Foto’s Francois Oberholster • Stilering Kim Bougaardt

WIE WOON HIER? Rudi en Karen Oosthuyse en hul kinders, Ruan (6) en Karmi (4)
WAAR Botrivier, Wes-Kaap
GROOTTE 412 m²

Wanneer jy uit die Van der Stel-pas buite Botrivier met die kronkelpaadjie afdraai na die fynbosplaas van Rudi en Karen Oosthuyse, is hul huis die eerste struktuur wat jy sien. En dit slaan behoorlik jou asem weg.

Gebou uit klip wat op die plaas uitgegrawe is en herwinbare swart-, denne- en bloekomhout, met reusevensters wat uitkyk oor die vallei doer onder, is die huis geheel en al Rudi se handewerk.

“Rudi is pa, entrepreneur en kreatiewe denker,” som Karen hom op. “Ek is weer ’n oefenfanatikus en kan glad nie met my hande werk nie. Maar ek weet waar om wat te koop!”

Saam besit en bestuur hulle ’n berglodge en maak hulle hul twee kinders na aan die natuur groot. “Ruan is ’n regte dierefluisteraar, terwyl Karmi drukkies uitdeel en dans dat die biesies bewe.”

Die Oosthuyses het in 2013 met die bouwerk aan hul eie blyplek begin. “Ons het in Junie daardie jaar die bome geplant en die grond gelyk gemaak, en in 2014 begin bou. Die einde van daardie jaar kon ons intrek.”

Rondom die huis is bome soos die Amerikaanse moerassipres (Taxodium distichum), fynblaarolm (Ulmus parvifolia), watereik (Quercus nigra), moeraseik (Quercus palustris) en amberbome (Liquidambar styraciflua) geplant.

Bad buite

Die warm plonsbadjie op die stoep is ’n groot trekpleister. Ook dit is Rudi se handewerk. Dit werk soos ’n outydse “donkie”, waar ’n vuur gestook word om die water warm te maak. Rudi verduidelik: “Daar is ’n vlekvryestaalstofie aan die binnemuur van die bad vasgebout. Jy maak vuur in die stofie, en hoe groter die vlam, hoe vinniger raak die water warm. Dit word so warm soos badwater en is natuurlik dié plek om te wees as dit koud is buite!”

Onthaalstyl

Die Oosthuyses sê hulle hou daarvan om te dink dat hul huis altyd oopstaan vir hul vriende en familie en dat dit soos ’n halfweghuis vir hulle moet voel.

“Ons is gaande daaroor om by ons huis te wees,” sê Karen. “Uit die aard van ons gasteverblyfsaak is ons in elk geval baie hier, en dis hoekom dit vir ons belangrik was om die huis vir ons – en veral ook vir die kinders – lekker en gemaklik leefbaar te maak.

“Wanneer ons onthaal, is dit buite op die dek. Ons braai, maak ’n potjie of bak pizzas – altyd met ’n paar goeie bottels wyn en lekker musiek daarby!”

Rudi het die eetkamertafel gemaak van Franse eikehout, waarna Karen dit behandel het met Rubio Monocoat, wat dit ’n natuurlike, mat afwerking gee.

Mat van Coirtex; gloeilampies van Hoi P’loy; chaise gestoffeer deur Anza Curtains met Harvest-lap uit Hertex se Fable-reeks

Dis in die detail
Rudi en Karen het die lig bo die eetkamertafel ontwerp en gemaak.

Van droom tot doen

Die plaas waarop die lodge geleë is, is familiegrond, en die Oosthuyses boer sedert 1995 hier.

“Ons vorige huis, verder op in die pas, was ’n huurhuis. Dit was oudmodies en so donker,” onthou Karen. Dit het die Oosthuyses laat besluit dat hul permanente huis oop en helder en deel van die omgewing moet wees.

Die beplanning vir hul nuwe huis het begin “met groot – soms onrealistiese – drome”, vertel Rudi. “Maar hoe nader die tyd gekom het om dié drome werklikheid te maak, hoe meer realisties het ons plannetjies op papier geword. Dit het natuurlik ook beter by ons begroting gepas!”

Hy het die planne self geteken en net deur ’n argitek laat indien vir bou-goedkeuring. En hoewel hy geen ervaring van die boubedryf het nie, is hy goed met navorsing, baie handig en glo hy in selfdoen.

“So ontdek jy jou eie kreatiwiteit,” verduidelik hy. “Maak en bou maar eerder self, dan kan jy boonop ‘spoeg en plak’ soos jy aangaan.”

Karen vertel dat selfbou altyd op hul agenda was, selfs nog voor hulle getroud is. “Ons het nooit iets anders oorweeg nie. Dit is beslis meer bekostigbaar en jy het meer vryheid om veranderinge te maak. Jy sien ook die groter prentjie van die huis se ontwerp, want dit begin in jou eie kop.”

Dis in die detail
Rudi het die interessante voordeur uit merantihout gemaak en dit versier met Shou Sugi Ban, ’n Japanse brandtegniek.

Matte van Tirmah Interiors en Oriental Carpet Gallery

Kussings deur Anza Curtains

Vir Karen was ’n oopplankombuis belangrik, want sy wil deel van die kuiers en die kinders se aktiwiteite wees. Hier word gereeld huiswerk by die toonbank gedoen en as hulle onthaal, is Karen en haar vriendinne deel van die geselskap buite op die stoep.

Rudi het die kombuiskaste gebou, maar die werkblaaie deur ’n kontrakteur laat insit.
Vicostone-blaaie in die kleur Silver White van Original Stone Projects

In die kombuis is gerieflike hangplek vir die huismense se jasse, tasse, hoede en baadjies aangebring.Dié buitehoekie voor die gastekamer is ideaal vir koffie en beskuit vroegoggend.

Groen planne

Rudi het ekstra hande op Botrivier gehuur en begin deur eers penne in die grond in te slaan. Hy het ’n band daarom gespan en teruggestaan om te sien hoe dit gaan lyk. Toe hulle ná ’n paar aanpassings tevrede was met die afmetings, het die grondverskuiwing begin en is fondasies gegrawe en gegiet. Daarna is die eerste balke geplant om struktuur aan die huis te gee. Nadat die mure gebou is, het Rudi en sy span die wit sementvloere vir die onderste vlak gegooi.

Die kinders se kamermure op die boonste vlak is van dennehoutbalke, wat beter isolasie verskaf. Dit lyk boonop natuurlik, pas perfek by die omgewing en verskaf ekstra tekstuur. Rudi behandel die dennehout met boorsout teen kewers en verrotting, wat ’n groener metode is as die chemikalieë wat tradisioneel gebruik word.

So het die droomhuis stuk vir stuk teen die skuinste verrys, en ’n paar maande later kon hulle intrek.

Is daar iets wat hulle anders sou aanpak, noudat hulle al vier jaar hier woon? “Ja, die vloer van die boonste verdieping is van hout, wat kraak as jy daarop loop,” sê Karen. “Ons moes miskien liewer beton gebruik het. En omdat die hele onderste vlak een oop ruimte is, is daar geen plek waar die kinders op hul eie kan speel en kuier nie. Wanneer hulle ouer word, gaan dit seker ’n probleem wees.”

Die balke wat die struktuur van die huis vorm, is ’n kombinasie van Australiese swarthout, bloekom en dennehout.

Rudi sê hulle het oor die jare al baie indringers op die plaas uitgekap sodat die natuurlike veld en fynbos kon herstel. Die swarthout, ’n indringer wat veral rivierlope en fynbos oorneem, kom nie van die plaas self nie, maar die bloekoms is op hul grond uitgekap.

Ook die klip wat vir die mure gebruik is, kom van die plaas; hulle wou nie boumateriaal van elders aanry en daarmee ’n reuse-koolstofspoor laat nie.

Rudi en Karen leef so vriendelik moontlik teenoor die natuur. Hulle herwin, en gebruik hout en gas pleks van elektrisiteit. “Ons was ons wasgoed met reënwater en ons huis front noord met groot glasvensters om in die winter baie son in te laat. Sodoende maak ons minder gebruik van verwarmers om hitte te verskaf.

“Ons het ook die kaggel met openinge aan weerskante gebou en groot vlekvryestaal-skoorsteenpype gekies vir beter verspreiding van hitte. Op dié manier word die kamers op die boonste verdieping ook verhit deur die kaggel op die onderste vloer,” verduidelik Karen.

Rudi sê die hortjies bo die glasruite is teen 33 grade geïnstalleer sodat die son in die winter daardeur skyn, maar in die somer geblokkeer word. Boonop hang die dak ver genoeg oor dat die son nie in die somermaande die huis warm bak nie. Hulle het ook bladwisselende bome aan die westekant van die huis geplant wat in die somer die son afkeer, maar in die winter deurlaat. 

Ons het gedroom van ’n huis met baie lig en ooptes. Ons bly immers hier in die natuur en ons wou dit deel van die huis maak. – Karen

Die hoofslaapkamer en sy badkamer het ’n oopplanontwerp en bied onbelemmerde uitsigte oor die fynbos rondom en die vallei onder die huis. Soos in die res van die huis is die verfkleure hier aards en in pas met die natuur.

VERSKAFFERS
  • Anza Curtains 083 850 8957
  • Coirtex 021 762 2227, coirtex.co.za
  • Hertex 0860 437 839, hertex.co.za
  • Hoi P’loy 021 447 1433, hoiploy.com
  • Midas 086 036 7463, midas.co.za
  • Oriental Carpet Gallery 021 851 0845, orientalcarpetgallery.co.za
  • Original Stone Projects 021 510 6392, originalstone.co.za
  • Tirmah Interiors 021 418 4841, tirmahinteriors.com