Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

Toe die binne-ontwerper en keramiekkunstenaar Michael Hogan 15 jaar gelede sy plasie hier naby Skeerpoort koop, was dit ’n verwaarloosde stuk grond met ’n afgeleefde huis uit die sewentigerjare. Deesdae spog dit met ’n massiewe tuin wat so besonders is dat dit een maal per jaar, wanneer hy die tuine oopstel vir besoekers, duisende mense lok. En sedert die huis ook met sorg opgeknap is, is dit ’n lushof op sigself.

“Ons het die skuur waarin voorheen tabak gedroog is en rondawels wat buitegeboue was, by die nuwe huis ingesluit toe ons die plek reggeruk het,” vertel hy. “Daar is nou vier en suite-slaapkamers, ’n hoof-leefarea wat ’n ontbytkamer en kombuis insluit, en op die eerste verdieping ’n TV-kamer.’’

Hoewel Michael en sy lewensmaat in Johannesburg woon, ry hulle gereeld naweke plaas toe. “Ons was op soek na ’n naweekplek nie meer as ’n uur se ry van Johannesburg af nie.”

Vandag is Mulligatawny, soos hulle die plek gedoop het, nie net ’n gerieflike uitspanplek vir die twee van hulle nie, maar ook kuierplek vir vriende. En danksy slim beplanning en ’n fyn oog vir detail is die huis en tuin ’n samehangende geheel waar ’n mens waarlik rus vind vir jou siel.

Groot dubbeldeure lei uit die kombuis na die binnehof. Michael het self die groen en blou glasversierings bo die deure gemaak.
Antieke Indiese deure van Amatuli

Lantern van Hadeda; twee lampe weerskante van Amatuli; toonbank pasgemaak deur G2 Industries; vloerteëls van Union Tiles

Oop balke gee ’n informele gevoel aan die leefruimte. Michael verkies stewige, klassieke meubels, soos die toonbank van soliede Rhodesiese kiaat; die kroegstoeltjies was ’n rommelwinkel-kopie. Die koperware bo die stoof en al die blou-en-wit porselein op oop rakke kom van Frankryk en Holland onderskeidelik. Michael het van die porseleinborde teen die kombuismuur versamel en ander self gemaak. Die wit-en-blou muurpaneel van teëls is sy handewerk.

Invloede van ver

Michael se trots is sy splinternuwe kombuis. “Dis so goed ontwerp dat jy ’n klomp dinge kan doen al staan jy op een plek. Hier onthaal ek honderde mense – of net een – met gemak.”

Sy gereelde reise het ’n sterk invloed op hoe hy binne-ontwerp benader. “Ek het die kombuis versier pas nadat ek van Nederland teruggekeer het. Dit het duidelik ’n Hollandse invloed, met heelparty van die wit-en-blou borde wat vir my so mooi is.’’

Eers het hy borde gekoop, maar later ook begin maak. “Ek het Ming-, Delft-, Royal Copenhagen- en Spode-borde. Maar ek is altyd besig om iets te skep; as ek verveeld is, maak ek iets.’’

Daar is geen ingeboude kaste in die kombuis nie. “Ek is te oud om te buk en te blind om iets te soek. Daar is drie spense met bêreplek vir alles van drank en kruideniersware tot glase en borde op rakke.’’

1. Michael het die muurverf in dié dramatiese sitkamer self gemeng. ’n Antieke kis waarin ’n harp gebêre was, dien as koffietafel, terwyl rysharke uit China die mure versier. Die ligte is gemaak deur ’n plaaslike ystersmid. Op die vloer is swart leiklip met ’n ingeleefde voorkoms.
Stoffeerlap van Mavromac

3. Die bok-hake was ’n plaaslike kopie.

5. Antieke sodaflesse, gekoop in Buenos Aires, vang die lig wat deur die venster val en weerspieël Michael se liefde vir kobaltblou, ’n kleur wat jy regdeur die huis vind.

Bedkassies van Block & Chisel; lampe van Jacobs Decor; bekleedsel van Mavromac

Dekor

Die meeste pottebakkersware en handgeverfde teëls in die grasdakhuis is Michael se eie handewerk. “Ek het kobaltblou teëls gemaak wat regdeur die huis en tuin gebruik word vir eenvormigheid. Die kleur is selfs in die meubels herhaal.’’

Michael beskryf sy dekor as uniek. “My reël is om geen reëls te volg nie. Ek beplan niks en volg geen trends nie. Ek dink mense moet hul verbeelding gebruik en op hul eie oordeel vertrou wanneer hulle huise ontwerp. Doen iets unieks en hou op om mekaar na te boots. Ek koop nie al my meubels by een winkel nie; as ’n mens dit doen, bestaan die gevaar dat almal se huise naderhand identies lyk.’’

Hy erken dat daar ’n effense malligheid lê agter alles wat hy op die plaas doen. “As dit prakties moontlik is, versier ek dit.

“Ek koop op enige plek meubels, van rommelwinkels tot oudhedewinkels. Ek is altyd op soek na winskopies – of hulle vind my. “Ek is nie bekommerd oor honde op die meubels nie. Ek het twee opregte steekhaar-worshondjies, Rembrandt en Lautrec; vir hulle is daar wasbare oortreksels op die sitplekke.

“Hier op die plaas het ek pakhuise vol meubels. Toe ek nog binneontwerp gedoen het, het ek altyd die meubels gekry wat kliënte uitgegooi het. Eendag sal alles nog gebruik word.’’

Michael vertel hy het nie vooraf gedink hoe die hoofslaapkamer se en suite-badkamer gaan lyk toe hy winkel toe is nie. Hy het die muurkleur sommer self gemeng.
Swart en wit teëls in die stort van Golden Key in Fordsburg; lamp van Hadeda

VERSKAFFERS
  • Amatuli 011 440 5065, amatuli.co.za
  • Block & Chisel 021 691 0878, blockandchisel.co.za
  • G2 Industries 071 940 5174, g2industries.co.za
  • Golden Key 011 833 0723
  • Hadeda 011 788 5774, hadeda-tiles.com
  • Jacobs Decor 011 622 6686
  • Mavromac 011 444 1541, mavromacandthegatehouse.co.za
  • Union Tiles 011 663 2000, uniontiles.co.za
  • VascoStone 084 495 4435,  vascostone.co.za

 Die binnehof buite die kombuis het ’n Oosterse geur.
Fontein ontwerp deur VascoStone

’n Eksentrieke tuin

Waterlelies, fonteine, tempels en teëls is net ’n paar van die dinge wat Michael se tuin besonders maak.

“Eers het ek geen plan gehad met die tuin nie,’’ sê hy. “Nou is my idee om dit een van die grootstes in die wêreld te maak. Dit beslaan reeds 18 hektaar en groei elke jaar met nog twee hektaar!

“Drie dinge maak my gelukkig: om buite te wees, om tuin te maak, en my honde. Naweke is ek heeltyd besig in my tuin.”

Hy doen soveel moontlik self; dis bevrydend, vertel hy. “Toe ons destyds die eiendom gekoop het, was hier baie gras en geen koelte nie. Ons het dadelik 3 000 bome geplant, sommer enige plek. Ons moes al baie van hulle verplant.’’

Toe hy die tuin begin aanlê het, was dit geskoei op Claude Monet se watertuine in Giverny, Frankryk. “Ek was kort tevore by dié tuine. Ek reis graag na die grootste tuine in die wêreld en wanneer ek terugkom, het ek altyd nuwe idees.”

Ek het tien jaar gelede begin muurskilderye skep met teëls wat ek self gemaak het. Daar kom net al hoe meer by, ook in die tuin. – Michael

1. Die tuin en huis vul mekaar aan, en net soos binne is die tuinbykomstighede meestal wit-en-blou. Michael gebruik verskillende temas vir sy muurversierings, soos die tuin van Eden, die Magaliesberg en eksotiese voëls. 2. Fokuspunte soos dié koepel gee die oog ’n rusplek in die tuin, glo Michael. Daar is ook fonteine, vase, muurpanele en beeldhouwerke wat dieselfde rol vervul. 3. Michael beskryf sy tuin as Europees met baie inheemse plante. Die grond is vrugbaar – dit was voorheen ’n tabak- en ’n blomplaas.

Daar is sewe groot damme en ses fonteintuine hier op Mulligatawny, waar water-irisse en meer as 130 soorte waterlelies groei.

Om ’n tuin te skep is dieselfde as binnenshuise ontwerp; dieselfde beginsels geld. Jy begin deur die mure te verbloem met rankers, en dan plant jy bome vir struktuur. – Michael
Struike is soos meubels. Dan maak jy paadjies wat beweging skep, soos die vloei deur ’n huis. Daarna kom jou fokuspunte, soos kunswerke. – Michael

Toekomsplanne

’n Tuin moet verskillende areas hê, vertel Michael. “Ek kan nie die woord ‘tuinkamers’ verdra nie. Noem dit eerder ’n nis of reses in die tuin, of ’n area van voldaanheid.

“In hierdie tuin is verskillende tipes plantegroei in verskillende dele. Die nuutste is ’n wilde tuin of grasland: drie hektaar waar inheemse gras en eksotiese bolplante groei. Hier is byvoorbeeld ook ’n aalwyntuin en ’n byetuin. Op die oomblik is ek besig met ’n spesiale deel vir broodbome.’’

Michael sê hy put heelwat inspirasie uit sy duisende tuinboeke. “Die tuin is meer as wat ek ooit kon dink dit sou wees. Dit word net heeltyd beter. Ek is impulsief, ek eksperimenteer en is voorbereid vir die mislukkings en die suksesse.

“Daar is soveel te sien in my tuin, ’n mens kan ’n hele dag hier deurbring. My droom is dat Suid-Afrika moet deel word van tuin-toerisme, soos in die res van die wêreld. Daar is ’n groot groep mense wat tuine reg oor die wêreld besoek.’’

’n Groot verskeidenheid voëls is ook in die tuin te sien en op die ope dae was daar reeds baie voëlkykers.

“Dis seker die grootste privaat tuin in die land,” vertel Michael trots. “Dit gaan nog wêreldberoemd raak.’’

In die tuin groei meer as 1 500 rose van verskillende kleure. “Net nie wit rose nie,” sê Michael. “Ek hou nie van wit nie.”