Foto’s Francois Oberholster

Wie woon hier? Pippa Lea Pennington
WAAR Koringberg in die Swartland

Aan die noordoostekant het Pippa ’n stoep aangebou wat haar leefruimte vergroot, en omdat die dak-oorhang so breed is, hou dit ook die huis heerlik koel.

Met ’n bevolking van net oor die 1 000, warm, droë somers en golwende geel koringlande is Koringberg wêrelde verwyder van die tropiese KwaZulu-Natalse kus. Maar die Durbaniet Pippa Lea Pennington het dadelik haar hart verloor op die rus en stilte toe sy ’n paar jaar gelede dié koringboerderygemeenskap in die Swartland besoek het om by haar vriendin Anna Kemp te kom kuier.

“Ek het verlief geraak op die landskap en berge, en die vryheid om by jou voordeur uit te stap en jou binne twee minute in die naaste koringland te bevind,” sê Pippa. “In 2015, met my derde besoek, het ek na dié huis kom kyk. Al was dit nou nie juis ’n paleis nie, het ek ’n aanbod gemaak.”

Die huis uit die laat sewentigerjare het heelwat pluspunte gehad: dit front noordoos (ideaal vir warm somers en koue winters), staan op ’n 1 350 m²-erf, en is stewig gebou in ’n eenvoudige styl. Wat die knoop deurgehak het, was die ruim dubbelmotorhuis wat Pippa, ’n kunstenaar, in ’n ateljee kon omskep.

“Ongelukkig het die huis goedkoop, lelike afwerkings van voor tot agter gehad, asook ’n afgryslike swart teëldak en onsmaaklike pers-pienk verf aan die buitemure. Dis boonop heelwat kleiner as al my vorige huise, daarom moes ek mooi beplan hoe ek dit as werkplek vir myself sou inrig, én as kuierplek vir my twee volwasse seuns tussen hul studies deur,” verduidelik sy. Pippa het in die “bloedige hitte van Januarie 2016” ingetrek – met ’n groot opknap op ’n klein begroting in die vooruitsig.

Dit kan nogal bedrywig raak met ’n tafel vol Koringbergers, maar dis altyd lekker om hier te kook en te onthaal. – Pippa

die kombuis, eet- en sitarea

“Die hoof-leefarea was lank en taamlik smal, amper soos ’n treinwa,” skerts Pippa. “Maar die groot skuifraamvensters en oopswaaideure het die somber ruimte behoorlik opgehelder.”

Pippa het ’n knus sitgedeelte aan die een kant ingerig (sien inlas) en ’n kombuis-en-eetdeel aan die ander kant. “Als is ontwerp met gemak as hoofdoel, en mens en hond lewe ewe lekker hier,” voeg sy by.

Omdat dié gedeelte drie “vertrekke” in een is, het Pippa ekstra versigtig beplan aan funksionele bêreplek. “Die kombuislaaie is lekker diep en kan verbasend baie goed hou. Die oop rakke bo, gemaak van steierplanke wat op die perseel gelê het, bied staanplek vir ander gebruiksware en dinge wat ek oor die jare bymekaargemaak het en graag elke dag wil sien.”
Design Team-kussings van Arabesque; dekens van India Ink; kaste met dennehoutblaaie gemaak deur Crystal & Twine op Riebeek-Kasteel

Pippa het ’n smeulkaggel tussen die sitkamer en kombuis laat inbou. “Dis ’n klein wonderwerk. Dit gebruik bitter min hout en maak amper die hele huis binne minute warm. Iemand wat die afgelope 25 jaar in Durban gewoon het, sal nie in ’n koue huis aard nie!”
Skildery met die titel The Green River deur Pippa

Klein huis, groot lewe

Tipies van ’n klein gemeenskap was die Koringbergers vrygewig met hul raad. “Ek het behoorlik die vriendelike inwoners se kennis getap. Waar ek kon, het ek plaaslike vakmanne gebruik en die boumateriaal en afwerkings op die nabygeleë dorpies Piketberg en Moorreesburg gekoop,” verduidelik Pippa.

Heel eerste het sy die dakteëls met wit Chromadek-plate vervang, en al die ou staalraamvensters en stukkende deure met hout. Al die afwerkings is uitgehaal – van die toebehore in die badkamer en kombuis tot die vloerteëls.

“Ek het nou met die bouer saamgewerk, al die materiaal self bestel en seker gemaak dis op die perseel wanneer die bouer dit nodig gehad het. Só het ek tyd en geld bespaar. Die dak, deure en vensters was my grootste uitgawe, maar dit was elke sent werd,” sê Pippa.

Sy het in Maart 2015, ná twee maande se werk, ingetrek, maar die huis was nog ’n “deurmekaarspul van epiese proporsies”. Met die hulp van ’n paar ongelooflik talentvolle en vindingryke plaaslike vakmanne kon sy die afwerkings takel. “En my Afrikaans is nou strate beter!”

Luister jy so na hoe liries Pippa oor haar nuwe lewe op ’n kleiner plekkie gesels, is dit duidelik nie net haar Afrikaans wat nou beter is nie. “My lewe op Koringberg kan nie méér verskil van my lewe in Durban nie, maar ek kan my nêrens anders voorstel nie. Ek is ’n kunstenaar, en ek kan enige plek werk; ek hoef nie in ’n stad te woon nie. Ek put eindelose inspirasie uit die landskap en verken graag die omgewing.

“Ek sal nooit moeg word van hier woon nie. Die berge lyk elke uur van elke dag anders – soms is dit glashelder en ander kere is dit so mistig dat jy dit skaars kan sien. Dis so lekker om onder die sterre huis toe te stap nadat ek iewers gaan eet het, en ek voel net so gelukkig. Soos iemand onlangs vir my gesê het: klein huis, groot lewe.”

Pippa het die klimaat in ag geneem toe sy besluit het op naaswit afgevlakte sementvloere vir die hele huis. Dit komplementeer nie net die palet nie, maar laat die huis ook koeler voel wanneer die temperatuur in die somer die hoogte inskiet.
Foto: Peter van Noord

Ek wil hê my lewe moet eenvoudig en ongekompliseerd wees, ’n goeie rede om nie te veel pakplek te hê nie. – Pippa

Danksy ’n nuwe Chromadek-dak, gesellige stoep, houtvensters en -deure en ’n natuurlike kleurpalet het Pippa die huis verander van “ablusieblok” tot aanloklike, rustieke woning.
Vensters en deure van Swartland Windows and Doors; verfwerk en afwerking deur Willem Jagers

Die slaapkamers

“Die twee slaapkamers is klein, maar die uitsig maak ’n groot verskil,” sê Pippa. Die hemelbed in die hoofslaapkamer lei die oog boontoe, wat die illusie van ruimte skep. “Dié bed kom uit my huis in Durban; ek was nogal benoud toe ek dit weer begin aanmekaarsit – ek was bang dis dalk te groot vir die vertrek! Ek versier die bed volgens my luim en ek is dol oor die Indiese styl. Ek kan India Ink se lap nie weerstaan nie; die kleur en tekstuur kan enige vertrek ophelder.”

Pippa het dakwaaiers en hortjies regdeur die huis laat installeer vir koelte in die somer en warmte in die winter.
Kussings en dekens van India Ink

Tigger is heel tuis in die hoofslaapkamer. Die afdruk bo die bed is van ’n koraalboom; dis deel van ’n beperkte reeks afdrukke van Pippa se oorspronklike pasteltekeninge.

Die badkamer

“Die ou badkamertjie was ’n regte uitdaging,” sê Pippa. “Ek het die idee gehad vir die industriële staalleer; dit hou vier handdoeke met gemak en neem nie veel ruimte in beslag nie. Die wasbakkas het ook ’n rak vir handdoeke en ander linne. Ek het ’n aparte toilet langs die opwaskamer aangebou.”
Spieël en wasbakkas van Crystal & Twine; grys handdoeke van Mungo Design

Ateljee en gastekamer

Pippa se gunstelingruimte, die 45 m²-ateljee, is loshande die grootste vertrek in die huis. Dit doen ook diens as gastekamer, en danksy lekker groot rottangmandjies onder die tafels is dit deels pakkamer.

“Dié ateljee is wat ek nog altyd wou hê. In vorige huise het ek altyd my gesin se behoeftes eerste gestel en my eerder in enige beskikbare hoekie ingeprop. Nou kan ek soveel ruimte geniet as wat ek wil. My werk het baie detail en dit kos lang ure se werk om klaar te maak waarmee ek begin het; toe installeer ek wat na my mening die wêreld se grootste lugversorger is. Dit raak baie warm op Koringberg en dis lekker om in ’n koel ruimte te kan werk.

“Die ateljee is groot genoeg vir my drie honde en my twee volwasse seuns, wat albei ’n groot deel van hul meesterstesis hier geskryf het. Nes ek hou hulle van die kalmte, die uitsig en die lig. Dit voel soos ’n ruimte wat kreatiwiteit en produktiwiteit aanwakker.”

“Die skilderye wat hier staan, verander na gelang van wat in my ateljee is; hier staan soms werke wat oor is ná ’n uitstalling, of stukke wat nog uitgestal moet word,” sê Pippa.

Die finale afronding

As ’n kunstenaar wat meestal met olieverf werk, het Pippa komposisie en die kleure van die landskap in ag geneem toe sy ’n kleurpalet vir die huis gekies het. Sy verduidelik: “Die buitemure is dieselfde blou as my Plumbago se blomme; die vensters en deure is geverf in Plascon Soft Lead, ’n houtskoolgrys-blou, met wit omrandings. Saam met die sagte bottergeel van die CreteStone-binnemure skep die palet ’n lieflike gevoel van buitelug en berge buite, en koringlande binne.”

Kontakte en verskaffers
  • Arabesque 021 424 1234, arabesqueshop.co.za
  • Crystal & Twine 022 448 1290
  • India Ink 083 300 2114
  • Mungo Design 044 533 1395, mungo.co.za
  • Pippa Lea Pennington pippaleapennington.com
  • Swartland Windows and Doors swartland.co.za
  • Willem Jagers 082 174 9417