Foto’s Elza Cooper • Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?
Godfrey Hill, Boyd Raimond en hul miniatuur-schnauzer, Mischa
WAAR Rosendal, Vrystaat
GROOTTE 145 m²

Godfrey Hill het 15 jaar terug die eerste keer verlief geraak op die rus en vrede van Rosendal in die Vrystaat. Selfs nadat hy in 2008 Nederland toe verhuis het, het hy nog minstens een keer elke jaar teruggekom. En kort nadat hy sy man, die Nederlander Boyd Raimond, ontmoet het, het Godfrey hom dié stukkie hemel kom wys. Boyd het ook dadelik sy hart verloor op die dorpie en hulle het besluit om dit hul tweede tuiste te maak; hulle is minstens drie maande van die jaar hier om tyd saam met Godfrey se familie en vriende deur te bring.

Bouwerk het in 2016 begin op ’n erf aan die buitewyke van die dorp, naby ’n dam en die Maria-berg. “Ons het eers ’n huis van vraghouers oorweeg,” vertel Boyd. “Maar dit sou op die ou end duurder en ingewikkelder uitwerk as wat ons gedink het.”

Godfrey voeg by: “Dit was hier op Rosendal dat ons die eerste keer van modulêre huise met ’n ligtestaalraam gehoor het; hier is nog twee huise wat volgens dié metode gebou is en hulle lyk inderdaad soos vraghouers. Ons het verskeie faktore in ag geneem – die afgeleë ligging wat dit moeilik maak om enige toerusting en boumateriaal betyds hier te kry, die skuinste van die erf en die kleigrond hier naby die dam. Uiteindelik was ons oortuig dié boumetode sou die beste opsie wees vir dit wat ons in gedagte gehad het.”

Die huis is baie goed geïsoleer en die Stompi-houtkaggel word in die wintermaande net ná sononder aangesteek om die huis warm te maak. Soortgelyke kaggels is jare gelede in skoolklaskamers gebruik. Kaggel van Van der Walt Stowe en Oudhede

Die stoele en buffetkas in die sitkamer kom van Godfrey se ouers, wat onlangs hul gesinshuis verkoop en na ’n aftreeplek getrek het. Godfrey het self al die staal-kanttafels ontwerp, waarna sy pa, ’n kranige sweiser, dit vir hulle gemaak het. Die stoele is nuut oorgetrek in avokadogroen, dieselfde kleur as die oorspronklike stoffering uit die 1970’s. Vir eenvormigheid is al die matte in dieselfde Bokhara-ontwerp. Blougroen fluweelbank van Klooftique

Die staaltafel geïnspireer deur die Kaaps-Hollandse styl is ontwerp deur Gregor Jenkin van Kaapstad. Dit kontrasteer pragtig met die Ghost-stoele. Matte van House of Woven Art 

Die visie was om ’n huis te bou waar hulle gaste kan trakteer en akkommodeer. “Ons deel die kombuis en leefareas met besoekers, maar daar is ’n aparte gastesuite sodat almal privaatheid kan geniet,” sê Godfrey.

Die gladde betonvoorkoms van die vloere is verkry met Smooth ’n Patch van Technical Finishes.
Die rakeenheid in die aantrekkamer by die hoofslaapkamer is ook deur Godfrey se pa aanmekaargesweis. Daar is soortgelyke rakke van vierkantpyp in die spens en opwaskamer.

Dekorstyl

Hul 120 jaar oue huis in Nederland het donker groengrys mure en swart houtdetail, maar vir hul plaaslike woning het die paartjie ’n rou, industriële voorkoms verkies. “Ons wou ’n skoon skilderdoek hê,” sê Boyd. “Die uitsigte vanuit elke venster skep die dekor. Wit mure en plafonne was die voor die hand liggende keuse en ons hou van die sementvloere en swart staal.”

Dié speelse lig uit Nederland skakel aan as jy die “boek” oopmaak.

“Ek dink ons ontwerpstyl kan beskryf word as individualistiese gemak,” sê Godfrey, “waar vintage- en antieke elemente meng met moderne materiale en ontwerpe.” Maar dis die eenvoudige plesiertjies wat dié huis ’n tuiste maak. “Ons is lief vir die stilte, die voëlgesang en die duikers wat ons af en toe in die veld sien,” sê Boyd.

Enigiets wat jy met bakstene en sement kan doen, kan jy ook met ligte staal doen. Dis wel nie goedkoper as konvensionele boumetodes nie, maar mer akkuraat en bslis vinniger. – Godfrey

Die buitestort is een van Godfrey en Boyd se gunsteling-ruimtes. Ander ekovriendelike elemente sluit ’n septiese tenk en boorgat in; hulle oorweeg dit ook om sonpanele te installeer sodat die huis onafhanklik van munisipale dienste kan wees.

Voorafvervaardig

Godfrey het ’n SketchUp-voorstelling gemaak van wat hulle in gedagte gehad het voor hulle by Philip Nel van Inizio Homes, wat die ander twee modulêre huise op Rosendal ontwerp het, gaan aanklop het. “Inizio het dit omskep in die gebou wat dit vandag is. Hulle het ons visie uitgevoer, maar ook hul idees en praktiese raad ingewerk,” verduidelik Boyd. “Hulle het ’n stoor- en opwaskamer bygevoeg en die posisie van die gastesuite verander (in ons plan het dit aanvanklik na ons slaapkamer gewys). Die plafon in die leefareas is ook gelig om vensters teen die plafon te installeer wat ’n lugtiger, meer speelse atmosfeer geskep het.”

Godfrey en Boyd was aan die begin en weer halfpad deur die projek vir ’n paar weke op die perseel en Godfrey het die bouer, van GCT Group in Johannesburg, elke dag uit Nederland gebel om besonderhede en die vordering te bespreek. Die voorman het tussendeur ook talle foto’s gestuur om hulle op hoogte te hou. Die paartjie was weer terug tydens die laaste paar weke van die projek.

Inizio ontwerp gewoonlik hul huise met sinkplate as bekleding, maar Godfrey en Boyd het besluit op volhoubaar verkrygde Rhino Wood omdat dit sou inskakel by die natuurlike omgewing; dit vergrys ook mettertyd sodat dit amper “verdwyn”. Vir die dak en vensters het hulle wel Inizio se swart metaal gebruik. “Uit ’n interieurontwerp-perspektief omraam swart vensterrame die uitsig beter as wittes, en omdat die uitsigte hier so belangrik is, het dié donker kleur sin gemaak,” verduidelik Boyd.

Die projek het altesaam sewe maande geduur. Die grootste uitdaging was die gebrek aan elektrisiteit gedurende die eerste drie maande; die bouers moes kragopwekkers gebruik.

“Die ander uitdaging was die afgeleë ligging en om al die materiaal hier te kry,” sê Godfrey. “Ons bouer is van Johannesburg en dis waar sy verskaffersnetwerk is. Op Rosendal was daar nie ’n vertroude netwerk nie, daarom moes ons dikwels wag tot die vragmotor vol was; indien nie, is daar net elke twee weke in ons gebied afgelewer!”

Op die ou end het alles goed uitgewerk en Godfrey en Boyd het op 22 Desember 2016 ingetrek, net betyds om als reg te kry vir Kersfees – en hul troue op 31 Desember in die voortuin!

Kunswerke speel ’n belangrike rol in die paartjie se dekor en hulle versamel hoofsaaklik werke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Marieke Prinsloo, Marie Stander, Kobus Walker, Audrey Anderson, Norman Catherine, Michèle Nigrini en Willem Pretorius; die meeste is by Carol Lee Fine Art of by die kunstenaars self gekoop.

Hierdie interessante “selfportret” van Vincent van Gogh kom uit die gastehuis wat die paartjie in Amsterdam bedryf het.
Ons wou ’n groot buiteruimte en baie vensters hê om die uitsigte ten volle te benut. – Boyd


Die ontwerp het nie aanvanklik ’n dak oor die dek ingesluit nie. Die struktuur is later bygevoeg en met bamboesmatte bedek.
Hoekom modulêre ligte staal?

Philip Nel van Inizio Homes verduidelik meer oor die ontwerp:

  • Die hoofstruktuur is ’n raam van gegalvaniseerde ligte staal wat in die fabriek vervaardig en vinnig op die perseel aanmekaargesit word; anders as sommige alternatiewe bouvorms is dié boumetode wel goedgekeur deur die SABS en die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (“NHBRC”). Ons huise voldoen ook aan die SANS XA-regulasies vir energiedoeltreffendheid.
  • Die huise word meestal op die perseel aanmekaargesit en afgerond. Al die komponente word plat verpak en na die perseel vervoer, waar die materiaal vinnig en met minimale hyswerk in posisie geplaas word.
  • Die struktuur het ’n veel ligter fondasiestelsel nodig, wat minder inbreuk op die omgewing maak en die minimum werk op die terrein vereis.
  • Die boumetode is geskik vir verskeie soorte terreine en grondstrukture. Dis ideaal vir losstaande huise, vakansiehuise en selfs kommersiële en verdiepinggeboue.
  • Banke verskaf wel verbandlenings vir huise met ’n ligtestaalstruktuur.

KONTAK inizio.co.za


KONTAKTE EN VERSKAFFERS