Foto's Francois Oberholster
Dekorassistent Carissa Govender

Welkom!
Kerskouse en kussings op rusbank en gemakstoele van Skinny laMinx

Een van die gesin se vele gunsteling-ruimtes is die leefkamer met sy mooi uitsig op die strand. Bo is die “solder” met die kinders se slaapkamers.

Wie woon hier? Justine en Corné Krige, hul kinders, Sophia (12), John (10) en Peter (8), en twee honde, Josef en Pretzel.
Waar Melkbosstrand, Weskus

’n Rooi-en-wit gestreepte voordeur met ’n imposante wit Kerskrans verwelkom gaste by Corné en Justine Krige se woonhuis op Melkbosstrand. Met die sagte gedruis van die Weskus se branders in die agtergrond en kenmerkende seereuk in die lug, kan gaste uitsien na ’n groot bederf, want by die Kriges word vriende en familie op die hande gedra.

Twee lui honde – Josef die schnauzer en Pretzel die Jack Russell – kom wys ook gesig voor hulle weer gaan opkrul om verder te slaap, salig onbewus van die joligheid wat voorlê.

“Ná kerk is Kersdag eintlik ’n informele dag by ons,” vertel Justine. “Oukersaand is altyd ons groot formele aansit-ete, maar Kersdag is dit skoene uitskop, geskenke oopmaak en net lekker kuier om die swembad en braai.”

Die kuierstoep, skaars ’n paar treë van die strand, is waar als gebeur. Die kinders kom en gaan en hardloop met sand tussen die tone op die dek en tussen die fynbos rond, en word nie summier verwilder oor hul vuil voete nie!

“Hier is niks fancy aan ons huis nie,” vertel Justine. “Dit bly ’n gesinshuis en ’n plek waar kinders hulself kan wees. Ons huis is ’n welkom-huis waar die voordeur altyd oopstaan vir kuiergaste. Tog is dit steeds privaat genoeg van die strand en is dit eintlik baie stil met net ’n paar mense en hul honde wat verbystap.”

Alles net gemaklik

Dis nou al agt jaar dat die Kriges hier op Melkbosstrand bly. Voorheen, toe Corné nog vir die Springbokke uitgedraf het, het hulle effens nader aan die stad in Bloubergstrand gebly, maar veral Justine wou graag teen die Weskus op trek na ’n kleiner gemeenskap.

Corné wou aanvanklik nie daarvan hoor nie, maar toe hulle op ’n dag sien een van die ouer huisies reg voor op die strand in Melkbos is in die mark, kon hulle nie anders as om ’n aanbod te maak nie. “Die huis was al 35 jaar oud en geen verbeteringe is oor die jare aangebring nie, maar die struktuur was perfek,” onthou Justine.

“Melkbos is fantasties met sy klein skool en dit pas uitstekend by ons leefstyl van swem, branderry, draf en tennis speel,” vertel sy. “Dis ook ’n heerlik hegte gemeenskap. Ons draf saam op die strand en speel tennis by die kinders se skool wat skaars 700 m van ons huis af is.”

Sedert die Kriges ingetrek het, het hulle die huis stelselmatig opgeknap. Heel eerste is die klein swembad en groot kuierstoep aan die seekant aangebou. Daarna het die onderste slaapkamers en badkamers gevolg en toe die kinders se soldervertrek. Vanjaar, net betyds vir Kersfees, het die kombuis ook sy nuwe baadjie gekry.

As dit by dekor kom, het Justine nie ’n spesifieke styl nie, “solank dit gemaklik is”, sê sy. Tog is elke vertrek in dié onopgesmukte strandhuis prentjiemooi.

Die eethoekie tussen die kombuis en braaiplek buite is waar die Kriges graag ontbyt geniet. Familiefoto’s op Photoblox is baie spesiaal vir Justine en die perfekte oplossing in die huis met sy beperkte muurspasie.

Al woon ons permanent hier, bly dit ’n strandhuis. Hier is altyd ’n klomp kinders, honde en sand – eintlik is die huis maar heeldag vol sand! – Justine
/

Die pragtige ou venster links van die stoof kyk uit op die sitkamer. Dit en die imposante ou kasdeur (oorkant) is van die antiekwinkel Wauhaus in Woodstock, terwyl die kandelaber van Frenchtique is, ook in Woodstock. Strukturele veranderinge het ook dié nuwe venster links van die kaggel ingesluit.

Kombuis, hartsplek

Die kombuis was hul mees onlangse opknapprojek – net betyds vir Kersfees! En dis alles wat Justine wou hê: ’n kuierplek wat aaneenvloei met die leefvertrekke, ’n vuurherd vir daardie lekker koue wintersaande langs die see, maar bowenal: ’n ordentlike spens en opwaskamer versteek aan die agterkant.

“Ek wou graag die wasmasjien en ander witgoed uit die kombuis hê – dit was vir my ’n groot vereiste,” vertel Justine. “Dit was ook tyd vir nuwe kaste en vloere, want alles het uitmekaar begin val en die wasbakke het gelek – ons kon nie langer spoeg en plak nie!” lag sy.

Om in te skakel by die natuurlike en onopgesmukte voorkoms in die res van die huis, het die Kriges op laaie van Amerikaanse populierhout besluit wat met groot sorg aanmekaargesit is deur Crib Creations in Soutrivier.

Vir die werkblaaie en kante was beton van Stoneform Concrete Studios die perfekte keuse, terwyl die afgevlakte sementvloer deur Screed Worx geïnstalleer is.

’n Smal muur van rooi klompiestene met wit bryvulsel skei die kombuis van die opwaskamer – dieselfde klompies is ook in die nuwe kaggel gebruik.

Die kombuis is die plek waar ek en my gesin tyd saam deurbring – van kook tot huiswerk doen en kuier – regtig my hartsplek! – Justine

Die hoofslaapkamer se en suite-badkamer word met ’n lae muur van die bed geskei. Heel agter is die instapkas met ’n deur na buite. Dennehoutplanke is bloot bo-op die sementvloere gelê en wit geverf. Deken van Country Road

Grys
Handdoek van Country Road

Nadat Justine haar hart verloor het op dié vloerteëls wat sy eenkeer op ’n foto gesien het, het ’n vriendin dit vir haar en Corné se badkamer van Italië ingevoer. Dis die enigste ding waarop hulle ’n bietjie ge-“splash” het, vertel sy. Hulle het die wasbaktafel spesiaal laat maak. Die gastebadkamer met sy deur na buite spog ook met Italiaanse teëls. Die kunstenaar Richard Scott het vir die Kriges drie kunswerke gemaak, een daarvan op die gastetoilet se deur, omdat daar so min muurspasie is.

Grys kussing van Country Road; geel kussing van Skinny laMinx

Nog ’n Richard Scott-skepping vrolik die onopgesmukte gastekamer op.

Vir vandag se seekosbraai het die Kriges hul goeie vriende Andries en Lise Venter en hul kinders, Andrea (13) en Zani, (10) oorgenooi, asook Tilla en Jacques Nel en hul kinders, Jack (13) en Jamie (12) – almal maats van hul eie kroos.

Super-stoep

Die Kriges leef absoluut na buite. Die hoofslaapkamer kyk uit op die see, met net hortjies vir veiligheid en privaatheid, en die kombuis en leefvertrek maak op die houtdek oop. Tussen hul huis en die sand groei ’n klein lappie gras en daar’s ’n fynbostuin vir ’n bietjie kleur. Justine het oral vygies ingedruk, wat baie goed aard hier.

Die agterplaas spog met drie braaiplekke: onder op die lappie gras is ’n ronde braai onder ’n groot “Krismisboom” en op die dek ’n braaikaggel en pizzaoond – dit is vir seker die huis met die meeste skoorstene in die straat! Oral is ingeboude bankies, stoele en hangmatte – ’n mens kan sommer sien hier word behoorlik uitgespan in die somer.

“Die stoep het seile wat ons laat sak as die weer sleg is, maar ons hou daarvan dat alles so oop en teen die see is,” vertel Justine. “As ons koud kry in die winter, sit ons steeds hier – maar dan onder ’n kombers! Ons is mal oor ’n vuur en enige vorm van buitelewe.”

Daarom dat hulle ook so graag Kersdag buite vier. Want dis lekker by die see ...

Kersfees is vir ons familie ’n tyd van besinning, van seëninge tel en dankbaar wees. – Justine

Linnetafeldoek van Fandango Colorido-lap van Mavromac; grys kerse van Country Road; eetgerei van @home; kopervase en tosselstringe (om servette) van MRP Home

Verskaffers
  • @home 0860 576 576, home.co.za
  • Country Road 011 290 2500, 021 405 4300, woolworths.co.za/Country_Road
  • Crib Creations 021 448 0202, cribcreations.co.za
  • Frenchtique 021 447 0604, frenchtiquefurniture.com
  • Lula Fabrics 021 797 7472, lulafabrics.co.za
  • Mavromac 011 444 1584, mavromacandthegatehouse.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Screed Worx 072 141 2500, screedworx.co.za
  • Skinny laMinx 021 424 6290, shop.skinnylaminx.com
  • Stoneform Concrete Studios 021 448 6480, stoneform.co.za
  • Wauhaus 021 448 2884, wauhaus.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za