Foto’s Henrique Wilding

WIE WOON HIER?

Liam Ghani en Brian Prehn en hul Ierse terriër Zuko

WAAR Stanford in die Overberg

GROOTTE 270m²

Swart metro-teëls in die dakstruktuur baken die kombuis af. “Dit pas by die ander industriële elemente, soos die eiland se raam, asook die swart kraan en wasbak,” sê Liam.

’n Strukturele betonbalk strek reg rondom die leefvertrek en deur die gang waar dit die atrium omraam. Dit vorm ’n belangrike skakel tussen die ruimtes. Die vloerteëls van handgesnyde andesietklip uit Bali was ’n winskopie toe ’n plaaslike ontwikkelaar geldelik in die knyp was.

Daar’s ’n eerlikheid aan ontblote balke wat ek waardeer; dis asof die huis niks hoefweg te steek nie. – Liam

"Beskeie van buite maar alte astrant van binne.” So beskryf Liam Ghani die huis wat hy en sy man, Brian Prehn, langs ’n rivier gebou het toe hulle die Kaapse suidelike voorstede vir ’n landgoed langs die bekoorlike dorpie Stanford in die Overberg verruil het.

Overberg verruil het. Brian, wat vir ’n nie-regeringsorganisasie werk wat geletterdheid bevorder, het die meer visueel ingestelde Liam, wat kunsfotografie gestudeer het, vrye teuels gegee met die ontwerp. Laasgenoemde het in die Maleisiese staat Penang grootgeword en op die ouderdom van 16 na Brittanje verhuis.

Argitektuur was nog altyd sy passie, daarom was die ontwerp en bou van hul eie huis ’n droom wat waar geword het.

“Ek is mal oor huise wat niks van hulle binnekant verklap nie; dis ook die geval met hierdie huis,” vertel Liam, ’n kosblogger (TheMuddledPantry.com) en mederedakteur van die e-tydskrif Masters of Malaysian Cuisine (MOMC). Erwe langs die rivier in die landgoed kom selde op die mark en hulle het een van net twee wat in 2019 te koop was, opgeraap.

Van die veranda kyk jy uit tot by die Kleinrivierbergreeks in die verte. Tog wou Liam beslis nie die soort huis hê waar “alles om die uitsig” draai nie. “Natuurlik was ’n uitsig soos dié nie te versmaai nie, maar dit moes vir my nooit voorrang bo die huis geniet nie.

“Ek wou eerstens ’n huis hê wat toevallig ’n mooi uitsig het, nie ’n uitsig met ’n huis as nagedagte nie. ’n Gemaklike, leefbare blyplek het voorrang geniet en hoewel die uitsig asemrowend is, was dit belangrik dat ons ruimtes skep wat jou intrek en oorrompel voor dit jou na die panorama lei.”

Liam was geïnspireer deur Oosterse huise met binnehowe en het vorendag gekom met ’n ontwerp wat uit ’n sentrale atrium gegroei het – dis verreweg die vernaamste argitektoniese aspek van die uitleg en onlosmaaklik deel van die geslaagde ontwerp. “Danksy die atrium kon ons ’n huis wat wesenlik vierkantig is, omskep in een met talle verrassende aspekte,” verduidelik hy.

Dis nou net meer as ’n jaar sedert die eerste sooi in Januarie 2020 gespit is. Hul huis was vroeg in Desember 2020 klaar, ná wat Liam beskryf as “’n pynlike vertraging weens Covid-19” wat die bouproses van nege tot 11 maande uitgerek het.

“Alles in ag genome was die proses verrassend probleemvry danksy ons wonderlike bouer, Eugene Theron. Buiten ’n muur wat tydens ’n dramatiese winterstorm omgewaai het en ’n fiasko met die kombuis se dakkappe, het dit vir ons as groentjies sonder haakplekke verloop.”

Brian en Liam vind die rustige leefwyse in Stanford baie aangenaam. “Ons mis glad nie die stadsliggies nie. Wie weet, dalk begin ek weer aandag gee aan my roman wat net nie klaarkom nie…” mymer Liam met ’n glimlag.

Hangstoel van @home

Die boekrak strek van die eetkamer tot teen die veranda. “Ek het hopeloos te veel resepteboeke,” bieg Liam. “Die laaste keer dat ek getel het was daar by die 200 – en dit was nadat ek uitgedun het! Maar ons hou van lees ook.” Boekrak gemaak deur Your Style Cupboards; die uittrektafel was ’n geskenk van Liam se ma; die stoele was tweedehandse kopies

Liam se bonsaiversameling gedy in die sentrale atrium waar groot glaspanele soggens die lig by die kombuis laat instroom en laatmiddag die gang opwarm. “Saans is die skaduwees wat die boompies gooi eenvoudig hemels,” sê hy. Die oudste boom in sy versameling is sowat 30 jaar oud en onder sy gunstelinge is daar ’n “pragtig wollerige Hinoki-sipres en ’n iesegrimmige Arcadia wat – nes ’n kat – telkens die bloed laat loop wanneer ons daaraan raak”.

Hardwerkende kombuis met ’n ontspanne landelike styl

Die industriële dog gesellige atmosfeer van die kombuis is in skrille kontras met die Oosterse elemente in die ander leefruimtes. Liam verduidelik: “Ek was nog altyd ’n tradisionalis wanneer dit by kombuise kom, daarom het ek geweet ek wil ’n ontspanne en tydloos landelike styl hê, maar met erkenning aan moderne invloede. Dit het net reg gevoel om die swart elemente wat reg deur die interieur te sien is met industriële elemente soos die swart metaaleiland, kraan en wasbak te verbind.”

Hoewel hy homself nederig beskryf as “ ’n produktiewe tuiskok wat smag na huiskos ver van die huis af”, bied Liam regstreekse kookdemonstrasies vir MOMC aan. Daarom moes sy kombuis meer as net ’n mooi ruimte wees.

“Genoeg spensruimte was nog altyd vir my belangrik, veral omdat ek my Oosterse bestanddele in groot maat koop. Daarby was ’n groot eiland met genoeg plek vir my resepteboekversameling én my vyf woks noodsaaklik; dit werk ook goed vir filmopnames. Die oop rakke gee my maklike en onmiddellike toegang tot alles wat ek nodig het wanneer ek kos maak en regstreekse demonstrasies aanbied.”

LIAM SE KOMBUISONTWERPWENKE VIR TUISKOKKE

• Probeer al jou bestanddele bymekaar bêre. My gunsteling-ontwerpelement is die twee spenskaste langs mekaar: een vir al my Oosterse bestanddele en die ander een vir Westerse bestanddele.

• Ek is glad nie ’n aanstellerige of netjiese kok nie, daarom is stewige werkblaaie onontbeerlik. Ons kombuisoppervlakke is van steierplanke gemaak, so ’n mens kan maar rof daarop werk. Mettertyd sal dit juis daarom nog mooier raak!

• Die eiland het ’n marmerblad. Ek weet dis nie altyd die mees praktiese keuse nie, maar ek wou ’n natuurlike materiaal hê wat die hout sou komplementeer. Ek maak net seker die lemmetjiesap en borrie kom nie naby die marmer nie. 

Swart metro-teëls van Tiletoria

Die vintage-boogdeur na die opwasdeel sal die paartjie altyd herinner aan die dag toe hulle besef het hul stadslewe is verby. Baai Gones, die tweedehandswinkel in Gansbaai waar hulle die deur gekoop het, het nie kredietkaarte aanvaar nie. Maar Liam onthou hoe verstom hulle was toe die eienaar sê: “Geen probleem nie; doen net ’n EFT wanneer julle by die huis kom.” Kombuiskaste en groen spenskaste gemaak deur Your Style Cupboards; hanglig bo die eiland van The Lighting Warehouse; staalwerk deur André Taljaard; teëls teen spatpaneel van CTM

Die los matte hou goeie herinneringe in van Brian se reise na Turkye sowat 35 jaar gelede.

Liam is dankbaar oor die grys voegbry tussen die teëls agter die stoof wat sy kerriespatsels wegsteek. ‘Vat dit as ’n wenk van ’n morsige kok,’ sê hy

Van die toegeboude veranda geniet die inwoners die asemrowende uitsig oor die rivierbedding tot by die Kleinrivierberg. Die rusbank is vir Liam net die beste plek om “agteroor te sit, te kyk hoe die wolke verbyrol, ’n boek te lees of te dut”. Die kis wat as koffietafel gebruik word, was Brian se oorlede ma se reiskis; Liam het gesorg dat dit ’n glasblad kry.

Liam noem dié portret sommer “ouma en oupa”. “Ek het baie basiese Afrikaans opgetel deur jare lank 7de Laan te kyk,” skerts hy.

Oosterse elemente, soos hierdie kas, is deur die hele huis te sien.

Vintage-vondste soos die geel kantoorkas skep ’n ingeleefde gevoel in die hoofbadkamer. “Ek was met die eerste oogopslag mal oor daardie kas. Verfwerk soos dié kan g’n mens namaak nie!” sê Liam. Wasbak van CTM; metro-teëls van Italtile

‘Wie het nou weer ...?’

Dis ’n ou grap in die Ghani-Prehn-huishouding dat Liam onmiddellik weet wanneer enigiets net millimeters geskuif is. “Ek het grootgeword in huise waar elke ding sy plek het, daarom is presiese groeperings diep by my ingewortel. Nie een ding in dié huis is sonder oorweging geplaas nie,” verduidelik hy.

Ryk kleurspatsels en natuurlike vesels soos goiing en klapperhaar skep warmte tussen industriële elemente soos beton, ongepleisterde bakstene en oop dakkappe.

“Ek meng en pas graag elemente waarvan ek hou sonder dat dit noodwendig ’n bepaalde styl volg; die industriële elemente gee hier ’n moderne gevoel wat andersins sou ontbreek en hou ons kosbare versameling meubels altyd vars en relevant.”

Brian rol net sy oë wanneer Liam hom as “esteties gestrem” beskryf. “Brian se vernaamste bydrae was motivering,” sê Liam. “Hy is grotendeels ’n ‘doen dit nóú’-mens, en het my aangespoor om die plek teen die spoed van lig klaar te kry. Alles in die huis was so te sê uitgepak en op hul plek binne net drie weke!

“Aangesien ons skuif na Stanford grootliks my idee was, het ek myself gedwing om iets spesiaals te vermag wat die leefstylverandering wat ek begin het, die moeite werd sou maak. Hopelik het ek daarin geslaag.”

Die hoofslaapkamer het ’n nimmereindigende rivieruitsig”. Brian het die koperbed sowat 30 jaar gelede ontwerp en laat maak. Groen mure bring hulde aan die natuurskoon.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@home 0860 576 576

André Taljaard 083 302 9269, villagesteeldecor@gmail.com

Baai Gones 028 384 2270

Block & Chisel 021 691 0878

CTM 0861 433 337

Elevenpast

Eugene Theron 084 208 5165

Italtile 0861 555 109

Sofacompany 021 200 5904

The Lighting Warehouse 011 201 2621

Tiletoria 021 511 3125

Your Style Cupboards 082 327 6518