Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Mariëtte en Peter Bouwer, en oor naweke hul seun Martin (22)

WAAR Bosplasie, Onrus

GROOTTE 430 m²


Langs die braaikaggel op die kuierstoep hang ’n beesskedel wat in die Hemel-en-Aarde-vallei opgetel is. Mariëtte het die mosaïek op die tafeltjies gedoen. Matras gemaak deur Alida Clarkson

Houtbeeldjies en plante staan sy aan sy op ’n verweerde tafel. “Gelukkig het ons al lank gelede begin kaktusse aanskaf; hulle is nou yslik groot,” sê Mariëtte.

Die kuierstoep word gekenmerk deur aardse kleure en teksture. Mariëtte het die rottangstoele op Hermanus gekoop en grys geverf. Die wit lanterns is ou Chinese Kersversierings.

Aan die oewer van die Onrusrivier digby die see staan ’n leiklipgrys huis gevul met die wondermooiheid wat net baldadige kunssinnigheid kan skep. Hier gaan jy saam met die huismense, die kunstenaar Mariëtte Bouwer en haar man, Peter, op reis – nie net na verre lande en die res van Suid-Afrika waar hulle kleurvolle memento’s versamel het nie, jy loop ook terug na vervloë tye tussen oudhede en erfstukke, heelparty in ’n helder nuwe baadjie. Dis ’n skouspel waarin jy jou met hart en siel kan verlustig.

Geen wonder dat Mariëtte sê sy’s ’n dromer nie. “Ek sou graag ’n reisiger van beroep wou wees ...” Maar dan voeg sy gou by: “My huis is vir my die lekkerste plek onder die son. Dis waar ek volkome tuis voel, my wegkruipplek. Ek is versot op die see, en vroegoggende stap ek en die honde, Pablo en Frida, Onrus se kuspaadjies plat.” 

’n Kaktus en Frida Kahlo-afdruk skep ’n Mexikaanse atmosfeer in die TV-en-studeerkamer. Die Bouwers het die mat by ’n sigeuner in Lissabon gekoop. Die gordyn oor die buitedeur kom uit Sri Lanka en regs hang twee Indiese poppe.

Meer kamers, trappies en vlakke

Mariëtte en Peter, die eienaar van ’n glas-en-aluminiumsaak op Hermanus, het in 2001 dié dubbelverdiepinghuis laat bou en dit agt jaar later herbou. Hulle het self die planne bedink vir die aanbouing in 2009 en toe sommer ook die uitleg binne die huis verander. “Ons het nie ’n argitek gebruik nie, maar omdat ons teen ’n skuinste bly, moes ’n ingenieur die inrit beplan,” verduidelik Mariëtte.

“Ons dogter, Saskia Bekker, is ’n argitektoniese ontwerper op Onrus en het gehelp met die beplanning.” (Saskia se huis was in Tuis Opknap 2019.) Tydens die veranderinge moes die Bouwers hul blyplek ontruim. “Ons het alles opgepak, getrek en ses maande lank ’n huis gehuur. Ons het selfs ons versameling kaktusse uitgehaal en elders versorg.”

Ondanks die nuwe inrit en dubbelmotorhuis het die huis se vorm dieselfde gebly. “Dis wel nou drie meter langer en sewe meter breër. En nog drie vlakke is by die oorspronklike twee gevoeg. Vir al die trappe wat ons moet klim, sal ek en Peter op ons oudag goed fiks moet wees, soos die oumense in Griekeland,’’ sê Mariëtte laggend.

Die trappieklimmery begin by ’n antieke gekerfde Indiese deur aan die straat se kant. “As ek iets moet kies wanneer ek trek, neem ek dié deur saam,” sê sy. Nie dat dit regtig ’n voordeur is nie, want dit lei jou nie by die huis in nie, maar eers met trappies af na die kuierstoep. “Dis ’n onderstebo huis hierdie,” verduidelik Mariëtte. “Jy kom bo in en eindig op verskillende vlakke ondertoe.” Van die kuierstoep – ’n heerlike kuierkol met ’n braaiplek, ingeboude sitplekke, lêplek en ’n tafeltjie van sement – lei trappe na die kombuis, sitkamer en die hoofslaapkamer en suite. “Ons geniet groot feesmaaltye in die kombuis, wat spesiaal verleng is om plek te maak vir ’n antieke koshuistafel met aansitplek vir twaalf. Dis omtrent 140 jaar oud.”  

Kleurryke meubels en bykomstighede uit al die uithoeke van die wêreld kom tot hul reg teen die grys mure in die sitkamer: ’n kas en poef uit Indië, ’n ottoman oorgetrek met Chinese sy, matte van Marokko en goue kussings van ’n plekkie in Woodstock, Kaapstad. Die mure is geverf met CemWash, ’n produk van Cemcrete, in die kleur Grey. Dis agterna afgeskuur om dit effens ligter te maak. Mark Dixon, ’n studentevriend van Mariëtte, het die skilderye geverf.

Ek hou van alles wat ’n storie het. Die meeste van ons meubels is ander se uitgooigoed. – Mariëtte

Die sitkamer skakel gerieflik met die kuierstoep. Die sementvloer het ’n laag CreteCote gekry en is toe geseël met Cemcrete Colour Hardener in die kleur Grey.

Mariëtte het die Balinese koffietafel met Plascon Jade gekleurwas en toe met bladsilwer afgerond. Peter het die langwerpige tafeltjie gemaak en die gordyne is van “manspak-linne”. Sterligte van Hadeda; groen kuns-rottangstoele van MRP Home

Mariëtte het die proteas bo die kas met glase, wat eers haar oorlede ouma Malie se boekkas was, geskilder.

Die tolletjiestoele is grys geverf en die swart-en-silwer Indiese stoele is gekoop by ’n winkel in die Bo-Kaap wat intussen toegemaak het. Dennehoutlaaie en mandjie van MRP Home

Die ou kombuiskas teen die swart muur is nog ’n erfstuk van ouma Malie. Mariëtte het dit ’n onderlaag van Plascon Midnight Blue gegee en toe gekleurwas met Plascon Teal Tide; die deurtjies het ogiesdraad waar voorheen glas was. “Die meeste breekgoed binne-in is ou familie-teestelle.” Die houtlaaie onder die sementblad in die kombuis is doelgemaak deur ’n vriend, Anton Rossouw.  

Die ou emaljeborde is oor die hele land versamel.

Dié ou kas kom uit Bali; dis afgewit vir ’n verweerde voorkoms. Die kunswerke weerskante daarvan is deur ’n vriend, Craig Cockroft.

Die hoofslaapkamer op die boonste vlak kyk uit oor die Onrus-rivier en tuin. Mariëtte se gunsteling-foto in die groot raam heel bo is van haar ma, Sannie Goosen (nou 89), waar sy agter die watertenk op die ou familieplaas by Porterville sit en pyp rook. Rottangkopstuk van Snuffels

Swart en skakerings van grys

In sy nuwe kleurskema spog die huis nou met ses swart mure en die res in tien skakerings van grys.

“Ek is versot op die rustige gevoel van dié kleure. Ek gebruik die swart mure net as fokuspunte, en nooit meer as een in ’n vertrek nie. ’n Swart agtergrond laat wit en swart kunswerke baie mooi uitstaan. Ander kleure werk net so goed teen ’n swart muur, so ook borde, maskers en plante,” vertel sy. “Maar wie weet, dalk kies ek volgende keer net wit reg deur my huis.”

Mariëtte, wat ook onder haar nooiensvan Goosen skilder, beskryf haarself as “’n ongedissiplineerde kunstenaar wat verftegnieke op meubels doen”. Sy het die meeste houtmeubels in haar huis self geverf en afgerond met ’n kleurwas-tegniek in ’n ander kleur om die voorkoms te versag.

“Ek verkies om van ou goed iets nuuts te maak en koop nie graag nuwe meubels nie. Dan het ek ook ou familiestukke, soos van my oorlede ouma Malie,” vertel sy.

“Sekere meubels het baie lae ou verf opgehad, wat ek met verfverwyderaar afgehaal het. Dan het ek die hout geskuur en geverf – enige goeie PVA-verf met ’n waterbasis werk vir my. Dit kan maklik afgeskuur word.”

Mariëtte het haar versamelstukke in lande soos Bali, Indië, Marokko, Portugal en Turkye gekoop. “Ek hou van die eksotiese voorkoms daarvan. Dit lyk mooi saam met die aardsheid van artikels uit Afrika, en verweerde hout.”

Die mooi in dié huis is in die detail: Teksture van hout, matte en staal, en die plotselinge kleure van lappe en skilderye maak saam ’n wonderbaarlike geheel.

Mariëtte se dekorwenke

“As dit kom by reëls volg vir binneversiering, staan ek laaste in die ry. Ek dink die siel van ’n huis, dit wat vir jou mooi, kosbaar en prakties is, hang af van elkeen se eie smaak. Skep gerus jou eie binneversier-reëls,” sê Mariëtte:

• Meng verskillende materiale en teksture om ’n lekker atmosfeer te skep. “Vir my begin dit met mure in verskillende skakerings van grys, waarteen die kleur en die kleedstowwe wat ek gebruik, mooi afwys. Ek het party mure sommer afgeskuur vir ’n growwer tekstuur en ’n lewendiger voorkoms.”

• ’n Eenvormige vloer skep ’n mooi geheel en gemaklike vloei deur die huis. “Daarop speel ek met los matte in verskillende groottes en vorms. Soms gooi ek matte oor mekaar vir tekstuur.”

• Rond die mure af met treffende kunswerke wat sterk stellings maak. “Gebruik ook ornamente soos borde en plante,” is haar raad. “Vir nog meer tekstuur en beweging voeg ek kontras by met artikels uit verskillende kulture en interessante mooigoed – oud én nuut.”

• Verskuif gereeld jou meubels en ornamente sodat dit ’n nuwe, interessante geheel vorm.

• Verf kan wondere verrig. “Dam gerus ’n vervelige ou bank of kas by met verf in ’n vars kleur.”

• Verskillende teksture, kleure en patrone op kussings, beddegoed, los dekens en gordyne skep altyd ’n warm gevoel. “Speel met wat jy het.”

• Plante kan ’n vertrek lewendig en natuurlik laat lyk.

Die landskappe in houtskool is Mariëtte se skeppings. Die liggrys muur is ook afgewerk met CemWash, hier in die kleur Light Grey.

Die gaasdoek voor die venster in die goudkleurige gastekamer kom van Bali.

Die ingeboude bad en wasbakblad in die hoofslaapkamer se badkamer is afgewerk met SatinCrete van Cemcrete. Die mure is afgewerk met CemWash in die kleur Grey. Balinese glaskrale, ’n koffertjie uit Spanje en mandjies bring warmte in die ruimte. Mandjies van MRP Home

Mariëtte het die gordyne gemaak uit ’n tafeldoek van H&M Home. Die swart-en-wit gehekelde katoenpotjie kom van Marokko. 

Die bruin koffer was haar ma, Sannie, s’n

KONTAK EN VERSKAFFERS

Alida Clarkson 072 510 0266

Cemcrete

Hadeda 022 788 5774

H&M Home 0860 690 707

MRP Home 0800 212 535

Snuffels 028 312 1802