Foto's Francois Oberholster | Stilering Johané Neilson

Toe Marié en haar gesin vyf jaar gelede Stellenbosch toe trek, het hulle geweet daar is baie werk aan hul huis te doen. Veral die kombuis en die  leefvertrek wat daarmee skakel, moes verander.

“Ons wou graag weer ’n plaaskombuis hê soos in ons vorige huis en het al die los kaste uit ons ou kombuis saamgebring,” vertel sy. “Nuwes het bygekom, soos die groen kas, my skoonma se groot wit kas en die oop rak daarbo. Dit het ná die bouprojek amper ’n jaar geneem om die kombuis te kry soos dit nou lyk, met alles op hul plek soos dit vir ons mooi is!”

Dié ou werkbank van Nerf-af in Durbanville is perfek as eiland met heerlike pak- en uitstalplek op die onderste rak. Die kandelaar van Delos Lighting in Woodstock was oorspronklik vir kerse, maar is nou geëlektrifiseer. Die lang plastiekpypies waarin die gloeilampies pas, skep steeds die indruk van kerse.

Dié kombuis werk vir die gesin van ses. “Dit pas by ons huis, en dit was heerlik om die ruimte met verloop van tyd te laat vorm aanneem.”

So ’n groen kas kan ’n mens mos nie miskyk nie! Dié een kom van Napier. “Dit is eintlik ’n hangkas, maar Tjaart het rakke ingesit en dit in die perfekte koskas omskep,” vertel Marié. Losstaande kaste soos dié een gee die kombuis ’n plaasgevoel.

Die wasbak lyk soos ‘n gewone laboratoriumwasbak, maar is bedek met Surinno; dis nie so hard nie en dus breek glase nie so maklik wanneer jy dit was nie. Die enigste ingeboude kas is waar die wasbak en skottelgoedwasser staan. Die blad van Oregon-dennehout pas goed in by die plaaskombuisgevoel; dit is met mat Nova 17 behandel om mooi te bly. Met breë vensterbanke is daar genoeg plek om blomme, ’n potplant en mooi bekers agter die wasbak neer te sit. Die drie groot vensters laat baie lig by die kombuis in en bied ook ’n pragtige uitsig op die bome.

In die kombuis is daar altyd blomme — meestal uit die tuin — in ’n verskeidenheid potjies. Die porseleinknoppe met ’n blomtema sluit aan by dié voorliefde vir blomme.

V&A met Marié

Wat is die grootste uitdaging van so ’n kombuis inrig?
Jy moet geduld hê, want jy kan ou kaste soos ons s’n nie van die rak af koop nie. Maar met verloop van tyd sal jy die regte kas, rak of tafel kry. Ek glo ook as jy iets raakloop waarvan jy hou, moet jy dit koop, al weet jy nie op daardie tydstip waar jy dit gaan gebruik nie. Die groen kas uit Napier het ons aangeskaf nog voor die nuwe kombuis daar was!

Waar het jy jou inspirasie vandaan gekry?
Ons het baie tydskrifte deurgeblaai, op Pinterest gekyk en oor die kombuis gedink. Mooi ou goed inspireer ons en as jy ’n paar daarvan bymekaarsit, val die res in plek!

Het sake perfek verloop of moes julle ’n paar planne maak om alles te laat werk?
Nee, nie alles het uitgewerk soos ons dit voorsien het nie. Dan skuif jy maar rond en dink weer. Eers ná vele probeerslae het die kombuis begin vorm aanneem.

As jy ’n kombuis verander, kan jy met ’n paar slim planne van probleme ontslae raak. In dié kombuis was die kragboks in die middel van ’n muur, maar te duur om te skuif. Marié en Tjaart het dié ou rak by Nerf-af raakgeloop, en die middelste rak was net mooi hoog en breed genoeg dat die kragboks daar kan inpas. Hulle het die rugkant uitgesaag en die rak bo-oor dit opgesit. Die kragboks is steeds maklik bereikbaar, maar agter ’n mooi geblomde lappie weggesteek!

Hoe het jy die kombuis ’n plaasgevoel gegee?Met ou borde, blikke en emaljeware. Dis tydloos en net so nuttig soos enigiets wat jy nuut koop. Ons gebruik byvoorbeeld ’n ou emaljeblik as broodblik. Ons drink tee uit mooi ou koppies met roosmotiewe op en ek sit graag blomme in emaljehouers of ’n gestreepte blik. En as ons tee maak, werk die groot emaljeteepot perfek vir water kook op die gasstoof.

Waarvan hou jy die meeste in jou kombuis?Die kombuis leef lekker en is deel van die huis. Ons kuier graag om die tafel en ek kan die kinders sommer hier help wanneer hulle hul huiswerk in die leefvertrek doen. Met die baie vensters is dit lig en voel dit nie asof jy heeltyd binne is nie. Ek is ook mal oor die oop rak – dis vir my lekker om goed wat vir my mooi is, te sien én te gebruik.

Wat is jou goue kombuisreël?Wees prakties. Al wat tel, is wat vir jou mooi is en vir jou werk! En vra raad by mense wat jy weet van dieselfde goed as jy hou.

Dié ouwêreldse bord hang voor die kragpunt vir ’n suigwaaier. Danksy die huis se hoë plafonne en genoeg vensters in die vertrek is ’n suigwaaier nie nodig nie. Die teëls bo die stoof is deur Francois Korver van Stoor Ceramics.

Maak ’n skuifdeur waar ’n gewone kasdeur ’n probleem kan wees. In dié geval sou ’n gewone deur nie behoorlik kon oopmaak met die losstaande kas reg langsaan nie.

Wie het gesê al jou kombuiskaste se knoppe moet eenders lyk? Soek mooi ou deurknoppe en gebruik ’n verskeidenheid saam. Hier is porseleinknoppe met ’n blomtema gebruik.

Verskaffers
  • Bathrooms 4U 021 883 9861, bathrooms4u.co.za
  • De Oude Schuur antique@mweb.co.za
  • Delos Lighting 021 447 5739, delos.co.za
  • Les Collectables 021 761 6085
  • Memories 021 976 4213
  • Napier Antiek 028 423 3314
  • Nerf-af 084 946 6326, nerf-af.co.za
  • Romantiques 028 312 4226
  • Stoor Ceramics info@stoorceramics.co.za