Foto’s Greg Cox | Stilering Marian van Wyk

DIE HUISEIENAAR

Gill Staniland

WAAR Hill Top Farm, Baardskeerdersbos

GROOTTE 50 m²

Die stilte en natuurskoon van Baardskeerdersbos het Gill se hart gesteel. Sy het haar huis in een hoek van die groot erf gebou van waar sy die onbelemmerde uitsigte oor die vallei en op die berge in die verte kan geniet.

Haar kollegas noem haar die plastiekpolisie, maar sy verwys graag na haarself as ’n groen-kryger. Want Gill Staniland van Baarskeerdersbos glo ’n mens moet lig omgaan met Moeder Natuur, ook wanneer dit by jou blyplek kom. Daarom het sy drie jaar gelede vir haar ’n hennep-huis gebou op ’n stuk grond van sewe hektaar wat sy al in 2014 gekoop het.

En dis nie net die boumetode wat “groen” is nie, dis ook haar leefstyl, want danksy watertenks, sonpanele en gas is dié klein juweel geheel en al onafhanklik van munisipale dienste.

“My totale munisipale rekening beloop net R150 per maand, want ek hoef net erfbelasting te betaal,” verduidelik Gill. Al is haar blyplek piepklein, maak dit ’n groot indruk teen die ongerepte agtergrond van die omgewing.

Die “kunswerk” bo die bankie in die leefvertrek gee letterlik ’n kykie indie hennep-muur. Die houtpatroon wys hoe lyk die DNS-struktuur van die Cannabis-vesels in die muur daaragter. Deken met fraiings van Arabesque; kussings en mandjies (hier as tafeltjies ingespan) van MRP Home; lap oor bank van Mitat


Dubbelglas-vensters, houtvloere en mure van Hempcrete sorg dat die huis koel is in die somer en knus in die winter. Die bloekomhout vir die vloere kom van ’n saagmeul in Groot-Brakrivier. Beglasing deur Glassmen

Die moderne kas in die sitkamer kom van Pieter Deon Interiors, ’n plaaslike meubelmaker op Baardskeerdersbos.

Die abstrakte kunswerk in die eetkamer is deur Gill se suster, Jen Chaplin. Tafelloper van Liza Kerrod Botanical Art

’n Eko-reis

Gill se belangstelling in hennep-konstruksie het begin by ’n konferensie oor waterbewaring in 2011. Daar het Tony Budden, die mede-eienaar van die onderneming Hemporium, wat hennep-produkte in Suid-Afrika vervaardig en versprei, ’n praatjie oor die voordele en volhoubaarheid van industriële hennep gelewer. En so het haar eko-reis begin.

Sy is mal oor die Overberg en het naweek ná naweek rondgery op soek na die ideale plek – iewers in die natuur, maar nie te ver van Kaapstad nie. Met sy oop ruimtes en stilte was Baardskeerdersbos vir haar die perfekte adres.

“Ek is mal oor tuinmaak en hier is oorgenoeg plek vir ’n lekker groentetuin,” vertel Gill. “Ek het al begin speel met die idee van ’n groentetuin van 400 vierkante meter – soortgelyk aan die Oranjezicht-plaastuin in Kaapstad.”

Tog is dit vir haar belangrik dat die grootste deel van die erf onder natuurlike fynbos moet bly. “As ek wel hierdie tuin sou uitlê, sal dit met ’n outomatiese drupbesproeiingstelsel wees wat met sonkrag werk.” Sy is reeds besig om so ’n stelsel te ontwikkel.

DIE VOORDELE VAN HENNEP-KONSTRUKSIE

“Die gebruik van hennep in die boubedryf het groot werkskeppingspotensiaal en verminder die koolstofspoor van dié bedryf in sy geheel,” sê Wolf Wolf van Wolf + Wolf-argitekte. Nie baie bouers is vertroud met hennep as boumateriaal nie, maar dit is baie eenvoudig om te leer.”

• Hennep is nie-giftig, brandbestand, bied uitstekende isolasie en is koolstof-negatief – wat beteken dit stel geen skadelike koolstof in die atmosfeer vry nie.

• Die gewas groei vinnig en vereis nie baie water nie. Sowat een hektaar hennep kan tot 8 ton “hurd” lewer – genoeg boumateriaal vir ’n huis van 50 m² (soos Gill s’n).

• Dit reguleer interne humiditeit deur kondensasie te keer wanneer dit koud is buite, maar warm binne.

• Dit muf nie en kan nie vrot nie.

• Hennep is mikrobe- en insekbestand.

• Dis ’n uitstekende hitte- en klankisoleerder.

• Dis hipo-allergenies en ideaal vir mense met asemhalingsprobleme.

KONTAK 082 788 8834,

Die verskillende teksture van die hennepmure, die houtstruktuur en glas, tesame met skakerings van blou, vorm ’n treffende geheel.

[DIE EKO-ELEMENTE IN GILL SE HUIS]

• Ses groot sonpanele, ’n wisselrigter en batterye sorg vir elektrisiteit.

• Sy gebruik gas vir kosmaak en waterverwarming.

• Een reënwatertenk hou besproeiingswater en twee tenks berg boorgatwater op vir gebruik in die huis. Dié water word gefiltreer en kom die huis binne met behulp van ’n sonkragpomp.

• ’n Bioverteerder breek riool sonder die gebruik van chemikalieë af tot kompos.

• Energiebesparende LUD-gloeilampe word deur die hele huis gebruik.

• Dubbelglas in al die vensters help met temperatuurbeheer.

• Al die hout is behandel met ProNature-produkte wat geen of min VOV’s (vlugtige organiese verbindings) bevat.

• Die binnemure is droëmure gemaak van magnesiumoksiedbord. Dié borde bestaan uit verskeie lae ekovriendelike materiaal, onder meer magnesiumoksied en ander natuurlike minerale. Dit hou talle voordele in, soos dat dit brandbestand, klank- en waterdig is, uitstekende termiese isolasie bied en steeds sterk en stabiel is.

In pas met Gill se voorkeur vir natuurlike materiale is die teëls teen die spatvlak van handgemaakte klei. Sonkraginstallasie deur All Solar; bioverteerder van Alveo Water; vensters en deure deur Gous Joinery; vloere en kombuiskaste deur Luke Boshoff; LED-ligte van Starke Contrast; magnesiumoksiedbord van Magnastruct; teëls van Moroccan Warehouse; linnelap van Liza Kerrod Botanical Art

Dié olieverfskildery deur A. Kyle is al jare lank in Gill se familie.

’n Waskom dien as buitewasbak.

Gill se oorlede ma het die blou-en-wit porseleinware van oor die hele wêreld versamel.

Maklik verwyderbare modulêre bekistingpanele van Geoplast is binne en buite aan die houtrame geheg voordat die Hempcrete-en-kleimengsel daarin geplaas is. Sodra dit droog was, is die bekisting verwyder en kon hulle ’n volgende deel van die muur bekis en bou. Dak deur Stephen Jones Roofing
Maklik verwyderbare modulêre bekistingpanele van Geoplast is binne en buite aan die houtrame geheg voordat die Hempcrete-en-kleimengsel daarin geplaas is. Sodra dit droog was, is die bekisting verwyder en kon hulle ’n volgende deel van die muur bekis en bou. Dak deur Stephen Jones Roofing

Plantreste vir mure

Gill, ’n IT-konsultant en mede-eienaar van ’n onderneming wat babaklere uit volhoubare materiale vervaardig en verkoop, woon heeltyds in Milnerton buite Kaapstad, maar bring elke maand minstens agt dae in haar hennep-huis op Baardskeerdersbos deur.

Met die begin van die inperking in Maart kon sy daarheen vlug en drie salige maande in die huis woon waar sy eendag wil kom aftree. “Ek droom van die dag dat ek voltyds hierheen kan trek,” mymer sy.

Dié huisbouprojek was haar eerste, en sy het die proses begin met deeglike navorsing oor die voordele van hennep-konstruksie. Omdat nie elke argitek of bouer ondervinding van dié boumetode het nie, het Gill by ’n span spesialiste gaan aanklop: Wolf + Wolf, ’n Kaapstadse argiteksfirma wat al sedert 2008 onder meer hennep as boumateriaal gebruik.

Hennep, ’n variëteit van die Cannabis sativa-plant, word in verskillende vorms as boumateriaal ingespan. Die binneste houtagtige kern van die plant se stam word van die lang basvesels geskei en in stukke gesny. Dit staan bekend as hennep-“hurd”, wat dan met gehidreerde kalk en ’n klein bietjie gewone sement gemeng word om Hempcrete te maak. Dié mengsel word net soos beton in bekisting gevorm vir mure; dieselfde mengsel kan ook as pleister aangewend word. Die buitenste veselagtige bas word weer in blokke saamgepers, wat dan soos bakstene gebruik kan word. Soos alle hennep-huise is Gill s’n eintlik ’n houtstruktuur op ’n betonfondament. ’n Lae basismuur van bakstene op die fondasie ondersteun die buitenste houtraam. Die buitemure is gebou deur bekistingpanele teen die binne- en die buitekant van die houtraamwerk te plaas en die muurholte tussenin te vul met Hempcrete – ’n dik, loperige hennep-mengsel (soortgelyk aan sementflodder) wat maklik met die hand in die bekisting geplaas kan word. Dit word kliphard droog om ’n stewige muur te vorm wanneer die bekisting verwyder word.

Aangesien daar nog nie kommersiële hennep-plase in Suid-Afrika is nie, moes Gill die hennep-“hurd” deur Hemporium uit Engeland laat invoer. Gevolglik het die bouwerk sowat 20% duurder uitgewerk as met gepleisterde baksteenmure, maar omdat die isolasie soveel beter is, is geen verdere koste vir verhitting of verkoeling nodig noudat die huis staan nie. Dit bring natuurlik groot besparings op lang termyn mee.

Soos vir enige huisbouprojek moes Gill planne indien en goedkeuring kry by die plaaslike owerheid. Dit was gelukkig nie ’n probleem nie, want die Overberg-munisipaliteit was tevrede met die sterkte van die houtraamwerk waarrondom die huis gebou is.

Die bouproses, van goedkeuring tot voltooiing, het sowat ses maande geduur – min of meer so lank soos konvensionele bouwerk aan ’n huis van dieselfde grootte. Gill het meestal oor naweke gewerk en moes verskeie kere halt roep weens winterreën. Afgesien van ’n paar spesialis-verskaffers uit Kaapstad wat die elektriese, gas- en loodgieterswerk aangelê en die dak verskaf het, het sy plaaslike vakmanskap en -verskaffers ondersteun.

Geblomde linne van Mitat; swaan-kussing van Twig and Fi

Vir die mooi

Vir Gill was dit belangrik dat haar nuwe huis nie net eko-vriendelik moet wees nie, maar ook stylvol en gemaklik. Hoog op haar wenslys was dat die ontwerp in die natuurskoon wegsmelt; daarby moes die styl tegelyk klassiek en modern wees – en dis presies die ontwerp waarmee Wolf + Wolf vorendag gekom het.

“Die dak se V-vorm verleen nie net aan die huis ’n kontemporêre voorkoms nie, dit maak ook groot vensters aan die voorkant moontlik waardeur ek die uitsig ten beste kan geniet,” vertel sy. Dié ontwerp verskans die dakgemonteerde sonpanele op die ander vlerk waar dit nou steeds noord front en daarom optimale son kry, maar meer uit die oog is. En dan is daar die bonus dat net een geut – by die laagste deel van die dak – nodig is om reënwater na die opvangtenk te lei.

Binne is die meubels ’n versameling erfgoed wat vir haar mooi is, met hier en daar ’n nuwe bykomstigheid. Bo die kombuiswasbak en in die stort het sy Marokkaanse teëls gebruik vir spatsels kleur in die andersins neutrale omgewing. Van die mure is in skakerings van blou geverf.

Sy pluk graag fynbos vir ’n blompot in die sitkamer of kombuis. Saans met skemer stap sy op die erf rond en kyk hoe die seisoene verander. “Dis my gunsteling-tyd, want dan het die wind gaan lê en is die voëls baie aktief.”

Sy het dalk nog nie afgetree nie, maar hier in B’bos vind Gill rus vir haar siel. “Die huis voel baie koesterend en die hele bouproses was stil, skoon en almal kon help. Selfs my 10-jarige kleindogter, Taylor, het hand bygesit.”

Linnelap van Twig and Fi
VERSKAFFERS

All Solar 028 008 5005

Alveo Water 021 851 2576

Arabesque 021 975 3438

Geoplast 021 556 8488

Glassmen 028 312 3870

Gous Joinery 028 312 2697

Hemporium 021 702 4988

Liza Kerrod Botanical Art

Luke Boshoff lucasb92@gmail.com

Magnastruct 021 531 2145

Mitat 083 375 8501

Moroccan Warehouse 021 461 8318

MRP Home 0800 212 535

Pieter Deon Interiors 082 309 4487

ProNature 021 556 1238

Starke Contrast 021 555 1927

Stephen Jones Roofing 021 761 2617

Twig and Fi