Foto’s Elza Cooper • Stilering Amanda van Wyngaardt

Wie woon hier? Lizelle en Nico Janse van Rensburg
WAAR Melville
GROOTTE 160 m²

In 2015 was Lizelle en Nico Janse van Rensburg op soek na ’n huis met goeie vloei, genoeg onthaalruimte en, omdat hulle nie graag wou opknap nie, stylvolle afwerking.

Daarom het dié dubbelverdiepinghuis in Melville, met sy houtvloere, rustieke kombuis, ontblote dakbalke en romantiese solder-slaapkamer hul hart gesteel. Die gemaklike skakeling tussen die leefareas en kombuis en, natuurlik, die lieflike stoep met ’n geil tuin rondom het die transaksie beklink.

Dis moeilik om te glo dat dié kothuis 13 jaar gelede net as pakplek op ’n groter eiendom gebruik is. Dit was voor die erf onder- verdeel en verkoop is. Trouens, die grootste verandering wat Lizelle en Nico gemaak het, was om die buitemure donkergrys te verf.

“Ons het nog altyd gehou van die idee van ’n huis met donker buitemure en ’n groot tuin wat daarteen uitstaan,” sê Nico. Daarom het die paartjie meer inheemse plante gekies.

’n Kombinasie van erfgoed en nuwe kopies skep ’n lieflike laag-op-laag-voorkoms in die eetkamer. Die muur wat dié area van die kombuis skei, is geverf met tekstuurryke Earthcote-verf.
Mat van MRP Home; eetkamertafel van @home; stoele van Red Apple; hanglampe van Ngwenya Glass; die konsoletafel en spieël is erfstukke

Met sy betonrakke en -blaaie is die kombuis ’n toonbeeld van industriële sjiek. Die rou beton staan mooi uit teen die Oregondennehout-vloer en blink blou teëls van die spatpaneel. Ruimte word goed benut in dié klein vertrek; ’n dakvenster verskaf ekstra lig.

Dol hieroor!
Die slagtersblok was klaar hier toe Nico en Lizelle die huis gekoop het. “Dis baie nuttig en vir ons belangriker as ’n skottelgoedwasser!” sê Nico.

Binne weerspieël die huis hul persoonlike styl met al die meubels en dekorstukke wat hulle na aan die hart lê. “Ons het nie dié spesifieke voorkoms beplan nie,” verduidelik Lizelle.

“Ons het eenvoudig ons huis gevul met verskillende items waarvan ons gehou het, wat ons toe gekoop en iewers neergesit het. Dis ietwat van ’n eklektiese, moderne mengelmoes!

“Omdat die huis taamlik klein is – altesaam 160 m² – moet ons pasop dat dit nie te deurmekaar lyk nie; ’n eenvoudige dog prettige aanslag het sin gemaak,” voeg sy by. “Ek dink daar is iets spesiaals aan die kombinasie van kontemporêre meubels en stukke uit die middel van die vorige eeu; ons is dol oor hoe moeiteloos die geheel bymekaargekom het.”

1. ’n Klein venster langs die wasbak kyk uit oor die binnehof en bring ekstra lig in. Vadoeke is byderhand aan hake onderaan die swartbord. 2. Die ry amper eenderse hanglampe bo die werkblad was reeds in die huis toe die Janse van Rensburgs ingetrek het.

Die grondvlak van Lizelle en Nico se huis – wat die oopplan-kombuis, eet- en sitkamer insluit – maak op die mooiste stoep oop. “Ons gooi gereeld al die deure oop sodat daar gemaklike vloei tussen die binne- en buite-areas is,” sê Nico. Die vensters onder het geen gordyne of blindings nie, maar wel houthortjies.

Die ontblote balke is een van die redes hoekom ons ons hart op die huis verloor het. Dit voeg karakter by – met gewone plafonne sou dit ’n heel ander atmosfeer gehad het! – Lizelle

’n Eenvoudige afdakkie om reën van die voordeur af te hou, rus op driehoekige stutte; hulle het dit gekies om die kombinasie van sinkplate en hout oor die stoep daar naby te eggo. Lugplante verskaf groenigheid teen die donker muur.
Planthouers van Rialheim; donkergrys buitemuur geverf in Plascon Tribecca Corner

Ons is dol oor ’n oopplan-leefstyl; dis net reg vir lekker kuier. – Nico

1. “Die monochroom tema in die sitkamer werk, maar dis nie ons wat so oulik is nie,” sê Nico. “Dit het maar toevallig so gebeur!” sê Nico en lag. Hulle kyk na die swart-en-wit kunswerk teen die muur terwyl sy eienaar op reis is en die strooikussings is tweedehands. Die string pompons bo die deur hang al van Kersfees verlede jaar daar, maar die paartjie hou soveel daarvan dat hulle dit nooit afgehaal het nie. 2. Die stoep is een van die paartjie se gunsteling-kuierplekke. “Ons bring die meeste van ons tyd hier deur, somer en winter; ons wil ook ’n braai-area hier aanbou,” sê Nico.
Vloerlamp van Weylandts; rusbanke van Coricraft; koffietafel van @home; hanglampe, tafel en stoele van superbalist.com; Nico het die geel plantstaander uit ’n vintage-tydskrifrak gemaak

Salige solder

Die tweede verdieping bestaan uit ’n slaapkamer, ’n en suite-badkamer en studeerkamer. “Dis ’n lieflike ruimte; dis oop, lugtig en die natuurlike lig stroom hier in. Ons skrik elke oggend tussen die bome wakker,” sê Lizelle.

Toe die Janse van Rensburgs die huis gekoop het, was die houtraam-stapeldeure wat die vertrek in twee skei reeds daar. “Ons maak dit eintlik net in die winter toe, of wanneer ons wil keer dat ons honde – die huis se eintlike eienaars – op die bed spring,” sê Nico. Die muur tussen die slaapkamer en badkamer strek nie tot teen die plafon nie om lugsirkulasie te verbeter.

’n Hoekie onder een van die boogvensters maak die perfekte werkplek. Lizelle het die groen deur vir die bokkietafel by Builders gekry; haar oupa het die stoel gemaak en dit ook self gestoffeer.
Mat en blou buffetkas van superbalist.com; blou strooikussings van Anatomy Design

Die badkamer is net agter die slaapkamer. ’n Pootjiesbad pas netjies onder een van die boogvensters en daar is ’n aparte stort met ’n glas-skerm om die maksimum lig in te laat.

VERSKAFFERS