Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Dee Malkinson en haar seuns, Joshua en Samuel
WAAR Mount Pleasant, Port Elizabeth
GROOTTE 140 m²

Dee Malkinson was versigtig optimisties toe sy hoor van ’n vierslaapkamerhuis binne haar prysklas in die gewilde buurtMount Pleasant in Port Elizabeth. Maar dié optimisme is in die kiem gesmoor toe haar eiendomsagent haar probeer oortuig om weg te bly van dié eiendom ...

“Die huis was bouvallig, het sy vertel. ’n Mens kon dit nie eens koop vir opknap nie, want dit was onherstelbaar,” verduidelik Dee. “Volgens die agent sou al opsie wees om die huis te sloop. Maar omdat dit in 1932 gebou is, word dit as ’n erfenishuis geklassifiseer; daarom was sloop ook nie regtig ’n opsie nie, want dis onwaarskynlik dat ons toestemming daarvoor sou kry.”

Dee wou nogtans na die eiendom gaan kyk, want sy hou van die buurt en die prys was reg. Mount Pleasant is ook waar sy en haar oorlede man, Joel, hul eerste huis gekoop het – die area het daarom ook sentimentele waarde.

Toe Dee en haar seuns, Joshua en Samuel, die huis gaan besigtig, was dit duidelik die agent het nie oordryf nie: Daar was ’n massiewe gat in die vloer en die oorblywende vloerplanke was almal vrot; boonop kon jy plek-plek reg deur die dak sien. En die tuin was ’n oerwoud. “My seuns het my gesmeek om van die plek te vergeet, maar ek was mal daaroor! Dit was stil en mooi. Al wat dit gekort het, was ’n bietjie liefde,” sê sy.

Die huis is in die tipies Victoriaanse styl gebou, met ’n houtraam en sinkplate aan die buitekant van die mure. Daar is nie meer baie sulke huise in Suid-Afrika nie.

Boonop is die erf ’n ruim 1 000 m² groot en hoog teen die heuwel geleë, met ’n pragtige uitsig oor Sardiniëbaai. Dee het dadelik die koopaanbod geteken, ondanks almal se bedenkinge. Want sy was vas oortuig die huis verdien om in sy vorige glorie herstel te word.

Die tuinhek verwelkom gaste by Harford Cottage, genoem na Dee se oorlede ma, Diane. Die voordeur is na die kant van die huis geskuif om beter vloei van binne na buite te verseker.

Droommooi met ougoed

Al was dit hoe ’n groot uitdaging, was Dee opgewonde oor die projek. Dit sou haar ook die kans gee om ’n nuwe lewe vir haar gesin te skep.

Die eerste drie maande is die oorgroeide tuin opgeruim en al die rommel verwyder (dit sluit 80% van die sinkplate in, want dit was onbruikbaar). Die gebou se houtraam is oorspronklik, behalwe ’n paar stukkende pilare wat vervang of herstel moes word.

Gelukkig was die meeste dakbalke nog in ’n goeie toestand; net hier en daar het een aandag gekort. “Ons het basies met ’n leë dop gesit,” verduidelik Dee. “In pas met die bouregulasies vir erfenisgeboue het ek niks aan die huis se buitekant verander nie en net die sinkplate vervang.”

Al die droëmure binne moes vervang word en nuwe isolasie moes ingesit word. Sy moes ook die bedrading en loodgieterswerk laat oordoen. Omdat Dee se begroting knap was, het sy probeer om sover moontlik van herwinde boumateriaal gebruik te maak. Dit sluit die sinkplate, deure, bakstene, vensterrame, wasbakke en krane in.

Die koffietafel was ’n ou Voortrekker-bed – Dee het net ’n glasblad bo-op gesit. Die TV is in die kas versteek.

Tuis het in 2013 kennis gemaak met Dee en ons het haar huis in die Oktober 2015-uitgawe gewys. Sy was destyds die eienaar van die vintage-en-versamelgoedwinkel Gently Worn in Port Elizabeth, wat in tweedehandse meubels en dekor spesialiseer. Die winkel het sedertdien na die Wes-Kaap geskuif. “Gelukkig is ek dol oor herwinde goed. En die bonus van só te werk gaan is dat dit ligter op ’n mens se sak is,” sê Dee. “Die tweedehandse materiaal skakel perfek in by die karakter van die huis. Alles werk pragtig saam.”

Die vloere is vervang met sement en geverf met drie lae Dulux Eggshell Enamel in White.

In die hoofslaapkamer en sy en suite is net een laag aangewend, sodat dit kon afskilfer vir ’n mooi verweerde voorkoms.

Nuwe dakplate is opgesit, maar in die oopplan-leefarea het Dee besluit om die dakbalke ontbloot te hou vir die dubbelvolume-effek; so het sy geld bespaar op nuwe plafonborde!

Die voordeur is na die kant van die huis geskuif en ’n deel van die stoep is toegebou om ’n en suite-badkamer vir die hoofslaapkamer in te bou. Al aanbouing was ’n onderdakstoep van 100 m² aan die agterkant van die huis, met drie breë oopswaaideure vir gemaklike vloei van binne na buite.

“Omtrent 11 maande later was die projek klaar. Almal is dol daaroor en kan skaars glo dis dieselfde plek,” sê Dee. “Ook my seuns is gaande oor hul ruimte. Dis vreedsaam en veilig – alles wat ’n tuiste behoort te wees. Dis regtig ’n nuwe hoofstuk in ons lewe.”

Die sitkamer het net een massiewe rusbank vir die seuns om op te ontspan, want die Malkinsons kuier meestal op die agterstoep.

Ons huis is glad nie spoggerig nie; dis ’n opregte, ingeleefde huis wat ’n nuwe begin vir my en my seuns verteenwoordig. – Dee

Dee het ’n sagte plekkie vir ou Suid-Afrikaanse portrette. Sy sê dis die oë wat haar intrek en sy kan nie help om te wonder oor die verhale agter die prente nie.

Dié ou slagterstafel het lank buite gestaan, en die staalplaat op die blad het geroes. Dee is dol oor die effek en verseël dit elke week met Cobra-vloerpolitoer sodat die roes nie afgee nie. Industriële ligte uit fabrieke werk goed in die kombuis; die gloeilampe kan dowwer gestel word vir atmosfeerbeligting. ’n Gevoel van nostalgie heers in die kombuis. Net soos in die res van die huis is daar geen ingeboude kaste nie, maar los kaste en tafels wat met sorg uitgesoek is.

Ingeleefde dekor

Dee beskryf haar dekorstyl as “industriële plaashuis”, duidelik beïnvloed deur haar grootwordjare in die Oos-Kaap en naweke by haar ouma en oupa op hul plaas naby Kirkwood. Dis juis in dié kontrei waar sy die meeste van die voorraad vir haar nuwe winkel uitsnuffel; sy gebruik ook baie van dié meubels in haar eie huis. “Daar is nie ’n enkele ding in my winkel wat ek nie in my huis sal sit nie – dis die een sakebeginsel waarvan ek nooit sal afwyk nie,” sê Dee, wat Gently Worn Shed in Desember 2017 saam met haar neef Richard Daniel op die R44 buite Stellenbosch heropen het.

Wanneer sy van haar meubels en dekorvondste praat, gebruik Dee nooit die woorde “vintage” of “antiek” nie. “Die woord ‘vintage’ herinner my aan Cadillacs en Olivia Newton-John. Dis nie ek nie; ek hou van ougoed,” verduidelik sy. “Elke item, van ’n ou Persiese mat tot ’n verweerde spenskas, vertel ’n storie. Ek wonder dikwels hoeveel voetjies of pootjies oor dié mat gehardloop het, of hoeveel hande al aan daardie ou tafel gevat het.”

Dee het besluit op ’n wit palet – ook op die mure en vloere – asook neutrale meubels en dekor. “My dae is so besig en vol kleur, daarom wil ek huis toe kom na ’n kalm en rustige omgewing,” sê Dee. “Vars helderwit is vir my ’n opgewekte kleur. Voor haar dood het my ma, Diane Harford, voorgestel ek verf die huis se buitekant wit; toe maak ek so.”

“Terwyl ons die droëmure vervang het, het ons dié baksteenmuur ontdek; dis waar die ou vuurherd was. Ons het die oorspronklike bakstene in die opening behou en net ’n bietjie herstelwerk gedoen,” sê Dee. Haar gasstoof pas perfek in die opening.

Ek is gaande oor industriële elemente en items met metaal, gietyster, rottang, linne, roes ... – Dee

Die oorspronklike voorstoep is toegebou om plek te maak vir ’n en suite-badkamer. Die losstaande bad was ’n geskenk van ’n familielid en Dee het ’n ou spieëltafel ingespan as wasbakkas. Ook die wasbak en krane is herwin.

Dee se dekorwenke

  • As jy nie weet hoe om ou meubels by jou dekor in te werk nie, maak ’n lys van wat jy nodig het, byvoorbeeld ’n kanttafel langs die rusbank, en soek dan rond by tweedehandswinkels tot jy iets kry wat vir jou mooi lyk.
  • Daar is nie reëls in dekor nie: as jy van iets hou, koop dit. As my spenskas nie in die kombuis gepas het nie, sou ek dit sitkamer of selfs badkamer toe geskuif het – dit werk in enige ruimte!
  • Beligting is uiters belangrik. Ek koop altyd die dofste gloeilamp wat ek kan kry vir die perfekte atmosfeer. Ou passtukke in die industriële styl is ook wonderlik as jy op soek is na iets met karakter.
  • Ou Persiese matte raak al hoe meer gesog en ál moeiliker om in die hande te kry, so as jy een teen ’n goeie prys sien, koop dit. Dit verskaf wonderlike tekstuur en kleur, en het gewoonlik ’n interessante storie.
  • As jy klein tweedehandse bykomstighede van gietyster, sink, ou leer of rottang koop, kan jy ’n besonderse voorkoms skep wat nie sommer in enigiemand anders se huis te sien sal wees nie.

Die hoofslaapkamer, wat in rustige kleure versier is, is Dee se toevlug. Die vloer het net een laag verf gekry sodat dit kan “afdop” vir ’n verweerde voorkoms. ’n Geblomde kussing verskaf ’n vrolike kinkel aan dié neutrale ruimte.

Dee het haar hart verloor op die verflenterde lap van dié ou Victoriaanse stoel wat sy in ’n Baaise winkel raakgeloop het. Dit was nie te koop nie, maar sy het so aangehou dat die eienaar maar later ingestem en dit aan haar verkoop het.

Die Malkinsons bring baie tyd op hul nuwe agterstoep deur, daarom glo Dee dit moet soos ’n binneruimte ingerig wees, met gemaklike sitplek.

Ons huis is ’n gelukkige, beskeie tuiste. Dis presies wie ons is. – Dee
KONTAK
Gently Worn Shed 081 022 3460