Foto’s Francois Oberholster • Stilering Shelly Bergh

WIE WOON HIER? Hanneli en Nico Denner en hul dogters, Matista (18) en Halinka (17)

WAAR Jacobsbaai, Weskus

GROOTTE 620 m²

’n Beesskedel op die voorstoep, outydse naaimasjiene uitgestal in die kombuis, ’n hanglig geprakseer uit ’n ou leer en kettings, ’n hand vol ou slingertelefone, en sowaar ’n halwe telefoonpaal ... In Hanneli en Nico Denner se huis moet jy enigiets verwag, en dit pas hulle goed.

“Dis daar net omdat dit mooi is,’’ verduidelik die kreatiewe Hanneli haar verrassende dekor. Hulle het jare lank planne gemaak hoe hul droomhuis eendag moet lyk, en toe hulle drie jaar gelede begin bou, was sy slaggereed met sketse en allerhande mooigoed en meubels.

“Van my idees het die praktiese Nico soms sy hande laat saamslaan,” onthou sy. “Gelukkig hou ons van dieselfde dekorstyl.”

Die huis skep met die intrapslag ’n gevoel van warmte, danksy die buitengewone versierings, sinkplaatmure, ruwe sement-afwerkings en klipwerk. “Kunssinnigheid is vir my soos asemhaal; dit gebeur net,’’ vertel Hanneli.

Elke sieraad is met sorg uitgesoek en ingespan. “Die klip teen die buitemure kom uit die grond toe die fondasies gegrawe is. Nico het die beesskedel in die veld opgetel en ek het die kleurryke kleivoëltjies wat op dié se horings sit, in ’n pottebakkersklas op Paternoster gemaak,” verduidelik sy.

“Die voordeur is nuut, maar ek het dit geverf dat dit soos ’n oue lyk. Ná ’n lang soektog het ek die regte handvatsel gekry en dit geskuur tot dit oud genoeg lyk.’’ 

Die Weskus-gevoel van die huis word versterk deur die kombinasie van wit mure, ’n sinkdak, outydse houtraam-skuifvensters en seegroen luike. Geute word nie toegelaat nie, sodat reënwater direk in die grond opgeneem kan word. ’n Buitetrap langs die kuierplek agter die huis lei na die boonste leefvertrek.

Die agterdeur uit die opwasdeel agter die rooi baksteenmuur is van glas, sodat die lig deur glaskaste waarin ou naaimasjiene uitgestal word, kan instroom. Regs lei ’n skuurdeur na die spens en linnekamer.

Ons is dol oor die eiland wat Hanneli spesiaal laat maak het met baie pakplek; sy het self die deure geverf. Die laaie in die eiland het pakplek vir alles en nog wat. Eetgerei is netjies weggepak in ou Butterfield-broodpanne.

Die werkoppervlakke langs die gasstoof is van sement, met houtlaaie. Hanneli het een van die laaie versier dat dit soos ’n ou tas lyk, kompleet met handvatsels van haar ma se skooltas.

Eiland gemaak deur Oldwood Creations; staal-en-seil-kroegstoeltjies van Mabibuch; sandsteen-vloerteëls in die kleur Desert van Mazista

Ons is nie baie gepla oor eenvormigheid in die huis nie, net solank niks skeef is nie. – Hanneli

Die leefvertrek op die eerste vloer het ’n balkon met ’n seeuitsig. Daar is ’n kaggel en klein kombuisie. 

Slim plan: Sinkplate verskaf tekstuur teen ’n muur.

Die eethoekie langs die kombuis loop uit op die agterstoep met sy ingeboude braaiplek. Patryspoorte is ’n deurlopende tema – daar is twee in die muur bo die eiland en selfs een in die braaikaggel!

Drie ligte hang aan ’n ou leer wat met kettings en katrolle aan die grofgesaagde saligna-dakbalke vasgemaak is.

Hanneli het die inspirasie vir die trapreling van verouderde koperpyp in ’n Franse tydskrif gekry. “Ek is gek na die Franse kombinasie van oud en nuut saam. ’’Die trapmuur is versier met familiefoto’s en houtblokkies wat die gesin se gunsteling-woorde, soos “see”, spel. Glasbottels se bodems is in die sement aan die onderpunt van die trap geset.

Iets van alles

Hanneli is ’n boorling van Noordwes en het al 18 jaar lank haar eie binne-ontwerpsaak, Annerkant Die Draad. “Ek doen iets van alles,’’ sê sy. “Ek skilder, is gek oor argitektuur, ontwerp, kleedstowwe, geskiedkundige romans, naaldwerk en tuinmaak. Ek is ook ’n amateurfotograaf.’’ Maar eintlik is sy ’n opgeleide onderwyser!

Sy en Nico het die huis self ontwerp. “Dit het baie ure se sketse teken geverg. Nico se insig en praktiese, logiese insette het baie gehelp. Ek het die tekenwerk met ’n rekenaarprogram gedoen en ’n argitek het die finale planne by die munisipaliteit laat goedkeur.

“Die bouriglyne op die dorp is nogal streng. Die hoogte en breedte van die huise, asook die grootte van vensters en deure, is onderworpe aan streng reëls. Weens die hoogtebeperking is die boonste vloer grootliks in die dak.

“Die bou en ontwerp was soos om op ’n skoon bladsy te werk. Ons vorige eiendom was oud en ons het dit opgeknap, maar dit was die eerste huis wat ons van nuuts af gebou het. Alles wat ons voorheen gepla het, kon ons hier reg doen.”

Sy is oor net een ding spyt. “As ons iets kon verander, sou die huis ’n bietjie kleiner gewees het. Ons was so opgewonde oor die droom om Jacobsbaai toe te trek, dat ons nie eens daaraan gedink het dat ons kinders een van die dae uit die huis gaan wees nie.’’

Gelukkig is daar darem nou meer as genoeg plek vir wanneer hulle en hul maats kom kuier! 

In Matista se kamer hang een van Hanneli se skilderye, terwyl ’n ou ammunisiekis voor die venster pakplek verskaf.

Halinka se se kamer is versier met kleurryke rosette wat sy in perdrykompetisies gewen het. Hanneli het die kis by die voetenent van haar bed in die veld opgetel en gerestoureer.

Hospitaalbedkassies en ’n ruwe klipmuur gee trefkrag aan die gastekamer.

Oud en aards

Die Denners het op Rustenburg in Noordwes gewoon, maar jare lank op Jacobsbaai vakansie gehou. Hulle het die erf waarop die huis nou staan in 1998 gekoop. “Jy kan die see sien, hoor en ruik,’’ sê Hanneli. “Die erf grens aan ’n bewaringstrook en dit voel of jy op ’n plaas bly. In die winter is dit prentjiemooi met al die groen, en daarna kom die lente met al sy blomme.”

Bouwerk het in Maart 2015 begin. “Ons sou die einde van die jaar intrek, maar dit het eers die volgende Maart gebeur,’’ sê sy.

Die huis is ontwerp rondom hul meubels, waarvan die meeste uit hul ouerhuise of oudhedewinkels kom. “Ons hou van ou goed. Ons koop by interessante plekke en volg nie modes en giere na nie. Die Frans landelike styl inspireer my, maar ook plaaslike dorpies soos Rosendal in die Vrystaat. Dis daar wat ek die idee gekry het om klipwerk binne en buite die huis te gebruik.’’

Hanneli sê die sementvoorkoms van die mure help dat die huis so aards is. “Al die mure in die huis is geverf met Worn Leather van Earthcote in die kleur Bakgat. Op die grondvloer het ons sandsteenteëls gelê en die boonste vloere is van herwinde Oregondennehout.

Haar gunsteling-deel van die huis? “Die kombuis!” sê sy dadelik. “Dis die hart van ons huis. Dis waar ons kos maak, koffie maak, wyn drink, kuier. In die winter maak die koolstoof dit so knus, tot die katte wil net daar lê.

“Ons is gelukkig hier. Ons het net een lewe en ons glo: Lééf dit! Vandág is mos goed!’’ 

Die wasbak in die hoofslaapkamer se en suite is gemonteer op ’n yslike houtblad wat uit die dak gesteun word aan staalkabels. Die mure is afgewerk met Cemcrete.

Hanneli en Nico slaap op ’n hemelbed wat hulle lank gelede in Pretoria gekoop het. Sy het die riempiesbank ’n nuwe doel gegee aan die voetenent van die bed nadat sy rugleuning afgebreek het.

Bedlampies van Les Collectables; glaslamp van African Affair

Wenke oor huisbou

Hanneli het dié raad vir wanneer jy jou droomhuis begin bou:

  • Hou by jou styl.
  • Die huis se ontwerp moet by jou leefwyse pas.
  • Voor jy die boukontrakteur aanstel, volg sy verwysings op en stel ’n omvattende kontrak op.
  • Plaas veranderinge gedurende die bouproses op skrif.
  • Moenie oorhaastige besluite neem nie – huisbou is duur.
  • Hou sover moontlik by jou begroting! Toe ons boukoste byvoorbeeld duurder uitwerk as beplan, moes ons na ander opsies soos goedkoper beligting kyk.

Die meisies se badkamer met sy rooi stene is geïnspireer deur ou stasiegeboue. Hanneli het die houtkassie laat maak, en die spieëlraam was deel van ’n ou staalplafon.

’n Sinktrommeltjie word as pakplek langs die bad in die meisies se badkamer ingespan.

Wit bad en sink-trommeltjie van Les Collectables

Hanneli het die raamwerk vir die wastafeltjie self geverf; die blad is van Franse eikehout.

Wasbak van CTM; krane van Victorian Side Bathrooms

Die gastebadkamer se sinkbad kom van Koöperasie Stories; dié soort baddens dien deesdae in Frankryk as krippe! ’n Ou potterak is bêreplak vir handdoeke. Die mosaïekpaneel is Hanneli se handewerk.

Hanneli se oupa het die tafeltjie op die gaste-eenheid se braaistoep jare terug vir haar ma gemaak. Die ou windpomp lyk met sonsondergang op sy mooiste.

Lantern van Dassiesfontein

Die paadjie van sementblokke na die voordeur is versier met spoelklippe en skulpe, alles op die strand opgetel; waterwys Australiese roosmaryn (Westringia fruticosa) verskaf groenigheid.

VERSKAFFERS

African Affair 044 343 1008, africanaffair.net

Annerkant Die Draad 082 875 0087

Cemcrete cemcrete.co.za

CTM 0800 010 810, ctm.co.za

Dassiesfontein 028 214 1475, dassies.co.za

Earthcote paintsmiths.co.za

Koöperasie Stories 076 303 9336, kooperasiestories,co.za

Les Collectables 021 761 6085, lescollectables.co.za

Mabibuch 018 632 3912, mabibuch.co.za

Mazista mazista.co.za

Oldwood Creations 044 690 6192, oldwoodcreations.co.za

Victorian Side Bathrooms 021 982 0461, victoriansidebathrooms.co.za