Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE KUIER HIER?

Heino Reuling en Christo Koegelenberg

WAAR Hopefield

GROOTTE Huis 121 m², erf 2 700 m² 

’n Knus sithoekie maak deel uit van ’n groot oopplanruimte in die “hoofhuis” – dit sluit die eetkamer in. Christo en Heino verander graag die dekor volgens die seisoen deur eenvoudig die strooikussings af te wissel.

Strooikussings van MRP Home

Die binneontwerper Christo Koegelenberg en hotelbaas Heino Reuling lei besige lewens. Hul Seepuntse woning is nie net hul blyplek nie, dit huisves ook Christo se kantoor én ’n luukse Airbnb-woonstel wat heeljaar volbespreek is. Weekdae is ’n harwar van bedrywigheid.

In 2009 het hulle begin uitkyk vir ’n wegbreekplek waar hulle oor naweke hul batterye kan herlaai en saam met vriende kan ontspan. Hulle het hul soektog beperk tot eiendomme binne 140 km, of ’n uur se ry, buite Kaapstad. “Enigiets verder as dit sou beteken die eerste deel van die naweek bestaan net uit verkeer en stres,” sê Christo.

’n Advertensie vir ’n oorspronklike plaasskuur – ’n erfenisgebou op ’n erf omtrent so groot soos ’n rugbyveld – het dadelik hul oog gevang. Toevallig was dit op ’n dorp wat Christo goed ken: Hopefield, in die hartjie van die Sandveld, en die oudste dorp aan die Weskus. Hy het op Vredenburg daar naby grootgeword en het as kind dikwels vir skolesport op dié buurdorp gekom. Sy ouers het sedertdien Velddrif toe getrek, en hy en Heino het heelparty vriende en familie oral langs die Weskus.

Die eiendom, in ’n skilderagtige vallei langs die Zouterivier en met toegang tot boorgatwater, het heelwat potensiaal gehad, maar die skuur self was vervalle en sonder water of elektrisiteit. Op grondvlak was ’n werkwinkel waar bakstene nog twee-twee in ’n gietvorm gemaak is; bo was ’n solder, maar sonder ’n trap vir toegang. Hoewel die advertensie aandag getrek het, het die skuur se toestand kopers afgeskrik. Boonop was dit onderworpe aan streng erfenis-riglyne. “Mense was sku vir die opknap,” sê Christo. Maar dié paartjie het dadelik geweet: “Dis die een.”

Geskenke van vriende, Facebook Marketplace- en veilingkopies, asook vondste uit tweedehandswinkels, skep ’n gelaagde voorkoms vol karakter. Die kas agter die eetkamertafel kom uit die oorspronklike dorpsapteek. “Elke ding het ’n storie,” sê Christo en bieg: “Ek is g’n minimalis nie.” Hy beskryf die geel en blou aksente as sy “gelukkige kleure”.


Die solderkamer is in ’n ruim oopplan-suite omskep. Oorspronklike sandsteen-en-kleimure, verweerde vloerplanke en ontblote balke gee die ruimte ’n ontspanne, landelike skoonheid, terwyl tong-en-groef-plafonplanke isolasie onder die dak bied.

Herwinde boumateriaal van Die Bou Smous op Hopefield

Dis in die detail
Ouderwetse hake bied hangplek vir handdoeke teen ’n afgewitte houtskerm.


Opknap op ’n knap begroting

“Ons het nie eintlik geld gehad vir ’n opknap nie. Ons moes maar inspring en alles self doen,” vertel Christo. “Dit was regtig ’n liefdestaak.”

Omdat hy van kleins af by sy oupa en pa, albei gesoute skrynwerkers, geleer het om met sy hande te werk, het hy ’n soldertrap van hout gebou. Die groot solderkamer is oop gehou en ingerig as ’n ruim hoofslaapkamer-en-badkamer, terwyl die grondvloer in ’n oopplanvertrek omskep is met plek vir leef, eet en kook.

Deur die week kon Christo se pa toesig hou oor die bouwerk, maar naweke het Christo en Heino kom inloer om te sien hoe sake vorder. Hul opdrag was baie duidelik: “Moenie probeer om dit perfek te laat lyk nie,” sê Christo. In pas met die Kaaps-Hollandse boustyl is ’n lae grensmuur om die werf gebou en afgewit, en in die skadu van die gevestigde dadelpalms het hulle ’n heerlike buite-kuierarea met ’n swembad ingerig. In die somer draai die temperatuur op Hopefield maklik by 47 °C. “Ons hou van die hitte,” sê Christo. “Maar water is noodsaaklik. Ons sou nie hier kon oorleef sonder ’n swembad nie.”

Die meeste van die toebehore en meubels in die huis is tweedehands of op veilings gekoop; ander was geskenke van vriende. Christo het skuifraamvensters met glas en al vir net R800 gekry – nuwe rame alleen sou sowat R4 500 stuk gekos het!

Ou houtkombuiskaste is van Nuweland, Kaapstad, hierheen gebring en geïnstalleer, terwyl ’n gazebo, wat sy eienaars op Onrus nie meer wou hê nie, oor die buite-kuierarea staangemaak is. Ou stortpanele is ook ingespan as beskutting teen die wind, en ’n nuttelose skuurdeur het die buitetafel se blad geword.

“Ons het so baie goed verniet gekry,” sê Christo, wat gereeld in sy getroue Ford Ranger gespring het om “dit en dat te gaan haal” met ’n gehuurde sleepwa. “Ek probeer sover moontlik dinge herbenut,” verduidelik hy. “My benadering is om net die proses te geniet.”

Plek vir vriende en familie

Nadat die skuur in ’n eenslaapkamerhuis omskep is en daar van Heino se familie uit Pretoria op pad was vir ’n kuier, het die twee besef hulle het ’n tekort aan slaapplek vir gaste. Die oplossing? Christo het binne vier dae ’n tentstruktuur gebou, en ’n ablusieblok aan die agterkant van die skuur.

Ál meer vriende en familie wou hier kom uitspan, gevolglik moes nog oulike planne beraam word. “Ons het net besluit om prettige kuierkolle vir vriende buite te skep.” Hulle het toe ’n ou woonwa by ’n skoolvriend gekoop; dié het Christo omskep in die “Chanel-suite” wat aan die binnekant met Chanel-handsakvoering versier is. Die koperletters kom van ’n projek wat Christo by die Kaapse Regsvereniging gedoen het. “Ek kon Chanel daarmee spel,” sê hy.

Hulle het nog ’n karavaan, wat Transnet oorspronklik gebruik het tydens die bou van die spoorlyn, op Moorreesburg gekoop. Eers was dit Christo en Heino se slaapplek by AfrikaBurn in die Tankwa-Karoo; nou is dit die “Trans-Karoo-suite”.

Geplaveide paadjies verbind die onderskeie slaapplekke met die goed toegeruste buite-badkamer wat almal deel.

Landskapwerk deur Herman Nel

Die “Trans-Karoo-suite” is verbasend ruim.

Twee ou halwe wynvate dien as planthouers op die stoepie van die en suite-kothuis wat Christo en Heino vir hul ouers laat bou het.

Hoe meer siele ...

’n Baksteen-kothuis is op bestaande fondamente gebou vir wanneer Christo of Heino se ouers kom kuier. Dit spog met ’n en suite-badkamer in ’n ongewone, skoorsteenagtige struktuur. En hulle het nóg planne, onder meer ’n dubbelverdieping- boomhuis met ’n spiraaltrap.

“Hier is nou plek vir 14 mense,” sê Christo. “Ons reël vir familie en vriende is dat jy enige tyd welkom is, maar jy moet jou kant bring, hetsy deur in die kombuis te help of drankies te meng. Niemand kom met leë hande hier aan nie.”

Die paartjie sien nou hul naweekplek as “huis”. “Dié ruimte is regtig spesiaal vir ons. Ons is die eerste mense wat in die skuur gewoon het en ons is baie gelukkig hier.” Nou geniet hulle dit om naweke vars produkte by die plaasmark te koop en dan smullekker kos te maak in die skuur of op die braai. “Ons is almal lief vir kook,” sê Christo. “Op ’n keer het ons pasta gemaak en oor die gordynrelings gehang om droog te word!”

Hul raad vir enigeen wat ’n ambisieuse opknap wil aanpak? Moet jou nie laat afskrik nie. Dink vars. Neem jou tyd. “En maak vrede daarmee dat dit dalk nooit klaarkom nie,” sê Christo. 

Blou-en-wit teëls in die Marokkaanse styl is in die swembad gebruik vir ’n interessante effek.

Die buiteruimte is beplan as ’n groep semi-private hoekies vir uitspan, kook, eet, lees, swem en dut. 

Buitelap van Hertex en Bartlett & Dunster; teëls van Tiletoria

Dis in die detail

Die sitplek is ontwerp met middagslapies in gedagte; weervaste kussingoortreksels is ’n gerieflike, praktiese keuse. 


VERSKAFFERS EN KONTAKTE