Foto’s Amora Erasmus • Stilering Marian van Wyk

Toe die tuinontwerper Hannes Stander en blomkunstenaar DP Ferreira net meer as 10 jaar gelede op die Tuinroetebegin eiendom soek, het hulle afgekom op ’n plek op Rheenendal wat regtig tot hul gedeelde liefde vir die natuur spreek.

Die 17 500 m²-erf sit knus teen die Knysna-bos; al wat die grens aandui, is ’n wit beton-hoeksteen wat lankal deur inheemse plante oorgroei is. Op die erf is drie klein wonings: Die hoofhuis met sy kleimure het in Tuis Verf Dit van 2018 verskyn en nog een word ingespan vir vakansiehuisvesting. Vandeesmaand wys ons hul pas opgeknapte Airbnb-kothuis met die naam High Acre Garden Cottage en dekor so reg uit die natuur.

Dit was jare lank ’n eenvoudige wit struktuur wat leeg gestaan het en nooit in stand gehou is nie. Hannes en DP, wat die blom-en-tuinontwerpsaak Ecozest bedryf, het gemeen dis die ideale plek om aan vakansiegangers op die Tuinroete te verhuur. Met die hulp van plaaslike vakmanne het hulle die ruimte toe omskep in ’n droommooi wegbreekplek neffens die bos.

“Nadat ons besluit het om die kothuis op Airbnb te lys, het ons net twee maande gehad voor ons eerste gaste sou opdaag. Ons moes nagte om werk om dit betyds gereed te kry – van die kombuis en badkamer installeer tot vloere en plafonne verf en al die binneversiering doen!” vertel DP. “Snaaks genoeg, toe ek en DP meer as ’n dekade gelede oorweeg het om dié erf te koop, het die vorige eienaars ons ’n aand in dié einste kothuis laat slaap. Al wat daar toe was, was enkele basiese houtmeubelstukke en ’n dubbelbed. Maar ons kon toe reeds die potensiaal sien,” sê Hannes.

Dis in die detail
Soos die res van die kothuis is die galerymuur regs geïnspireer deur die natuur. Die mure en plafon is geverf met Plascon Subtle Shadow.

Die paartjie het besluit op ’n ryk groenblou vir die mure en plafon (Plascon Subtle Shadow) in die oopplan-eet-en-sitkamer, en het dieselfde kleur teen die kombuiseiland gebruik vir eenvormigheid. “Ons wou ’n donker kleur hê wat die uitsig van binne af sou omraam, en ons is dol oor hoe dit ’n mens met kalmte omvou. Dis knus in die winter en koel in die somer,” sê DP. Al die dennehoutvloere in die huis is geverf met Plascon Nuroof Cool en verseël met Woodoc Water-Borne Floor in die kleur Atmosphere Grey. Matte van Sahar Carpets; ottomans oorgetrek deur Kommaweer Upholsterers & Curtains; buffetkas pasgemaak deur Design Wise


Ons is dol hieroor!
Kleurryke 10 x 10 cm-keramiekteëls skep ’n mooi fokuspunt op die blaaie.

Die klein kombuiseiland is van laaghout gemaak en het ’n herwinde graniet-werkblad wat die paartjie by ’n tweedehandswinkel uitgesnuffel het. Die bestaande dennehoutkaste het net ’n vars laag verf gekry.

Die kothuis het ’n breë onderdakstoep wat oor die volle 13 m-lengte van die huis strek. Hannes en DP het dié hout-eetkamertafel spesiaal laat maak. “Dis langer en smaller as die gewone sodat meer gaste daarby kan aansit; dit vergemaklik ook beweging op die stoep,” sê Hannes. Stoele van Chair Crazy

’n Tweede tuiste

Ons is dol hieroor!
DP het dié ry hanglampe gemaak van viltvorms wat hy by ’n plaaslike hoedemaker gekoop het.

Binne die kothuis wou Hannes en DP ’n romantiese atmosfeer skep “sodat dit regtig soos ’n ontvlugting voel as ’n mens hier oorbly,” verduidelik DP. Met die kothuis se ligging so na aan die natuur as hoof-inspirasie, het die paartjie geblomde plakpapier en verf in ryk skakerings van groen, geel en grys gebruik om ’n knus ruimte in te rig.

“Dit was vir ons belangrik dat die huis soos ’n gemaklike tweede tuiste moet voel, en ons dink ons het goed daarin geslaag – danksy die organiese dekor. Ons het tweedehandse kopies en gerestoureerde erfgoed gebruik om dit in te klee, en afgerond met bypassende bykomstighede uit ons eie huis en antiekwinkels,” vertel DP.

Kleedstowwe is ook ’n belangrike element in hul dekor. Die kussings op die leerbank en stoele in die leefarea – vondste uit ’n tweedehandswinkel op George – is byvoorbeeld herstoffeer in bruin fluweel en ’n ou kelim is om die rusbank se basis vasgewerk (sien foto bo) om dit in iets werklik spesiaals te omskep.

Volgens DP is hy ’n selfverklaarde lap-snob. “Ek verwonder my aan die pragtige materiale wat van linne, wol, katoen, sy en ander plant- en diervesels gemaak word. Ek is mal oor alles van tekstuurryke weefstof tot fluweel en gedrukte motiewe.”

Die gevoelvolle skakerings waarvan Hannes en DP so baie hou, dien as agtergrond vir die tekstuurryke dekor, net soos in hul eie huis op die erf. “Kleur neem ’n lewe van sy eie aan. Dis ongelooflik om te sien hoe een skakering ’n ander help uitstaan, of hoe die kleur teen die muur met die meubels en voorwerpe in ’n vertrek kan ‘praat’,” sê DP.

Dis so mooi om te sien hoe die son oor die dennebome opkom en die hele vallei in goue lig baai; om die volmaan dop te hou is net so ’n belewenis. – DP
Ons is dol hieroor!
’n Klein, tweedehandse skeerwasbak pas perfek op ’n houtlys.
Dis in die detail
’n Deel van die oorspronklike badkamer se buitemuur is uitgebreek om plek te maak vir ’n stort beklee met Japannese sederhout. “Ons het dié spesifieke houtsoort gekies omdat dit bestand is teen swamme en bakterieë, en nie teen klammigheid behandel hoef te word nie. Dit word dikwels in stoomkamers gebruik – en ons hou boonop van die geur van die hout,” sê Hannes.

Die oorspronklike badkamer is vergroot met ’n buitebad en ’n stort in die Japannese styl. “Die res van die huis het sulke lieflike uitsigte en ’n oop, ruim gevoel, maar dit het regtig ontbreek by die badkamer. Daarom wou ons hier ook ’n verbinding met die natuur skep,” verduidelik Hannes. Net buite die stort is staalraam-glasdeure wat op ’n binnetuin met ’n bad oopmaak; aan die bokant is dit oop, met net tweedehandse diefwering vir veiligheid. ’n Kiwi, grenadella en Akebia quinata rank teen die latbedekte mure.

Donkergroen mure (Plascon Night Moss) verleen drama aan die badkamer. ’n Keramiekwasbak van Liebermann Pottery rus op ’n metaal-en-houtrak met ’n granietblad. Mat van Sahar Carpets; die kristalhanglamp was ’n tweedehandse vonds

Lieflike geel Morris & Co.-plakpapier help om ’n ligte, lugtige gevoel te skep in dié kamer wat nie soveel son soos die ander vertrekke kry nie. Danksy ’n vinielafdruk is ’n eenvoudige melamienkas in iets spesiaals omskep.

Dis in die detail
Morris & Co. se Arbutus-plakpapier en GP & J Baker se geblomde Nympheus- gordyne, albei van Thesen House Shop, versterk die blomtema in dié slaapkamer.

Heelwat van die dekor weerspieël Hannes en DP se voorliefde om nuwe nut aan ou goed te gee, soos dié omkeerbare kwilt met geweefde sybokhaar aan die een kant en ru-sy aan die ander kant – lap wat hulle oor jare bymekaargemaak het.

VERSKAFFERS