WIE WOON HIER? Elize Vossgatter en haar kinders, Sam (13) en Eve (10)

WAAR Mowbray, Kaapstad

70 m2

Blink idee!

Sweefrakke teen ’n onbenutte muur maak ’n uitstekende boekrak.

Die kombuis en sitkamer was eers apart, maar is omskep in ’n oopplanruimte.

Houtskoolkleurige kussings en deken van Weylandts; mat van MRP Home; groot olieskildery The Creators deur Elize Vossgatter

Ses jaar gelede het Elize Vossgatter, ’n hoërskool-kunsonderwyseres, besluit dis tyd dat sy voltyds begin skilder. Sy was ’n pasgeskeide ma van twee jong kinders en het ’n knus ruimte gesoek waar hulle kon nesskop. “Ek wou ’n plekkie hê waar Sam en Eve – toe sewe en vier jaar oud – veilig kon voel,” verduidelik sy.

Aangesien dit ’n onseker tyd in Elize se lewe was, het sy gevoel ’n kleiner huis sou makliker wees om te hanteer. Maar toe sy dié huis die eerste keer sien, was dit glad nie die helder, kunstige ruimte wat dit vandag is nie.

Daar het voorheen drie gesinne saam in die huis gewoon en dit het dringend aandag gekort. Die vloerplanke in twee van die kamers moes vervang word en die kombuis en badkamer het gesmeek om algehele vernuwing.

“Tussen die kombuis en sitkamer was ’n boogdeurgang wat met planke toegemaak was. Toe ons dié verwyder, het ek besef dit maak sin om ’n oopplanarea te skep,” sê Elize. Vandag vorm die kombuis en sitkamer een oop ruimte wat op die nuwe dek uitloop.

“As enkelouer moet jy soms drie dinge tegelyk doen: ’n speletjie speel, e-posse stuur en aandete kook. In dié ruimte is dit als moontlik én kan ons tyd saam deurbring.”

Die eenvoudige uitleg van die kompakte kombuis het heelwat oop vloerspasie.

Ronde olieskildery, The Patriarch, deur Elize Vossgatter

Een nadeel van ’n klein woonplek is dat die kinders meer privaatheid wil hê namate hulle ouer word. En dít is skaars in ’n klein huis. – Elize

Nog ’n keer

Elize se ateljee is net om die draai in Woodstock, en sy sê die meeste van haar huisware kom van veilings, vlooimarkte en klein besighede wat plaaslike ontwerpers in diens neem. Dis buiten al die kunswerke wat sy oor die jare versamel het – party is gekoop, ander geruil.

Veilings het vir haar ’n spesiale bekoring, sê Elize, want jy kan ou, besonderse items daar koop en dit weer nuut maak. Sy meen dis soveel meer bevredigend as massavervaardigde meubels van twyfelagtige gehalte.

“Ek het ’n versamelaarsinstink,” sê sy met verwysing na Marie Kondo, die koningin van afskaal. “Ek het nog nie haar boek gelees nie, maar blykbaar moet ’n mens net dit waarvoor jy lief is, hou en gebruik. Oor die afgelope jaar het ek ontslae geraak van ’n hele paar goed waarvoor ek nie lief was nie!”

Die muur in die gang is uitstalplek vir Sam en Eve se skeppings. Ander kosbare gunstelinge versier die mure in die hoofslaapkamer.

Muur to muur

Kunswerke is oral in die kothuis te sien en Elize hou die mure wit sodat die kuns die kleurinspuiting in ’n vertrek kan wees. Terwyl dit vir party mense dalk ietwat oordadig is, meen Elize ’n goed saamgestelde galery sal altyd harmonieus wees en nooitdeurmekaar voel nie.

“Wanneer dit jou denkproses begin steur, is dit dalk te veel!” sê sy en lag.

Al “sukkel” Elize met die kleur rooi, het sy besluit om haar meer intense skilderye, waarvan talle sterk rooi elemente bevat, in haar slaapkamer te hang. Dit kry behoorlik lewe teen die swart muur. “Dalk hou die swart muur al die rooi in toom ...”

Essenhoutbed pasgemaak deur YouMeHome; kunswerke van links na regs: skildery deur Lizza Littlewort, olieskildery van nar deur Gabby Raaff, kunswerk daaronder deur Brett Seiler, swart-en-wit kunswerk deur Andrew Lovell, ou afdrukke van veilings, Peter Clarke-afdruk deur Sophie Peters, olieskildery deur Elize Vossgatter, kunswerk daaronder deur Christopher Slack

VIR DIE LIEFDE VAN KUNS

Dit kan intimiderend wees om ’n versameling te begin; Elize, ’n kunstenaar, onderwyser en kunsliefhebber, het die volgende raad:

Prys “As dit jou oë effens laat traan, koop dit,” sê sy.

Maak die regte keuse Kuns is ’n langtermyn­ verhouding; vertrou jou intuïsie, moenie trends navolg nie.

Wanneer om te koop Wanneer jy nie jou lewe daarsonder kan indink nie.

Wanneer om nie te koop nie Gewoonlik as dit te goedkoop of te trendy is; jou belanstelling sal gou vervaag.

Hoe om dit uit te stal Hou dit weg van direkte sonlig. En niks klop ’n pragtige raam nie; ek laat myne doen by Wessel Snyman by The Biscuit Mill, ’n meester van sy vak.

Om die beperkte ruimte in Sam se kamer te benut, het Carlos Barreiro Designs dié verhewe bed gebou. “Sam gaan eendag ’n lang man wees, toe vra ek hulle moet seker maak hy sal onder die bed kan deurstap!”

VAN GROOT TOT KLEIN

Toe Elize haar ruim gesinshuis vir dié kothuis in Mowbray verruil, moes sy ontslae raak van alles wat oorbodig was. Hier is haar raad oor afskaal:

• Koop net iets as jy presies weet waar dit gaan staan.

• Wanneer jy uitgooi, hou net dit wat jy nodig het en waarvoor jy lief is.

• Ek en die kinders hou een keer per jaar ’n kattebakverkoping. Hulle verdienlekker sakgeld en leer meer oor waarde en handel dryf.

• Skep balans tussen besige en eenvoudige elemente; installeer byvoorbeeld ’n minimalistiese kombuis of gebruik meubels met skoon, klassieke lyne.

In die somer is die dek ’n belangrike verlengstuk van die huis se leefareas.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Carlos Barreiro Designs 082 302 4871

Elize Vossgatter 

MRP Home 0800 212 535

Wessel Snyman 021 448 2002

Weylandts 0860 103 400

YouMeHome 072 522 1373