Foto’s Henrique Wilding | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?
Alta Vogel en Kristian Leisegang en hul kinders, Daniel (10) en Kyle (8), drie katte en twee hoenders
WAAR Lynedoch-ekodorp, Stellenbosch
GROOTTE 146 m²

Nadat hulle ’n erf in Lynedoch,’n ekodorp buite Stellenbosch, gekoop het, moes Alta Vogel en Kristian Leisegang boumateriaal kies wat in lyn sou wees met die etos van volhoubaarheid wat in dié gemeenskap geld. Nie net wou hulle ’n ekovriendelike huis bou nie, dit moes ook vriendelik teenoor hul bankbalans wees!

Hulle het verskeie moontlikhede ondersoek. Met een oog op die voorkoms wat hulle in gedagte gehad het en die ander op hul begroting, het hulle besluit op tweedehandse bakstene. Dié het hulle toe by ’n munisipale stortingsterrein opgespoor waar hulle maande lank elke dag ’n paar gaan oplaai het.

Die fasade vertoon met trots al die verskillende bakstene waarmee die huis gebou is. Plante soos sagopalms, olyfbome en kaktusse gedy om die huis danksy ’n nabygeleë fontein.


Die kombuis is rondom die teëls teen die spatpaneel beplan. Alta het die teëls op Gumtree gekry waar dit as oorskiet van ’n projek geadverteer is. Spatsels kleur soos dié versag die ontblote baksteenmure.

Die plafon is van IsoBoard, wat help met temperatuurbeheer. Rusbank van gumtree.co.za; kremetart-kunswerk van hout was ’n mark-vonds


’n Knus kuierhoekie by die pizza-oond is met latte afgeskort. “Ons het al heelparty bou-jou-eie-pizza-kinderpartytjies gehou en druk graag iets in die oond vir familie-etes; dis ’n vreugdevolle ruimte vir vriende en geliefdes,” sê Alta. Die buitemeubels is gemaak deur vakmanne wat hul handewerk op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes verkoop. Mosterdgeel kussings van MRP Home

Die kombuis en hoofslaapkamer maak oop op dié dennehout-dek wat oor die wingerde en Rietvleidam uitkyk. Die tafel en bankies is van herwinde hout gemaak.

“Ons sou stortterrein toe ry, die beste heel bakstene uitsoek, dit noukeurig tel en kontant daarvoor betaal,” vertel Alta. “Ons moes onderhandel oor die prys en elke baksteen het op die ou end tussen R1,50 en R2 gekos (onthou, dit was ses jaar gelede). Party dae was daar baie, en ander dae moes ons wag en hoop ons kry ’n paar!”

Die paartjie is albei homeopate: Alta het ’n voltydse praktyk en Kristian gee klas by die Skool vir Natuurgeneeskunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. En omdat al twee met hart en siel verbind is tot ’n volhoubare leefstyl, was die ekovriendelike benadering van die dorpie in volkome harmonie met hul groen ideale.

“Ons wou deel wees van ’n diverse ekogemeenskap wat ’n volhoubare leefstyl handhaaf,” sê Alta. “Maar ons is ook gaande oor die oopheid, pragtige uitsigte, kinders wat die vrye natuur geniet en algehele rustigheid van die dorp.”

Die uitsigte is voorwaar iets om te aanskou! Alta en Kristian se huis kyk uit op die nabygeleë wingerde en Hottentots-Hollandberg in die verte. Nader aan die huis is daar ook die dorpie se Rietvleidam, wat in 2017 gebou is om reënwater op te vang.

“Kolganse besoek gereeld die dam, ons hoor snags paddas en hou graag die wewers in die riete dop,” sê Alta. “Ons is so gelukkig om omring te wees met die natuur en deel te wees van dié ekobewuste gemeenskap.”

Ons bring die meeste van ons tyd hier deur, of ons nou kook of bordspeletjies speel. – Alta

Die sitkamer en kombuis is ’n oopplanruimte met meubels in verskeie teksture en warm kleure. ’n Dennehout-boekrak is rooi geverf en die antieke kas, ’n geskenk, dien nou as spenskas. Die paartjie het besluit op “gebruikersvriendelike” oop rakke teen die mure; die onderkaste is eenvoudig werkbanke met geverfde deure. Die eiland, pasgemaak van Oregondennehout, is met wit krytverf afgerond. Heelparty huisplante gee ’n varsheid aan die binneruimte. Alta se suster Riana het die swart-wit-foto in die Nuweland-bos geneem. Steampunk-staanlamp van die Blaauwklippen-mark; Ronde goiingmat van MRP Home; kombuisstoele van Lotters Pine Furniture; eiland gemaak deur Odds and Ends

’n Aardse leefwyse is ‘n baie vergewensgesinde dekorstyl. – Alta

Houtelemente werk uitstekend saam met die rou stene in die hoofslaapkamer. Bed van gumtree.co.za; gestreepte gordynlap van Fabric Centre; dekens van Mungo; kussings van MRP Home

Vriendelike ontwerp

Die gebruik van herwinde bakstene was nie Alta en Kristian se enigste ekovriendelike plan nie. Hul argitek, Johan Boshoff van JB Architecture, het passiewe sonkrag-beginsels toegepas om natuurlike temperatuurbeheer in die gebou te skep.

“Dit verseker dat die struktuur in die koeler maande soveel energie moontlik uit die son kry, terwyl dit in die warmer maande die son afkeer,” verduidelik Johan.

Die huis front noord, wat beteken dit benut die son en natuurlike lig ten beste dwarsdeur die jaar. Die dak hang ver genoeg oor dat die huis in die warmer maande beskut is teen die hoë somerson; in die winter, wanneer die son laer sit, bereik sy strale wel die vensters onder die dakoorhang. Dit verwarm die sementvloere en baksteenmure, wat op hul beurt die hitte wat só geabsorbeer word, snags vrystel.

“Swaar materiale soos beton en kleistene kan baie sonenergie absorbeer; op dieselfde wyse help donkerkleurige materiale om jou huis warm te hou in die winter,” sê Johan. Hy stel ook die gebruik van energiedoeltreffende glas (soos dubbelglas) vir vensters en goeie isolering vir dakke en mure voor sodat die huis deur die jaar gemaklik is. Vir ’n koeler binneruimte in die somer beveel Johan aan dat deure en vensters in oopplan-areas regoor mekaar geplaas word om natuurlike ventilasie te skep.

eenvoudige dekor

Die huis is versier met meestal tweedehandse kopies wat aanlyn of by tweedehandswinkels of markte gekoop is. “Ons het gefokus op plaaslik vervaardigde, handgemaakte en herwinde artikels wat bydra tot die plaaslike ekonomie en ’n kleiner voetspoor laat,” sê Alta.

Aangesien die paartjie se begroting knap was, het hul beplanning hoofsaaklik op besparing pleks van duur, luukse ware gefokus. “In ons kombuis het ons byvoorbeeld meer bekostigbare eenhede soos oop rakke pleks van kaste, en eenvoudige afwerkings soos geverfde dennehout. Ons het ons ook ingehou met die dekor, buiten twee rye teëls as spatpaneel. Só kon ons in ’n goeie gasstoof en ’n lieflike bad met koperkrane vir ons en suite belê.”

Die paartjie het nie vloerlyste ingesit nie omdat hulle gevoel het die afgevlakte vloere en baksteenmure sluit perfek by mekaar aan. “Ons het die donker, rustieke voorkoms van die baksteenmure gebalanseer met wit afgevlakte vloere, sagte katoen en fluweel, en spatsels helder kleur. Daar is soveel verskillende kleure wat pragtig lyk saam met die neutrale skakerings van die bakstene,” sê Alta.

’n ekobewuste gemeenskaP

Die Volhoubaarheidsinstituut (VI), Lynedoch-ekodorp en Lynedoch Development (’n eiendomsontwikkelingsmaatskappy sonder winsbejag) is in 1999 deur Eve Annecke en Mark Swilling gestig. Die VI, nou ’n internasionale leef-en-leersentrum wat fokus op positiewe maatskaplike oplossings en herstel van die ekologie, het destyds help geld insamel vir die bou van die dorpie se infrastruktuur.

“Die huiseienaarsvereniging van die Lynedoch-ekodorp het mettertyd onafhanklik geword en behartig nou self die daaglikse bestuur van die gemeenskap, maar die instituut deel steeds die verantwoordelikheid vir afval- en waterbestuur. Hulle behartig ook die kostuin en algemene onderhoud van die terrein,” vertel Amelia Pretorius, kommunikasiebeampte van die VI.

Jo Engelbrecht, wat in die Lynedoch-huiseienaarsvereniging se komitee dien en hul munisipale en omgewingsake bestuur, verduidelik hoe die gemeenskap se ekovriendelike stelsels funksioneer:

herwinde water

Twee filtreerstelsels word gebruik om grys- en swartwater afkomstig van huise se wasbakke en toilette te herwin: Een septiese tenk vir elke twee huise vang toiletafval op; dit word na ’n Aerobic Baffle Reactor (ABR) gepomp en vloei dan na ’n vleiland met plantegroei wat as ’n natuurlike bio-filtreerstelsel optree.

By die ingang na die vleiland word suurstof met behulp van ’n Oxygen Nano Bubbler by die rioolwater ingepomp, wat help om bakterieë af te breek. ’n Pomp aan die eindpunt van die vleiland pomp dan die gefiltreerde water terug na die huise vir hergebruik in toilette en tuine.

Stormwater word opgevang deur kanale rondom die dorp wat dit na die Rietvleidam herlei.

HUISHOUDELIKE AFVAL

Afval word in elke huis gesorteer en inwoners word aangemoedig om herwinbare materiaal te skei van dit wat na die stortingsterrein moet gaan. Jo en sy span laai die herwinbare afval weekliks op en neem dit na ’n sentrum in die dorp waar dit verder gesorteer word.

’n Plaaslike varkboer kom haal een keer ’n week afvalkos vir sy varke, terwyl die Volhoubaarheidsinstituut se permakultuur-kostuin ook afvalkos gebruik vir die maak van kompos.

KRAG

Elke huis het ’n sonkrag-geiser pleks van ’n elektriese waterverwarmer wat vir 40–60 persent van ’n huis se kragverbruik verantwoordelik kan wees. Eskom gebruik op die oomblik die Lynedoch-woonhuise vir ’n toetsprojek waar 26 huise toegerus is met ’n fotovoltaïese sonkragstelsel wat bestaan uit sonpanele op die dak, batterye in ’n boks op die grond, en ’n slim-meter.

Hoewel die huise steeds toegang tot munisipale krag het, wek die stelsel ’n beperkte hoeveelheid krag op wat oorskakel na munisipale krag wanneer die batterye afgeloop het. Die mikpunt is om ’n mini-kragnetwerk te skep waar inwoners oortollige sonkrag kan verkoop. Dit moedig ook meer bewuste energiegebruik aan, wat tot laer tariewe lei. 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE