Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Warren en Emma Rasmussen, hul dogter, Lula (9), en die Tonkanese katte Noodle en Boo
WAAR Observatory, Kaapstad
GROOTTE 250 m²

Emma Rasmussen het negentien jaar terug in Kaapstad kom kuier, maar het nooit kon dink die Moederstad sou haar tuiste word nie. In 1999 het Emma, ’n gebore Brit, Suid-Afrika toe gekom om die nuwe millennium saam met vriende in te lui. Dié opgewekte advertensiebestuurder het gou haar hart verloor op Kaapstad se kulturele diversiteit, gewoel en natuurskoon – nommerpas vir ’n avontuurvraat soos sy.

Dit was nie net die stad wat haar hart gesteel het nie; Warren, ’n fotograaf, het ook haar voete onder haar uitgeslaan. Jare later, toe hulle begin uitkyk vir ’n gerieflike gesinshuis waar hulle met hul jong dogter, Lula, kon nesskop, het hulle in Observatory ’n eiendom gekry wat net soveel energie soos hulle uitgestraal het.

Die Victoriaanse huis was presies wat hulle wou hê – pragtig, minimalisties en geen strukturele veranderinge was nodig nie. Dit sou die perfekte skoon skilderdoek wees wat hulle volgens hul persoonlikhede en belangstellings kon inkleur.

“As ’n gesin is ons baie aktief. Ons geniet die buitelug en verken graag nuwe dinge in en om die stad, of gaan beleef avonture in die buiteland. Ons is altyd besig met iets kreatiefs,” sê Emma. “Warren het ’n passie vir bak ontwikkel, en ek het nog altyd gehou van naaldwerk – dis iets wat ek so tussen die advertensiewerk deur doen.”

Die paartjie het die ruimte gevul met ’n eklektiese mengsel van vintage- en Skandi-meubels, plaaslike kuns en helder spatsels kleur. “Ons huis is ’n weerspieëling van wie ons is – lewendig en altyd aan die gang!”
Rusbank van sofacompany.com; poef van Lula by Emma; blou hond van frank.co.za 

Die kombuis was ’n groot trekpleister toe die paartjie die huis kom besigtig. Hulle was veral mal oor die staalraamdeure waardeur die lig instroom, asook die oop betonrakke, wat hulle wit geverf het. “Dis ’n klein kombuis, maar het als wat ons nodig het,” sê Emma. “Dis lekker dat ons kan sien waar elke ding is – dis prakties maar vorm ook ’n mooi fokuspunt, so ons het nie veel ten opsigte van dekor gedoen nie!”
Deur van Metal Windows; tafel en stoele van Chair Crazy

Emma en Warren gebruik die studeerkamer vir hul projekte en die rakke in dié vertrek – deels pakplek, deels dekor – getuig van hul onderskeie passies. “Ek maak heeltyd inspirasieborde en soek na materiaal vir my Lula by Emma-artikels. Warren werk ook hier aan sy fotografie,” sê Emma. Nou beplan Warren, wat ook by The Local Baker werk, ook om ’n deel van die ruimte in ’n mikrobakkery te omskep.
Poef van Lula by Emma; mat van MRP Home

Dis in die detail
’n Alfabet-fokusmuur is ’n speelse element in die sjiek eetkamer. “Ek het iets soortgelyks op Pinterest gesien en toe die houtletters laat ontwerp en laat maak,” sê Emma. “Dis ’n oulike manier om interessante kuns op ’n knap begroting te skep!”

Die paartjie het die eetkamertafel gemaak met ’n Formica-blad en pote wat hulle gekoop het.
Mat van Ikea; stoele van Chair Crazy; vintage-winkelkas van Vamp; tafelpote van Metal Windows

Tonne pret!

Emma en Warren het die swart leiklipvloere regdeur die huis behou – dit werk wonderlik met die wit mure wat dien as neutrale agtergrond waarteen dié prettige gesin hul stempel kan afdruk.

“Ons wou ’n monochrome basis vir ons huis hê wat prakties maar ook stylvol en prettig is,” sê Emma. Die Rasmussens kry baie van hul idees uit tydskrifte, asook Instagram en Pinterest; hulle put inspirasie uit enigiets wat relatief maklik is om te maak, nie te veel kos nie en eenvoudig maar iets vir die oog is. En dis duidelik te sien in die interessante fokusmure deur die hele huis, die gebruik van helder kleure en alledaagse gebruiksitems wat as deel van die dekor uitgestal word.

“Kleur kan ook ’n wonderlike energie-inspuiting vir ’n ruimte wees. Op die oomblik is ek dol oor als wat pienk, groen, goud en mosterdgeel is. Prettige kleure saam met luukse lap soos fluweel en die eenvoudige lyne van meubels in die Skandi-styl is ’n wonderlike manier om ’n gesofistikeerde ruimte met ’n tikkie speelsheid te skep,” sê Emma.

Die sitkamer met sy Skandi-styl is in alle opsigte die middelpunt van die Rasmussen-huis. Die stoep, kombuis, eetkamer, twee slaapkamers en studeerkamer lei daaruit. “Dis vir my lekker dat die res van die huis op dié vertrek oopmaak – dit beteken ons loop mekaar altyd hier raak,” sê Emma.
Stoele van sofacompany.com; ronde spieël van Dark Horse; teëls om kaggelrand van Moroccan Warehouse; Strooikussings van Room 13; ottoman van Lula By Emma

“Al wat ek vir seker geweet het voor ek die hoofslaapkamer begin versier het, is dat ek ’n pastelpienk rusbank daar wou hê,” sê Emma. Sy het toe ’n groen fokusmuur (Plascon Caribbean Current) geverf en, vir kontras, gordyne met ’n tropiese motief gekies (sy moes twee lengtes aanmekaarstik sodat dit lank genoeg sou wees vir die hoë vensters). Soos in die res van die huis is die houtplafon wit geverf om die vertrek ruimer en ligter te laat voel.

Die oorspronklike kaggel spog met ’n pragtige marmer-omranding, maar die Victoriaanse herd is uitgehaal; die paartjie het dit met koperplate laat uitvoer vir ’n treffende fokuspunt.
Pienk rusbank van sofacompany.com; gordyne van H&M Home; deken van MRP Home; spieël (oorkant) van Anouk Furniture & Décor

Die gastekamer herinner nogal aan ’n hotelkamer, sê Emma. “My ouers slaap gewoonlik hier wanneer hulle van die Verenigde Koninkryk af kom kuier, maar soms slaap ons self hier vir ’n verandering – dit voel altyd soos ’n mini-wegbreek!” sê sy en lag. Emma het die kussing-kopstuk gemaak.
Deur van Metal Windows; hanglampe langs die bed van Hoi P’loy; stringliggie-lamp deur Gabby Raaff

Ons is dol oor dié kanttafel, ’n rekwisiet van een van Emma se fotosessies.

Die negejarige Lula se slaapkamer is ’n mengelmoes van kleur; dis geïnspireer deur een van haar gunstelingboeke, Sparkle and Spin.
Mat van MRP Home; geraamde illustrasie deur Frank van Reenen

Treffende betonteëls is ’n pragtige fokuspunt in die en suite-badkamer. Photoblox het die patroon en kleur op die teëls gedruk voor dit gelê en geseël is. Die mure is bedek met wit metroteëls om die pienk vloer te beklemtoon.
Spieël van Vamp; badmat van H&M Home

Die gastebadkamer is ook Lula s’n. Die strook swart-en-wit teëls was oorspronklik daar en die vertrek is net opgekikker met bykomstighede soos die spieëlrak van Dokter and Misses.

VERSKAFFERS