Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

Die oorspronklike skuurdeure van die gewilde Kalkbaaise restaurant Cape to Cuba is ’n spogstuk in die Foales se huis. Dié deure skep nou tekstuur en ’n fokuspunt teen die kant van die nuutgeboude motorhuis.

WIE WOON HIER? Peter en Morné Foale met hul dogters, Amy (16) en Mirabelle (11)

WAAR Bergvliet, Kaapstad

GROOTTE 300 m²

’n Nuwe stoep onder ’n sinkdak verbind die voordeur met die buite-kuierarea aan die voorkant van die erf.

Toe Peter en Morné Foale in 2010 Bergvliet toe trek, het hulle die “lelikste huis in die buurt” gekoop. So het hulle geglo. “Ons was hartseer om ons huis in Tokai te groet, maar ons wou hier kom bly sodat ons ons kinders by die plaaslike skool kon registreer,” verduidelik Morné. Gelukkig was daar ook goeie nuus: Die 50 jaar oue huis het ’n praktiese L-vorm gehad en was nog nooit opgeknap nie, wat heelwat potensiaal ingehou het vir Peter, ’n bouer en die eienaar van Smallworks Construction, en Morné, ’n kranige binneversierder.

Die paartjie, wat al voorheen opknapprojekte saam aangepak het, het kans gesien vir die uitdaging. “’n Eenvoudige L-vorm is goedkoper en makliker om reg te ruk as een met ’n klomp afsonderlike ruimtes,” sê Morné.

Oor die afgelope nege jaar het hulle die hele huis oorgedoen – binnemure is uitgebreek en in 2015 is ’n tweede verdieping aangebou. “Ons is deur vele style en fases,” sê Morné. “Vandag bly ons fokus op gemak. Dis vir ons belangrik dat dit ’n tuiste moet wees waar niks gekunsteld voorkom nie.”

Die Malawi-stoele is langs die pad gekoop en die houtstompe kom uit ’n vriend se tuin. Die engel in die hoek is van Kuba. Blou lamp van Sobeit Studio
In die leefarea is ’n fokusmuur met steierplanke beklee toe die paartjie moeg was vir die donker verf. Dit kontrasteer mooi met die ou buffetkas in sy speelse groen baadjie. Jakarandahout-hanglampe van Sobeit Studio

’n Paneel met uitsny-detail wat die paartjie iewers opgetel het, werk perfek as spatpaneel bo-oor ’n koperplaat wat hulle bestel het; dié was te vol duike en krapmerke om net so te gebruik.

Peter het die trap self gebou; die skaatsplanke is altyd byderhand, en ’n muurbehangsel van La Grace is gekies vir die woorde wat tot elkeen spreek.

Die mat swart kombuiskaste pas by die lang vloerteëls wat met die minimum voegbry gelê is vir ’n meer naatlose voorkoms. Die opwaskamer is waar die garage voorheen was. Vloerteëls van CTM; horlosie en hanglampe was pakhuiskopies van onderskeidelik Block & Chisel en Weylandts

Op ’n begroting

Peter en Morné het albei in kunstige huise grootgeword, en dis duidelik te sien in die strukturele detail en afwerkings in hul eie plek. Morné kom uit ’n gesin van kunstenaars, kreatiewe geeste en handelaars en sy het beslis haar ma se ongelooflike oog en sin vir styl geërf. Peter het weer argitekte en musikante in sy familie.

“Met die opknap en mooimaak was ons begroting knap en moes ons maar planne maak,” sê Morné. Daarom is niks in hul huis “gewoon” nie. “Ons het vier ou skuurdeure in die hande gekry. Twee is teen die garage se muur in die binnehof; die ander twee is in ons slaapkamer – net so ongeverf en verweer soos ons dit gekry het,” verduidelik sy. “En toe ons onlangs die kombuis oorgedoen het, het ons besef werkblaaie en spatpanele van marmer sou ons ’n klein fortuin kos; toe kies ons liewer marmerteëls van Natural Stone Warehouse vir dié oppervlakke – dis ’n wonderlike alternatief en het heelwat minder gekos.”

Die muur tussen die sitkamer en kombuis is uitgebreek om ’n oopplan-leefarea te skep en die kombuis is geskuif na waar die sitkamer eers was – daarom is daar ’n kaggel in die middel van die kombuis, wat ’n groot bonus in die winter is!

“Ons het die melamienkaste en granietblaaie uitgehaal en omtrent ’n jaar lank sonder ’n kombuis geleef, met net los tafels om op te werk,” sê Morné. Hulle het ook onder meer al die ou staalraamvensters en vloere vervang. “Ons het ’n deurmekaarspul gelamineerde vloere met Franse stempels daarop gekoop toe ons hier intrek. Dis nou wel seker ’n bietjie oudmodies, maar dis steeds vir ons lieflik.”

Verfkleur Plascon Bovine 

Ek hou net niks van mure nie! Trouens, as ek kon, sou ek in ’n groot skuur sonder ’n enkele muur gewoon het. Dit voel innemend en lig. – Morné

’n Eklektiese mengsel

Morné, eienaar van Trend Merchants, beskryf haar dekorstyl as ’n mengsel van wat sy ook al uitsnuffel en dit wat haar na aan die hart lê. “Ek is regtig dol oor Franse stukke, maar noudat ek al hoe meer van ’n moderne voorkoms begin hou, probeer ek die twee style kombineer.

“My familie het voorheen meubels uit Havana ingevoer; ek het ’n paar Kubaanse stukke gehad, maar die meeste daarvan verkoop toe ek besluit het om ons dekor op te kikker. Andersins versamel ek maar soos wat ek aangaan. Ek snuffel graag ’n winskoop uit!”

Die paartjie ag hulle ook gelukkig dat hulle oorspronklike kunswerke present gekry het by familielede – meestal by Morné se ma en Peter se broer.

Daar is donker kleure reg deur die huis – hetsy in die verf teen die mure, steierbekleding of ontblote bakstene. “Donker kleure werk regtig goed as jy troeteldiere en kinders het. Dit voeg tonne atmosfeer by en laat als ’n bietjie meer verfynd lyk,” sê Morné.

“Ek en Peter onthaal graag en ons is baie ontspanne, daarom wil ons dié gevoel vasvang in ons huis. Ons is plat op die aarde en sal enige tyd op die stoep sit met ’n glas wyn en goeie geselskap.”

Die familie kuier en eet graag saam buite onder die prieel in die skadu van ’n geil grenadella. Daar is voldoende beligting sodat hulle ook saans hier kan uitspan. Peter het die bankies self gemaak en dis nommerpas vir wanneer daar ’n klomp gaste is. Die swembad (onder) is na die kant van die erf geskuif, wat meer ruimte vir onthaal beteken.

In die somer bring ons die meeste van ons tyd op die stoep deur. Ons onthaal hier, braai hier en dut hier. Die deure staan tot laat toe oop! – Morné

Morné se voorliefde vir Franse meubels is duidelik te sien in die hoofslaapkamer. ’n Muur van ontblote bakstene rond die prentjie af.
Peter het dié deure meer as tien jaar terug in China gevind; dit maak uit die hoofslaapkamer oop op die balkon. Die deure word soggens vroeg oopgegooi sodat die Foales na die voëls en buurt se bedrywighede kan luister.

Die kinders het albei verlede jaar ’n slaapkamer-oormaak as verjaardaggeskenk gekry. Amy, ’n kranige branderplankryer, wou ’n blou tema en ombree-mure in haar kamer hê. Haar pa het die bed gebou en die lessenaar (links bo) is ’n geverfde blad op bokkiepote. Mirabelle het besluit op ’n patroonmuur in opgewekte kleure (regs bo). Verfkleur Dulux Dynamic Blue

Morné se opknapwenke
  • Kyk altyd uit vir ’n huis met ’n eenvoudige fatsoen wanneer jy koop om op te knap; ’n L-vorm of ’n langwerpige struktuur soos ’n skuur is makliker om aan te pas.
  • Bly weg van huise wat al te veel opknapprojekte ondergaan het wat nie by mekaar inskakel nie.
  • Hou die basis skoon en eenvoudig en kies materiaal van goeie gehalte. As jy nie soliede marmerblaaie kan bekostig nie, koop eerder marmerteëls; ek het al baiekeer teëls vir kombuisblaaie gebruik.
  • Bly weg van te veel trends omdat dit geneig is om oudmodies te raak – veral wanneer dit by teëls kom!
  • Maak ’n inspirasiebord en knip prente uit tydskrifte as jy iets sien wat jou hart vinniger laat klop.

badkamer
Francois Oberholster

’n Wasbak is in ’n staalkas gesit sodat dit in die badkamer gebruik kan word.

Staalkas van @home; muurteëls van Quadrata; Verfkleur: Plascon French Chartreuse

badkamer
Francois Oberholster
badkamer
Francois Oberholster

’n Treffende muurbehangsel van La Grace skep ’n sterk fokuspunt in die hoofbadkamer op die grondvlak. In die gastebadkamer is teëls met ’n sjevron-motief op die blad langs die wasbak gelê.

Lig van MRP Home; chartreuse handdoek van Weylandts; Sjevron-teëls van CTM; metaalrak van MRP Home

VERSKAFFERS