Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

’n Antieke ovaal tafel en moderne stoele versier ’n komvenster in die ingangsportaal.

Groen stoele van Chair Crazy; die mandjie is in Malawi gekoop; pasgemaakte houtliniaal deur Mandi Friedman

WIE WOON HIER? Alma Kennedy en Nico van Niekerk

WAAR Kalkbaai, Kaapstad

GROOTTE 210 m²

Die galerymuur by die ingang spog met ’n eklektiese versameling werke.

Bokkop en Tretchikoff-afdruk van Quirky Me; hout-lese van Monsoon Trading; pasgemaakte kapstok deur Mandi Friedman

Die mynprokureur Alma Kennedy en haar man, Nico van Niekerk, ’n finansiële uitvoerende hoof, woon in Johannesburg, maar skop so gereeld moontlik hul skoene uit by hul wegbreekplek in Kalkbaai.

“Hoewel ek dadelik besef het hoeveel potensiaal die huis het toe ons dit die eerste keer in Desember 2016 sien, het Nico effens getwyfel,” sê Alma. Die olyfgroen buitemure, ongemaklike uitleg en geen badkamer op die boonste vloer nie het ’n omvattende opknap voorspel.

“Maar Nico is altyd vatbaar vir nuwe idees, en hy was doodtevrede om die mooimaak van die huis aan my oor te laat,” sê Alma. Boonop het Alma gehou van die idee dat die plek voorheen aan ’n welbekende skrywer en haar gesin behoort het, aangesien sy ’n groot liefhebber van kuns en letterkunde is.

Die paartjie het hul eenslaapkamer-beleggingseiendom in die ikoniese Majestic in Kalkbaai verkoop en was toe al twee jaar lank op soek na ’n groter plek. Hulle wou ’n huis hê waar hulle vriende en familie gemaklik kan onthaal en miskien ook daar aftree. Voeg daarby aantreklikhede soos Olympia Café, strandwandelings, oulike winkels en vertonings by die Kalkbaai-teater, en dis geen wonder dat eiendom in dié lieflike kusdorpie hul eerste keuse was nie.

“Vir Nico was die moontlikheid om ’n motorhuis aan te bou ’n groot pluspunt,” verduidelik Alma. “Parkeerplek uit die straat is nogal skaars hier en dis vir ons lekker dat ons sommer na die koffiewinkels, restaurante en kunsgalerye kan stap. Ons hoef nooit parkeerplek te soek nie! Dit voel regtig soos vakansie wanneer ons hier is.” 

’n Antieke eetkamertafel uit Alma en Nico se huis in Johannesburg werk goed saam met die treffende kafeestyl-stoele. Kiaathoutrakke en ’n pasgemaakte blougroen staal-en-glaskas bied pakplek in die kombuis. Die vrolike geraamde plakkate kom van Viëtnam.

Kas deur Begin with the End in Mind; blougroen kafeestyl-stoele van Chair Crazy; wit hanglampe van Plumstead Electrical; smeulkaggel van Italfire


Oor die opknap

Nico en Alma het reeds sewe eiendomme saam opgeknap, daarom het dié projek hulle allermins afgeskrik. “Al verskil ons van mekaar, het ons nog nooit stry gekry tydens ons projekte nie,” sê Alma. “Ek meng nie by die konstruksie in nie, want ek vertrou Nico se oordeel en ervaring. Hy stel weer nie belang in die mooimaak nie – en hy hou van alles wat ek doen!”

Hul bouer, Lynton Lawrence van Maintenance Network, het die paartjie voorgestel aan Sihan Wiid van Mink Interiors, wat gehelp het om die vyf maande lange projek net ’n plesier te maak. “Ek en Sihan het soortgelyke smaak en sy is uiters goed georganiseerd,” sê Alma. “Sy het nooit haar idees op ons afgedwing nie, maar met praktiese en innoverende voorstelle vorendag gekom. Ek is regtig in my noppies met die eindresultaat.”

Nico het die opknap bestuur en hy en Lynton was deurentyd in kontak. “Tydens die hele proses het ons net vier keer kom kyk hoe sake vorder,” verduidelik Alma.

Soos met enige erfenishuis het daar ’n paar verrassings opgeduik. Die Erfenisraad het aangedui dat hulle nie die plan sou ondersteun om die toegeboude stoep oop te breek vir ’n groter leefarea nie, want dit sou afbreuk doen aan die historiese waarde van die eiendom. “Op die ou end het ek en Nico saamgestem dat dit die voorkoms van die huis sou bederf,” sê Alma. 

In die boonste sitkamer vier helder kleure die botoon. Die twee retro-leunstoele in die sitkamer is gestoffeer in effekleurige lap van Hertex en opgehelder met strooikussings met ’n Afrika-popkuns-motief. Die skildery bo die stoele is deur Obert Jongwe en die een bo die bank deur Bastiaan van Stenis; albei is by die Rossouw Modern-kunsgalery op Hermanus gekoop.

Boheemse kelim van Persepolis; pasgemaakte koffietafel, TV-eenheid en leerbank deur Begin with the End in Mind; driepootlig van Eagle Lighting

’n Mikaela McKellar-kunswerk versier die muur links; die skildery op die agterste muur is by die State of the Art Gallery in Kaapstad gekoop.

Vintage-stoele gestoffeer in lap van Home Fabrics; kelims van Persepolis; geweefde hanglamp van Amatuli; Lucky Star-kanttafel van Big Blue

Die fynere detail

Die paartjie het besluit om die skuifvensters, asook al die ontblote elektriese en loodgieterspype, te behou ter wille van die huis se ouwêreldse karakter.

Wat die binneversiering betref, verleen vrolike kelims en dekoratiewe Marokkaanse teëls ’n tikkie boheemse elegansie, wat die pasgemaakte industriële meubels en ontblote bakstene komplementeer. Die vier slaapkamers, almal sonder ingeboude kaste, het ’n aantreklike eenvoud, terwyl ’n kombinasie van tekstuurryke dekens en kussings keer dat die ruimtes spartaans voorkom.

Spatsels kleur in elke vertrek vang die oog teen die vars wit mure, en interessante bykomstighede wat die paartjie op hul reise versamel het, dra by tot die speelse interieur. Wanneer Alma en Nico se gaste hulle nie verkyk aan die dramatiese see-uitsigte nie, word hulle bekoor deur die kunswerke teen amper elke muur. Alma versamel alles van Walter Battiss-afdrukke tot Clementina van der Walt-keramiekwerke, en het die perfekte agtergrond geskep vir haar hartsgoed.

“Ons wou ’n moeitevrye huis met ’n gesellige, ontspanne gevoel skep,” sê Alma. En dit het hulle beslis reggekry. 

Marokkaanse teëls versier die voorkante van die trap. Teëls van Moroccan Warehouse

Sy minimalistiese dekor ten spyt, is die gastekamer steeds ’n knus, aanloklike ruimte. Heelparty van die binnemure moes oorgepleister word, maar die paartjie het besluit om die bakstene hier ontbloot te hou. Alma het die swart-en-wit afdruk langs die bed in Buenos Aires gekoop.

Pasgemaakte paletbed deur Mink Interiors; klipgewaste beddegoed van @home; bedlamp van Amatuli; koper-hanglamp van Eurolux

Die komvenster in die ingangsportaal bied ’n asemrowende see-uitsig. 

Dié erfenishuis het nog sy oorspronklike klipwerk en skuifvensters. Die paartjie het die draad-beeld by ’n straatkunstenaar in Kalkbaai gekoop; die betonvoetstuk is ontwerp deur Mink Interiors.

’n Neutrale mat bring alles in dié gastekamer op die tweede vlak bymekaar, terwyl ’n pasgemaakte bedkassie van hout en staal en ’n gestoffeerde bedbasis elegante afronding verskaf.

Mat van Coricraft; bedkassie deur Begin with the End in Mind

Ek is absoluut gaande oor kuns. Ek omring my graag met my gunsteling-stukke. Selfs die mure van my kantoor in Johannesburg is versier met kuns. – Alma

Blou-en-wit teëls in die hoofbadkamer maak van die vloer ’n fokuspunt. ’n Ou werkbank van Oregon-dennehout is omskep in ’n dubbele wasbakkas.

Pavimento Antiqua- geglasuurde keramiekvloerteëls van Italtile; hout-en-staaltafeltjie deur Begin with the End in Mind

Kleurryke kussings en ’n Marolien Joubert-kunswerk versier dié gastekamer bo.

Swart-en-wit teëls in ’n muurnis wat hangplek in die tweede gastekamer verskaf, herhaal die Marokkaanse tema. Die abstrakte skildery bo die bed is deur Sihan Wiid van Mink Interiors.

Teëls van Italtile; Romeinse blinding gemaak deur Milly’s Soft Furnishings; geruite deken van Mungo; mosterdgeel deken van Hertex Haus

Alma en Nico het twee badkamers op die tweede vlak van dié grande dame aangebou.

Skildery deur Roelie van Heerden; eikehoutwasbakkas van Begin with the End in Mind

’n Vintage-gietystertafel met ’n nuwe blad ondersteun die wasbak in die gastebadkamer op grondvlak.

Spieël van World of Rustic Frames; teëls op spatpaneel van Douglas Jones; wasbak van Bathroom Bizarre

VERSKAFFERS

@home 0860 576 576

Amatuli 011 440 5065

Bathroom Bizarre 021 702 9200

Begin with the End in Mind 076 642 4344

Big Blue 021 788 2399

Chair Crazy 021 465 9991

Coricraft 011 611 8700

Douglas Jones 086 166 7242

Eurolux 021 528 8400

Hertex 021 461 7420

Home Fabrics 021 425 8287

Italfire 021 948 3411

Italtile 021 510 776

Maintenance Network 021 448 5823

Mandi Friedman 082 895 3698

Milly’s Soft Furnishings 083 737 9636

Mink Interiors 079 992 9937

Monsoon Trading 011 783 7260

Mungo 021 201 2374

Persepolis 021 762 2451

Plumstead Electrical 021 715 3151

Quirky Me 079 223 3203

Rossouw Modern-kunsgalery 028 313 2222

State of the Art 072 470 9272

World of Rustic Frames 021 448 9509