Foto’s Greg Cox | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Ina Baard

WAAR Kaapse middestad
GROOTTE 50m2

Toe Ina Baard in Junie 2015 die eerste keer haar voete in haareenslaapkamerwoonstel in Kaapstad sit, het sy gewonder wat haar besiel het: Dié plek was verwaarloos. Maar toe was dit te laat ... Sy het op ’n Donderdag die woonstel op Property24 raakgesien en dadelik geweet dis ’n winskoop. “Die plek het by my gespook. Ek het geweet as ek sou wag tot die Dinsdag, wanneer dit vertoon word, sou iemand anders die plek voor my opraap.” Agtuur die Vrydagoggend het sy haar aanbod ingesit.

Vriende van haar het destyds ’n woonstel in dieselfde blok gehad; daarom het Ina darem ’n goeie idee gehad van die gebou en sy sentrale ligging op Kerkplein. “Hoewel dit donker en ‘vrot’ gelyk het, kon ek dadelik sien hier is potensiaal.”

Ina se kombuis bewys dat jy wel donker kleure in ’n klein ruimte kan gebruik. Sy het ’n geïntegreerde yskas gekies wat naatloos wegsmelt tussen die ander elemente.Dis in die detail Oop rakke dien as pakplek vir gebruiksware soos borde, bekers en glase. Die spatpaneel daaronder is bedek met klassieke seshoekige marmerteëls. ’n Tweeplaat-induksiestoof is al wat Ina nodig het en bespaar kosbare werkspasie.

Ek het ’n groot uitgooisessie gehou om van alles ontslae te raak wat nie in die nuwe kombuis sou inpas nie! – Ina

Ina vertel sy soek nog na die “perfekte” koffietafel. “Ek leef liewer maande of jare lank sonder iets as wat ek net ’n ding koop waaroor ek nie dol is nie.” Dié koffietafel is ’n eenvoudige houtblad wat op pote (’n oorblyfsel van ’n vorige projek) rus. Die bougainvillea-kunswerk is deur ’n vriendin van Slowakye geskilder. Die ingeboude rakke is uitstalplek vir ander hartsgoed, onder meer ’n staanhorlosie wat Ina se swaer uit dryfhout gemaak het. Mat en houtlantern van Weylandts; rusbank van @home; gordyne van Gordijn StudioDis in die detail Pleks van ’n tradisionele gordynreling het Ina ’n dun staalkabel net onder die plafon gespan ten einde die spasie te “rek”.

Ina wou dubbelglasvensters hê teen die stadsgedruis. Sy moes spesiale toestemming by die woonstelblok se regspersoon daarvoor kry en die nuwe vensters moes presies soos die oorspronklike skuifraamvensters lyk. Die woonstel het aanvanklik blokkiesvloere gehad, maar Ina verkies teëls omdat sy baie plante in haar woonstel het wat die houtblokkies kon beskadig. Die langwerpige teëls in ’n visgraatpatroon het ’n kontemporêre voorkoms. Dubbelglasvensters van ASAP uPVC

Goue beeldjie deur Ferdi B Dick; skedels van Rialheim

Ina het van Picture Hanging Pros gebruik gemaak om haar galerymuur op te sit.

Waar voorheen ’n baie beknopte gang was, maak die voordeur nou oop op die ruim leefvertrek en oopplankombuis. Groot skouersak van Skinny laMinx; handdoek van Weylandts

Aanvanklik het Ina net die kombuis en badkamer leefbaar gemaak en onnodige binnemure wat die woonstel in hokkies verdeel het, uitgebreek. Vier jaar het sy so gebly om ’n gevoel vir die ruimte te kry en genoeg te spaar voor sy met die groot opknap begin het.

Die kombuis, veral, was ’n pyn. “Ek wou iets hê wat nie ‘piepklein kombuis’ skree nie, en wat natuurlik die maksimum pakplek vir my kon bied.” Sy het die hulp van ’n ontwerper ingeroep om planne op te trek, dit in die kombuis opgeplak en ’n paar weke lank so geleef om ’n idee van die nuwe kombuis se vloei te kry.

Maar iets het nie reg gevoel nie. Ina het aanvanklik ’n L-vormige uitleg oorweeg, met ’n losstaande tafeltjie en twee stoele. Toe sy op ’n dag ’n ander klein kombuis met ’n eiland sien, het sy geweet: Dís wat sy wou hê.

“Ek beskou die geld wat ek die ontwerper betaal het as ’n goeie belegging. Sonder haar planne sou ek nie betyds besef het die uitleg werk nie vir my nie en het ek dalk my hele begroting bestee aan kaste waarvan ek nie hou nie!”

Uiteindelik kon die groot opknapwerk begin en in Julie 2019 is die laaste teëlwerk gedoen.

Die woonstel sou aanvanklik ’n beleggingseiendom wees om as Airbnb-verblyf te verhuur. Maar nou bly Ina so lekker, binne stapafstand van die werk en al die winkels wat sy nodig het, dat sy nie van plan is om binnekort hier weg te trek nie. As ’n gebore plaasmeisie geniet sy die vryheid van oral heen loop waar sy wil wees. “Ek stap werk toe en koop sommer op pad huis toe die bestanddele vir die aand se ete. Alles is op my drumpel – tot my haarkapper!”

Die atmosfeer in die middestad laat haar bloed warm klop, sê Ina. “Hier is baie toeriste in dié deel van die stad. Ek is dol daaroor om al die verskillende tale en aksente te hoor; dit voel asof ek deel is van ’n groter prentjie as net my eie daaglikse bestaan.

“Een van die mooiste stadsgeluide vir my is die kerkklok van die St. George-katedraal net om die draai,” vertel sy. Boonop kyk sy nie in ’n ander gebou vas nie, maar sien groenigheid en die pragtige stadsargitektuur deur haar vensters. “Al is dit so ’n klein spasie, voel dit vir my baie luuks.” Al wat sy meer sou wou hê, is ’n balkon van waar sy die gewoel van die stad van bo af kon dophou.

Dit was wonderlik om so ’n ‘unloved’ plek in iets besonders te omskep. – Ina

Die ruim slaapkamer voel weelderig. Die ingeboude melamienkaste het pasgemaakte houthandvatsels gekry. Die muur se verfkleur is Duram Sweet Water. Kussings van Skinny laMinx; beesvel en grys deken van Weylandts; handvatsels van Basically Wood

Die lessenaar kom uit Ina se studentedae; dit het intussen ’n vars laag verf en nuwe handvatsels gekry. Hier het Ina ook oop rakke ingespan vir pakplek, met geel bokse as speelse element. Die bankie (tweede foto) was ’n vonds op Freecycle, ’n aanlyn-mark waar mense dinge gratis weggee. Dit het net ’n nuwe leersitplek gekry. Bokse van MRP Home

Ina het by die monochroom-tema gehou in die badkamer en ’n swewende wasbakkassie gekies ten einde vloerspasie te wen. Seep van Scent Skincare; teëls van Union Tiles

Voor: Kombuis

Voor die opknappings het die lang gang heelwat kosbare ruimte in beslag geneem. 

Bou en breek

Ina het die hulp van Tony Curtis ingeroep vir die bou-en-breekwerk. Met net 50m² tot haar beskikking was die grootste uitdaging om die ruimte so groot moontlik te laat voel. Die slaapkamer was aanvanklik in die middel van die woonstel, met die kombuis en badkamer regs en die leefvertrek links. ’n Donker gangetjie het van die voordeur af gelei en op dié drie vertrekke oopgemaak. Deur die gangmuur uit te breek het Ina baie ruimte gewen en gesorg vir heelwat natuurlike lig deur die hele woonstel.

Toe die muur tussen die kombuis en oorspronklike slaapkamer platgeslaan is, kon sy die spasie waar die oorspronklike kombuisdeur was in pakplek omskep – dis ook perfek vir die geiser en haar wasmasjien. Slim!

Ina se wenke vir ’n klein ruimte
  • Hou dit eenvoudig. Ek het ’n monochroom-kleurskema gekies en net hier en daar ’n tikkie kleur ingebring om dit warmer te maak.
  • Die slegte nuus is dat klein ruimtes gou deurmekaar lyk. Maar die goeie nuus is dat jy vinnig weer aan die kant kan maak! Wanneer jy van een vertrek na ’n ander beweeg, kyk vir goed wat nie op hul plek is nie en neem dit weg.
  • Die ontrommel-kenner Marie Kondo weet waarvan sy praat: As iets nie vir jou vreugde bring nie, gooi dit uit.
  • Moenie dat die kleiner spasie jou beperk nie – jy kán “groot huis”-idees in ’n klein ruimte toepas.
  • ’n Mens kan baie van jou sondes wegsteek deur laaie as bêreplek te gebruik!

Koel keuse

Die middestad raak al hoe gewilder as blyplek vir ’n verskeidenheid mense, insluitend jong gesinne, skeppende beroepslui en entrepreneurs, sê Carel Kleynhans, direkteur by Ithemba Property:

  • Deur stad toe te trek beteken vir baie mense minder of selfs geen pendeltyd, sodat hulle meer tyd kan bestee op dit wat saak maak.
  • ’n Woonstel in die middestad kan eintlik goedkoper uitwerk as om een in die voorstede te huur en dan vir daaglikse vervoer te betaal.
  • Nuwe geboue in die stad sluit dikwels die jongste tegnologie in wat inwoners maandeliks honderde op water en elektrisiteit help bespaar.
  • Eiendoms- en geboubestuurders met ’n goeie reputasie span gevorderde veiligheidsmaatreëls en gereelde instandhouding in om te verseker dat hul eiendomme skoon en veilig bly.
  • ’n Stadswoning is gewoonlik sentraal geleë en naby vermaak, vervoerroetes, skole en winkels, wat dit maklik maak om jou leefstylbehoeftes te bestuur en jou toegang gee tot alles wat jy nodig het sonder om groot afstande af te lê.
  • ’n Groter bewustheid van die omgewing en die begeerte om ’n bewuste leefwyse en gemak te kombineer, maak kompakte wonings al hoe gewilder. ’n Kompakte blyplek in die hartjie van die stad is maklik om skoon en in stand te hou en stel jou in staat om te kom en gaan nes dit jou pas.
VERSKAFFERS & KONTAKTE