Foto’s Francois Oberholster
Dekorassistent Sharon Welman

Toe die Vrystaters Carol-Ann en Hannes van Jaarsveld 19 jaar gelede op Graaff-Reinet aanland, het hulle geen idee gehad wat ’n lewensveranderende skuif dit sou wees nie – een wat later ook na hul drie seuns sou uitkring. Hannes was ’n geoktrooieerde rekenmeester en Carol-Ann ’n binneversierder met haar eie antiekemeubel-en-dekorwinkel op Somerset-Oos.

Vandag besit hulle ’n verskeidenheid familie-ondernemings. Carol-Ann het die Buiten Verwagten-gastehuis oopgemaak asook die dekorwinkel The Windmill Junction, wat hul skoondogter Amori intussen oorgeneem het. Hannes het die Montego-hondekosfabriek begin en die drie seuns – Morné, Marco en Johan – bestuur dit deesdae.

Tafelpote geverf in die Plascon-kleur Geneva Morn

Al wat blink op Carol-Ann se Kerstafel is twee silwer kershouers. Verder werk sy graag kreatief met wat sy het – gehekelde kant, goiing, wit kerse, growwe lint en wit Iceberg-rose. Dit kombineer sy met haar versameling wit emalje-kombuisware. Net soos die meeste van die meubels in die huis, kom die tafel en stoele van hul dekorwinkel, The Windmill Junction.

Familietyd

Carol-Ann en Hannes is teoreties afgetree, maar stilsit is nie vir hulle nie. Hannes dien steeds in Montego se direksie, maar het intussen die Our Yard Coffee Roastery & Cultural Stop oopgemaak. Carol-Ann en Amori het saam ’n kunsgalery, Artitude, en Marco het ook ’n T-hempwinkel, Circa 1786.

Vir dié bedrywige, entrepreneuriese gesin is familietyd kosbaar, veral oor die feesseisoen wanneer hulle al om die ander jaar saamkuier. En dit gebeur elke keer op ’n ander plek – van Praag tot Plettenbergbaai of op hul wildplaas naby Graaff-Reinet. Wanneer Kersfees tuis gevier word, is drie dinge standaard op die spyskaart: Karoo-lam, brandewyntert en die klein roosterkoekies wat hul kleinseun Adriaan “manna” gedoop het.

“Ek is hartstogtelik lief vir die Karoo en alles wat eie is aan dié wêreld,” vertel Carol-Ann. “As dit nie so gevaarlik was vir my kleinkinders nie, het ek akasia-doringtakke ook in my Kersboom gedruk!  Ek hou nie van blink goed nie.”

’n Karoo-Kersfees is ’n warm affêre, daarom eet die Van Jaarsvelds graag binne. Die braaikamer het immers lugversorging en is heerlik koel met die stapeldeure toe. Die Australiese prieelplant (Pandorea jasminoides) dra by tot die feestelike, romantiese atmosfeer.

Voor is Carol-Ann en Hannes; agter van links is André van Rensburg, die sjef en bestuurder by Our Yard se restaurant wat ook die kos vir die artikel berei het, Jannien, Amori en Johan van Jaarsveld. (Die Van Jaarsvelds se seuns Marco, asook Morné, sy vrou Izienne en hul kinders Alwyn en Zack kon nie hier wees nie.) Die kleinkinders: Agter sit Johan en Amori se Nieke (5) en Jua (2), en oorkant hulle van links Marco en Jannien se Adriaan (6), Klara (4) en Lihan (2).

Alles in eenvoud

“Kersfees is nooit ’n groot affêre nie,” vertel Carol-Ann. “Ons bestee eerder meer tyd aan speletjies, swem en kuier as aan kosmaak, maar dek altyd ’n mooi tafel. Oukersaand braai ons gewoonlik en deel daarna geskenke uit. Die groot oomblik is wanneer ons almal luister hoe oupa Hannes die Kersverhaal lees, saam bid en dan Kersliedere sing.”

Dié Kersliedere, veral “Stille Nag”, neem Carol-Ann op ’n nostalgiese reis na haar kinderdae in die Vrystaat. “Dan onthou ek my ouma Pauline Thompson, en later my ma, Pauline Smit, se koue brandewynpoeding met tiekies of charms in,” sê sy met heimwee.

Kersoggend gaan die gesin saam kerk toe. Teen dié tyd staan Carol-Ann se mooi gedekte tafel al reg, want om ’n elegante tafel met ’n Karoo-tema te dek is een van haar groot liefdes. Ná ete begin die lekker samesyn en Die Groot Gespeel, soos wegkruipertjie agter die fontein. Veral oupa Hannes moet bontstaan tussen die sewe kleinkinders.

“Buiten al die lekker saamkuier is dit vir my baie spesiaal dat ons seuns en hul gesinne Kersfees om die régte rede vier,” mymer Carol-Ann terwyl sy die spekboom op haar sjiek wit tafel herrangskik.

/

’n Gang- en portaalmuur is uitgebreek om die ruim, ligte eetkamer reg langs die kombuis te skep. Twee hoë kaste met ogiesdraaddeure skep ’n plaashuisgevoel saam met Carol-Ann se versameling wit emaljeware. Wanneer eet ons? Die kleinspan draf by die braaikamer se sitgedeelte in, reguit op pad na die Kersboom. Voor in die koor is Adriaan, met Klara en Nieke kort op sy hakke.

Waar die hoofslaapkamer se oorspronklike badkamer was, is nou ’n sitgedeelte met ’n televisie. Carol-Ann gebruik graag hase in haar dekor. “Ai, dié liefde het ek van altyd af. Ek onthou hoe ek as dogtertjie ‘Hasie, hoekom is jou stert so kort?’ gesing het. Tot vervelens toe,” lag sy. Die kombuis – ’n kombinasie van rou hout en wit – is gerieflik reg langs die eetkamer.

/

Die statige nuwe portaal is in 2007 aangebou, met ’n trap wat na die hoofslaapkamer en -badkamer lei. 

Carol-Ann het dié linnekas op pad na die braaikamer so turkoois en wit geverf. “Meubels verf is vir my terapeuties,” sê sy. “Ons lag, want by my verfhandelaar is ’n klomp gemengde verwe in hul boek met name soos ‘Carol-Ann Cream’.

Die sitkamer is die enigste vertrek met ’n spatsel kleur. Die gemakstoel met die gehekelde deken is Carol-Ann se gunsteling-uitspanplek en die gestoffeerde tafeltjie ’n oorblyfsel van die dae toe sy iets roois in elke vertrek gehad het.

”Die hoofslaapkamer is ruim, lig en sonnig. Die wit hemelbed kontrasteer pragtig met die glimmende vloer van ou Oregondennehoutplanke. Die sitkamer is die enigste vertrek met ’n spatsel kleur. Die gemakstoel met die gehekelde deken is Carol-Ann se gunsteling-uitspanplek en die gestoffeerde tafeltjie ’n oorblyfsel van die dae toe sy iets roois in elke vertrek gehad het.

Dié ruim en suite-badkamer is aangebou waar voorheen ’n balkon was. Die badkamer is soos ’n leefvertrek ingerig met ’n Persiese mat en die bad so geplaas dat Carol-Ann die uitsig op die tuin kan geniet.

Dekor met ’n storie

Die stukkie van Carol-Ann se hart wat die Karoo nie ingeneem het nie, behoort aan Frankryk. Hulle het ’n vakansiehuis op die sjarmante dorpie Domme in die Dordogne-streek en gaan kuier elke jaar daar vir ses weke. Dis dié dat sy haar dekorstyl Frans-Karoo gedoop het.

Sagte teksture soos wit Franse linne en katoen word mooi afgespeel teen rou hout en kaste met ogiesdraaddeure in ligte vertrekke sonder opgaargoed. Maar haar liefde vir wit, veral mooi linne, het sy eie storie.

“Wit skep vrede in my gemoed – iets wat ek ’n paar jaar terug baie nodig gehad het. Ek was baie lief vir rooi en het voorheen iets roois in elke vertrek gehad. Tot Hannes prostaatkanker gekry het. Sy prostaat moes dadelik verwyder word omdat hy nierversaking gehad het weens ’n oorerflike niersiekte. Maar hy moes twee jaar lank kankervry wees voordat hy ’n skenkernier kon ontvang,” vertel sy.

Dis in dié moeilike tyd dat sy al die dekor wit gemaak het en hul hoofslaapkamer, waar hulle so te sê geleef het, vergroot het. Hulle het die ou badkamer deel daarvan gemaak en ’n nuwe badkamer aangebou waar eers ’n balkon was.

“Vandag is Hannes ’n nuwe mens ná die oorplanting,” vertel Carol-Ann dankbaar. “Sy nuwe nier het in Augustus twee jaar oud geword, maar ons geniet steeds die rustige wit van ons slaapkamer en badkamer.”

VERSKAFFER