Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Dinki en Henry Windell

WAAR Faerie Glen, Pretoria

Dié sonkamer is pure ouwêreldse Italië en Frankryk. Dit was voorheen ’n oop stoep, maar die Windells het dit toegebou ten einde die vloerspasie van die klein meenthuis aansienlik te vergroot. Die kontemporêre mat op die vloer en nuwe eetkamerstoele skep balans tussen oud en nuut. 

Die kombuiskaste is ’n kombinasie van ingeboude eenhede en antieke vondste.

Met die toebou van die stoepie aan die suidoostekant van die huis is ’n ekstra vertrek geskep. Die houtskuifdeur maak op ’n Zen-tuintjie oop.

Dinki en Henry Windell beskryf hul huis as “klein, maar groot genoeg”.Toe hulle sowat 12 jaar gelede hier in die rustige Vineyard Village intrek, het hulle hul blyplek presies volgens hulle leefstyl aangepas.

“Ek en Henry ontvang nie meer gereeld oorslaapgaste nie en drie slaapkamers was oorbodig,” vertel Dinki. “Ons het die huis van die begin af as ons aftreehuis gesien en beplan nie om te trek nie – dit moes dus werk vir ons.” Met dié doel voor oë het hulle die kleiner derde slaapkamer omskep in ’n studeerkamer met ingeboude rakke en kaste, en die tweede slaapkamer deel van die hoofslaapkamer gemaak om een ruim, elegante toevlugsoord te skep. “Ons wou ’n mooi en groot aantrekkamer hê wat ’n ekstra leefruimte uitmaak.”

Benewens die veranderinge aan die slaapkamers is die twee stoepe toegebou sodat dit nou deel van die leefvertrekke binne vorm. “Toe ek destyds na die huis kom kyk het, het dit tot reg teen die skuifdeure gereën,” verduidelik Dinki. “Ek het besef as ons dié stoepe wou laat werk, moet dit kan toemaak.”

Danksy dié verandering het die huis sowat 25 m² ekstra leefruimte gewen. Die groot stoep van sowat 16 m² by die leefvertrek skakel met die tuin en dien as sonkamer. Die klein stoep aan die suidekant is nou ’n private leeskamer. Anders as die meeste eienaars in die ontwikkeling, wat stapeldeure gebruik het om stoepe mee toe te maak, het Dinki en Henry vensters en dubbeldeure ingesit wat beter by die huis se styl pas. “Ek wou nie hê dit moet aangelap lyk nie, maar asof dit van die begin af deel van die ontwerp was.”

Die tuin vorm as’t ware deel van die sonkamer met sagte takslierte wat voor die deure hang en die lyne tussen binne en buite versag.

Die binneontwerper Ferdi Louw van Pulse het die kleurryke kombuiseiland met sy Marokkaanse patroon ontwerp.

Eintlik woon ons in ’n eenslaapkamer-tweebadkamer-huis met ’n studeerkamer. Die res – die sitkamer en eetkamer langs die kombuis, twee sonkamers én ’n tuin van 100 m² – is als gesellige leefruimte. – Dinki


Nuwe kleur en tekstuur

Dinki, ’n voormalige landskapontwerper, het inspirasie vir die sonkamer en tuin uit haar en Henry se besoeke aan Italië en Frankryk geput. “Die erfenis van dié twee lande speel ’n baie groot rol in ons sonkamer, en die tuin is ’n uitvloeisel daarvan,” vertel sy.

“Dit voel soos ’n ongerepte 17de- of 18de-eeuse tuin waar die plante tot reg teen die huis groei. Die rankplante hang hier voor jou oë van die priële af en raak aan jou wanneer jy in- en uitstap. In die herfs is dit ’n fees van rooi slierte.

“Om in hierdie huis te woon is iets besonders. Die tuin haal so mooi asem saam met die leefvertrek. As jy binne is, hoor jy die voëlgeluide en neem jy die verskillende teksture, kleure, hoogtes en vorms in.”

Botaniese afdrukke herhaal die tuin-gevoel in die gastebadkamer. 

Dinki vertel die huis was die afgelope vyf jaar klassiek Frans, met byna alles wit. Maar tipies van haar eksentrieke aard was sy gereed vir iets nuuts: dié keer ’n ryker voorkoms met meer kleur en tekstuur.

Ferdi Louw van Pulse, wat die dekor behartig het, beskryf die nuwe styl as boheems. Hy vertel die sonkamer was die ideale vertrek om ’n ontspanne gevoel te gee wat herinner aan ’n Italiaanse ontbyt- of teekamer. “’n Vertrek waar dit voel asof jy in die tuin sit en die voëls dophou terwyl hulle in die groot fontein daar langs jou bad,” verduidelik hy. “Die Windells gebruik die sonkamer ook vir skemerkelkies in die laatmiddag en om te ontspan en net mekaar se geselskap te geniet; dit moes dus voorsiening maak vir al hierdie funksies.”

Ferdi is ’n man van vele talente en het die verfwerk in die sonkamer self gedoen. “Ek het foto’s van Dinki en Henry se jaarlikse reis na Italië, spesifiek San Gimignano in Toskane, as inspirasie gebruik vir die mure en plafon,” verduidelik hy. “Ek het ook die trompe l’oeil-muurkuns op skilderdoek gedoen as ’n weerspieëling van die Toskaanse platteland.” Die bestaande vloerteëls is grys geverf om ’n meer moderne gevoel deur die hele huis te skep, terwyl verskeie verftegnieke op ou meubels toegepas is en ander herstoffeer is sodat dit by die nuwe tema kan pas. “Ferdi het van my oudste tot heel voosste meubels in die pragtigste boheemse stukke omskep,” voeg Dinki tevrede by.

Dinki is dol oor dié helderpienk verfkleur wat voorwaar oemf gee aan die sitkamer en eetkamer wat in ’n oopplan-ontwerp by die kombuis aansluit. Die tafel, ’n erfstuk, se blad is spierwit geverf om by die nuwe meer kontemporêre kleurskema te pas. Die pote is geskuur en afgewit. Kandelaber van Travel & Décor

Van wit na kleurvol – ’n vyfpuntplan

Volg Ferdi se wenke as jy ryk kleure en teksture in jou dekor wil gebruik:

• Kies ’n treffende fokuskleur soos helderpienk en verf een of meer mure daarin. Kombineer dit met komplementêre kleure soos gedempte groene, bloue en turkoois vir balans. Grys op die vloer bind alles saam en skep ’n meer kontemporêre gevoel. As jy onseker is oor kleur- keuses, laat ’n professionele binneontwerper jou help.

• Verf jou ou meubels in die kleure van jou nuwe kleurskema en herstoffeer jou banke en stoele sodat dit hierby aansluit – hetsy in effe kleure of met patrone en motiewe.

• Kombineer gerus verskillende style; dit hoef nie altyd net Frans of net modern te wees nie – sit alles saam waarvan jy hou en wat vir jou mooi is vir ’n vars voorkoms.

• ’n Persoonlike stempel is belangrik. Maak kunswerke en mooigoed bymekaar wanneer jy reis, want dit is die dinge wat jou huis uniek maak.

• Koop ’n paar moderne stukke by, soos ’n los mat in swart-en-wit of moderne eetkamerstoele, om die voorkoms kontemporêr te hou.


Die prieel, met al die detail daarrondom, is ons gunsteling-kamer in die tuin, maar ons geniet ook elke ander hoekie. – Dinki

Die fokusmuur in die slaapkamer is dieselfde donkergrys kleur as die vloere in die res van die huis geverf. Die kopstuk en basis is nuut oorgetrek in ’n blougroen fluweel wat die kleure in die oopplan-vertrek herhaal; ’n botaniese deken sluit aan by die huis se tuin-tema. 

Ferdi se wenke vir klein ruimtes

• Moenie wegskram van oorgroot kunswerke, spieëls of meubels in ’n kleiner huis nie. Dikwels skep dit juis diepte en ’n gevoel van ruimte pleks van beknoptheid.

• Kies gerus ligte kleure, maar span ook donker en helder verf op fokusmure in om meer diepte te skep.

• Skep eenvormigheid en vloei met dieselfde vloer-afwerking reg deur. Indien dit nie moontlik is nie, kan jy verf; maak net seker jy gebruik die korrekte onderlaag. Grys is steeds baie gewild vir ’n kontemporêre gevoel.

• Ontrommel elke ses maande!

• Selfs die kleinste plekkie kan ’n paleis wees as jy dit die nodige aandag gee. Omskep jou huis in ’n toevlugsoord, nie ’n plek waarvan jy wil wegvlug nie. Alles gaan daaroor om die gewone buitengewoon te maak.

• Die mees basiese ding kan as iets luuks ingespan word: Sit byvoorbeeld vars blomme uit die tuin in ’n ou bottel. Dit is so eenvoudig en persoonlik dat dit ’n unieke bekoring kry.

KONTAK & VERSKAFFER
  • Ferdi Louw 083 726 5946, pulse.co.za
  • Travel & Décor 012 991 6162