Foto’s Francois Oberholster en Henrique Wilding | Stilering Marian van Wyk

DIE HUISEIENAARS

Benoit Thomas en Louis Orlianges

WAAR Banhoek-vallei, Stellenbosch


Benoit het die boekrak in die eetkamer ontwerp; dis gesweis en aan die muur vasgebout. Die inwoners hou van die teenstelling van die byderwetse yskas wat oorskadu word deur ’n ou kas.

Oop rakke is in die kombuis aangebring vir wegpak én uitstal. Dit beteken dat breekware stof kry, maar, soos Chris verduidelik: “Niks in ons lewe is prakties nie – alles gaan oor die estetika!” Die kombuisvloer van klompiestene is treffend met ryk kleure.

Die kombuis loop deur na die sitkamer. Dané het die nuwe kaggel ingebou as fokuspunt in die oopplanvertrek.

Die storie van hierdie huis het ses jaar gelede op ’n Kaapse strand begin.Daardie dag het vier sonsoekers aan die gesels geraak: Chris Willemse en Dané Erwee is die eienaars van die blombesigheid Okasie op Stellenbosch; Benoit Thomas en Louis Orlianges kom oorspronklik van Parys, Frankryk, maar het die afgelope 20 jaar gereeld in Suid-Afrika kom vakansie hou.

Chris vertel hoe dit gebeur het dat daar vandag op die hoewe langs hulle s’n ’n huis met ’n klein voetspoor staan waarvoor ’n mens maklik jou oogtande sou gee – net om deur soveel skoonheid omring te wees.

“So ses jaar gelede sit ek en Dané eendag op Llandudno se strand waar ons met twee Parysenaars aan die gesels raak en dadelik kliek. Ons was toe nog nooit in Parys nie en toe ons nege maande later die Maison&Objet-ontwerpskou daar gaan bywoon, het ons by hulle oorgebly.”

Chris vertel oor die gordyne in die sitkamer: “Ons het dit laat maak nadat ons eers die materiaal (goedkoop seilstof) laat ‘stone wash’ en laat kleur het. Toe het ons katoenfluweel aan die onderkant aangelas. Al die meubels is ou goed wat net oorgetrek of geverf is.”

Benoit, ’n veearts, en Louis, ’n uitgewer by onder meer Condé Nast en GQ, was nog nooit in die Stellenbosch-omgewing tydens hul vakansies hier nie en die twee Suid-Afrikaners het hulle oorgenooi.

Maar nie voor die vier nuutgevonde vriende die Stevenson-staproete in die Cévennes-streek sowat 600 km van Parys aangepak het nie. ’n Mens loop hier in die spore van die Skot Robert Louis Stevenson wat onder meer Treasure Island geskryf het. Dit was tydens dié staptog dat die twee Fransmanne laat blyk het hulle wil ’n eiendom in Suid-Afrika koop.

“Lang storie kort: Ons vertel hulle van die stuk grond langs ons wat toe al agt jaar lank in die mark was. Ek het dadelik met die agent in verbinding getree, net om te hoor daar was ’n ander voornemende koper,” vertel Chris. “In daardie stadium was ons op pad na ’n Griekse eiland waar ons eers in die veerbootkantoor weer internetverbinding kon kry. Binne net 24 uur moes ons vragte papierwerk doen; boonop wou ons Franse vriende ’n heelwat laer aanbod insit.”

Maar eind goed, als goed. Daardie selfde aand nog was Benoit en Louis die eienaars van hul lappie Suid-Afrikaanse grond – 1,7 hektaar wat hulle toe nog nie met ’n oog gesien het nie.

Carte blanche

Die hele plek was toegegroei en vervalle, en die huis wat daar gestaan het, was in só ’n swak toestand dat ’n argitek hulle aangeraai het om dit te sloop. “Maar ek en Dané het nee gesê, want hier was ’n lekker projek vir ons.” Hulle het carte blanche by hul Franse vriende gekry om die huis vir hulle op te knap en in te rig.

Benoit en Louis was in die beste hande moontlik, want die twee Stellenbossers is mooimakers van formaat. Hul Johannesdal-plaas met sy geboue en tuine is ’n lus vir die oog; dis ook hier waar hulle die plante en blomme vir hul onderneming kweek.

Die opknap het in Desember 2017 begin. In Maart het die Franse eienaars vir die eerste keer kom kyk na wat hulle gekoop het, en in Augustus was alles kant en klaar. “Hulle het ons volkome vertrou, maar ons het deurgaans alles met hulle uitgeklaar deur foto’s te stuur van byvoorbeeld afwerkings wat ons wou gebruik. Toe hulle uiteindelik die eindproduk sien, was net die buitebraai ’n verrassing, want daarvan het ons hulle niks gesê nie.”

In ruil vir hul werk het Chris en Dané die afgelope drie jaar hier gewoon terwyl hulle hul eie plek langsaan verhuur het.

Die ou stoep is omskep in twee badkamers sonder om die ou stoepgevoel te verloor. Al die aluminiumrame is deur Klapmuts Windows gemaak. Kassie van Onsite Gallery; Tintin-figure van die Milnerton-vlooimark; vis van Ceramic Matters; lampie van ’n brocante (vlooimark) in Frankryk

’n Stel trappe loop uit een badkamer na die tuin. Die vetplante maak ’n aantreklike prentjie en skep denkbeeldige relings.

Een van die verrassings wat die vervalle huis opgelewer het, was die pragtige houtplafonne wat met gipsbord bedek was. Die hout is net weer geolie.

Die prente is ook by ’n brocante ontdek. Dit is geraamde ou tapisserieë waarvan die glas en rame swart gespuitverf is. Dané het van die verf met ’n teelepel afgekrap om net die beste deel van die prentjie te wys. Die kopstuk het hy en Chris gemaak.

Die projek

’n Groot pluspunt was dat die twee opknappers geen voorskrifte van die Franse moes nakom nie – Benoit en Louis het die hele projek in Chris en Dané se skeppende hande gelaat.

“Ons het nie ’n argitek ingespan nie,” vertel Chris, “net een se raad gevra, want die veranderings was kosmeties. Niks is aan die huis, wat vermoedelik in die vroeë 1900’s gebou is, se voetspoor verander nie. Die dakstruktuur is ook behou, maar al die vensters is vervang.”

Hul slimste plan om die beperkte ruimte ten beste te benut, was deur so ver moontlik dubbele oopswaaideure van staal en glas in te sit; só kon binne- en buiteruimtes met mekaar skakel.

Dané het die klompie-vloer in die kombuis self gelê, met stukkies Delft-porselein hier en daar tussenin. “Ons het die steentjies in die regte vorm laat sny en hy het seker sewe of agt aande onder ’n spreilig gesit en dit gepak,” vertel Chris. “Ons het lorrievragte vullis uit die erf laat wegry – dis waar ons die stukkies blou Delft opgetel het.”

’n Eklektiese gevoel is hier geskep deur die slaapkamer se mure in twee kleure te verf en portrette aan toutjies te hang.

Die verfkleure binne het hulle self gemeng. “Ons meng soms tot 10 skakerings van dieselfde kleur voor ons tevrede is. Kleur is een van die moeilikste dinge om reg te kry.”

Twee onvoorsiene uitgawes het albei te make met temperatuur-beheer, naamlik dakwaaiers en ondervloerse verhitting. En as teenvoeter vir die Bolandse somerhitte het die Franse uiteindelik ook ’n plonspoel laat bou. Intussen het Benoit en Louis Bolanders geword en het die huis nou vier inwoners. Maar net tot Mei, wanneer die blomkunstenaars met hul honde en katte terugtrek na hul eie plek – sonder dat daar ooit struweling was. “Ons het nie huisreëls nie,” sê hulle. “Ons neem mekaar net in ag.” ’n Huis en ’n vriendskap wat ewe mooi is – wys jou net wat ’n mens op ’n strand kan raakloop as jy goed kyk!

Die buitekombuis met sy ingeboude braai onder die groot akkerboom het ’n opskepplek wat vir ’n tikkie weelde met klein mosaïekteëls beklee is. Op die voorgrond pronk die inheemse blouberglelie (Merwilla plumbea, voorheen Scilla natalensis). Mosaïekteëls van Pudlo

Benoit (links) en Chris aan die gesels, met Lucky die hond en Oscar die kat (op die tafel) wat saamkuier.

Die oggendlig speel mooi op die plantversameling wat by die voordeur floreer.

Chris oor die braaiplek

Hoe het julle op die plek vir die braaiarea besluit? Dit was die mees voor die hand liggende plek vir ’n buitevertrek omdat hier privaatheid is. Maar die belangrikste vir ons was om dit onder die groot ou akkerboom te hê – hier is skadu in die somer en son in die winter.

Wat was jul behoeftes vir so ’n plek? Buiten natuurlik die braaikaggel, ’n praktiese buitekombuis met lig en water, asook opskepplek.

Wat het die bouwerk behels? Die braaiplek – die kaggel self en die opskepplek langsaan – is eerste gebou. Regs om die hoek daaragter het ons ’n kombuisdeel met ’n wasbak ingerig. Die vloer is toe gelê met tweedegraadse plaveistene wat op hul sy gedraai is sodat dit meer soos klompies lyk. Vir nog skadu het ons ’n prieel van gegalvaniseerde staal oor die kuierarea gebou. Hier gaan ook nog ’n permanente lang tafel ingebou word.

Hoekom het julle op ’n prieel besluit? Dis die perfekte dak vir ’n buitevertrek. Ons wou nie die uitsig op die berge belemmer met ’n vaste struktuur nie.

Wat rank hier? Ons het ’n bloureën gekies omdat dit in die lente behoorlik drup van die ongelooflikste blomme.

Wat was jul riglyne vir die kies van buitemeubels? Geen. Ons koop net waarvan ons hou en laat dit werk.

Het julle ’n Plan B vir wanneer dit reën? Nee, wat, dan braai ons net nie!

VERSKAFFERS