Foto’s Francois Oberholster •  Stilering Marian van Wyk

DIE HUISEIENAAR Megan de Beyer

WAAR Scarborough, Wes-Kaap

GROOTTE 70 m2

Dié houthuisie was in sy vorige lewe ’n crèche met heldergroen buitemure, die afwerking binne was ver van luuks en die voortuin was net ’n groot, uitgestrekte grasperk. Maar toe die eiendom in 2013 in die mark kom, het Megan de Beyer die geleentheid aangegryp om dié piepklein huisie teen die berg in Scarborough in ’n bekoorlike wegbreekplek te omskep.

“Die huis het pragtige uitsigte van die Atlantiese Oseaan, asook die Kaappunt-natuurreservaat,” sê Megan, ’n sielkundige en fasiliteerder van werksessies vir ma’s met seuns. Sy kom gereeld na dié kothuis om gehaltetyd deur te bring met haar eie seuns, James en Jonathan Bailes – albei al volwassenes wat op hul eie woon.

“Die eerste ding wat ons soggens doen, is om die deure wyd oop te gooi. Dan geniet ons ontbyt op die stoep, gevolg deur ’n lekker stappie teen die berg op; ons ry fiets tot by die natuurreservaat hier naby of stap strand toe, wat net vyf minute weg is,” sê Megan. “Tussendeur werskaf ons in die tuin of ontspan met ’n boek. Dis verkwikkend, veral omdat ons huis omring is met die natuur. Dis die perfekte plek om weer ons gesinsbande op te tel en saam te wees.” 

Kruipvy bedek die stoepmuur en sal mettertyd die latte-dak ook toegroei. Stoele van Weylandts; die gietystertafel het Megan by haar suster gekry. Die paadjie, gemessel met plaaslike bergklip, loop deur die geharde, tekstuurryke fynbostuin na die voordeur.

’n Gemaklike ou Cécile & Boyd-rusbank, Nguni-mat, natuurlike teksture en spatsels blou en groen skep ’n ontspanne strandatmosfeer in die leefarea.

Hanglampe en ottoman van Abode; mat van Woodheads

Metaal-stapeldeure in die leefarea dien as vensterbekleding én veiligheidsmaatreël.

Rak van @home; stoel van Weylandts.

Die Tafelberg-hangrak in die kombuis is van Abode. Daarbo spog ’n verweerde rak met Megan se kosbare breekgoed.

Ons het die wonderlikste uitsigte – ons sien gereeld sebras, volstruise of blesbokke terwyl ons op die stoep sit. – Megan

’n Dek van suikerbloekomhout langs die huis dien as buitekuierplek. Megan het onlangs ’n groot vuurput van klip langsaan laat bou. “Ons steek graag hier ’n vuurtjie aan en kuier baie lekker omdat dié kant van die huis teen die wind beskut is,” sê sy.

Knus en koel

Megan het in Durban grootgeword en sê die seelug, see-uitsigte en “stoepleefstyl” wat sy daar geken het, is die rede hoekom sy graag ’n vakansiehuis by die see wou hê.

Een van haar eerste veranderinge was om die vensters aan die voor- en agterkant van die huis te vervang met stapeldeure, wat nou die natuurlike lig en uitsigte tot hul reg laat kom.

Die indrukwekkende omgewing was ook inspirasie vir die dekor. Megan het voorheen ’n vakansiehuis by die see in KZN gehad en het baie van haar hartsgoed behou, insluitend ’n ou Cécile & Boyd-rusbank, geërfde breekgoed en pragtige dekens. Maar dié keer het sy ook titsels groen, taan, grys en blou ingebring om by die rustige omgewing in te skakel.

Selfs die teksture in haar huis is deur die natuur geïnspireer. “Ek is dol oor goed wat interessant is om aan te vat,” sê Megan. “Stowwe soos ryk katoen, wol en, natuurlik, enigiets wat geweef is – dit verklaar seker hoekom ek so baie tweedehandse kopies het, want dit het gewoonlik soveel meer karakter as dinge wat nuutgekoop is.” 

’n Knap begroting het Megan verhoed om die houtvloere in te sit wat sy so graag wou hê. Sy het ook klapperhaarmatte oorweeg. “Ek het besluit tweede prys is wit geverfde sement omdat dit self ’n rustige gevoel skep; dis ook maklik om skoon te maak en nat voete is nie ’n probleem nie!” verduidelik sy.

Die kombuis maak oop op die dek, ’n gunstelingplek vir al fresco-middagetes. Die gordynreling is ’n latte-paal wat langs die pad by Kommetjie opgetel is, en Megan het die verweerde gordyne, wat eers as tafeldoek gebruik is, op besoek aan Mosambiek gekoop.

Stoof van Tafelberg Furnishers; eiland van Froggatt & Frost

Die hoofslaapkamer is al vertrek buiten die sitkamer wat ’n see-uitsig het. Beddegoed van Weylandts

Ek het ’n hemelbed gekies omdat dit my romantiese kant uitbring en ek is mal oor die linnedrapeersels wat my omring terwyl ek slaap. – Megan

Megan het die koper-ring spesiaal vir die stortgordyn laat maak; versierde sementteëls van Moroccan Warehouse teen die kant van die bad verleen ’n tikkie eksotiese sjarme.

Om sanderige voete buite af te spoel is daar ’n eenvoudige stort agter ’n latte-muur.

“Al is ons kothuisie omring deur groot, luukse wonings, kan ons nog steeds die wonderlikste sonsondergange van die voorstoep af bewonder!” sê Megan.

KONTAK EN VERSKAFFERS

 Huurverblyf airbnb.com/rooms/2169388

@home 0860 576 576, home.co.za

Abode 072 261 3540

Cécile & Boyd 021 424 8890, cecileandboyds.com

Froggatt & Frost 021 715 9089, froggattandfrost.co.za

Moroccan Warehouse 021 461 8318

Tafelberg Furnishers 021 944 3330, tafelberg.co.za

Weylandts 021 914 1433, weylandts.co.za

Woodheads 021 461 7185, woodheads.co.za