my vrye tyd begin rondspeel met die drukker,” verduidelik Roché.
Nadat sy ’n paar mooi Instagram-foto’s op hout gedruk het as verjaardaggeskenk vir haar niggie, is die idee vir Photoblox gebore. Vandag druk die firma motiewe, foto’s, afdrukke en ander dekor op alles behalwe papier. “Kort voor lank was ons so besig dat ek nie tyd vir my oorspronklike loopbaan gehad het nie – maar ek was soveel gelukkiger,” sê Roché. “Vreemd hoe alles uitgewerk het. Photoblox het my na my eerste belangstelling, binneruimtes, laat terugkeer en ons het nou uitgebrei na ‘printeriors’ – digitaal gedrukte dekor.”
Die onderneming druk ook hout-muurteëls in enige patroon van jou keuse en maak treffende spatpanele vir kombuise van hul bekende Plexitiles (versierde teëls van pleksiglas). Die jongste toevoeging tot hul aanbod is ’n reeks stylvolle wasbakke.
Slim oplossings
Waar moontlik is kaste, skrynwerk en vloerbedekkings behou – ’n besluit wat lig op die Potgieters se sak én die omgewing was. En toe ’n lelike klam kol in die ingangsportaal sy verskyning maak, was Roché gereed met ’n bekostigbare oplossing. Die ruim area is nou beklee met drie blaaie Forescolor (’n nie-giftige, ekovriendelike houtveselbord) wat in verskillende diktes en kleure te kry is by Photoblox.
Deur slim veranderings en aanpassings is ’n naatlose onthaalruimte in die leefarea geskep. Die kombuis is oopgebreek en vergroot deur ’n staal-en- houtstruktuur aan die leefvertrek se kant by te voeg wat as ontbythoekie dien. Op die boonste verdieping is die muur tussen die hoofslaapkamer en sy en suite ook oopgebreek sodat dit nou ’n lugtige toevlug is met ’n fantastiese uitsig op die Simonsberg.
Aangesien Photoblox uit ’n vraghouer op Roché se pa se plaas bedryf word, het sy nie die frustrasie van pendel in spitsverkeer nie – wat beteken sy het meer tyd om in dié lieflike huis uit te span. En wanneer die stadsliggies roep, kan die gesin in hul kompakte blyplek naby Kloofstraat, wat andersins op Airbnb verhuur word, oorbly. “Dis die beste van twee wêrelde,” sê Roché.
In die en suite-badkamer is ’n pasgemaakte staal-wasbakkas deur Photoblox. Die twee bypassende glyvaste matte pas perfek by die huis se geometriese tema.
Matte van H&M Home
Kunsgras in die binnehof en slim geplaaste plante skep ’n rustige oase. Banke van palethout en ’n poef verskaf oorgenoeg sitplek, terwyl ’n seilbedekking vir skadu sorg.
Die ou ingeboude kaste in die hoofslaapkamer het ’n vars voorkoms gekry met berkehout-panele. Om die lig en lieflike berguitsigte te benut het Roché en Barend die muur tussen die kamer en sy en suite uitgebreek – nou is die ruimte ’n ware toevlug vir die paartjie.
- ’n Donker skakering, soos houtskool, hou die voorkoms skoon en kalm, en laat eintlik kleiner vertrekke groter lyk.
- Moenie huiwer om een toonkleur deur die hele huis te gebruik nie.
- As jy jong kinders het, kies bekostigbare, eenvoudige en duursame meubels en bykomstighede. Dis onnodig om te belê in huisware wat te kosbaar is om te gebruik.
- Hergebruik of herbenut materiale waar moontlik.
Omdat ruimte knap is, is die bedlampies ingebou in ’n pasgemaakte staal-omranding wat oor die baksteen-kopstuk vou. Dit versterk die sjiek industriële styl in die ruimte.
Bedlampies van Décor Lighting; staalwerk deur die Jones Group
- @home 0861 111 761
- BlocArt
- Builders 0860 284 533
- Coolaroo 021 701 0787
- Décor Lighting 021 872 9147
- H&M Home 0860 690 707
- Ikea 079 966 4923
- Incanda 021 914 5832
- Jones Group 021 300 1397
- MRP Home 080 021 2535
- Photoblox 082 419 6280
- Plastic World 011 493 8492
- Stiles 021 510 8310
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET