Foto’s Elza Cooper • Stilering Juané Scheepers

Die eintlike ontwerper van die argitek Jaco en sakeman Jens Reverchon se verruklike wegbreekplek op ’n plasie reg langs die Krugerwildtuin was tyd. “Aanvanklik wou ek ’n heel ander voorkoms skep,” verduidelik Jaco. “Iets soortgelyk aan ’n vyfster-bosveldlodge. Maar hoe meer ons die eiendom besoek het, hoe meer het ek aan die sensitiwieit van so ’n ontwerp begin twyfel.”

So het die Reverchons besluit om eers al vier die seisoene op hul nuwe stuk grond te ervaar en dan te heroorweeg wat hulle van hul huis verwag. “Ons het in November 2016 met opknapwerk begin en ons is steeds besig met die finale afronding,” sê Jaco.

Terwyl dit heel romanties is om ’n huis in die veld te wil bou, was die ligging ’n uitdaging. “Ons moes elke aankoop versigtig beplan, want die naaste groterige dorp, Mbombela, is twee uur se ry ver,” verduidelik Jaco. Maar uiteindelik het dit bygedra tot die ontwerp, want die Reverchons het besluit om die bestaande plaashuis by hul planne in te sluit en die materiaal te gebruik wat reeds op die perseel was.

Die kombuis en eetkamer maak oop op ’n buite-leefarea. In die muur links is verskeie nisse, elk met sy eie lantern. “Saans lyk dit asemrowend!” sê Jaco. Die dakvenster en groot glasdeur onderskei die nuwe stoep (gebou uit ou bakstene) van die oorspronklike gebou. Die dakvenster is ook ’n waterleiding. “Wanneer dit reën, voel dit asof jy onder ’n waterval staan,” sê Jaco. “Betowerend!” 

1. Wat eers die lapa was, is nou ’n sitkamer. Dis steeds oop aan drie kante – vir die Reverchons ’n manier om deel te voel van die buitelewe. Leiklip uit die area is op die vloer gebruik; dis verseël met ’n vloeibare was van Columbus Cleaning Solutions, ’n nuttige glyvaste bolaag vir sementvloere buite.  Die leunstoel is oorgetrek in ’n Laura Ashley-ontwerp van Hertex. “Die ryk blou kontrasteer pragtig met die aardse kleure in die sitkamer,” sê Jens. Die handgemaakte houtbankie is in Zimbabwe gekoop, en die kombers met die blok-ontwerp kom van Mali.  2. Die trap verbind die oop sitarea met die kombuis en eetkamer. “Binne dié mure was voorheen ’n afgeleefde stoorkamertjie,” sê Jens. “Ons het die twee wildehond-houtbeelde ’n paar jaar gelede op vakansie in Zimbabwe gekry. Hulle lyk heel tuis hier.” 3. Dié kleurvolle diere is eintlik eierkelkies – die handewerk van ’n plaaslike kunstenaar.

Ekovriendelike ontwerp

Omdat die huis op die rand van die Krugerwildtuin is, wou Jaco en Jens hê dit moet die bekoring van die natuurlike omgewing weerspieël. “Ons het gevoel die plaashuis trek die aandag na al die verkeerde areas, toe besluit ons om die kombuis, eet- en sitkamer oor te doen.” ’n Afgeleefde buitegebou het die basis gevorm om al dié vertrekke in een oopplan-area te omskep.

“Ons het probeer om soveel moontlik van die ou gebou te behou,” sê Jaco. “Ons het ons ook voorgeneem om materiaal te herwin, om van plaaslike hulpbronne, arbeid en vakmanne gebruik te maak en die bourommel op die perseel in die nuwe bousels in te werk. Só wou ons iets in die gemeenskap terugploeg en die impak op die omgewing tot die minimum beperk.”

Tydens die projek het Jaco ’n plaaslike bouer ontmoet wat 40 jaar tevore betrokke was by die bou van die oorspronklike plaashuis. “Ek het hom genooi om te help met die projek, want hy beskik oor vaardighede wat andersins moeilik bekombaar sou wees. Vir die eerste keer was Nelson Ndlovu en sy seun deel van die bou van ’n ontwerpershuis, waar ’n argitek die sement meng! Vaardighede is uitgeruil en idees gedeel – dikwels onder ’n skaduboom waar ons saam die uitleg beplan het.”

Op die ou end het hulle besluit op ’n versameling “kompartemente” en afsonderlike geboue, soortgelyk aan ’n tradisionele Afrika-stat. 

Die brug, soos hulle dit noem, verbind die sitkamer via die trap met die kombuis en eetkamer.

1. Salig op die stoep. 2. Van die oorspronklike dakbalke is gebruik om die sitkamer se dak te herbou; Jaco het die grasdak-struktuur ontwerp. “Dit lyk amper soos ’n byekorf en trek altyd gaste se aandag,” sê hy. Die matte, deur die Zimbabwiese vakman Paul Madzinga, is gebaseer op ontwerpe deur Jaco en Jens. Mandjie van Jambo.

Ons wou ’n woning skep wat saam met die tyd kan groei en ’n ál kleiner impak op die omgewing sal hê. – Jaco

Die twee Wassily-stoele is erfstukke. “Dié klassieke ontwerp pas oral in,” sê Jens. “Die ronde tafel se basis was oorspronklik die raam van ’n vuurtoring se gloeilamp. Ons het net ’n ronde glasblad bo-op gesit. Dit lyk pragtig as jy die gloeilamp se holte vul met water en blomme.” Jens het die Persiese mat saamgebring toe hy van Europa na Kaapstad verhuis het. “Maar die lamp lê my die naaste aan die hart – ek het dit by my ouma geërf. Dis ’n Franse Art Deco-stuk van om en by 1905 wat twee Wêreldoorloë oorleef het en nou ’n tuiste in die bosveld het.” Muskietnet en bedlinne van Sanders South Africa.

Jaco, Jens en Filou die Deense hond kuier graag in die kombui. Hulle het die idee vir die rak tydens ’n besoek aan Kenia gekry. “Ons wou iets eenvoudigs en prakties hê. Ek het dit gemaak uit struktuurpale wat ná die bouprojek oorgebly het; Jens moes hand bysit met die buig van die metaal.”

Die waarde van spanwerk

Enigeen wat al by ’n bouprojek betrokke was, sal weet: Die totale koste sal altyd die begroting oorskry. Selfs argitekte begaan daardie fout, sê Jaco laggend. “Ons begroting was oorspronklik net R80 000 – dit was al wat ons bymekaar kon skraap nadat ons die eiendom gekoop het.” Maar kort voor lank het die uitgawes R230 000 beloop ...

“Dit was wel ’n stadige proses – dikwels is die bouery onderbreek deur ’n nuuskierige olifant of ’n leeu wat besluit het om skuiling teen die oggendson te soek onder dieselfde boom waar die sement gemeng word.”

Jaco sê die indrukwekkende eindresultaat getuig van die waarde van spanwerk. “Nelson en sy seun was meestal betrokke by die baksteenwerk en grasdak.” Jens, wat voor dié projek nog nooit handearbeid moes doen nie, het self besluit om klein krake te herstel en die hele huis – binne en buite – oor te verf. “Dit was merkwaardig hoe vinnig hy selfvertroue gekry het en die vaardighede bemeester het.”

Gewapen met jare se ondervinding in die boubedryf, was Jaco verantwoordelik vir die uitleg. Hy het ook al die sweiswerk gedoen, die glas vir die dakvenster in die kombuis ingesit en gesorg vir die loodgiet-, dak-, landskap- en elektriese werk. “Ek kan met sekerheid sê dié projek het ons maklik drie maande se gim-werk in vyf weke laat doen!

1. Al die bourommel op die perseel is gebruik as basis vir die stoep waarop die eetkamer uitloop. 2. Die mandjies in die bome is “langs die pad” op Ohrigstad gekoop. “Ons het een gespuitverf en hou van die effek. Dis bedoel vir voëls – maar ons wag nog vir intrekkers,” sê Jens. 3. Twee lang spieëls het die perfekte plek teen die ingang se muur gekry; die ruimte was voorheen ’n slaapkamer. Die lamp, asook die rak gemaak van ’n ou dakbalk, is Jaco se handewerk.

1. Al die slaapkamers het muskietnette. Die klippilare langs die bed was deel van die oorspronklike gebou; Jaco het die lamp gemaak. 2. Maasdraad, wat as oprit vir kruiwaens gedien het, het nuwe nut gekry in die hoofslaapkamer se en suite-badkamer. ’n Metaalplaat huisves die krane en hake vir handdoeke. Die wasbak en spieëls is houtbakke wat hulle plaaslik gekoop het.

In voeling met die veld

Een van die groot vreugdes van dié eiendom is dat dit jou fokus verskuif, sê Jens: “Dit gaan nou oor herwin, groen leef, bewaring, die buitelewe – en die opwinding van die Groot Vyf wat jou eiendom kom besoek. Ons sit alte lekker op die stoep en hou ons ‘kuiergaste’ dop!”

Jens glo ook dié nuwe fokus verskerp jou sintuie. “Jy hoor en sien beter, jy ruik beter – dit voel ver verwyder van die besoedeling en geraas van die stad.

“Dis vir ons heerlik om op die nuwe stoep te sit, die lieflike sonsondergange te geniet en aandete te eet in ons amper oop kombuis. Ons nooi graag vriende oor en dis lekker om verskillende ruimtes te hê waar ons kan kuier. Ons waardeer ook die gevoel van veiligheid en rustigheid. Daar is nie alarms of gewapende reaksie nie en dit bevry jou regtig. Daar is so baie om te ontdek in die veld, en ons word permanent geïnspireer om aan te hou leer.”

Een voordeel as jy ’n eiendom koop wat al vier dekades vantevore ontwikkel is, is die goed gevestigde bome wat die geboue en omgewing versag.

VERSKAFFERS
  • Columbus Cleaning Solutions 011 824 3860, columbussa.com
  • Jambo 021 448 0951, jamboimports.co.za
  • Hertex 041 373 2887, hertex.co.za
  • Paul Madzinga 062 265 6647
  • Sanders South Africa 086 123 4448, sanders-southafrica.co.za