WIE Shannon en Jackie Lowe en hul kinders, Fallon (6) en Jensen (1)
WAAR Calitzdorp in die Klein-Karoo
GROOTTE 250m2
ORIËNTASIE Noord
BOUMATERIAAL Houtbeklede bakstene en sement, en ’n dek van 130m2
BOUKOSTE Ongeveer R8000/m2 

Vir Shannon Lowe en sy vrou, Jackie, was ’n ekovriendelike huis eintlik ’n voor die hand liggende keuse – Shannon is ’n eiendomsontwikkelaar en Jackie besit Greenkid Eco, ’n maatskappy wat spesialiseer in ekovriendelike bababottels. G’n wonder hulle het die groen-leefstyl so maklik onder die knie gekry nie...

Die paartjie het ’n paar jaar gelede ’n naweek op Calitzdorp in die Klein-Karoo deurgebring en verlief geraak op die vallei. “Ons het rondgevra en van dié stuk grond te hore gekom. Dit was so oorgroei dat ons tot hier moes voetslaan, maar toe ons hier aankom, het ons geweet dis net die plek vir ons,” onthou Jackie.

En met die unieke ligging langs die Gamkarivier, pragtige uitsig op die Swart- en Rooiberg en ’n kloof vol spekbome is dit maklik om te sien hoekom. Die Lowes het die geleentheid aangegryp om hul droom te bewaarheid – ’n lewe off the grid, onafhanklik van munisipale krag en water.

Hoewel hulle albei hul ondernemings van hul huis in Knysna bedryf, bring hulle baie van hul vrye tyd in hul inspirerende vakansiehuis deur saam met hul dogter, Fallon (6), en seun, Jensen (1). 

Met liefde gemaak

Die Lowes het ’n eklektiese huis vol rustieke sjarme geskep. Met die intrapslag nooi ’n indrukwekkende palet-rusbank van 10 m2 op die dek jou om agteroor te sit en die uitsig op die rivier en berge te geniet. “Ons wou ’n ruimte ontwerp waar vriende hul skoene kan uitskop en ontspan,” sê Jackie. “Ek dink ons het dit reggekry – ek het al baiekeer op die dek gekom en gaste vas aan die slaap op die banke in die son gekry.”

Antieke stukke en Karoo-artefakte pryk oral in die huis, tesame met die paartjie se versameling werke deur kunstenaars soos Errol Boyley, Mel Briggs, Catherine Paynter en Sam Brown.

Die paartjie het besluit op ottomans wat rondgeskuif kan word pleks van ’n kof etafel. Die houtvloere regdeur is geseël met ProNature White 40. 

“Ek is ook dol daaroor om tweedehandse meubels te herwin – baie van die stukke in die huis is die resultaat van ure se werk met ’n verfkwas,” sê Jackie. Die meeste van die meubels in die huis is in iemand se tuinskuur of ’n winkeltjie ontdek; party, soos die Indonesiese deure by die ingang, moes met sorg gerestoureer word.

“Gewoonlik sit die kinders hand by met die versiering, vandaar die ontspanne styl. Alles in die huis is met liefde gedoen en ek dink daar is skoonheid in die speelsheid en onvolmaaktheid,” sê Jackie. 

Die kombuis het ’n heerlike plaasgevoel met sy oop rakke pleks van kaste. Die werkoppervlakke is van swarthout. 

Fallon wou graag ’n stapelbed hê; as ’n verrassing het haar pa, met die hulp van ’n skrynwerker, twee dae daaraan gebou. “Ons het ’n klein TV daarbo geïnstalleer; nou is dit soos ’n privaat fliekteater vir die kinders. Hulle is dol daaroor en ons kry ’n uur se vrede! Die beddens onder is van palette en is nuttig vir groot familiekuiers,” sê Jackie.

Selfversorgend

“Ons wou nog altyd ’n ekovriendelike huis gebou het wat onafhanklik van munisipale krag en water is,” sê Jackie. “Shannon het dit as ’n persoonlike uitdaging beskou. Ons het die rivier vir water en die Karoo-son vir krag; dit was ’n logiese stap. Boonop is die huis afgesonder – ons het nie ’n keuse gehad nie!”

Die huis se eko-eienskappe sluit die volgende in: ’n volledige sonkragstelsel, dubbelglasvensters, ’n stapelriool, ’n gryswaterstelsel, ’n 4m hoë enkel-staandak met hoë vensters aan die verhewe kant en houtbekleding op dele van die huis wat baie son kry. Dit keer dat die son direk op die baksteen-en-sement-struktuur skyn, wat die huis koel hou. Hul water kom uit die rivier.

Shannon sê dit was verbasend bekostigbaar om die sonkragstelsel te installeer. Dit moes deur ’n gekwalifiseerde elektrisiën gedoen word, en het sowat R80000 gekos. Al klink dit duur, verskaf die stelsel genoeg krag vir die meeste van die toestelle wat ’n deursneehuishouding gebruik. In die Lowes se geval sluit dit ’n skottelgoedwasser, lugversorger, twee TV’s met DStv, ’n yskas, waterpomp, mikrogolf, lampe en rekenaars en sowat 80 gesonke LUD-ligte in. Hulle het ook ’n gasoond, maar maak van hul kos op ’n houtstoof gaar. 

Die Lowes se sonkragstelsel met die omskakelaar, laaibeheerder, battery- en verbruiksmonitor. 

Die 3,2kW-sonpaneelstelsel wek genoeg krag op vir die meeste toestelle wat die deursnee-gesin benodig. 

Wenke

• Benut die ekstra sonkrag smiddae deur nie-noodsaaklike toestelle soos waterpompe, wasmasjiene en lugversorgers te gebruik.

• Verminder jou kragverbruik snags omdat dit die grootte van jou battery- bank beïnvloed. 

• Kry ’n battery- en energieverbruiksmonitor. Dié twee items is noodsaaklik om jou batterybank se laai-status en die kragverbruik te beheer.

• Oorweeg verskillende maniere om water op te vang, soos putte en reënwatertenks. Jackie en Shannon gebruik ook ’n sewestadium-filtreerstelsel met ’n mineraliseerder om die skoonste water moontlik uit die rivier te kry.

• Koop ’n opwekker vir noodkragtoevoer vir ingeval die son nie skyn nie. 

Om op die hangdek oor die Gamkarivier te stap en oor die Swartberg uit te kyk, raak nooit vervelig nie. - Jackie