Foto’s Greg Cox | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Dieter Odendaal en André Lambrechts

WAAR Solitaire, Hemel-en-Aarde (naby Hermanus)

GROOTTE 350 m²

Wanneer ’n mens by Dieter Odendaal en André Lambrechts hier in die klowe van die Hemel-en-Aarde-vallei kuier, voel dit soos ’n spesiale okkasie. En dis geen wonder nie, want dié twee is die eienaars van Fabulous Events, wat troues en ander glansgeleenthede reg oor die land onvergeetlik maak.

Hulle maak nie net mooi vir ander mense nie, hul eie huis is ook ’n getuigskrif van hul kreatiwiteit.

Dieter is ’n dekor-foendi en versamel iets van alles. Hy’s ook ’n oud-joernalis en het jare in die wynbedryf gewerk. André is ’n bloemis en die baasbrein agter die mooiste rangskikkings wat hul ander onderneming, The Flower Boyz, skep. Aan idees is hier geen tekort nie.

Dit was die pragtige natuurskoon en stilte wat hulle sowat sewe jaar gelede na hierdie 3 ha-eiendom in ’n plaasgemeenskap bekend as Solitaire gelok het. En al is dit afgesonder, is die ligging ideaal, met drie Overbergse dorpe om die draai: Hermanus, Botrivier en Caledon. Wegglip Kaapstad toe is ook nie ’n dagreis te perd nie. “Ons ry maklik soontoe en terug op een dag,” vertel Dieter.

Op somersaande gooi Dieter en André ’n kombers uit oor die groen grasperk en lê en kyk dan sterre tot laatnag. Daar’s min elektriese ligte in die omgewing en omdat hulle tussen die berge geleë is, voel dit soms of jy aan die Melkweg kan vat, sê Dieter. Tarentale, steenbokkies en bloukraanvoëls wei dikwels om die huis. Gruisklip van Build it

Wanneer hulle onthaal, kuier almal om die lang tafel op die stoep met sy groot vensters, van waar hulle uitkyk op ’n vlei voor die huis en die Steenboksberg daaragter.

‘Soos ons wou leef’

Dié blyplek is Dieter en André se derde huis saam. “Ons vorige plekke het telkens meestal die modes van die bepaalde tyd weerspieël,” vertel Dieter. “Hierdie huis is meer aards, gebou soos ons wou leef. En die styl is tydloos. Al die deure, vensterrame en baie van die ander mooigoed in die huis is tweedehands of herwin. Die reuse-houtraam van die deure wat na die stoep lei, is gered uit ’n winkel wat gesloop moes word – dit was oorspronklik ’n toonvenster.

“Ons het altyd kom vakansie hou in die Hermanus-omgewing en het tydens een van dié besoeke die Hemel-en-Aarde-wynstreek ontdek. Ons was dadelik verlief daarop; dit is eintlik ‘hemel op aarde’. Die plaaslewe, asook die natuurskoon met asemrowende fynbosbedekte berge reg rondom, was ’n besliste aantrekkingskrag. Verder het dit vir ons ’n tuiste gebied waar al ses ons honde in ’n uitgestrekte tuin kon kerjakker.”

Maar haastig was hulle nie. “Alles is nie op een slag klaar gebou nie,” verduidelik Dieter. “As ons iets moois sien wat ons in die bouproses wou gebruik, het ons dit gekoop, en waar nodig die planne aangepas om watter vonds ook al te akkommodeer.” Só het hulle tweedehandse boumateriaal van Somerset-Wes tot Knysna in die struktuur geïnkorporeer

Die paar beskryf hul huis se styl as “eklektiese konservatorium met ’n tikkie Bali en ’n hunkering na Art Deco”. Dis ’n regte mengsel van alles wat vir hulle mooi is en saam werk.

“Die mooigoed kom van oral af,” sê Dieter, “en herinner ons aan ons reise oor die wêreld heen. Die styl van die huis self kan seker beskryf word as ’n modernistiese plaasstyl, wat pas by die merkwaardige ligging en die weer.”

Die idee vir die planne, vertel hy met ’n knipoog, “het seker al begin toe ek as kind met Lego-blokkies gespeel het. Ek en André het albei van kleins af belanggestel in mooigoed bymekaarsit.” Hulle het die ruwe planne self geteken en toe formeel laat optrek deur Gericke Argitektoniese Dienste.

“Die ou geloof dat ’n huis noord moet front, is beslis waar. En dan is die mooiste uitsig uit dié huis ook aan die noordekant, so alles het mooi saamgespeel,” vertel Dieter. Die seisoene speel beslis ’n rol in hoe hulle leef. “In die winter is die stoep die plek om te wees. Dis heerlik warm. Die res van die huis het baie kaggels en maak die huis gou snoesig. In die somer is dit weer heerlik koel omdat die son dan suid skuif en die dubbelmure die huis koel hou. En danksy die los matte op die sement- en houtvloere het ons goeie temperatuurbeheer.”

Die herwinning van ougoed lê ons na aan die hart omdat ons vir die natuur omgee; dis ’n groot rede hoekom ons ons hier kom vestig het. – Dieter

Dieter en André het herwinde hout, vensters en deure gebruik om die huis ’n ingeleefde karakter te gee. Trappies en inhamme skep interessante detail en reusevensters maak die natuur deel van die huis.

Ougoed met stories

Daar is nie veel nuwe meubels en bykomstighede in dié kranige herwinners se huis nie. Die meeste is tweedehandse vondste en dalk geverf; ander is self gemaak of ontwerp.

Buiten ’n klompie oorspronklike kunswerke wat hulle heeltemal impulsief aangeskaf het, kom die mooigoed teen die mure van hospies-winkels of veilings – dis dinge wat ander mense nie meer wou hê nie.

“Ons is mal daaroor om in tweedehandswinkels rond te krap, en het al voorwerpe van onskatbare waarde by sulke plekke opgeraap. ’n Paar reis-aandenkings is ook funksioneel, soos kussingoortreksels uit Turkye en matte uit Istanboel.”

Dieter vertel: “My grootste aankoop – iets waarvoor ek vandag nog lief is – is ’n Art Deco-sitkamerstel wat ek in 1990 met my eerste salaristjek vir ongeveer R400 by ’n tweedehandswinkel in Langstraat in Kaapstad gekoop het. Dit het deur die jare al hoeveel keer nuwe lewe gekry met stoffeerlap.”

Die groot houttafel op die stoep is gered uit ’n restaurant wat moes sluit; daar is ook erfgoed van hul ouers en grootouers. “Só het die meeste meubels ’n storie om te vertel, wat jou net weer herinner aan spesiale tye,” gesels hy.

Die kuierstoep met sy ingeboude braaikaggel en mooi uitsig is perfek vir oggendkoffie; dis ook hier waar André en Dieter graag saam met vriende kuier. Hulle gebruik die ruimte in die winter as ’n sonkamer en het ’n houtvloer gekies weens die warmte wat dit bied. Die verskillende ligte op die stoep kom van Malawi. Houtrame en deure van Over & Over; Art Deco-stoel gestoffeer deur Whale Coast Covers; mat van @homelivingspace

Die wiegstoel op die stoep is die ideale plek om jou boek te lees en sommer ook ’n vinnige uiltjie te knip.

Teen die blou muur hang teëls wat die paartjie in Portugal laat skilder het met hul honde se gesig daarop.

Kleur en tekstuur

Stap jy deur die huis, is dit duidelik dat blou, en hier en daar ’n tikkie groen, voorkeur geniet. André verklap ’n nuttige dekorwenk wanneer hy sê dis makliker om elemente te kombineer indien hul kleure binne dieselfde palet val. Hy en Dieter vind blou kalmerend en sê die skakerings van blou – van potblou tot blougrys – is onuitputbaar. Die diepblou wat hulle vir sommige mure gekies het, herinner aan Classic Blue, die Pantone-kleur van die jaar.

“Wat mooigoed betref, soek ons selde doelbewus na iets spesifieks. Ons koop meestal dinge op die ingewing van die oomblik as dit ons oog vang,” sê hy. “Dis asof die voorwerp jóú ook somtyds uitsoek, en dan maak jy dit werk in jou huis. Dis hoekom ons styl so eklekties is.”

Dieter glo ook ’n mens moet ’n basistekstuur identifiseer wanneer jy ’n binneruimte ontwerp – soos hout, sement of teëls. Dan begin jy teksture meng en bykomstighede kies wat daarby pas. ’n Sekere tekstuur skep ’n bepaalde gevoel en styl, en voorwerpe pas óf daarby óf nie.

“Bly getrou aan ’n basiese styl,” is sy raad. “Maar dit verhinder jou glad nie om hoekies en kamers te skep wat heeltemal aweregs is nie. Dis ’n heerlike uitdaging.”

In die hoofslaapkamer hang ’n foto van Dieter se pa wat in 1961 vir die Springbokke rugby gespeel het tussen klein kunswerkies wat oor jare versamel is. Die en suite-badkamer is agter die koperkleurige muur.

Dubbele oopswaaideure maak uit die hoofslaapkamer op die stoep oop. ’n Fluweeldeken bring sterk kontras met die ongepleisterde muur. Die skildery was ’n hospies-kopie.

André versamel antieke spieëls. Dit weerkaats lig en skep die illusie van meer ruimte in die gastekamer.

Die gastebadkamer herinner Dieter en André aan hul reise na die Griekse eilande.

’n Stil sithoekie in die aparte gastekamer bied ’n welkome ruskans ná ’n dag van ontdekkings. Dieter se ma het die twee stoele in die 1960’s in Pretoria laat maak; hy is mal oor dié Suid-Afrikaanse interpretasie van die Skandinawiese styl.

Ou koperbakke word ingespan as wasbakke en blomstaanders.

Selfs die waskamer, wat heeltemal uit die oog van die leefvertrekke is, spog met baie natuurlike lig en plante.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@homelivingspace

Built it 028 312 3898

Gericke Argitektoniese Dienste 082 453 8554

Over & Over 028 312 3307

The Flower Boyz 082 659 2318

Whale Coast Covers 028 312 3316