Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Sharon en Piers Harington met hul kat Luna en drie honde Lily, Georgina en Phoebe

WAAR Stanford

GROOTTE 420 m2 (groot motorhuis en voorstoep ingesluit, op ’n erf van 976 m2)

Die sit-area, waar die dekor op gemak fokus, is Piers se gunstelingplek in die winter. “Voete hoog, al die honde langs ons op die groot banke, boeke en ’n knetterende vuur” is ’n tipiese toneel vir die Haringtons. Invincible Strand-smeulkaggel van FCS Distributors

Lily was van kleins af in pleegsorg by die Haringtons se dogter Amy, wat haar toe nie weer kon laat gaan nie.

Nadat die Kapenaars Sharon en Piers Harington besluit het hulle wil op ’n klein dorpie aftree, het alle paaie telkens na Stanford gelei. Dié stil dorpie langs ’n rivier in die Overberg was ideaal: Piers, ’n narkotiseur, pendel maklik die 150 km tussen hul woonstel in Rondebosch en Stanford, waar hy naweke by Sharon deurbring.

“Die plan was om vroeg af te tree sodat ons kan vriende maak en die omgewing geniet. Ek kon solank nesskop en Piers sou nog ’n rukkie pendel – maar dis drie jaar later en ons praat deesdae net van die ‘A-woord’,” skerts Sharon. ’n Erf langs ’n grondpad aan die buitewyke van die dorp het hul aandag getrek. Die ligging – reg langs ’n klein privaat natuurreservaat, met ’n uitsig op die oop veld en groot bloekombome – het die knoop deurgehak.

“Dit was ’n uitsig waarvoor ons nooit sou moeg raak nie. Daar het bontebokke en hul kleintjies op die reservaat gewei,” vertel sy. Die paartjie het die erf in 2017 gekoop en hul Rondebosch-gesinshuis, waar hulle hul drie kinders grootgemaak het, verkoop. Amy (34) woon in Australië; Sebastian (30) en Holly (26) is albei in Kaapstad.

“Dit was ’n lewenslange droom om ons eie huis te bou; bakstene en dagha maak my gelukkig!” sê Sharon. “Ons wou ’n huis hê wat min onderhoud verg; een met ’n groot stoep wat herinner aan my kinderdae in Zimbabwe, sementvloere ... ’n Soort plaashuis met ’n industriële gevoel.”

Terwyl sy deurentyd idees met Piers gewissel het, het Sharon die huis op skaal ontwerp op grafiekpapier. “Ek het tekeninge gemaak, met die afmetings van elke meubelstuk uit ons huis in Rondebosch in gedagte. Vensters is sorgvuldig só gespasieer dat sekere artikels gemaklik sou pas.”

Bouwerk het in November 2017 begin met Eugene Theron as projekbestuurder en boukontrakteur, en in Mei 2018 het Sharon by ’n huurhuis op Stanford ingetrek sodat sy ’n oog oor die vordering kon hou. 

Die ruim stoep van 65 m2 was ’n integrale deel van Sharon se ontwerp, en die 4,2 m lange kiaattafel maak dit die perfekte familie-kuierkol. Die meeste van die meubels is tweedehands gekoop, buiten die rooi armoire, wat hulle uit Saoedi-Arabië gebring het waar Piers sewe jaar lank gewerk het. Al die vloere is van afgevlakte sement en verseël met ’n deursigtige poliuretaan-verseëlaar.

“Dis regtig ’n groot bederf,” sê Sharon van die aparte opwaskamer. Muurteëls van Pudlo

Sharon se liefde vir kleur is duidelik te sien in die eet-area, waar ses tweedehandse stoele in drie verskillende kleure gestoffeer is. Aluminiumvensters op bestelling gemaak deur GoGreen Design; hanglampe van Livecopper

Gebou vir gemak

Die Haringtons het besluit op ontblote baksteenmure; buiten die min onderhoud het dit ’n warm voorkoms in die winter en voel dit koel in die somer.

“Ons het gesorg dat ons ’n kleibaksteen kies wat nie te pienk of te geel is nie, en het dieselfde stene van Beukes Bricks in Caledon binne en buite gebruik.

“Dit wys nie vullis, stof of spykers nie,” brei Sharon uit, “maar ons kuns vertoon mooi daarteen, selfs beter as wat ek kon dink. Krake wat op gepleisterde mure vorm terwyl die huis vestig, is ook nie hier ’n probleem nie.” Sharon wou aanvanklik industriële staalraamvensters hê, maar sy het later besluit op aluminiumrame – nog ’n laeonderhoud-opsie. Ofskoon staal sterker is, is aluminium roesbestand en danksy ’n gladde oppervlak makliker om skoon te maak.

’n Grys afgevlakte sementvloer is reg deur die huis gelê. “Dis maklik om skoon te maak en jy sien nie sommer vullis of stof daarop nie. Ons matte lyk ook pragtig op dié vloere!” 

In die kombuis bring vensters naby die dak ekstra lig in. “Dis my droomkombuis, en ek is gaande oor my Lofra-stoof. Dit het drie oonde, wat dit baie ekonomies maak; ek gebruik die kleintjie wanneer dit net ek en Piers by die huis is.” Die staalbekleding teen die eiland-eenheid bring goeie herinneringe aan ou plafonne van geperste staal. Sharon het die kroegstoele jare gelede al rooi gespuitverf.

Blaaie van Rustenburg-graniet met ’n antieke afwerking van Southern Granite; plakpapier gedruk deur Smart Art; staalbekleding teen eiland van Pudlo; hanglampe van Livecopper; Lofra-stoof van Electrical Industries; MDF-kaste vervaardig deur Your Style Cupboards en gespuitverf in Dulux Rhine Castle; handgemaakte groen metroteëls van Akashic Tiles

Sharon se wenke vir nuut bou

• Geniet die proses. Wees opgewonde, maar ook geduldig.

• Bestee jou geld op afwerkings wat jy elke dag gaan geniet, maar hou by jou begroting. As jy iets dolgraag wil hê en dis te duur, gaan soek op die internet; daar is altyd ’n goedkoper opsie. Of sny koste op ’n ander plek. Dit kan gedoen word!

• Dis die uitgawe werd om ’n projekbestuurder aan te stel. Die uitdagings en frustrasies was minimaal en daar was geen rampe of groot misverstande tussen ons en die bouers nie. Eugene Theron het al die kontrakteurs bestuur en selfs vir my mooi op my plek gehou. Sonder hom as ons koelkop-projekbestuurder (wat intussen ’n goeie vriend geword het) glo ek nie die bouery sou so glad verloop het nie. Danksy hom was dié projek die aangenaamste ding wat ek nog gedoen het.

“Ons slaapkamer is so vreedsaam; die voëls sing ons elke oggend wakker,” sê Sharon. Die Nepalese kis was ’n geskenk van Piers op hul 25ste huweliksherdenking en die deken was eers ’n vriendin se ma s’n. “Met haar afsterwe wou niemand dit hê nie. Ek het gesmeek en belowe ek sou dit vir ewig koester.” Die kelim en gordynlinne is tweedehands op ’n Facebook-groep gekoop.

“Toe die bekisting vir die plafon tydens die bouproses verwyder is, was ek verstom oor die industriële gevoel wat die beton skep,” sê Sharon. “Ons het soveel moontlik van die plafon net so gehou.” Deken van Bella Bella Interiors; plafonwaaier van Solent

Sharon is ’n groot aanhanger van die Mexikaanse kunstenaar Frida Kahlo, en haar werk het die kleurryke palet in die gastekamer op die boonste vlak geïnspireer. Die kiaat-kopstukke in dié kamer en die ander gastekamer op grondvloer was voorheen deel van die inrit en hekke by die paartjie se huis in Rondebosch.

Gereed vir aftrede

Sharon en Piers is fiks en gesond, maar het hul dubbel-verdiepinghuis gebou met die oog op die toekoms en hul aftrede. Die onderste vloer – waar hul hoofslaapkamer en die gastekamers aan weerskante van die leefareas is – is deurgaans op een vlak.

Net die gaste-eenheid is oor twee vlakke gebou. Dit het ook ’n aparte ingang en stoep, drie en suite-slaapkamers en sy eie klein kombuis. Dié gedeelte kan van die res van die huis afgesluit word deur eenvoudig ’n dubbeldeur uit die sitkamer toe te maak.

“Wanneer daar nie familie of vriende oorbly nie, verhuur ons die ruimte op Airbnb – maar dit gebeur nie dikwels nie,” sê Sharon. Buiten die potensiële huurinkomste kan dié deel van die huis ook ’n versorger se blyplek wees indien hulle in die toekoms een sou nodig kry.

“Die proporsies het so goed uitgewerk. Ons is dol oor die gevoel van ruimte, die hoë plafonne, sementvloere en veral die stoep, waar ons die meeste van ons tyd deurbring. Om eerlik te wees – ons sou niks verander as ons dit weer kon doen nie.” 

Sharon het dié twee spieëls op ’n Facebook-groep opgemerk, en kon dit in haar geestesoog in hul toekomstige badkamer sien. Rustenburg-granietblaaie met antieke afwerking van Southern Granite

Die eetkamer maak oop op dié binnehof waar water rustig kabbel. Georgina die Schnauzer is die eintlike baas van alles (en almal) op die werf.

Twee sementhonde van Peppino Cement, wat Sharon swart geverf het, “hou wag” by die ingang.

Die gaste-eenheid het ’n aparte ingang met dieselfde rooi deure as die hoofhuis. Silwer berkebome sal later broodnodige skaduwee gooi op die stoep wat noord-noordwes front.

 In die somer koel die honde graag af op die boonste trappie van die swembad wat 1,6 m diep is. “Die trappe is ’n waterwys element, maar sal ons ook help met die in- en uitklimslag wanneer ons ouer is,” verduidelik Sharon. ’n Cuphea baken die area af.

‘Ek sou noot ’n minimalis kon wees nie’

Sharon se dekorstyl is beïnvloed deur die soeks (tradisionele markte) en stede in die Midde-Ooste en Asië. “Ons het van 1997 tot 2003 in Riaad, Saoedi-Arabië, gewoon. Hier het ek ure in die soeks deurgebring en altyd met arms vol interessante, kleurryke vondste daar uitgekom,” sê sy.

“Turkye met sy wonderlike tekstiele en matte was ’n gunsteling-bestemming. Ek is lief vir juweelkleure, veral dieprooi, en materiaal soos fluweel, sy en linne. Ek is mal oor kleur, ingewikkelde patrone, gekerfde hout, ou of tweedehandse artikels, rommelwinkels, aanlyn-snuisterygroepe en, natuurlik, MRP Home. Ek sou nooit minimalisties kon leef nie!

“Ek het my dekorgoed oor jare bymekaargemaak sonder dat ek ooit bewustelik aan my styl gedink het. Ek is baie gelukkig; Piers laat my my gang gaan. Hy’s regtig die geduldigste, mees ontspanne mens, en ek weet waarvan hy regtig nie sal hou nie.”

Sharon het die plattelandse leefwyse omarm en bring ure in haar tuin deur. “Ek werskaf meestal self daar, maar die talentvolle Tommy Ngwenya en sy span kom help twee keer elke maand.

“Daar’s elke dag ’n magdom voëls in die tuin. Ons word soggens wakker met voëlsang en met slapenstyd hoor ons hoe die blou-kraanvoëls oorvlieg. Snags is dit die uile wat roep. Maar die beste van alles hier is die stilte.” 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Akashic Tiles 044 382 1163

Bella Bella Interiors 083 226 9698

Beukes Bricks 028 212 1754

Electrical Industries 021 511 8177

Eugene Theron 084 208 5165

FCS Distributors 082 565 8411

GoGreen Design 021 945 1156

Journey 082 824 6201

Livecopper

Peppino Cement 021 988 7471

Pudlo 021 448 0607

RainQueen 083 6299 576

Smart Art 021 447 0872

Solent

Southern Granite 028 312 3335

Your Style Cupboards 082 327 6518