Foto’s en stilering Henrique Wilding

WIE WOON HIER? Bruce en Nadine Tedder en hul dogter, Tristen (16)

WAAR Langebaan, Wes-Kaap

GROOTTE 250 m2

Met sy asemrowende uitsigte van die strandmeer en golwende heuwels met geil, kleurryke vetplante,is dit geen verrassing dat Bruce en Nadine Tedder besluit het om hul vakansiehuis aan die Weskus “Panorama” te doop nie.

Die huis in die hartjie van Langebaan is ’n rustieke juweel en hulle was dadelik verlief op die rustige kus-voorkoms en ryk geskiedenis van die plek.

Vroeër jare is die gebou gebruik as ’n skuur op ’n groot koringplaas wat later in erwe onderverdeel is; vandag maak dit deel uit van die woonbuurt Myburghpark.

Hoewel die dubbelverdieping tussen ander, meer kontemporêre wonings staan, is dit in die langhuis-styl so eie aan die Weskus gebou, met een smal oopplan-ruimte en ’n grasdak. “Dit staan na bewering al oor die 200 jaar hier,” sê Nadine. “Ons kan nou nog die ou koeistalle van hier sien, maar dié is nou vervalle.” Die plaas se oorspronklike opstal, net oorkant die pad van die Tedders se huis, is deesdae die gewilde Farmhouse-hotel.

Die paartjie het ’n motorhuis op hul erf in ’n kothuis omskep en ’n ekstra “speelkamer” aangebou waar kuiermense kan oornag wanneer nodig.

En aan kuiermense is daar geen tekort nie. “In die vakansietyd kom vriende gereeld kuier en is ons dae vol aktiwiteite: ons seil, waterski, vang vis en ry fiets in die Weskus Nasionale Park hier naby. “Terwyl die son sak, geniet ons ’n drankie op die stoep, speel boules op die grasperk en braai voor ons binnetoe gaan vir bordspeletjies. Ons kan ons nêrens anders indink om sulke gelukkige herinneringe te skep nie,” sê Nadine. 

Die buitetrap (en een binne) lei na die solderkamer waar ’n dubbelbed en twee enkel-beddens slaapplek bied.

’n Beskutte kuierhoekie is op die stoep ingerig. Boeie wat aan die latte-dak hang en blougeverfde hortjies skep ’n opgewekte strand-atmosfeer. 

Hou jy van die kleur? Probeer Plascon Indo Grotto.

’n Muur is by die hoofhuis se voordeur gebou om dit teen die wind te beskut.

’n Motorhuis langs die hoofhuis is omskep in ’n kothuis met ’n slaapkamer en ’n badkamer. Bruce het steierplanke wat voorheen die blad van ’n stoeptafel gevorm het, hier aan toue en ’n katrolstel uit die dak laat hang.

Die oopplan-kombuis-en-leefvertrek neem die grootste deel van die onderste vlak in beslag. “In die winter sit ons graag ná aandete by die kaggel en kaart speel,” sê Nadine. Sy het die dekor minimaal gehou om die tekstuurryke wit mure en ontblote dakbalke te beklemtoon.  

Dis in die detail
  • Die Tedders het besluit op bekostigbare dennehoutmeubels en dit afgewit in die strandsjiek styl van die huis. ’n Praktiese terracotta-teëlvloer versterk die rustige atmosfeer.
  • Los oortreksels is so veelsydig! Jy haal dit net af wanneer dit ’n was nodig het en dit kan maklik afgewissel word as jy nuwe kleure wil inbring. 
Ons is dol oor die hangmat wat aan die ontblote dakbalke hang – nog ’n stylvolle dog onopgesmukte element.

Steeds hul droomhuis

Nadine en Bruce het dié eiendom 16 jaar gelede vir die eerste keer gesien: Hulle was met vakansie op Langebaan en onthou nou nog hoe hulle met hul dogter, Tristen (nou 16), in haar stootwaentjie verby die huis gestap het. Dit was hul droom om eendag die huis te besit.

Die paartjie, wat albei in die boot- en toeristebedryf werk, het wonderlike herinneringe van vakansies op Langebaan en wou dieselfde vir Tristen hê. Soos die noodlot dit wou hê, was die huis daardie selfde jaar in die mark en het hulle die geleentheid aangegryp.

“Ons het verlief geraak op sy Weskus-boustyl – die dik, afgewitte mure en grasdak,” sê Nadine. Die huis was klaar opgeknap en die Tedders moes net mooimaak.

“Ons het nie ’n ruim begroting gehad nie en was in die wolke dat die huis reeds so pragtig in die oorspronklike styl gerestoureer is,” verduidelik Nadine. “Baie van die ou struktuur is behou, insluitend die ontblote dakkappe, die geelhoutbalke bo die deure en vensters en die breë kaggel – dit alles skep ouwêreldse sjarme en ’n rustige atmosfeer, perfek vir ’n vakansieplek.”

’n Deel van die hoofhuis se solder is in ’n ruim slaapkamer omskep.

Helder en lieflik

Die Tedders moes slim werk met hul knap begroting om die ruimte mooi in te rig: Hulle wou meubels hê wat gemaklik én iets vir die oog is, en het dennehout-items – soos die eetkamertafel, bankies en beddens – gekoop en dit wit geverf om by die res van die dekor te pas.

Sodoende kon hulle belê in die beste linne wat hulle kon bekostig, asook rusbanke, dekens en strooikussings. Hulle het ook op die dorp rondgesnuffel vir tweedehandse meubels.

Nadine en Bruce het hul mure versier met geraamde foto’s van hul oorsese reise en swart-en-wit-foto’s van ou Langebaan, wat hulle by die Wes-Kaapse Provinsiale Argief gekry het.

“Ons wou die ruimte ophelder om met al die hout-elemente te kontrasteer; daarom het ons besluit op ’n palet van room en wit. En vir ’n energie-inspuiting het ons ’n paar kleurspatsels bygevoeg, byvoorbeeld met die boeie wat ons oor die jare op verskeie strande bymekaargemaak het,” sê Nadine. 

Daar is nie Wi-Fi of ’n TV hier nie. Ons wou hê dit moet ’n plek wees waar jy regtig kan ontsnap ... – Nadine

Hout-elemente soos die dadoreling pas perfek by die gepleisterde wit mure om ’n aardse voorkoms in die badkamer te skep. >>

Ons is gaande oor eenvoud, en die hoofslaapkamer was al klaar so ’n pragtige ruimte dat ons nie wou afbreuk doen aan die bestaande skoonheid nie. – Nadine

Die kothuis se slaapkamer kan tot vier mense huisves. “My dogter is nou ’n tiener, so as sy vriende saambring vir die vakansie, bly hulle graag in die kothuis – weg van ons af!” sê Nadine en lag. Strooikussings met gestreepte rooi-en-wit oortreksels dra by tot die see-tema. Ons is dol oor dié dekoratiewe tou-leer wat voorheen op ’n skip gebruik is.

Om water en plek te bespaar het die Tedders besluit op ’n stort pleks van ’n bad in die kothuis. Die ou sandsteenmure is eenvoudig wit geverf om by die hoofhuis te pas.

’n Latte-afskorting bied privaatheid by die buitestort, wat op net die regte plek staan om die middagson te vang. Die Tedder-huis is te huur – bespreek deur Perfect Hideaways (021 790 0972, perfecthideaways.co.za)