Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER? Larushka Mare en Pieter van der Linde

WAAR Linden, Gauteng

GROOTTE 292 m²

Larushka Mare het 20 jaar lank verskeie poste in die bankbedryf beklee, van sakeontwikkeling tot die bestuur van groot projekte. “Ek was mal oor my werk,” sê sy. “Maar ek kon nooit die gevoel afskud dat daar iets in my lewe ontbreek nie. Wat ek eintlik wou hê, was om ’n besigheid van my eie te bedryf.”

Die geleentheid het hom in 2015 voorgedoen toe ’n hegte vriendin haar klein antiekwinkel verkoop het voor sy geëmigreer het. “Ek het oorhaastig besluit om dit te koop, al het ek niks geweet van hoe om ’n winkel te bedryf, voorraad in te kry of wat kopers wil hê nie,” sê Larushka. “Ek het produkte begin soek, navorsing gedoen en met potensiële klante gesels, en gou besef daar’s ’n gaping in die mark: Mense wou maklike toegang tot meubels uit die middel van die vorige eeu hê teen billike pryse – daarom het ek besluit om die antieke ware te laat vaar en dié rigting in te slaan.”

Dit is hoe haar gewilde meubelwinkel, Re-Trend, die lig gesien het. En dis duidelik dat die meubelbedryf Larushka soos ’n handskoen pas.

“Ek onthou hoe ek saam met my ouers gaan meubels koop het – hulle het altyd seker gemaak hulle koop gehalte-artikels. My pa het ook houtwerk gedoen; hy het al die masjinerie gehad en baie meubels vir ons huis gemaak,” sê sy.

Larushka erken sy is effens behep met haar worshond, Kara, wat hier lekker op haar skoot sit by die ingang van haar Linden-huis. Sy is ’n ywerige versamelaar van alles wat worshond-verwant is. Haar seun Brendan (regs) “is die ruggraat” van haar meubelwinkel, Re-Trend, sê sy.

Die gesin gebruik nie die ruim eetkamer gereeld nie, maar omdat ’n mens dit uit die voorportaal kan sien, was dit vir Larushka belangrik dat die ruimte warm en mooi ingerig is. “Dit moes ook funksioneel wees vir wanneer ons wel gaste kry; daarom is daar kaste vir die breekgoed en ’n dranktrollie byderhand,” sê sy. In dié vertrek staan van Larushka se gunsteling-meubels uit die middel-1900’s: ’n Gordon Russell-eetkamertafel van rooshout en mahonie, ’n McIntosh-buffetkas en DS Vorster-stoele.

Titsels koper, soos dié vertoonkas wat Larushka in ’n antiekwinkel raakgeloop het, en groen in die stoffering van die stoele en huisplante vul die ou, donker hout in die eetkamer perfek aan.

Ons is dol hieroor!

Oorgroot sementteëls wat van die eetkamer na die kombuis en die stoep buite strek, skep samehang tussen die ruimtes.

Tafel en stoele van Peter JA Stuart; sementteëls (75 x 75 cm) van Pavini Tiles; lap op stoele van Hertex; hanglamp van Haus by Hertex 

’n Ou Britse telefoon­bankie, nog oorgetrek in sy oorspronklike viniel, pryk teen ’n afgevlakte muur in die voorportaal.

’n Gedaantewisseling

“Voor die winkel,” onthou Larushka, “het ek nie eintlik geweet waarvan ek regtig hou nie ... maar toe kom ek meer oor dié tipe meubels uit die middel van die vorige eeu te wete. Ek het groot waardering vir die eenvoud en doelmatige ontwerp, die gebruik van skoon lyne en klassieke vorms en die tydloosheid van die stukke.

“Natuurlik het ek toe al hoe meer van dié meubels in my huis begin gebruik – maar sonder om dit te oordoen. Ek wou dit so smaakvol moontlik laat inskakel by ons bestaande kontemporêre voorkoms. Die huis behoort immers te weerspieël wie ons is, daarom was die kombinasie belangrik.”

Larushka het ’n neutrale palet van wit en liggrys gekies vir die huis se binnekant. Om dit te komplementeer het sy natuurlike, aardse teksture met aksente van ontblote bakstene en sement vir die mure en vloere gekies. “Só kan die meubels op ’n klassieke manier tot hul reg kom, sonder te veel ‘steurnis’ rondom.”

Wanneer dit kom by aksentkleure, verkies Larushka rustige skakerings van blou. “Ek wil ook graag geel en nartjierooi inbring, maar net hier en daar – matigheid is eintlik my enigste dekorreël. Ek verkies gewoonlik om tekstuur eerder as kleur en patrone in te span; neigings in patrone en kleure kom en gaan, maar iets soos tekstuurryke lap of verf, en ingewikkelde detail kan jou styl net so goed ten toon stel en ’n leeftyd lank hou,” sê sy.

Larushka se voorliefde vir  worshonde is welbekend. “As ek iets met ’n dachshund-tema sien, koop ek dit! Dié wat my ken, weet van my versameling en dra gereeld nog goed aan!” 

As jy meubels uit die middel-1900’s oorweeg ...

  • Kyk uit vir ’n vervaardiger se kenteken. My gunsteling-ontwerpers sluit G-Plan, Ercol en McIntosh (Brits); Hans Wegner, Arne Vodder en Finn Juhl (Deens); Frystark en DS Vorster (Suid-Afrikaans) in. Dan kan jy navorsing doen oor die soort en styl van die meubels wat hulle maak, asook die tydperk. Maar selfs sonder ’n kenteken kan dit steeds outentiek wees.
  • ’n Goeie meubelstuk uit die middel van die vorige eeu het skoon lyne en ’n klassieke vorm – as dit te swierig is, kom dit waarskynlik nie uit daardie tydperk nie.
  • Meubels is gewoonlik van kiaat, roos-, eike- en beukehout. En moet jou nie laat afskrik deur ’n fineerlaag nie; vervaardigers het baie klem gelê op konstruksie en fineer is dikwels gebruik.
  • Kyk na die voeë – meubels met tappenne of swaelstertvoeë is gewoonlik van ’n veel beter gehalte as dié wat met gom en skroewe aanmekaargesit is.

Larushka wou ’n funksionele, warm en elegante kombuis hê. Sy het dit reggekry met ’n klassieke kombinasie van wit kaste, hout-detail soos die massiewe werkbank wat as eiland dien, en die ontblote bakstene rondom die stoof.

Die Oregondennehout-eiland was ’n tweedehandse kopie; die Chobi-mat is op ’n veiling gekoop; Mexikaanse teëls van Hadeda; kroeg-stoeltjies van Re-Trend; hanglamp van The Lighting Warehouse

Blou mosaïekteëls skep ’n fokuspunt in die andersins wit en suite.

In die hoofslaapkamer het Larushka ’n kamerverdeler wat sy vyf jaar gelede by Coricraft gekoop het, ingespan as kopstuk. Die donker hout, saam met die huis se oorspronklike blokkiesvloer, staan pragtig uit teen die ligblou-en-wit beddegoed.

Beddegoed van Haus by Hertex; Nguni-mat van African Leather; bedbankie van Re-Trend

Ons is dol hieroor!

’n Muurplakker van die Johannesburgse stadsilhoeët bo die kopstuk is ’n onverwagse, speelse element in die gastekamer.

’n Geil geraamteplant, palms en varings skep ’n groen muur duskant die patio.

Swart staaltafel en stoele was ’n vintage-vonds; mat van Makro

Die TV-kamer en die hoofslaapkamer loop albei uit op die lang stoep. Larushka het ’n kombinasie van grys mure, tropiese lap en rottangmeubels gekies om die tuin daar naby te eggo. Haar voorliefde vir plante (sy is ook mede-eienaar van die huisplantsaak Cart in Linden) is reg deur die huis en ook op die onderdak-stoep te sien.

Kombineer dit met jou bestaande dekor

Die middel-1900’s se styl is veelsydig, sê Larushka:

  • Koop net ’n paar sleutelstukke wat jou na aan die hart lê en in jou beskikbare ruimte sal pas.
  • Druk dan jou persoonlike stempel af deur soortgelyke teksture en kleure by te voeg om die res van die ruimte aan te vul.
  • Speel! Skuif jou meubels rond om die beste posisie te kry, al is die meubelstuk nie vir daardie spesifieke area gemaak nie.
  • Span plante in – hul sagtheid beklemtoon die ontwerplyne. Die vioolblaarvy, geraamteplant, Pilea peperomioides, filodendron, varings en groot kaktusse is goeie opsies.
VERSKAFFERS EN KONTAKTE