Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Craig Olckers en sy brakke, Zac en Zoe WAAR Observatory, Kaapstad

Craig Olckers het twee groot liefdes in sy lewe: blomme en binne-ontwerp. Met sy tuisbedryf, die blomboetiek Oolong Blue, kon hy sy liefde vir blomme in ’n suksesvolle loopbaan uitleef. Sy passie vir ontwerp geniet hy in sy “af-tyd” – soos in die tweeslaapkamerhuis in Observatory, Kaapstad wat hy onlangs opgeknap het.

Hoewel nie groot nie, is daar niks middelmatigs aan dié huis waar Victoriaanse en moderne elemente in harmonie saamleef nie.

1. Dié muur van ontblote bakstene skep treffende kontras met die res van die vertrek, wat als in wit getooi is. Ronde spieël van Weylandts; pasgemaakte TV-kas van Lim Furniture. Ons is dol oor die kombinasie van die Nguni-vel en klapperhaarmat vir warmte en tekstuur. 2. Ons is dol oor dié sjiek fokuspunt aan die einde van die gang. Al is daar talle interessante items in Craig se huis, glo hy alles moet eenvoudig wees sodat die ruimte nie deurmekaar lyk nie. Dranktrollie van @home; profiele teen muur deur NMC Decorative Mouldings.

Die voordeur maak oop op ’n wit gang versier met hoë, swierig omraamde spieëls wat die oë boontoe lei na dramatiese kandelabers.

Die elegante slaapkamers en badkamer is eenvoudig en sonder tierlantyntjies, en aan die einde van die gang vorm ’n sitkamer, eethoek en kombuis saam een lugtige oopplanvertrek wat op ’n gesellige binnehof oopmaak.

Elke ruimte het sy eie styl; tog skep elemente soos die wit mure en vloere, swart en wit teëls op die voor- en agterstoep, luukse meubels in juweelkleure, en treffende fokusmure met plakpapier ’n samehangende gevoel.

"Die goeie ding van ’n klein huis is dat jy redelik gereeld die ruimte kan verander – dit hoef nie veel te kos nie. – Craig

Dit is dus geen wonder Craig se vriende en familie klop by hom aan wanneer hulle hul eie huise versier nie, en moedig hom selfs aan om binneontwerp as loopbaan te oorweeg.

Maar tot dusver lê die blomme hom nader aan die hart.

“Ek is mal oor my werk, maar ek sou nie my beste vir twee beroepe kon gee nie. Omdat mooimaak nou net ’n stokperdjie is, kan ek dit ten volle geniet, sonder enige druk,” sê Craig, wat reeds op soek is na die volgende huis om op te knap. Want die eerste persoon wat dié huis besigtig het, het dit summier gekoop!

Dié knus eethoekie wys hoe goed donker kleure in ’n knap ruimte kan werk. Die fokusmuur in ’n tandruitpatroon, pers bank met knoopdetail (wat ook pakplek binne-in het) en dramatiese kandelaber vang dadelik die oog; saam skep dit die ouwêreldse sjarme wat Craig in gedagte gehad het. Tafel en swart kandelaber van Weylandts; pers lap op rusbank van Hertex; stoele van Chair Crazy

Die tropiese tema in die sitkamer met botaniese strooikussings en ’n geelbamboespalm is ’n slim manier om vloei te skep, want dit skakel met die geil groen binnehof. Voor Craig die huis onder hande geneem het, was die kombuis waar die eethoek nou is met ’n muur wat dit skei van die eetkamer, wat nou die kombuis is. “Omdat ’n kombuis meer pakplek nodig het, het dit sin gemaak om die twee vertrekke om te ruil,” sê Craig, wat graag kook en onthaal.Plakpapier gedruk deur ArtLab; rusbank oorgetrek in fluweel van Hertex en gestoffeer deur Ashraf’s Upholstery; groen strooikussings van Pezula Interiors; goue strooikussings van Woolworths; poewe van Moroccan Warehouse.

Craig het die klein swart en wit teëls jare gelede op ’n uitverkoping gekry en kon dit eindelik op die voorstoep gebruik. Hier en in die binnehof span hy wit en houtskoolgrys mure in vir kontras – en sodat die aandag op fokuspunte bly. Vetplante in houers verleen waterwys trefkrag teen die muur.

Hanglampe bo eiland van Weylandts

Ek wil hê elke ruimte moet sy eie storie vertel, maar daar moet elemente in elkeen wees wat samehorigheid skep. – Craig

Dié binnehof net buite die kombuis was eers ’n onooglike parkeerplek onder sement! Omdat Craig graag onthaal, het hy besluit om die 42 m²-ruimte in ’n rustige kuierplek te omskep. Hy het dit versier met hangplante, ’n verskeidenheid potplante op die stoep, ’n houttafel en -stoele op die grasperk – en selfs ’n visdam! Die groenigheid kontrasteer mooi teen die houtskoolgrys mure, en die swart en wit teëls en gestreepte sonskerm skakel in by dieselfde kleurpalet wat op die voorstoep gebruik is.Hangende potplante van Weylandts; marmer-stoepteëls van Womag; sonskerm van Solara Awnings

Laag op laag

Craig het ’n gevoel van weelde in ’n kompakte huis geskep; hier is sy topwenke om dieselfde te doen:

  • Gooi los matte oor bestaande matte vir ’n warm, luukse en tekstuurryke effek. Ek gebruik graag klapperhaarmatte met Nguni- en skaapvelle vir ’n gevoel van oordaad.
  • Kunswerke teen mure wat reeds plakpapier op het, het visuele trefkrag, veral as jy rame van wisselende groottes en vorms kies.
  • Beddegoed laag op laag laat ’n slaapkamer aanloklik en luuks lyk; gebruik tekstuurryke dekens, oorgroot kussings en komberse.
"Ek sit oral plante neer! Hulle verskaf energie en warmte en kan enige ruimte versag." – Craig

Die kopstuk in die hoofslaapkamer is ’n ware apploustrekker! Craig het die kleur teen die muur spesiaal laat meng om by die blou in die kopstuk se patroon te pas.

Craig het ’n piepklein badkamer en ’n en suite van ’n aangrensende slaapkamer in een ruim badkamer omskep. Die spieël doen ook diens as bêreplek.Wasbakkas van Coricraft; hanglamp van Hoi P’loy

Oorskiet-Carrara-marmer van die kombuis se eiland is nou ’n sitplek in die stort. Vloerteëls van Union Tiles; stoeltjie langs stort van Weylandts

 Winkels toe!

Dol oor Craig se dekorstyl? Hou die blink kant bo met kopies soos dié.

  • Kandelaber van goiing R1 995, Weylandts
  • Strooikussing (55 x 55 cm) R299, @home
  • Geborduurde poef met metaalvoorkoms (30 cm H x 50 cm D) R2 000, Moroccan Warehouse
  • Wilma-eetkamerstoel met kwiltsitplek R999, @home
  • Cambridge-pluisfluweelbank (210 cm L x 74 cm B x 74 cm H) R15 995, Block & Chisel
  • Noir-dranktrollie (80 cm L x 40 cm B x 80 cm H) R1 499, @home
  • Wasgoedmandjie met handvatsels (43 x 43 cm) R795, Weylandts
  • Keëlvormige glaslamp (27 cm D) R2 555, K.Light
  • Kunspels-bankie (82 cm L x 42 cm B x 50 cm H) R1 800, MRP Home
  • Vintage-kersstaander (3 cm H x 12,5 cm D) R49,99, MRP Home
  • Oslo-plasmastaander (150 cm L x 42 cm B x 46 cm H) R4 000, MRP Home
KONTAKTE EN VERSKAFFERS
  • @home 0860 576 576, home.co.za
  • ArtLab 021 448 1421, artlab.co.za
  • Ashraf’s Upholstery 021 447 9510
  • Block & Chisel 021 691 0878, blockandchisel.co.za
  • Chair Crazy 021 465 9991, chaircrazy.co.za
  • Coricraft 021 508 5200, coricraft.co.za
  • Hertex 012 346 4331, hertex.co.za
  • Hoi P’loy 021 447 1433, hoiploy.com
  • K.Light 021 552 4370, klight.co.za
  • Lim Furniture 021 423 1200, lim.co.za
  • Moroccan Warehouse 021 461 8318
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • NMC Decorative Mouldings nmcsa.co.za
  • Oolong Blue oolongblue.co.za
  • Pezula Interiors 021 424 2661, pezulainteriors.co.za
  • Solara Awnings 021 951 3104, solara.co.za
  • Union Tiles 011 663 2000, uniontiles.co.za
  • Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za