Die styl in die sitkamer is ’n kombinasie van stedelik-sjiek, rustiek en landelik. Kowie het titsels groen by die neutrale agtergrond gevoeg vir ’n speelse natuur-element; die oulike swartbord-bokse is gemaak van ou kratte wat op ’n ou vriend se plaas op Kroondal gebêre was. Mat van Coricraft; koffietafel van Amatuli; hanglamp van Weylandts
Die gevoel van ruimte wat die industriële trap en hoë vensters skep, is presies wat die paartjie vir hul huis se ingang wou hê. “Daar’s nie ’n enkele hoek van die huis wat nie ’n mooi uitsig het nie!” sê Kowie. Vintage-stoele oorgetrek in lap van Hertex; strooikussing-oortreksels gemaak uit vadoeke van EnStyle op Parys
Kowie het ’n kans gewaag en die aksentmuur én plafon ’n laag mat swart verf gegee – en dit lyk fantasties. Omdat die meeste van die vertrekke taamlik groot is, met hoë plafonne, het Kowie donkerder kleure ingespan om die “mure nader te bring” en ’n knus atmosfeer te skep. Verf in die kleur Thunder van Prominent Paints; houtvloere deur Rhoms Timberworld; mat van Coricraft; houtkas en eetkamertafel en -stoele van Weylandts

Kowie Pretorius het nog altyd geweet hoe haar droomhuis moet lyk – tot op die fynste detail. Toe sy en haar man, Nico, in 2011 besluit om huis te bou, was sy slaggereed, gewapen met meer as 2 000 inspirasie-foto’s.

“Ek wou ’n bietjie van als hê!” onthou sy. “Ons huis moes aards wees met ’n oop plan, ietwat van ’n industriële styl en ’n kombinasie van moderne en meer klassieke elemente.”

Op die ou end kon Kowie, ’n prokureur wat nou tuisblyma is, al haar gunstelingstyle inwerk by dié huis met sy ses slaapkamers en vier badkamers op die Brigadoon-gholflandgoed net buite Rustenburg, aan die voet van die Magaliesberg. Die oop ruimtes laat natuurlike lig van alle kante af instroom en bied ’n lieflike uitsig op die indrukwekkende gholfbaan, die uitgestrekte veld en majesteuese berge wat dit omring; uit dié omgewing het Kowie inspirasie geput vir haar aardse palet met skakerings van bruin en grys. Spatsels groen, blou en geel voltooi die prentjie.

Buiten ’n praktiese ontwerp wat gemaklike vloei tussen die onderskeie dele verseker, was die paartjie se hoofdoel om ’n knus gesinshuis te skep met al hul hartsgoed – hetsy geërf, gerestoureer of herwin.

“Ons kon ons visie hier laat realiseer,” sê Kowie met ’n glimlag. “En ons voel bevoorreg om ’n huis te hê waar ons kinders kan fietsry, boomklim en buite speel, net soos ons in ons kinderdae gedoen het.”

Dié gedeelte was eers ’n stoep, maar is toegebou met 5,3 m hoë vensters om deel te vorm van die kombuis. Kowie het die tafel, wat hulle in ’n antiekwinkel raakgeloop het, geel en groen geverf, wat ’n stylvolle dog kindervriendelike ruimte skep. Die vloer is afgewerk met Cemcrete in die kleur Cobble Milk. Borde en dienbakke word byderhand gebêre in uittrek-laaie onder die eiland se blad. Hanglampe van Lindie Loe; die kroegstoele is op ’n veiling gekoop
Blink idee!
 Vir ’n laag-op-laag-effek het die paartjie ’n wit paneel teen die donker plafon geïnstalleer.

Kombuis

Die kontemporêre kombuis is Kowie se trots. “Ek het duisende inspirasie-foto’s vir die res van die huis gehad, maar net een vir my kombuis!” sê sy.

Die kombuis het drie dele:
  • ’n Eiland van 3,4 x 1,3 m staan sentraal in die oopplanvertrek, wat beteken al die kombuisgereedskap is byderhand en die gesin kan maklik maaltye saam geniet.
  • ’n Spens agter die kombuis huisves ’n kruidenierskas en elektriese toestelle. “Toestelle moenie uitgestal word nie,” sê Kowie. “Dié vertrek is ook die kinders se ‘kombuis’ waar hulle iets kan maak om te eet of kan bak en brou. As hulle nie behoorlik opruim nie, is die bewyse ten minste nie daar vir die wêreld om te sien nie,” sê Kowie en lag.
  • Die skottelgoedwasser en wasbak is weggesteek in die opwaskamer agter die spens. “Omdat daar altyd skottelgoed aan die ophoop is, is dié ‘wegsteekplek’ ’n seën!” sê sy.
Eetkamerstoele van MRP Home; hangstoel van Sevens
Ketel van Metro Home Centre; wasbak van Builders; wit vaas van MRP Home

Kowie het ’n houtrak gemaak vir tuinplante wat ’n bietjie ekstra sorg nodig het; hier pamperlang sy hulle in die oggendson. Kowie noem dit haar “plant-hospitaal” en pak gesonde plante en dekorelemente tussenin vir ’n treffende fokuspunt. Besonderse voorwerpe op ’n ou houtkis by die ingang gee ’n aanduiding van die res van die huis se styl.

Die ou Pepsi-yskas was ’n gelukkige vonds. “Ek en ’n vriend was besig om ’n ou huis te restoureer, en ek was toevallig daar terwyl hulle besig was om dit op ’n bakkie te laai – reguit op pad ashoop toe,” vertel Kowie. “Nodeloos om te sê, ek het dit net daar op mý bakkie laat laai!” Sy en Nico het al die werkende dele uitgehaal en rolwiele bygevoeg – dis nou pakplek vir tydskrifte.

Reg agter die stoele by die eiland is ’n koelkamer. Foto: Marsel Roothman

Ingang

Dié dubbelvolume-ruimte is in die middel van die huis. “Al is die huis nogal groot, kan ons mekaar uit alle uithoeke hoor,” sê Kowie. Die dubbeldeure bo lei na Kowie se studeerkamer.

Braaistoep

Nadat die mure gepleister en droog was, het Kowie so baie van die rou voorkoms gehou dat sy besluit het om nie te verf nie. Dié ruimte maak oop op die dek en swembad. Die gietyster-muurrakkie is jare gelede by ’n kwekery gekoop.

In hul kamer het die paartjie gemik vir ’n eenvoudige dog elegante voorkoms met ’n kombinasie van ou en nuwe meubels.
Kowie wou dié vertrek so neutraal moontlik hou; vir tekstuur is die mure behandel met ’n gespikkelde bedekking. Mure bedek in SatinCrete van Cemcrete in die kleur Mercury Grey; gordynlap van Hertex

Kowie en haar pa, Dawie, het dié sinkplaat-“agtergrond” vir ’n markstalletjie gemaak toe haar kinderlinne-saak, Gorjuzz Kidzz, nog op die been was. Dit het later ’n kopstuk geword voor dit agter dié lessenaar beland het; Fanus sit belangrike kennisgewings daarteen vas met magnete. Die lessenaar is pasgemaak en was voorheen ’n doekeruilstasie; Kowie het die ou rakke in haar dae as prokureur gebruik om dokumente te stoor. Stoel van @home
Kowie het maskeer­band gebruik om die lyne op die aksentmuur in De Villiers se kamer af te baken, waarna sy die berglandskap met die hand geverf het. Sy het ’n basis van blou verf gebruik en telkens nog bruin bygevoeg vir die verskillende skakerings. Die metaalkis was oorspronklik bêreplek vir suiker in Nico se oupa se kruidenierswinkel.
Die badkamerkassie was ’n antiekwinkel-vonds. “Die mense wat dit geïnstalleer het, kon nie uitgepraat raak oor my ‘lessenaar-wasbakkas’ nie!” sê Kowie. “Almal op die bouperseel moes eers kom kyk – hulle kon nie glo ek wou so ’n ou kas in ’n splinternuwe badkamer sit nie!” Teëls van CTM
Geel strooikussing van @home; flamink-­kussing en geel mat van MRP Home; Kowie het die ander strooikussings met lap van Hertex oorgetrek; die bedkassie was ’n tweedehandse kopie

Wat dekor betref, is DeNicke Kowie uitgeknip. “Sy kyk graag na dekorfoto’s op Pinterest,” sê Kowie. Trouens, die 11-jarige DeNicke sê sy was geïnspireer deur ’n eilandfoto toe sy haar ma gehelp het om die kamer in te rig. “Die blou verteenwoordig die see, die goue plakkers die son, en die pienk, oranje en geel die pragtige sonsondergange en koeldrank op die strand,” verduidelik sy.

Elke kind se kamer moet sy of haar persoonlikheid weerspieël; dis hul veilige hawe waar hulle gemaklik en kreatief moet voel. – Kowie

“Fanus bring graag tyd in die buitelug deur saam met Nico, ’n Beefmaster-stoetbeesteler,” verduidelik Kowie. Die blouwildebees-vel is van Fanus se eerste jagtog. Ons is dol oor die ou reistasse wat Kowie gered het toe ’n vriendin hulle wou uitgooi. Dis perfek vir ekstra pakplek.

VERSKAFFERS