Foto’s Francois Oberholster | Stilering Misi Overturf

WIE WOON HIER?

Dewald en Suzanne Coolen en hul seuns, Jonathan (9) en Nicolas (11)

WAAR Somerset-Wes

GROOTTE 590 m²

In die kombuis het Suzanne haar twee gunsteling-style – industrieel en kontemporêr met ’n romantiese kinkel – gekombineer. Sy het hanglampe van geborselde metaal by Sofaworx gekoop en toe in haar gunstelingkleur (dofpienk) laat verf om warmte te verleen. Die 4 meter lange kombuiseiland is van sparhout en die kaste is gemaak om te lyk soos outydse yskaste met die skarniere aan die buitekant. 

Dis in die detail
Suzanne het die waaier as dekoratiewe element in die eiland laat inbou. “Ek het dit vir R150 by ’n skrootwerf gekoop en net skoongemaak en herstel. Dis darem nie ingeprop nie – ons is bang die seuns verloor ’n paar tone!”

Toe Dewald en Suzanne Coolen in 2015 na die perfekte gesinshuis begin soek, het die 360-grade-uitsigte van ’n huis uit die negentigerjare op die Erinvale Country and Golf Estate in Somerset-Wes hul oog gevang.

“Dis aan die punt van ’n doodloopstraat en het asemrowende uitsigte op die Helderberg aan een kant, en die Lourensford-wynlandgoed en Hottentots-Hollandberg tot by Valsbaai aan die ander kant,” verduidelik Suzanne.

’n Opknap was nodig en die paartjie het by ’n argitek en konstruksiemaatskappy gaan aanklop vir raad oor moontlike strukturele veranderinge voordat hulle die eiendom gekoop het. Die Coolens het uiteindelik besluit om eers in die huis te woon voor hulle die opknap aanpak; ’n jaar later het hulle in samewerking met die argitek Rory Bands van The Plan Co begin werk aan ’n nuwe uitleg.

Op die ou end het Rory net ’n deel van die ou huisie se voetspoor en ’n paar mure behou. Die resultaat is ’n moderne vierkantige ontwerp met ’n vlinderdak en verskeie vollengte-vensters en stapeldeure vir onbelemmerde uitsigte.

’n Kombinasie van style

Dit was ’n wyse besluit om eers ’n ruk in die huis te woon, want dit het vir Dewald en Suzanne tyd gegee om agter te kom wat hulle as gesin nodig het. “Ons het die erf se nukke leer ken – die suidoostewind en die warm westerson in die middag. Daarom het ons twee oordekte stoepe by die hoof-leefarea aangebou wat ons om die beurt gebruik afhangend van hoe die wind waai,” verduidelik Suzanne.

Vir die interieur het die paartjie besluit om hul style te kombineer. Reguit lyne en hoë plafonne met ontblote balke vind balans tussen rooi baksteenmure – die perfekte samesmelting van moderne en warm elemente. “Dewald hou van minimalisme, terwyl ek gek is na drama en tierlantyntjies,” verduidelik Suzanne.

In April 2016, toe hulle gereed was om met die projek te begin, het die Coolens die meeste van hul meubels in ’n opbergplek gesit en by ’n huurhuis ingetrek. Dewald en Suzanne is nie spyt dat hulle ’n deel van hul begroting aan die gesoute opknappers Hengrave Estates toegewys het nie. “Dit was ’n ongelooflik gladde proses met minimale teenspoed,” sê hulle. “Hulle kon als binne sewe maande in die Kaapse winter voltooi – en dit wil gedoen wees!”

’n Sithoekie verbind die kombuis met die eetkamer. Die rusbank was ’n tweedehandse vonds van Die Wakis wat Suzanne by Galatea Interiors laat herstoffeer het. Leerstoel en kis van MRP Home; mat van @home

Suzanne wou ’n fokusmuur in die ingangsportaal hê, maar het gevoel plakpapier sou nie die knoop deurhak nie. Daarom het sy ’n Silk Green-muur van Distinctive Spaces bestel. Die spieël is by ’n sluitingsuitverkoping gekoop.

Die leefareas het hoë plafonne, maar die ontblote skoorsteenpyp help om die ruimte warm te hou. Kaggel geïnstalleer deur Vulcan Heat Studio

Vir subtiele skeiding tussen die TV-kamer en die ander leefareas het Mekmos Engineering, wat al die metaalwerk in die huis gedoen het, opdrag gekry om ’n verdeler te maak soos een wat Suzanne by Ya Ya Café in Stellenbosch gesien het. “Ons het maar teen glas besluit, want hier vlieg af en toe ’n krieketbal deur die huis,” sê sy.

Die houtskerms op spore is gemaak van herwinde appelkratte behandel met Vertex Hybrid Wood Protector in ’n Sunprimer Greylook-tint om ’n verweerde effek te skep.

Oud en nuut

Ná die opknap het die gesin met hul bestaande meubels by die huis ingetrek en het Suzanne die dekor vertrek vir vertrek aangepak. “Ek het al my idees met Dewald bespreek; hy vertrou my smaak en het my meestal vrye teuels gegee. Maar uit respek vir sy styl het ek darem my flair vir drama so effens ingehoul!” sê sy en lag.

Suzanne hou van kontras in dekor en het oud en nuut gekombineer, asook skoon lyne met warmer elemente. “Ek werk nie met baie kleur nie, maar eksperimenteer met tekstuur en ’n aksentkleur hier en daar,” sê sy. Dis te sien in die oopplan-sitkamer waar sy leer gebruik het saam met staal-elemente, langpoolmatte en kunspels in rustige skakerings van grys, houtskool en bruin.

Sy glo ook vas in die waarde van antieke stukke en spesiale vondste. Sy het ’n paar nuwe artikels gekoop om in te skakel by dit wat hulle reeds gehad het, maar meestal gefokus op herwinning. “Daar is soveel meer vreugde daarin om besonderse items uit te snuffel en mooi te maak as om net iets nuuts te koop,” sê sy. Amper elke vertrek het meubels wat herstoffeer is of iets wat sy self gemaak of herbenut het.

Dis in die detail
Onbehandelde appelkrat-hout is as bekleding op die stoep gebruik. Dié hout is ook in die kombuis en slaapkamers ingespan om karakter te verleen.

In die hoofslaapkamer kontrasteer plakpapier met ’n damaspatroon in duifgrys agter die bed pragtig met die ontblote baksteenmure. Suzanne het ’n ou spieël ’n vars aanslag gegee deur die raam swart te verf; dit pryk nou bo die bedkassie. Die kamer kyk uit op die Lourensford- en Vergelegen-wynlandgoed, met die Hottentots-Hollandberg in die agtergrond. Plakpapier van Builders; bedkassie van Chikadee; deken van Krafthaus

Die hoofslaapkamer se en suite het genoeg plek gehad vir ’n aantrekkamer. Dit het praktiese viniel-vloerplanke in Ash Oak deur Aspen. Pootjiesbad van Bathroom Bizarre; wasbakkas van Chikadee

Die vorige hoofbadkamer is nou Jonathan se kamer. Suzanne het ’n ou skoolbank met krytverf opgedollie en nou verskaf dit sitplek by sy bed se voetenent. Sy het die kroon bo die kopstuk uit laaghout laat lasersny en dit self met kurk bedek. Gebreide deken van Krafthaus

In Jonathan se en suite-badkamer het Suzanne ’n laaikas met ’n diamantpatroon ingespan as wasbakkas.

In Nicolas se kamer het Suzanne ’n fokusmuur geskep met muurplakkers. Omdat die seuns oor naweke meestel in een kamer slaap, het sy ’n stapelbed vir die vertrek gekies.

Suzanne het ’n gewone wasbakkas vir Nicolas se badkamer gekoop en dit versier met ’n Union Jack in krytverf. Muurplakkers van Glitterbug SA

Mooi herinneringe

Danksy Suzanne se liefde vir ougoed was daar nog altyd elemente wat op ’n kreatiewe manier uitgestal is in die Coolen-huis. “My pa was ’n kranige baanatleet en ek gebruik sy ou trofeë as blompotte of om lekkernye in te hou. Ek het ook ’n versameling antieke spieëls, boeke, kiste en ou koffers wat in verskillende vertrekke uitgestal word.”

Sy is nie bang om te eksperimenteer nie en het selfs die stoffering op twee van die eetkamerstoele geverf. “Die beige lap het begin verweer, en om hul karakter te behou en in te pas by die skema van die eetkamer, het ek dit met ’n mengsel van grys Annie Sloan-verf bygedam,” verduidelik sy.

Sedert die opknap geniet die gesin hul huis jaar in en jaar uit – in die somer kuier hulle buite en in die winter krul hulle op langs die kaggel. Die beste van als? Hulle het daarin geslaag om ’n ruimte in te rig waar hulle lieflike herinneringe kan skep. “Dit was van die begin af vir ons belangrik om ’n plek te hê waar ons tuis kan voel. My man sê sy gunsteling-deel van die dag is wanneer hy saans by die voordeur instap – wat vir my bevestig dat ons dit reggekry het.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE