Foto’s Elza Cooper • Stilering Juané Scheepers

WIE WOON HIER? Chris en Liz van der Merwe en hul dogters, Megan en Olivia
WAAR Pretoria
GROOTTE 650 m²

Chris en Liz van der Merwe lag nou nog lekker wanneer hulle terugdink aan hoe ’n toevallige ontmoeting met ’n voordeur hulle geïnspireer het om hul eie Franse woning in die hartjie van Pretoria te ontwerp en te bou.

Die reis het in 2006 begin toe die paartjie by hul familie-vakansiehuis op Hermanus was. Tydens ’n wandeling langs die see het ’n treffende dubbele houtvoordeur hulle in hul spore laat vassteek. Die tekstuurryke patina en indrukwekkende grootte het hulle getref; eers nadat hulle ’n paar keer aspris verbygestap het, het hulle die moed bymekaargeskraap om te gaan aanklop...

Gelukkig was die huiseienaar vriendelik genoeg om te sê waar sy die deur gekoop het: Private Collections in Kaapstad, wat in ou houtdeure en -vensterrame met ’n Europese invloed spesialiseer.

Die Van der Merwes het al soortgelyke deure in hul ander gunsteling-vakansiebestemming, die suide van Frankryk, gesien.Van toe af het hulle vyf jaar lank, telkens wanneer hulle op Hermanus was, teruggekeer met een van vyf deure en vensters vir die droomhuis wat hulle in Gauteng beplan het. Die deure is by die ontwerp ingesluit en die huis is in 2011 voltooi.

“Wanneer ons gaan uiteet het (dit was voor die dogters gebore is!) kon ons ure omgesels oor wat ons in dié huis wou hê. Ons het baie sketse op servette gemaak!” onthou Liz, eienaar van Zau Spa, met ’n laggie.

Die argitektuur en binne-ontwerp is grootliks deur die Franse platteland geïnspireer. “Ons hou van die aardse warmte en geselligheid van ’n tipies Franse plaashuis,” verduidelik sy. “Dis presies wat ons in ons huis wou hê, daarom het ons ’n weelderige dog onpretensieuse plek begin inrig waar jy maar jou skoene kan uitskop, ’n bottel wyn oopmaak en jou verlustig in die smullekker geure vol belofte uit die kombuis.

“Ons gaste sê dikwels dit voel asof hulle in Frankryk kuier wanneer hulle hierheen kom – dis juis wat ons wou hê!”

Heelparty deure maak op die swembaddeel oop en laat die lig by die oopplanruimte instroom. Die vloere regdeur die huis is beton met ’n epoksi-bolaag. Kandelaber van Ambiente Luce

Slim plan!
Chris het die houtbankie vir die meisies gemaak om op te staan wanneer hulle help kosmaak.
Die huis is gebou met natuurlike vloei van binne na buite – al die deure en vensters staan amper heeljaar wawyd oop. – Liz

Voordat die kombuiskaste se Supawood-deure ’n laag liggroen verf gekry het, is gleufies daarin gesaag. Chris het die afgewitte voorkoms op die baksteenmure in die huis verkry met ’n dun mengsel van gips en water. Hou jy van die groen? Probeer Dumisa’s Dream van Tjhoko Paint.

Liz het die treffende sitkamer ontwerp om te kontrasteer met die stemmiger kombuis en eetarea.
Christian Lacroix-plakpapier van Home Fabrics

’n Franse flirtasie

Liz het sagte, gedempte tone, tipies van die Franse platteland, regdeur die huis gebruik – kleure soos sagte grys, wit, liggeel en babablou word plek-plek opgehelder met sterk kleuraksente.

Sy het goeie raad vir enigeen wat ’n Franse dekorstyl wil skep: Begin met smeeystermeubels, sê sy. “Dit maak altyd ’n stelling. Gebruik dit binne én buite in meubels soos beddens en bykomstighede soos kandelabers.”

Aangesien Liz meestal met ’n gedempte palet werk, bring sy graag kleur in met tekstiele. “Natuurlike linne is my gunsteling,” sê sy. “Ek glo ’n mens moet altyd tekstuur in gedagte hou wanneer jy ’n vertrek versier en kombinasies daarvan deur jou huis herhaal sodat ruimtes met mekaar kan skakel. Kies byvoorbeeld geblomde kussings op ’n bank wat met ’n ander blomlap oorgetrek is, of gooi ’n effekleurige deken saam met ’n bonte oor elke bed.

“Ons wou hê ons blyplek moet ’n kombinasie van kalm en lewendige energie uitstraal.” Vandaar die treffende, kleurvolle plakpapier in die sitkamer, slaapkamer en gastetoilet wat so goed saam met die neutraler tone in die onderskeie vertrekke werk. “Ons kry baie idees wanneer ons in Europa reis,” voeg Liz by. “’n Heldergeel kopstuk in die slaapkamer is byvoorbeeld geïnspireer deur ’n hotelkamer in Sicilië wat die ongelooflikste geel vloerteëls gehad het – dit het my voete onder my uitgeslaan en ek moes eenvoudig iets in my eie huis hê wat my aan dié vrolike element sou herinner.”

Al die slaapkamers op die boonste vlak het ontblote wit balke wat ekstra volume skep. Hierdie kamer het ’n kleurinspuiting gekry in die vorm van dekens, ’n geplakte fokusmuur en ’n heldergeel geverfde houtkopstuk. Hou jy van die geel? Probeer Dulux Californian Dream 6

Die gastetoilet het groot trefkrag danksy nog Christian Lacroix-plakpapier van Home Fabrics, wat die binneversierder Ahlers Ziervogel vir haar uitgesoek het. Die oorheersende roeskleur eggo die ouwêreldse sjarme wat die res van die binneversiering kenmerk.

Natuurlike lig stroom in by ’n groot venster in die hoofslaapkamer se en suite.

Chris se ma, Sue, het die deken op die pasgemaakte ysterbed in die gastekamer gehekel. Bedkassies in die Franse styl verleen ’n rustieke atmosfeer en spog altyd met vars blomme uit die tuin.

Klassieke Franse dekorelemente – rustieke meubels van hout en smeeyster, ontblote bakstene en sagte kleure – maak die kombuis prentjiemooi.

Daar is altyd varsgeplukte blomme en rose in ons huis. En danksy die dubbeldeure en hoë vensters is elke uitsig op die tuin lieflik omraam. – Liz

’n Lae baksteenbankie is voor die venster in die kombuis gebou – perfek om in die son te sit en bak! Die blinding is eenvoudig deursigtige materiaal wat opgebind kan word.

Net buite die kombuis is die stoep waar die gesin graag onthaal. Swart en wit vloerteëls en rustieke meubels maak dit ’n bekoorlike hoekie. Mooi, nè! Teen die mure by die braaiplek is subtiele liggroen en grys strepe geverf.
Smeeysterbank pasgemaak deur Garden Bleu; strooikussings en stoffering van One62 Interior Design

Liz verklap haar inkopie-geheime

“Wanneer jy ’n huis in ’n bepaalde styl versier, moet jy weet op watter winkels jy kan staat maak vir kopies wat in jou smaak val,” sê Liz. Hier is ’n paar van haar gunstelinge in en om Pretoria:

  • Ek is lief vir ou meubels wat nog die lae verf wys wat dit oor die jare gekry het. Rust in White het dikwels bekostigbare herwinde meubels; hulle hou ook die mooiste linne aan – perfek om laag op laag te gebruik.
  • Weylandts is ’n goeie plek om meer moderne artikels te kry (baie daarvan met ’n ruwe afwerking) wat mooi met ouer, minder weelderige stukke kontrasteer.
  • By Pieter Oosthuizen Interiors & Antiques is altyd antieke Franse meubels en besonderse artikels te kus en te keur.
  • Ek is dol oor Garden Bleu se smeeyster-meubels. Boonop maak hulle enigiets op bestelling. Nadat ek vir hulle ’n foto van ’n ysterbankraam gestuur het, het hulle vir my ’n presiese replika gemaak vir die tuin!
  • As ek ’n treffende blommerangskikking soek, bel ek vir Sprig.

Net buite die kombuisdeur staan ’n groot houttafel gereed vir uitgerekte middagetes. Die kleur van die pasgemaakte staalraamvensters en -deure, Plascon Battle Ship Grey, pas goed by die Franse voorkoms, terwyl Boston-klimop en kruipvy groot dele van die mure bedek. Die deure waarmee alles begin het!

Ons is dol oor die onderskeie hoekies in ons tuin, almal maklik bereikbaar uit verskillende vertrekke. – Liz

’n Wonderskone tuin

Die Van der Merwes se huis is deur die argitek AJ Smit van Palin & Smit Architects ontwerp. “Ons wou graag boë, hoë vensters en deure, natuurlike klip, rou stene, houtteksture en binnehowe met klimplante teen die mure hê.” AJ het daarin geslaag om hul droom te verwesenlik.

“Dit was vir ons belangrik dat die buiteruimtes maklik bereikbaar of ten minste sigbaar moet wees uit elke vertrek. Ons hou van onthaal en buite wees,” sê Liz, wat ’n baie duidelike idee gehad het van hoe haar tuin moet lyk. “Nege maande nadat ons huis klaar was, was dit nog die ene rommel en sand rondom. Een van die beste dae in my lewe (buiten my troudag en toe my kinders gebore is) was toe die landskapargitek opdaag met ’n paar van die 500 bome wat ons hier wou plant.

“Die gevoel wat ons wou skep was dié van ’n koel, skaduryke woud, met plante digby mekaar geplant en heelwat rankers reg rondom die huis. Ons is omring deur buurhuise, maar ons kan hulle glad nie sien nie,” verduidelik Liz.

Chris, wat “ietwat van ’n obsessie” met bome het (hy het NutriBag, ’n gespesialiseerde voedingspak vir bome, struike en grasse ontwikkel), het Iwan Roux van Rekopane Landscaping gehelp om hul buiteruimtes te skep met hoofsaaklik rivierboswilgers, olyf-, perske-, appel- en granaatbome.

Chris en sy pa, Fanie, het die tuinwerktafel net buite die kombuis gebou. Ontblote bakstene, welige rankers en die sierlike ysterwerk dra alles by tot die outentieke plattelandse gevoel.

VERSKAFFERS