Foto’s Elza Cooper Stilering Amanda van Wyngaardt 

WIE WOON HIER?

Duan Wanty en Reg Hart en hul kat, Harley

WAAR Victory Park, Johannesburg

GROOTTE Woonstel 60 m² en ’n stoep van 24 m²

By Duan Wanty en Reg Hart se tuinwoonstel voel jy met die instrapslag tuis, nog voor hulle jou ’n koppie koffie of ’n glas wyn aanbied.

Die rede? Jou oog val eerste op die vrolike geel muur naby die voordeur – groot en helder, gelaai met kunswerke, afdrukke, handwerk en aandenkings, ’n fokuspunt wat jou dadelik iets van die gashere vertel.

Dié sitkamermuur vorm die kern van hul woonplek, vertel hulle. Dit versinnebeeld wie hulle is en ook hul lewensuitkyk. En die gevoel van déjà vu wat jy ervaar, is nie onbedoeld nie. Daardie kassie of daai lamp, ornament of handwerk … jy’s oortuig jy het dit al iewers in jou lewe teëgekom, dalk in jou ma of ouma se huis. Presies die reaksie wat hulle wou ontlok.

“Nostalgie staan ons huisie vol. Ons gaan gereeld Sondae op uitstappies na antiek-, liefdadigheids- en ander vreemde winkels. Dis so ’n bietjie van ’n stokperdjie. Ons is nooit op soek na iets spesifieks nie, eerder na iets wat ons aan ons kinderdae, ons oumas se huise of familie herinner.

Dit was einde verlede jaar dat hulle van ’n veel groter drie-slaapkamerhuis na dié woonstel in die agtertuin van Reg se tante, Neeltje Swanepoel, getrek het.

“Die idee van afskaal is om verskeie redes vir ons aanloklik,” vertel Duan. “’n Mens kan meer doen met minder spasie. Boonop is ons baie lief vir plante – en wat is dan nou beter as ’n tuinwoonstel?” Die groot erf met sy grasperk, asook die boomryke rustigheid van dié buurt tussen Rosebank en Cresta, was verdere trekpleisters. Duan (34) werk as vervaardiger en inhoudsregisseur in die film- en televisiebedryf en Reg (32) is die eienaar van ’n mode-en-leefstyl-winkel, Co-Op Squared in Linden. Hy vryskut ook as ontwerper en kunsregisseur vir film- en TV-produksies.

Volgens Duan is die woonstel só uitgelê “dat binne en buite lekker saamwerk. Ons geniet elke stukkie ruimte, omdat alles soos één voel. ’n Kleiner plekkie verseker dat ons makliker en goedkoper die styl en voorkoms kan verander wanneer ons so voel of as ons ’n nuwe modegier wil inwerk. Ons beroepe is veeleisend, daarom moet ons tuiste een wees wat onmiddellike rus vir die siel gee.”  

Die voorstoep is ’n heerlike ontspan- en onthaalplek; dis ook waar Reg en Duan sommer net kan sit en staar na die voëls wat in die boomryke tuin baljaar. Selfs as dit reën, sit hulle graag hier en luister na die druppels op die dak. Die dakplate is deursigtig, wat daarom ook sonlig deurlaat.

Dié Zodiac-kuipstoele uit die 1960’s is by ’n antiekwinkel in die Vrystaat gekoop. Reg het die stoele nuut oorgetrek met ’n wollerige lap se verkeerde kant. Hy glo dié stoele is die toppunt van gemak, maar hulle is redelik moeilik bekombaar.  Die tafeltjie tussenin kom van dieselfde antiekwinkel.

Klein paradys

Reg se tante, Neeltje, vertel sy en haar man, Hendrik, het die eiendom van 2 624 m² in 2010 gekoop toe dit reeds agttien maande lank leeggestaan het – hulle woon in die hoofhuis op die erf. “Victory Park is ’n kleinerige buurt met ’n sentrale ligging,” verduidelik sy. “Daar is net twee toegangspaaie na die buurt, daarom is dit stil en veilig.

“Ons wou ook naby skole wees, en ek wou so graag ’n mooi boom hê. Dié eiendom het aan al dié vereistes voldoen! Die boom is die Suid-Amerikaanse tipoe (Tipuana tipu).” (Dié boom is ’n kategorie 3-indringer, maar bestaande bome hoef nie verwyder te word nie.)

“Ons het intussen ook ’n plataan aangeplant wat nou al lekker groot is en saam met die seisoene sy kleur verander. Agter by die woonstel is pragtige aalwyne, ’n jakaranda en ook ’n avokadoboom wat heerlike vrugte dra.”

Sy sê die buitegebou, wat nou Reg en Duan se woonstel is, was ’n gemors. “Daar was geen plafonne nie, die dak het gelek en die mure was bouvallig.”

Die Swanepoels het die struktuur in 2011 opgeknap. “Ons het dit omskep in ’n gerieflike woonplek, een waarin ons self eendag kan aftree. Toe Reg en Duan besluit om in te trek, het ons die stoepie toegebou en die dak gelig. Dit het ’n groot verskil gemaak.”

Duan en Reg sê hulle het lank na so ’n draadkas gesoek waarin plante kan groei nes hulle wil. Dit staan op ’n heerlik sonnige plek waar die twee hul oggendkoffie en vroegaanddrankies geniet. Draadkas van Re-Trend

Die oranje wekker kom uit Reg se pa se studentejare. Dit raas al so ’n bietjie, maar hou steeds akkuraat tyd. 

 Die oranje televisie was Reg se oupa se heel eerste TV-stel.

Duan ken hierdie beeldjies uit sy kinderdae, want sy ma het ’n hele versameling in haar slaapkamer gehad. Rottangtafeltjie van Re-Trend; beeldjies van Bail Bond Pawn Shop in Linden

Die dranktafeltjie was ’n geskenk van Neeltje toe Duan en Reg ingetrek het. Vir die pienk lampskerm uit die 1970’s het hulle R50 in ’n tweedehandswinkel betaal. Die plastiekskywe verander van kleur, afhangende van hoe die lig daarop val. Die lampstaander is gemaak van staalwaterpype en ’n ou remskoen. Lampstaander van Horizon Meubels in Bloemfontein

’n Eie stempel

Duan en Reg het hulle eie kleurvolle styl en voorliefde vir ougoed saamgebring en die woonstel ’n unieke persoonlikheid kom gee.

Die groot kuierstoep aan die voorkant was vir hulle een van die grootste pluspunte. Vanaf die voordeur stap jy in by ’n oopplan-leefarea wat die kombuis, eetkamer, TV-kamer en ’n leeshoek insluit. Daar is een slaapkamer met ’n en suite-badkamer. Op die voorstoep is daar ook ’n sithoekie wat lei na ’n braai-area met ’n L-vormige buitebank.

“Daardie prominente binnemuur was nou vir jou ’n ding!” vertel Duan. “Dit was moeilik om dié geel kleur te kry, juis omdat daar so baie lig inkom en geel nogal temperamenteel kan wees. Ons het drie skakerings probeer. Die eerste was te lig en romerig, die tweede het ons aan ’n kleuterskool laat dink, maar die laaste een was kolskoot. Dit bied net die regte hoeveelheid helderheid en vrolikheid en drama om by ons te pas. “Omdat dit die grootste muuroppervlak in die vertrek is, het ons geweet almal gaan dit heel eerste raaksien. Dis waarom ons dit wou beklemtoon,” verduidelik Reg. “Dié spesifieke geel helder enige vaal dag op en sit ’n glimlag op jou gesig. Selfs die huilende seuntjie in die skildery lyk minder hartseer. En die Japannese waaier bo die venster was net goedkoop genoeg, pienk genoeg, groot én besig genoeg!”

Die twee wou keer dat die huis koud voorkom met alles wat so oop is. “Die plafon en mure is nogal hoog, maar die helder kleure laat die vertrek warmer voel. Die ronde spieëls was ’n lekker winskopie en skep die illusie van vensters. Dit weerkaats die lig en herhaal die geel op nog ’n muur,” sê Reg. “’n Kuiergas het eenkeer gesê dit lyk soos ’n plesierskip se kajuitvenstertjies. Ons hou nogal van dié vergelyking, want die gevoel van ‘vakansie by die huis’ is vir ons belangrik. En omdat ons so lief is vir ons plante, het ons die geel gekies omdat ons geweet het ons groen, gesonde plante gaan mooi daarteen vertoon. Die geel dra ’n stukkie son binnetoe.” 

Die lamp met sy houtvoetstuk het eers later sy blou skerm gekry. Duan en Reg het dit op ’n ashoop sien lê en toe hulle dit inprop, werk dit sowaar nog! “Die blou figuurtjie is ’n Art Deco-beeldjie uit die vroeë twintigste eeu met die titel “Whistling Boy”. Duan en Reg het dit gebruik as dekor in ’n kortfilm, Fluit-fluit, wat op Showmax te sien is. Reg het die “sideboard” van mahoniehout jare gelede by ’n tweedehandswinkel in Montgomery Park gekoop. Hy en Duan het die opgestopte dele op die kasdeure bedek met groen oorskietfluweel wat die geel muur en die groen plante in die huis komplementeer. Lampskerm en spieëls van MRP Home; beeldjie van Cart

Die eetkamertafel was Duan se heel eerste groot meubelstuk, gekoop met sy eerste salaris. Dit het destyds duur gevoel, vertel hy, maar dit was nodig, want etes om ’n tafel is die beste manier om tyd saam met jou mense deur te bring. Die pote was oorspronklik wit; hy en Reg het dit al geel geverf, en onlangs weer swart. Tafel van MRP Home

Duan en Reg wou graag die baksteenmuur waarop die geteëlde kombuisblad rus, in sy rou vorm behou omdat dit aansluit by die ongepleisterde dele van ander mure in die woonstel. Swart staalrakke – boeke aan een kant en groter kombuisgereedskap aan die ander kant – werk uitstekend vir hul tiny house-leefstyl waar elke spasie dikwels meer as een funksie verrig. Kombuisblad van Builders; teëls van Italtile

Lig en donker

Nog ’n treffende kleurkeuse in hul tuiste is die pienk in die slaapkamer. “Ons was glad nie op soek na pienk nie, maar toe dié kleur ons oog vang, wou ons dit iewers gebruik. Uiteindelik het dit teen die kamermuur beland. Nou is ons gek daaroor,” vertel Duan.

Sterk kleure is definitief ’n weerspieëling van wie hulle is. Terwyl Duan helder kleure verkies, hou Reg meer van swart of grys – daarom dat dit die basiskleur in die woonstel is. “Ek dink ons het dit reggekry om ons albei se stempel in dié spasie af te druk. Dis ’n dapper kompromis wat ons albei tevrede gestel het,” sê Reg.

Volgens Duan was hy “altyd bang vir donker, want ek het gedink dit maak ’n vertrek kleiner, maar Reg het bewys dat donker die hoeke as’t ware uitvee en alles groter en ruimer laat vertoon”. Waaroor hulle wel honderd persent saamgestem het, is die dramatiese, donker badkamer.

“Ek glo ook ons kleurkeuses het te doen met die feit dat ons in ons dertigs is, elkeen met ’n definitiewe eie persoonlikheid en sterk idees. Ek het ’n musiekteater-agtergrond en Duan het drama gestudeer. Ons het dus geleer ons moenie beskeie wees nie, dat die lewe kleurvol is. Ons gaan soek en gaan haal die kleur in ons lewe.”

Een van die grootste voordele van die woonstel is die groot vensters. Dit laat baie lig in en bring terselfdertyd die tuin van buite af binnetoe. “Dis vir ons belangrik, want baie lig laat ons asemhaal. Ons deure en vensters moet oopstaan, die vars lug en die lig moet binnekom – soveel as moontlik. Buite mag altyd binne wees. Dit maak dat ons tuiste groot, oop en vry voel. Dié woonplek is ons eie tuinpaleis in die middel van suburbia,” sê Duan.

Reg stem saam. “Dis ons kolletjie groen-en-geel in die Goudstad, die plek waar ons wyn drink, wonderlike etes kook, lag en gesels saam met vriende. Rus vind,” sê hy. “En wanneer ons by die deur uitstap, stap ons as vriendelike, helder mense die wêreld binne.”

Die paartjie sê hulle moes mooi dink oor geskikte bedkassies wat nie baie plek sou opneem nie. Hulle het toe houtblokke in dieselfde pienk as die muur geverf en teen die muur gemonteer waar dit as’t ware verdwyn. Duan en Reg voel die swart, grys en wit in die slaapkamer help baie om die pienk muur te laat uitstaan: Hoe eenvoudiger die ander kleure, hoe helderder die pienk!

Reg se voorliefde vir wit, grys en swart het in die badkamer oorheers: Dis die enigste vertrek in die woonstel sonder helder kleure. Seshoekige spieëls in stort van MRP Home

’n Meubelstuk het nie altyd net één doel nie. – Duan

Danksy dié ou poskantoorkas kan Reg en Duan, wat albei ’n voorliefde vir mooi skoene het, dit netjies uitstal en terselfdertyd ’n klomp kleure en teksture in die vertrek inbring. Die flambojante flamink bo-op kom uit ’n pandjieswinkel en het ’n nuwe tuiste gekry danksy hul liefde vir iets dramaties en ’n bietjie kitsch. Skoenkas van Modern Antiques & Reproduction

Die muislampie is klein genoeg vir die bedkassie en ’n voortsetting van die speelgoed-tema. Lamp van Co-Op Squared 

VERSKAFFERS

Bail Bond Pawn Shop 011 782 0617

Builders 0860 284 533

Cart 076 567 5886

Co-Op Squared 074 232 6730

Mos Lighting 073 480 6965

Horizon Meubels 051 451 1057

Italtile 010 271 2272

Modern Antiques 082 556 7902

MRP Home 0800 212 535

Old Johannesburg Warehouse Auctioneers 011 836 1650

Re-Trend 011 482 2454

Woodlady 079 889 8826