Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Liezie Mulder-Färbinger en Markus Färbinger

WAAR Thesen-eiland, Knysna

Grootte [130 m²]

Die eetkamer kyk uit op die strandmeer danksy groot stapeldeure wat ’n ruim gevoel skep. Die geel hanglampe is oorspronklik vir buite bedoel, maar Liezie was mal oor die kleur en het dit binne gehang.

Meubels van Weylandts en Paisley & Bloom; blomme van Ecozest

Min mense wat Knysna besoek, weet nie van die gewilde bakkery langs die kanale by Thesen-eiland nie. Île de Païn (wat “eiland van brood” beteken) het immers al kultusstatus bereik sedert dié kafeestyl-restaurant in Desember 2002 sy deure oopgegooi het. Hier is menige verbyganger al in hul spore gestop deur die geur van varsgebakte brood.

Dis ook die plek wat Liezie Mulder-Färbinger en Markus Färbinger hul nuwe tuiste gemaak het nadat hulle Amerika vir dié stil kusdorpie verruil het. “Ek het as kind op Knysna vakansie gehou. Toe my pa jare later betrokke was by die ontwikkeling van Thesen-eiland, het ek en Markus die kans om permanent hier te woon, met albei hande aangegryp,” vertel Liezie.

Sy het Markus, ’n Oostenryker, tydens ’n broodbakkursus in Amerika ontmoet en ’n eie bakkery was vir albei ’n droom. Sedert hulle dié droom bewaarheid het, het Markus, wat ’n spesiale houtvuuroond vir broodbak gebou het, al talle plaaslike bakkers opgelei in die Färbinger-familie se tradisies wat uit die 1700’s dateer.

“Ons het aanvanklik in die dakwoonstel bo die restaurant gebly, maar dit het gevoel asof ons altyd by die werk was,” vertel Liezie. “In 2004 het ons na ons huidige huis getrek, ook hier op die eiland. En hoewel dit skaars twintig treë van die werk af is, kan ons darem hier ons skoene uitskop en ontspan.

“’n Rustige en privaat atmosfeer was vir ons belangrik, maar dit moes tog ook ’n gelukkige en prettige tuiste wees,” verduidelik sy. Hoewel dié huis aan die klein kant is met twee slaapkamers, twee badkamers en ’n oopplan-leef-eetkamer-en-kombuis, verkies hulle dit so. “Dit is net ons twee en dit is maklik om skoon te hou! Boonop het ons ’n baie groot buite-leefarea reg langs die water, want ons leef regtig na buite.”

Minimalisties, met aksente

Die klein ruimte werk goed vir Liezie en Markus, want hulle hou nie van ’n warboel nie en verkies minimalisme. Hier kry jy dus geen “goetertjies wat rondstaan” nie, want dit sou hulle ingehok laat voel.

“Ek het ook nie groot meubelstukke nie, maar kleiner, unieke stukke wat ’n groot impak maak, soos die Chinese kas in die kombuis wat as aksentstuk dien en waarrondom dié vertrek beplan is,” vertel sy. Die leefruimtes lyk ook groter danksy die liggies afgewitte dennehout-vloere deur die hele huis – dis eenvormig en skep terselfdertyd ’n kalm en “ligte” gevoel.

Die kleurskema is neutraal, maar met spatsels kleur. “Dit hang maar van my bui af,” sê Liezie laggend. “Op die oomblik is hier meer kleur as gewoonlik.”

Sy beskryf die meubels in haar huis as ’n “mengelmoes”. “Ek en my sussie en my ma steel gedurig goed by mekaar. As ek moeg is vir iets dan ruil ek dit sommer met iets wat my sussie het, of my ma leen vir my ’n skildery. Wanneer iemand trek en iets bly oor, dan bring ek dit en gooi iets uit.” So is daar altyd iets vars aan hul vrolike huis met sy kontemporêre meubels.

Liezie het dié treffende lap ’n paar jaar gelede by Babylonstoren gekoop en wou dit eerder teen ’n muur hang as oor ’n tafel gooi.

Meubels van Weylandts en Paisley & Bloom

Nuwe kombuis

Die kombuis is sowat drie jaar gelede oorgedoen. “Aanvanklik was daar nie baie werkplek nie en net ’n lang tafel as eiland,” verduidelik Liezie. “Voorheen het ons meestal by die restaurant geëet en die kombuis selde gebruik. Maar vandat ons die nuwe kombuis met ’n groter werkvlak het, is dit vir my lekker om naweke hier te ‘speel’.”

Genoeg pakplek was belangrik en tydens die herontwerp is ’n groot laaikas as koskas ingespan waar alles met gemak bereik kan word. Die hout-eiland is nie net eetplek nie, maar word ook ingespan as opskepplek wanneer die paartjie onthaal.

“Ek hou daarvan as die werkblaaie skoon is wanneer ek by die huis instap – daar moenie ’n klomp goed rondstaan nie,” vertel Liezie. “Een van die dae gaan ek nog die Nespresso-masjien in ’n kas agter deure sit waar ek dit net so kan gebruik en eenvoudig kan toemaak as ek klaar is!”

Dié minimalis sê sy het net een oplossing vir te min pakplek: Moenie opgaar nie! “In ’n klein huis het ’n mens altyd te min pakplek en ek is alewig besig om skoon te maak. My leuse bly: As iets inkom, moet iets anders uit. Omdat my rakke in die kombuis oop is, mág ek eenvoudig nie opgaar nie!”

Kombuis geïnstalleer deur Woodmillers

Liezie se wenke vir knap leef

• Moenie elke vertrek vol meubels prop nie en hou die vloeroppervlak skoon. Gebruik eerder ’n lekker groot los mat, want dit kan ’n vertrek “maak”.

• Oorweeg ligte verfkleure en fokus op een sterk kleur vir ’n fokusmuur.

• ’n Paar unieke stukke soos ’n beeldhouwerk of kas gee baie persoonlikheid in ’n andersins minimalistiese ruimte.

Mørso-kaggel van Metelerkamps; stoele van Paisley & Bloom

Lekker leef

Lig en nogmaals lig was ’n vereiste in die leefvertrek. Groot deure in die eetgedeelte skuif oop op die houtdek buite. Hulle beplan om nog ’n groot skuifdeur in die leefkamer in te sit, wat die vloei tussen binne en buite verder sal verbeter.

“Omdat ons ‘baba’ die see is en ons langs die strandmeer bly, wil ek graag op die water uitkyk, maak nie saak waar ek in die huis is nie,” verduidelik Liezie. “Daarom is al die gordyne deursigtig, sodat lig steeds sal inkom en ’n mens steeds daardeur kan kyk, selfs al is dit toegetrek. Omdat die dek ’n paar meter bo die water is, kan mense nie van buite af insien nie en is dit steeds privaat.”

Die leefvertrek is gerieflik, warm en kalm, want dit is waar die paartjie die meeste van hul vrye tyd spandeer – en weer eens moes dit nie “cluttered” wees nie!

Vir trefkrag word kunswerke slim ingespan, soos die beeld in die leefvertrek. “Dié brons ‘Girl with Lily’ van Theo Megaw is my gunsteling-kunswerk in die huis,” vertel Liezie. “Ons is gelukkig om ’n fantastiese kunsgalery, Knysna Fine Art Gallery, te hê waar ons gereeld uitstallings bywoon. Dié beeld het my hart gesteel. Die staanlamp, ’n Meyer von Wielligh-skepping, het ek vir Markus as present gekoop.”

Die slaapkamer voel ruim danksy die neutrale kleurskema; tog verraai aandag aan detail, soos die kunswerke en ’n blou gestoffeerde kopstuk, Liezie se persoonlike stempel. Dié hanglampe van hout het oorgebly toe die restaurant destyds oorgebou is ná ’n brand – dit moes bo die kroeg gehang het, maar is nooit gebruik nie. Nadat Liezie die lampe onlangs in ’n boks ontdek het, het dit ’n ereplek in die hoofslaapkamer gekry.

Meubels van Weylandts en Paisley & Bloom

Die ingeboude swart kas dien as skeiding tussen die slaapkamer en en suite-badkamer en is geïnspireer deur ’n Japannese skuifdeur – iets wat Liezie nog altyd wou hê. Sy beplan wel om dit binnekort lig te verf en die hele voorkoms in die slaapkamer en badkamer neutraal te hou.

Die badkamer is nog oorspronklik soos toe die huis destyds gebou is, en hoewel die mosaïek steeds vir Liezie mooi is, moet dit binnekort plek maak vir ’n neutrale kleurskema met net ’n Marokkaanse teëlinsetsel as aksent. Die lopermat van linoleum kom heelpad van Amsterdam af; Liezie moes dit dae lank oor haar skouer dra! 

KONTAK EN VERSKAFFERS

Babylonstoren 021 863 3852

Ecozest 082 776 7552

Île de Païn 044 302 5705 

Knysna Fine Art Gallery 044 382 5107

Metelerkamps 044 382 0274

Paisley & Bloom Interiors 084 601 1010

Weylandts 021 914 1433

Woodmillers 044 382 2224