Foto’s Elza Cooper l Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Debbie Luke, haar dogter, Summer, TT die kat en Bumper die hasie

WAAR Parkhurst, Johannesburg

GROOTTE 200 m²


Dis in die detail
Debbie het ’n treffende fokuspunt in die sitkamer geskep deur een helfte van die muur met houtskool dakverf te verf. Ma en dogter bring graag tyd saam in die sitkamer deur.

Afdrukke van MRP Home, Superbalist en Day Feels, asook ’n skets wat Debbie self gedoen en laat raam het, rus op ’n muurlys. Vibia Ameba-hanglig van Streamlight; koffietafel van Amatuli; die mat is in Marokko gekoop

Debbie Luke en haar destydse lewensmaat, Tim Apter, het in 2013 begin huis soek en dis toe dat hulle afkom op ’n halfklaar huis in Parkhurst, Johannesburg. “Blykbaar het die bouer met die projek se geld verdwyn en moes die eienaars die huis sonder toebehore en afwerkings verkoop,” verduidelik Debbie.

Niks was veilig of volgens spesifikasies nie en sonder ’n okkupasie-sertifikaat kon Debbie en Tim nie ’n lening kry nie. “Daar was mure, ’n dak en ’n paar pragtige hortjies, maar g’n loodgieterswerk, sanitêre ware of vloerbedekkings nie – die huis was eintlik net ’n leë dop,” sê sy.

Die paartjie het ’n goeie prys beding en dadelik ingetrek. “Agterna beskou weet ek nie hoe ons oorleef het nie – maar ons het! Ek onthou hoe bly ek was toe ons uiteindelik ’n kombuiswasbak met lopende water gehad het. Ek is nie seker wat ons gedink het nie; dis seker maar wat entoesiasme aan ’n mens doen.”

Die sement-kombuiseiland is ongepoleer en skakel daarom goed in by die ruheid van die oop rakke gemaak van ou steierplanke.

Saadjie geplant

Debbie het nog altyd ’n oog vir ontwerp gehad. As kind het sy gedurig haar meubels rondgeskuif, haar kamer geverf en dit telkens van voor af mooigemaak. By haar vorige werk het hulle op ’n keer kantore geskuif, en Debbie onthou hoe sy meubels op skaal gemaak het om vir haar baas te wys hoe die nuwe kantooruitleg moet lyk. “Hy was stomverbaas,” sê sy laggend. “Ek het gedink dis maar hoe dit gedoen word; ek het nie besef ek kyk anders na uitleg en estetika as ander mense nie.”

Om die projek op dreef te kry het Tim vir Debbie volle beheer gegee. “Ek het nog nooit vantevore so iets aangepak nie, maar ek dink hy kon my passie en selfvertroue aanvoel,” sê sy. Debbie het met hart en siel ingespring – sodanig dat sy op die ou end haar werk as televisie-vervaardiger laat vaar het.

Kort daarna, toe vriende begin aanklop vir hulp by hul eie huise, het Debbie besef binneontwerp is haar ware passie. “Die projek het op die regte tyd gekom: Ek het genoeg lewenservaring, kennis en volwassenheid gehad om ’n onderneming in ’n onbekende bedryf te begin

Debbie het ’n konsoletafel vir die portaal ontwerp en deur ’n vakman laat maak van vierkantige staalpyp en Enduro Quartz. Debbie het dié stomp in die straat opgetel terwyl ’n span besig was met bome afkap.

Hanglamp van Amatuli 

In die badkamer op grondvlak staan ’n klipwasbak op ’n blad van gegote beton; die spieël is ’n erfstuk.

Wasbak van Amatuli; handdoekreling en mat van MRP Home

Teen die muur is ’n spesiale plek vir Polaroid-kiekies. “Summer hou daarvan om ons herinneringe teen die muur te plak, en ek gee nie om hoe deurmekaar dit lyk nie – dit neem ons gedagtes terug na spesiale tye wat ons saam geniet het,” sê sy. 

Debbie het die groot Persiese mat in die eetkamer teen ’n winskoop op ’n veiling gekoop.

Hanglig van Amatuli; stoele van Weylandts

Die uitleg

Omdat die huis so ruim is, kon Debbie dit onderverdeel en die helfte daarvan verhuur vir ’n inkomste. Sy het die ruimte só ontwerp dat sy van straatvlak af deur die motorhuis toegang het tot die voorportaal, wat lei na ’n kantoor en sitkamer in ’n oopplanontwerp. Dié deel maak oop op die tuin en swembad.

Op die vlak daaronder is ’n oopplankombuis-en-eetkamer, Summer se kamer en ’n gastebadkamer. Die tuin is in terrasse aangelê sodat die onderste vlak ook op ’n ruim binnehof oopmaak.

Bo die sitkamer is die hoofslaapkamer met sy oopplan-badkamer, instapkas en klein balkon met ’n uitsig oor Parkhurst se blaredak. Debbie se huis is heeltyd aan die verander en daar is nog baie planne wat sy wil uitvoer. “Op die oomblik is ek besig om self die swembad in ’n eko-swembad te omskep en op die ou end wil ek die kombuis boontoe en my kantoor ondertoe skuif sodat ek ná ure en naweke heeltemal kan afskakel.”

Die portaal maak oop op die oopplansitkamer, met Debbie se tuiskantoor agter die trap. Sy het drie verskillende matte gebruik om lae tekstuur te skep.

’n Replika van ’n Barcelona-stoel reg langs die ingang skep ’n knus hoekie. Die sederhoutkanttafel is nog een van Debbie se vondste. “Ek het verbygery terwyl werkers bome afgekap het. Tot my pa se ontsteltenis het ek die hout opgetel en ’n jaar lank in sy inrit laat uitdroog.” Sy het die pote self ontwerp en gebruik soortgelyke tafels in kliënte se huise

Die afwerking

Debbie hou van natuurlike, outentieke interieurs. “Ek herwin graag en vind nuwe nut vir ougoed. Onvolmaaktheid en ’n bietjie ruheid is vir my treffend en dapper.”

Dit is duidelik te sien in haar keuse van afwerkings. Sy het elke bouer in die omgewing gebel op soek na ou hout-steierplanke om as oop rakke in haar kombuis en studeerkamer te gebruik. Dit was ’n uitdaging, aangesien steiers deesdae meestal loopvlakke van metaal het.

“Aanvanklik wou ek hê al die hout moet dieselfde kleur wees, maar toe die planke begin inkom, was party blou en groen geverf en het ek maar besluit om dit net so in te span.”

Die kombuiseiland van beton is ook grof en ongepoleer. “Die kontrakteur wat dit gegiet het, kon nie verstaan hoekom ek nie wou hê hy moet dit glad en blink maak nie, en het dit toe in elk geval begin poleer. Ek het hom dit laat oorskuur om weer die klip te ontbloot – en ek dink dis nou pragtig.”

Debbie het met haar ongewone keuses ’n treffende dog praktiese geheel geskep. Die uitleg van die oopplan-badkamer in die hoofslaapkamer skep dadelik ’n ontspanne atmosfeer. “Ek kan selfs vir Summer in die bad dophou terwyl ek op die bed rus,” verduidelik sy.

In die hoofslaapkamer is ’n dennehout-stutbalk donker gebeits om met die plakpapier te kontrasteer. Debbie het die leer-kopstuk ontwerp en twee groot strooikussings oorgetrek met lap van Hertex. 

In haar en suite het sy swaeltjies met ’n muurstensil geverf

In die badkamer op die onderste vlak is die stort net gedeeltelik toe, wat die gevoel van ’n spatvertrek skep. 

Handdoekreling van Superbalist

Met die oopplan-badkamer kan Debbie en Summer meer tyd saam deurbring. Die wasbakkas het ’n satynwit spuitverf-afwerking.

Bad van CTM

Meubels en dekor

Aangesien Debbie van ’n woonstel na ’n huis getrek het, was baie van haar meubels te klein vir haar nuwe blyplek. Buiten een of twee erfstukke het sy haar deur die ruimte – en ’n knap begroting – laat lei in haar keuses. “Baie stukke is pasgemaak. Ek moes my sente tel, maar weet nie waar ek meer kon bestee nie!”

Debbie se liefde vir onvolmaakthede word weerspieël in ’n eenvoudige paletbed, houtmeubels met staalrame en natuurlike elemente reg deur. Sy het byvoorbeeld daarop aangedring om ’n dekoratiewe rots in haar badkamer te hê, maar die feit dat dit op die derde verdieping is, het sake bemoeilik. “Ek het groot planne gehad met hyskrane en die balkon, maar op die ou end het ek ’n nagemaakte klip by ’n plaaslike kwekery gekoop,” verduidelik sy.

Al het Debbie die dekor vertrek vir vertrek ingerig, vorm dit ’n samehangende geheel. Neutrale skakerings kry lewe met spatsels kleur, helder plakpapier en lae natuurlike teksture. Debbie gee aandag aan elke deel van die legkaart, eerder as net die voltooide prentjie. “Ek dink daar kort ’n belangrike skakel tussen klant en vakman – die menslike element in elke stuk. Dit bring my groot vreugde om in my huis én werk daaraan hulde te bring.”

Vloerplan



VERSKAFFERS

Amatuli 011 440 5065

CTM 010 003 9987

Day Feel

Designed by Debbie 082 555 4965

Hertex 0860 437 839

MRP Home 0800 212 535

Streamlight 011 440 4142

Superbalist

Weylandts 0860 103 400