Foto’s Elza Cooper • Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER? Johnny Scholtz en Bryony Webster
WAAR Melville, Johannesburg
GROOTTE ± 270 m²

”Bryony Webster se passie vir boheemse dekor is duidelik sodra jy oor haar drumpel trap.

“Ek’s ’n versamelaar,” sê sy. “Ek hou van patrone en sit allerhande goed bymekaar in ’n samehangende geheel.” Sy en haar man, Johnny, het net minder as ’n jaar gelede by dié huis ingetrek en omdat daar nie strukturele veranderinge nodig was nie, kon sy dadelik begin mooimaak. En sy het haar hart en siel daarin gestort om ’n dinamiese, kleurvolle ruimte te skep.

“Boheemse dekor is vir my ’n emosionele reis. Dit gaan oor wat goed voel in jou ruimte, wat tot jou spreek en jou gelukkig maak. Dit gaan daaroor om nié die trop te volg nie!”

Bryony het die kuns van ’n boheemse styl nou goed onder die knie, maar sy erken dit het haar ’n rukkie geneem. “Ek het jare lank ’n soort boheemse styl gehad, maar nadat ek The New Bohemians Handbook deur Justina Blakeney gelees het, en haar blogs twiets begin volg het, het ek duidelikheid gekry,” vertel sy. “Dit het my gehelp om my ten volle uit te leef in wat ek as mooi en sag op die oog beskou.”

Bryony ontspan saam met Beatrix die Jack Russell en Dash die beagle in die sitkamer. Die kunswerk teen die muur agter haar is deur haar suster, Jessica Webster. Hoekbank van Coricraft

Bryony hou van die detail in vintage-spieëls. “Die interessante vorms en fyn afronding maak dit soveel lekkerder om in so ’n spieël te kyk.

Ek stal als uit wat ek het – tot my hoede, serpe en juweliersware. Alles was óf geskenke van vriende óf tweedehandse kopies. – Bryony

’n Fyn kuns

Bryony het haar daarop toegespits om ’n ruimte in te rig wat haar persoonlikheid weerspieël. “Ek het ’n duidelike idee gehad van die lap, kussings en kleure wat ek in my dekor wou gebruik.” Maar om die regte artikels in die hande te kry om dié visie te realiseer, was ’n uitdaging.

“Ek is mal oor die tekstiele en die kleurpalette van Marokko, Indië, Turkye, Mexiko en Peru. Boheemse items is volop op Pinterest, Instagram en Etsy, maar baie van dié goed is net nie hier te kry nie of is peperduur. Dis toe dat ek die idee kry om ’n aanlyn- winkel, Furbelow, te begin.”

Furbelow is ’n 17de-eeuse woord wat “versier met tooisels” beteken – presies wat Bryony in haar eie ruimte doen. Trouens, sy gebruik haar huis as uitstal- plek vir die produkte wat sy aanlyn verkoop. “Dis bietjie soos ’n ateljee en gee my klante ’n idee oor hoe om hul eie ruimtes te stileer, want dit kan nogal oorweldigend wees as dit vir jou ’n nuwe ervaring is.”

Bryony skep versamelings met haar vondste uit liefdadigheidswinkels en stal dit dan met trots uit. So kry mandjies en spieëls, hoede en blomme almal ’n plek in dié huis. Die Kutch-vloerkussings in die hoof-sitkamer kom van Indië en die Ghlamkar-blokdrukdoek oor die stoel van Iran.

Kleur en tekstuur

Bryony snuffel graag saam met Johnny by antiek- en liefdadigheidswinkels, maar sy het ook al groot sukses behaal met aanlyn-inkopies. “Ek het die art deco-sitkamerstel en heelparty van my kleurvolle matte raakgeloop terwyl ek na tweedehandse goed op die internet gesoek het.”

Tussenin is daar ook ’n paar erfstukke, soos die Persiese mat in die sitkamer wat sy by haar groottante Evelyn Eedes geërf het. “Ek het baie van die patrone gehou, maar dit was so ’n ongewone mosterd en bruin kleur dat ek nie mooi geweet het hoe ek dit kan laat werk nie. Toe besluit ek om die hele vertrek net so intens soos die mat te maak: Ek het die mure turkoois geverf en die rooi art deco-stel gekoop. Saam skep dit ’n eklektiese ruimte. En om die prentjie te voltooi het ek ’n skildery deur my kunstenaar-vriendin Maja Maljevic opgehang; haar kuns vat al die kleure, die helderheid en intensiteit van die vertrek perfek saam.”

Een ding is seker: As iets met Bryony praat, sal sy ’n manier vind om dit te gebruik – of dit nou ’n kleur, patroon of ontwerp is. “Ek beplan al klaar om weer die mure te verf. Ons speel met die idee om swart verf in die sitkamer, grysbruin in ons slaapkamer en perske in die gang of eetkamer te gebruik,” vertel sy. En voeg ná ’n diep asemteug by: “Ons sal nog daarby uitkom. Dis ’n voorkoms waaraan ons stadig maar seker bou.”

In die kombuis deel ’n versameling koekiehouers die kollig met ’n ry teepotte.

Bryony skep lae tekstuur en kleur met huisplante. “Wat ’n wonderlike manier om ’n ruimte te vul en groener te maak. As ek kon, sou ek nog honderd plante in my huis sit!”
Reënboogmandjie met krale van Furbelow

Die Indiese Toran bo die bed in die hoofslaapkamer met sy pragtige geperste plafon is meer as 100 jaar oud. Volgens die Hindoe-tradisie sal die godin Lakshmi jou huis met rykdom en vreugde vul as jy ’n Toran by die ingang hang.

Die ou kis is al vier geslagte in Johnny se familie. Sy oupa het die pootjies aangesit en sy ma het die oorspronklike patroon blootgelê en die verfwerk gedoen. “Ek is so bly toe dit na ons toe kom, want die kleure werk so goed in ons huis.”

1. Bryony het dié stoeltjie by haar ouma geërf. “Sy het die tapisserie self gedoen en dis vir my baie kosbaar.” Die Inka-mat was ’n MRP Home-kopie van ’n paar jaar terug. “Ek is mal oor al die kleure! Trouens, ons het getrou op daai mat,” sê Bryony. 2. Die lintgordyn agter die kopstuk in die gastekamer was ’n geskenk van ’n goeie vriendin. “Dis so maklik om te maak: Jy bind eenvoudig stroke lap aan ’n stuk vislyn en gebruik dit dan as gordyn, muurbehangsel, agtergrond ... net wat jou hart begeer!”

1. Die plantstaander in die gastebadkamer was ’n kopie van bidorbuy.co.za.

Steel met die oog

Wil jy ook ’n boheemse ruimte skep? Bryony verklap haar top-wenke:

  1. Skep lae met kleur en tekstuur. Gebruik geborduurde tekstiele met tossels in verskillende kleure, asook dekens, kwilts en kussings vir trefkrag.
  2. Meng en pas oud en nuut. Vintage-artikels is baie nuttig as jy ’n boheemse gevoel wil skep.
  3. Skep ’n galerymuur. Gebruik enigiets van mandjies en borde tot geraamde prente of skilderye (of al dié elemente) en hang dit bymekaar.
  4. Gebruik soveel plante as wat jy kan. Vul enige hoekie of leë kol daarmee, of hang dit aan macramé van die plafon af. Dit gee jou huis ’n geheimsinnige “woud”-gevoel.


KONTAK EN VERSKAFFERS