Foto’s Francois Oberholster | Assistent Suné Esterhuizen

WIE WOON HIER? Kathy en Eric McDonald
WAAR Kuilsrivier, Kaapstad

Een van die eerste dinge wat Kathy en Eric McDonald gedoen het toe hulle 18 jaar gelede by hul nuutgeboude huis intrek, was om twee groot AMC-potte te koop by ’n verkoopsvrou wat van deur tot deur gegaan het.

“Ek onthou dit asof dit gister was,” sê Kathy. “Ons het na die kleiner potte gekyk, en vir mekaar gesê: ‘Nou wat sal ons nou met sulke klein potjies maak?’ Dit was nog voor ons eintlik meubels gehad het!”

Vir die McDonalds is daar min dinge so lekker soos om hul voordeur wyd oop te gooi vir familie en vriende en om seker te maak elkeen gaan gelukkig en, belangrikste van als, trommeldik daar weg. “Ons hou van ’n huis vol mense. Ons verwag almal moet gereeld kom kuier,” sê Kathy.

Eric, ’n elektriese ingenieur, het in Kaapstad grootgeword, terwyl Kathy, ’n tuisblyma van drie en deeltydse modeontwerper, op Mafikeng gebore is maar hoofsaaklik op Standerton, Mpumalanga, grootgeword het. Eric se werk het hulle amper twee dekades gelede Kuilsrivier toe gebring; hulle was een van die eerste gesinne wat destyds op die Zevendal-landgoed laat bou het. Die huis spog met vyf slaapkamers, vier badkamers en vyf groot oopplan-leefareas, asook ’n uitgestrekte agterplaas – alles gebou met die oog op ’n groot en bedrywige huishouding. En Kersfees is geen uitsondering nie!

Die kranse op die agterstoep was ’n gesinspoging: Een is gemaak van opgerolde blaaie uit die Geelbladsye; die ander twee is van oorskietlap.
Goue strooikussing van MRP Home; Tankwa-kussing van Haus; koperlanterns en silwer versierings van Biggie Best

Die McDonalds se kleindogter Kate-Emily speel in die “bos” langs die huis waar die mure toegerank is met klimop en jasmyn.

’n Ekstra informele eethoek is geskep met smal tafels op wiele wat inskuif onder die houtrakke waar Kathy van haar gunsteling- tweedehandse kopies uitstal. Ou naaimasjienstoele dra by tot die rustieke sjarme van dié informele hoekie wat na die agterstoep lei. Fyn breekgoed wat Kathy by haar ma en ouma geërf het beklee ’n ereplek in ’n ou uitstalkas.

In vergelyking met die res van die huis is die kombuis taamlik modern. “So lief soos ek vir my ougoed is, dink ek ’n kombuis is ’n plek waar jy gerus maar die jongste trends kan inbring en dit vars hou,” sê Kathy. Die kaste sonder handvatsels is gespuitverfde SupaWood en die werkblaaie is van Caesarstone.
Vadoek van H&M Home; sagte planthouers vir kruie van Streepsak

Die gesin sing graag gesange om die klavier – ’n erfstuk – onder die trap.
Kersversierings van Biggie Best; mandjie van MRP Home

Familie en vriende

Oor die jare was die McDonalds se huis nie net ’n dak oor hul kinders se koppe nie, maar ook ’n heenkome vir familielede en vriende in nood – en soms selfs vreemdelinge, al is dit net vir ’n maaltyd. “Ons is so geseën; ek help waar ek kan,” sê Kathy. “Ek kan nie eens onthou hoeveel keer ek al ’n behoeftige persoon langs die pad opgetel het nie – my man spot daaroor, maar hy’s bekommerd oor my veiligheid. Ek het al verneem hulle bid in die kerk om my beskerming!”

Toe hul drie kinders – Earl, Carmen en Candice – uit die huis is, het Eric voorgestel dis dalk tyd dat hulle na ’n kleiner plekkie trek. “Maar ek het my voet dwars gesit en gesê: ‘Nee, my kleinkinders is nog op pad!’ ” sê Kathy laggend. Dubbeldeure wat op ’n skaduhoekie langs die huis oopmaak, bring koel lug in die eetkamer.
Matte, kussing (links) en koperplanthouers van MRP Home; strooikussing (regs) van Haus; koperlanterns van Biggie Best

’n Ou krans opgekikker met vars bloekomblare staan pragtig uit teen die voordeur se pers geverfde glas. ’n Groeiende versameling kuns in rame lei die oog al met die trap langs na bo.

Ons droomhuis

Kathy, haar twee broers en vier susters het in ’n kreatiewe huis grootgeword. Hulle het goeie herinneringe van hoe hulle almal hul oorlede ma, Ellen, in die huis gehelp het met die huishouding en kosmaak.

“Dis wat ons verhouding verstewig het – deur te stik, skoon te maak en in die tuin te grawe. Maar dis ook hoe ons geleer het. My ma het graag mooigemaak en was trots op elke liewe hoekie wat sy ingerig het,” sê Kathy. “My huis het ’n soortgelyke styl en ek het nog baie van die meubels wat sy oor die jare bymekaargemaak het.”

Kathy het duidelik haar ma se kreatiewe aanslag geërf; sy’s heeltyd besig met naaldwerk, allerhande kunsvlyt-projekte en, natuurlik, die huis se mooimaak. Nog voor jy by die voordeur instap, is haar kreatiwiteit duidelik te sien in die drie groot geitjies wat sy self met mosaïekteëls in die paadjie ingebed het.

Die glas van die dubbeldeur by die ingang is versier met ’n laag pers verf – ’n onvolmaakte maar vrolike idee wat gaste welkom heet. Binne is ’n groot trap, sy muur tot bo by die eerste verdieping behang met kuns. “As meisie het ek gedroom van die perfekte huis met ’n deftige trap direk oorkant die voordeur – en dié trap is presies wat ek altyd wou hê,” sê Kathy.

Haar huis is vol tweedehandse vondste, erfgoed en skatte uit winkels wat lankal hul deure gesluit het. Sy kan op haar een hand tel hoeveel artikels sy die afgelope paar jaar aangeskaf het. “Wanneer ek koop, koop ek vir altyd. Dis net af en toe dat ek iets sal sien wat ek bittergraag wil hê. Ek koop liewer ’n mooi lamp of raam as ’n rok ...”

Die huis is smaakvol ingerig met fluweelbanke, kuns in swierige rame en kosbare erfgoed.
Strooikussings en geskenksak van Plan B Vintage

Ek piep nie houtmeubels op nie – ek sit dit waar ek dink dit sal werk en laat dit verouder. – Kathy

Toe Orca Baths 18 jaar gelede oopmaak, het Kathy dié pragtige losstaande koperbad daar gekoop – die eerste een wat hulle uitgestal het! “Ek is dol oor die verweerde voorkoms wat dit vandag het,” sê sy. ’n Ou naaimasjientafel wat aan Kathy se ouma behoort het, staan langs die bad in die hoofbadkamer.

Kathy het die kante van ’n veel groter, swierige kopstuk afgesaag om dié een vir die gastekamer te maak. Aan weerskante staan hout-bedkassies wat sy afgeskuur het vir ’n ligter, verweerde voorkoms.

“Ek het die beddegoed in die hoofslaapkamer 18 jaar gelede al by MRP Home gekoop en gebruik dit nog steeds,” sê Kathy. “Dit verbleik nie in die was nie en my kinders én kleinkinders het al heerlik gebaljaar op die beddens – dis nie die soort huis waar kinders sekere vertrekke belet word nie!” Strooikussings van Haus’n Troufoto van Kathy se grootouers en haar eie trourok vorm ’n fokuspunt in die hoofslaapkamer.

’n Ou boekrak dien as Eric se skoenekas.

Tradisievas

“Ek is ’n regte plaasmeisie!” sê Kathy. “Wanneer ek nie in die huis gehelp het nie, was ek en my broers en susters in die tuin onder die vrugtebome. Ons weeklikse bederf, waarna ons baie uitgesien het, was om oor die naweek winkels toe te stap waar my ma vir ons elkeen ’n roomys gekoop het – eenvoudig!

“So jy kan jou indink dat Kersfees ’n groot gedoente was met kos as die middelpunt. Veral vleis en aartappels – die res het maklik onder die tafel beland vir ’n troeteldier, of in ’n potplant!”

Dis dan geen wonder dat ’n feestelike byeenkoms by Kathy se huis ook met vleis begin nie. Die gaarmaakproses, wat sy as “lank en stadig” beskryf, begin op Oukersoggend. “Dis gewoonlik ’n taamlik vroeë begin; ek het in die algemeen nie veel slaap nodig nie en dié tyd van die jaar is ek in elk geval te opgewonde!”

Die ouer sibbe sorg vir die lam en bief (soms vark) en die jongeres berei die tong. “Die regte vleis vra ’n ou hand – ons weet nie wat die jong klomp daarmee sal aanvang nie en wil nie daai kans waag nie!” spot Kathy.

Ná kerk op Kersdag kom almal gewoonlik by die McDonald-huis bymekaar om hul onderskeie geregte af te rond. “Ons moet eintlik elke jaar by iemand anders eet, maar dis vir ons so lekker om by die huis te wees en mense hier te ontvang dat ons maar meestal hier kuier. Boonop is ek en Eric lui vir bestuur; dit pas ons perfek!”

Daar is gewoonlik nie ’n voorgereg op die spyskaart nie. “Almal wag net vir die vleis,” verduidelik sy. “Sodra die eerste stukke voorgesny is, neem ek dit net so in die roosterpan tafel toe – dis gewoonlik ’n skep-en-geniet-affêre.”

Middagete word óf op die groot eetkamertafel óf buffet-styl voorgesit. “Ons etes is ontspanne; almal rek en skep oor en weer en kuier heerlik saam.” Nagereg sluit gewoonlik ’n pavlova en koekstruif in, en agterna gaan sit elkeen agteroor in sy of haar gunstelingstoel.

“Die dag eindig met die kinders wat buite speel met hul nuwe speelgoed terwyl ons ontspan, sjokolade eet en gesange sing tot die son sak ...”

Kathy en Eric se kleinkinders – Juan, Kate-Emily en Liam (oorkant) – maak geskenke oop in die formele sitkamer. Die ornamente aan die boom eggo die goue tema van vanjaar se feestelikhede. “Wanneer dit kom by temas, gaan ek ’n paar dae voor Kersfees winkel toe om te sien wat daar is en besluit dan wat ek wil doen. So maklik soos dit!” sê Kathy. “Soos ek altyd vir my kinders sê: Hoekom winkels toe gaan op soek na ’n oorpak wanneer almal net jeans aanhou?” Die Kersboom is gemaak van wit geverfde houtlatte wat al in die rondte aan ’n tappen geryg is.

1. Kloksgewys van links sit Kathy en Eric se seun Earl en sy vrou, Lezanne, hul niggie Monique en kleinseun Juan, Eric en Kathy, hul dogters Candice en Carmen en kleindogter Kate-Emily.

’n Sithoekie langs die huis met ’n blaardak van klimop, bloureën en jasmyn is waar die goue vrugtepons voorgesit word.
Sterre van Biggie Best; Cecilia Evergreen-strooikussing van Haus

Ons hou van ’n baldadige Kersfees! – Kathy
VERSKAFFERS
  • @home 0860 576 576, home.co.za
  • Biggie Best 021 534 8662, biggiebestwebshop.co.za
  • Haus 0860 437 839, hertexhaus.co.za
  • H&M Home 086 0690 707, hm.com/za/
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Orca Baths 021 931 1204
  • Plan B Vintage 082 491 3677, planbvintage.co.za
  • Streepsak 041 484 6215, streepsak.co.za