Foto’s Francois Oberholster • Stilering Misi Overturf

Wie woon hier?

Michaal en Annemie de Jager en hul kinders, Michaal Jr. (6) en Anouk (4)
WAAR Kuilsrivier, Wes-Kaap
GROOTTE 214m2

Vir die De Jagers van Kuilsrivier kom die gesin en familie eerste. Daarom het hulle gekies om hul eerste huis oorkant ’n laerskool te bou sodat die kinders eendag net oor die straat kan stap.

Dit is ook waarom Annemie haar werk as bemarker in Kaapstad gelos het omdat die byna 40 km soggens en weer smiddae in die verkeer haar te lank van haar gesin weggehou het. Nou werk sy en Michaal letterlik skouer aan skouer in hul tuiskantoor waar sy sy argitekspraktyk bestuur.

In hul huis is daar om elke hoek en draai iets wat van hul ouers of grootouers kom en wat nostalgie indra by hul byderwetse droomhuis.

“Ek het vir Michaal gesê hy het totale vryheid met die ontwerp van die huis, want hy is die een met die regterbrein vol idees. En ek was eenhonderd persent tevrede met sy plan.

“Ons het ’n beperkte begroting gehad; daarom het ons geen ingeboude kaste nie en eenvoudige afwerkings. Dit kan mettertyd kom. Ons het wel met die oog op die toekoms die vertrekke so groot moontlik gemaak.”

Weens probleme met die onderverdeling van hul erf is hul bouery met byna ’n jaar vertraag en was Anouk ’n pap baba en Michaal Jr. al twee toe hulle uiteindelik kon intrek. Maar omdat daar min tydrowende afwerkings was, is die bouery binne vyf maande voltooi.

“Ons sê altyd vir kliënte dis goed om eers ’n rukkie in ’n huis te woon en dan die volgende besluite te begin neem,” sê Annemie.

“Soos wat jy leef, begin daar idees kom van ruimtes wat jy beter kan benut. Dit is maar ’n organiese proses en ons het nog baie projekkies wat ons wil doen, maar omdat ons vir onsself werk, gebeur dinge nie altyd so gou as wat ’n mens wil hê nie.”

Die droogte het pas begin toe die De Jagers ingetrek het, daarom het hulle van meet af tuingemaak met waterwys plante wat maklik vermeerder kan word. Die baksteenrand om die beddings is meestal gemaak met bourommel wat op die erf was.

Verfkleur
Plascon Monsoon Lagoon

Die tafel is ’n staalkantientafel van Makro; Annemie het dit in swart laat epoksiverf deur M&S Epoxy. In die dae voor plat skerms het die TV in Annemie se ouerhuis in dié eikehoutkassie gestaan.

Replika-Panton-stoele van Chair Crazy; plekmatjies van MRP Home; beker van Le Creuset; rooi fluweel-kussingoortreksels van H&M; lig van Glo Lighting

Die trofee op die boonste sweefrak in die kombuis – gemaak van steierplanke wat op die erf gelê het – het Annemie se oupa in 1929 by die Caledon-landbouskou vir “die beste span muile, 14,2 hand en onder” gewen. Langsaan pryk Michaal Jr. en Anouk se swart-wit skoolkunswerke saam met ’n oorspronklike Walter Battiss-olieverfskildery. Die werkvlak van die ingeboude eiland is beton, afgewerk met ’n helder seëlaar. Die verfkleur op die kombuiskaste is Plascon Splinter.

Donkerrooi glasbeker van H&M; oondbak van Le Creuset; kashandvatsels van Handles Inc.; replika-Tolix-stoeltjies van Decofurn 

Duplo is deel van ons permanente dekor! – Annemie

Die wit ottoman was een van die De Jagers se eerste selfdoenprojekte, uit ’n Tuis van sowat 10 jaar gelede. Die swart-wit kunswerk is deur Michaal – hy doen dit op bestelling in swart, donkerblou of donkergroen ink.

Leerbank en ronde poef van Coricraft; mat van Hertex; geel deken van Woolworths; hanglig van Weylandts; strooikussing op die bank, mandjie en geel fluweelkussing van MRP Home; die rottangstoel is ’n erfstuk

Die aansteekbord (links), wat Builders gesaag het, is meestal gevul met die kinders se kuns en familiefoto’s. Die miniatuur-mannekyne is destyds wit gespuitverf en op die egpaar se bruidstafel gebruik. Annemie se lessenaar is haar ouma en oupa se kombuistafeltjie wat sy en Michaal afgeskuur het; van die oorspronklike groen verf is nog sigbaar. Die stoel kom uit Michaal se oupa en ouma se huis.

Mat van MRP Home; mannekyne en kunstenaarshand van The Deckle Edge

Die stoepdeur is die enigste een wat die De Jagers moes laat maak om by hul tweedehandse deur- en vensterrame te pas. Gestreepte mat is stilis se eie

Klassieke plan, nuwe tekstuur

“My inspirasie vir ons huisplan was die beroemde Farnsworth House wat die argitek Ludwig Mies van der Rohe in die middel van die vorige eeu buite Chicago as ’n naweekhuis ontwerp het,” vertel Michaal.

“Ek het die idee aangepas vir ’n voorstedelike Suid-Afrikaanse omgewing. Pleks van staal en glas het ek bakstene en sement gebruik, want dit is waar ons bouers se vaardighede lê. Anders sou ek spesialiste moes inroep en daardie soort pryse betaal. Dis buitendien nie geskik vir ons klimaat nie.

“Die eenvoudige lyne en oop ruimtes met baie lig kon ek wel gebruik en die eenvoud van die argitektuur skep ’n neutrale agtergrond vir ons meubels en dekor.”

Omdat die mure nie gepleister is nie, kon hulle nie sementblokke of maksi-stene vir die bouwerk gebruik nie. “Jy moet met netjiese stene werk as jy nie pleister nie,” verduidelik Michael. Ná baie wik en weeg het hulle op tradisionele bakstene besluit, wat heelwat duurder was.

Die ongepleisterde mure gee die gevoel dat alles nie volmaak is nie en dit pas hulle, want die kinders jaag met hul fietsies van een kant van die huis na die ander. “Ons wil nie heeltyd keer nie.”

Annemie vertel in die vier jaar dat hulle hier woon, het hulle agtergekom geverfde ongepleisterde mure is nie so wasbaar soos ’n gladde muur nie. “Die vuiligheid sit vas in die groefies. Ons hou 20 liter van ons verf byderhand en ek gaan so elke paar maande met my kwassie deur die huis en gee die merke ’n vars lagie.”

Hulle woon lekker in die oopplanruimte, hoewel dit beteken dinge moet taamlik netjies gehou word. Terselfdertyd glo hulle dit hoef nie weggesteek te word dat hier kinders woon nie.

Hul inspirasie

Die beroemde Farnsworth House is ontwerp om so te sê deursigtig te wees. Omdat die De Jagers op ’n pansteelerf gebou het en die toegangshek voor teen die straat is, kan hulle ook wegkom met die minimum gordyne.

Foto’s Getty Images

Die kunswerk bo die bed is ook Michaal se handewerk. Die kelim kom uit Annemie se ma se huis, die bedkassies was deel van haar ouma en oupa se slaapkamerstel. Die rottang-boekrakkie is tweedehands gekoop. Amper al die deur- en vensterrame is tweedehands gekoop by SA Build Antique.

Bed van Decofurn; swart-en-wit strooikussing van MRP Home; deken van @home

Die spieël in die badkamer kom uit Annemie se ma se huis, tesame met die emaljebakkies wat vir bêreplek langs die wasbak gebruik word.

Die afdruk bo die stoel is ’n kaart van die naghemel op hul troudag, wat Annemie met hul 10de huweliksherdenking vir Michaal gegee het.

Groen fluweelkussing van Woolworths

Die pop se eetstoeltjie in Anouk se kamer het Annemie by ’n vlooimark gekoop en die bed se rottang-kopstuk kom uit ’n tweedehandswinkel. Haar ma het die lappop, hasie en lappieskombers gemaak en die hobbelperd was ’n pasgemaakte geskenk, ook van haar ma.

Wit kanttafeltjie van Decofurn; swart Panton-stoeltjie van Chair Crazy; gestreepte mat en swart raam van MRP Home

Die kanttafeltjie het Annemie uit haar ma se huis “gesteel” vir Michaal Jr. se boeke.

Wiegstoel van Chair Crazy; matjie en wolkie-kussing van H&M; geel strooikussing van Woolworths; metaalbed, deken en kombers van MRP Home

Annemie en Michaal Sr. het die pophuis vir Anouk se derde verjaardag gemaak sodat haar Sylvanian Families-gesinnetjie daarin kan woon. Uitgesnyde A (regs bo) en die “A”-liggie van Typo

Altyd ’n verrassing

Die struktuuringenieurs het met die eerste inspeksie gevind dat daar baie organiese materiaal in die grond is. Dis omdat die erf boomryk was en dekades se verrotte blare het veroorsaak dat die grond nie stabiel genoeg was nie.

“Die ingenieurs het ’n breër en dieper fondament voorgestel sodat die huis se gewig meer versprei word en minder op die grond self steun,” verduidelik Michaal. “Ons het toe besluit op ’n ‘swewende’ fondament. Dit is ’n staalraamwerk wat ’n bietjie breër en dieper is en pleks van ’n paar stawe vir versterking, is maaswapening gebruik.

“Dié onvoorsiene uitgawe het beteken dat ons boukoste op ander plekke moes sny, en daarom het ons dakhoogte byvoorbeeld van ’n beplande 3 meter na ’n meer standaard- 2,6 meter gedaal.” 

Onderverdeel – pasop vir slaggate

Die De Jagers het hul erf in 2014 gekoop en die plan was om te bou voor daar ’n tweede baba kom, want hulle het destyds in ’n tweeslaapkamer-woonstel gewoon.

“Die erf is geadverteer en oordrag het plaasgevind,” vertel Michaal. “Maar toe ek die bouplanne indien vir goedkeuring, kom ons agter daar is tegnies nie ’n erf nie! Die onderverdeling is in beginsel goedgekeur, maar nooit geregistreer nie en toe verval dit. Ons het dus betaal vir iets wat nie bestaan nie en sou moes hof toe gaan om ons geld terug te kry.”

Die eiendomsagent het verdwyn en die hele proses moes van voor af begin. “Ons moes weer by al die bure toestemming vra, en van hulle wou nie byt nie.”

Die proses het toe amper ’n jaar gesloer. “Ons kon uiteindelik eers in Julie 2015 begin bou nadat ons die erf al in Mei 2014 gekoop het,” vertel Annemie. “Daar moes weer met al die departemente onderhandel word: Eskom, Telkom, die verkeersdepartement ...”

Op die ou end het al die bure darem ook ingestem. “Ons het maar net mooi gevra en vir hulle gewys wat ons planne is,” vertel Michaal.

Die De Jagers se raad wanneer jy ’n erf koop

  • Vra om die titelakte vir die eiendom te sien voor jy die koopaanbod teken. So is jy bewus van enige beperkende voorwaardes soos serwitute of titelboulyne.
  • As jy ’n erf koop wat deur ’n onderverdeling geskep is, doen navraag by jou plaaslike stadsbeplanningsafdeling om seker te maak dat al die voorwaardes vir die onderverdeling nagekom is en dat die onderverdelingsproses gefinaliseer is. Erfnommers en titelaktes kan gegenereer word en oordrag kan plaasvind sonder dat die eiendom werklik onderverdeel is uit die munisipale stelsel se oogpunt. Dis wat in ons geval gebeur het, en dit het beteken dat ons aansoek om ’n huis op ons erf op te rig, nie goedgekeur kon word nie.

Die waskamer is ook Annemie se werkplek, en haar ou Singer-handnaaimasjien staan permanent hier.

Gestreepte mandjie op boonste rak van Dassiesfontein; ander mandjies van MRP Home; mat van Hertex

Wat sou hulle anders gedoen het?

“Ek sou meer geleen het by die bank, want dan het ’n mens meer van ’n buffer,” verduidelik Michaal. “Omdat ons dit nie gehad het nie, kon ons nie maklik onvoorsiene uitgawes, soos die hoër boukoste weens die vertraging in munisipale goedkeuring en die duurder fondament, absorbeer nie. Ons moes toe aanpassings aan ons oorspronklike idees maak om binne die begroting te bly.

“’n Mens moet tot die maksimum leen en vat wat die bank vir jou wil gee.” Annemie sê sy is die een wat die somme gemaak het. “Nou dink ek ons was te konserwatief. Dit beteken nie ’n mens moet meer leen as wat jy kan bekostig nie, maar in ons geval sou ’n paar rand ekstra nie ’n groot verskil aan ons maandelikse terugbetaling gemaak het nie. Die proses raak al hoe strenger, daarom kan dit moeilik wees om later by te leen.

“Kry ’n balans tussen jou begroting en jou huidige sowel as jou toekomstige behoeftes. In ons geval het ons beplan vir twee kinders, en met ’n beperkte begroting besluit om liewer van die begin af groter te bou en te bespaar op afwerkings soos teëlwerk en ingeboude kaste (wat ons gevoel het ons later kon byvoeg sou ons dink dis nodig).

Die gesin kom meestal die huis uit die motorhuis binne deur die waskamer, daarom is hier plek vir die kinders se reënjasse en skoene. Muurhake van H&M Home

KONTAKTE & VERSKAFFERS