Christina het ’n liefde vir vintage en versamelgoed, soos haar ouma se handspieël- en borselstel op haar spieëltafel. “As iets nie ’n geskiedenis het nie, ag, dan is dit so betekenisloos,” voel sy.

Toe Aldridge Jacobs op ’n dag by die huis kom en ’n gekap hoor, was hy nie te verbaas nie. Sy vrou, Christina, is immers nie een vir rondsit en wag dat dinge gebeur nie. Nietemin het hy nie verwag om haar met ’n vyfpondhamer aan te tref in wat daardie oggend nog ’n aparte kombuis was nie.

Dié ma van drie – Monquer (35), Aldridge (33) en Charlotte (31) – lag alte lekker wanneer sy die storie vertel. “Ons woon al sedert 1987 hier in Kraaifontein. Die huis was twee jaar oud toe ons hom gekoop het, maar ek kon nie die beknopte kombuis vat nie. Toe Al daardie dag by die huis kom, sien hy net bakstene waai soos ek die kombuismuur uitkap. Ek wens jy kon sy gesig sien!” 

Die potterak bo die stoof is nog een van Aldridge se skeppings. 

En dan was daar die keer toe sy die vloer geteël wou hê, want met die volvloermatte kon sy ook nie meer saamleef nie. Aldridge het net die tradisionele terracotta-kleiteëls begin lê toe Christina besluit sy spring self in. “Ek wil mos ’n ding tjop- tjop klaarkry en hy het net te stadig geteël na my sin!”

Ná 38 jaar is dié oud-onderwyser gewoond aan Christina se manier van doen. “Ja, wanneer sy eers ’n idee in haar kop kry, weet ek hier kom werk vir my. Ek leef maar in haar skaduwee,” grap Aldridge. “Nie regtig nie,” sê Christina. “Al is verdraagsaam, maar hy raak ’n bietjie opstroppelis wanneer ek die meubels so rondskuif. Hy is die een met die grade en hy was my eerste kêrel. Ek het die skool jonk verlaat; ek het altyd hard gewerk aan alles wat ek aanpak.” 

Die stoele is met Annie Sloan-verf geverf; die pienke is ter herinnering aan Tuis se voormalige redakteur, Anneke Blaise, wat aan kanker oorlede is, asook twee vriendinne wat borskanker gehad het.Stoele geverf in Duck Egg Blue en Scandinavian Pink 

’N LIEFDE VIR VINTAGE EN VERSAMELGOED

“Ek gaan nie agter trends aan nie,” verduidelik Chris na. “Ek skep ’n gevoel, nie ’n styl nie. Ek koop wat met my praat en wat my herinner aan my kinderdae – landelik en vintage is waarvan ek hou. Daar’s min nuwe goed in my huis; amper net die yskas en stoof. “Ek hou van sagte kleure – witte, gryse en groene – en verf graag my meubels so met krytverf. Ek’s ’n romantiese mens en ’n versamelaar. Ek het jare lank ou porselein en eetgerei versamel. Al moet my net keer wanneer ek ’n mooi teepot sien; hulle staan al tot in die opwaskamer ...

“My ma het my geleer: Jou familie is die eregaste in jou huis. Sy het niks gebêre vir ’n spesiale geleentheid nie. Als op my rakke is gebruiks­ goed; dis nie vir uitstal nie,” beduie sy na haar kombuisrakke. En as ouma van Monquer en vroulief Cindy se kleinspan – vier kinders tussen ses en 16 – hou sy by dié beginsel: “As hulle iets breek, is dit oraait. Niks is so spesiaal dat dit belangriker is as my mense nie.” 

Die sitkamer is waar Christina graag lees en stiltetyd hou. Sy het die rusbank tweedehands by Frantique gekoop en hul seun, Aldridge, het die houtkis gemaak. Kussings (buiten pienk blomkussing) van Lula Fabrics. 
Haar silwerware en spieëlversameling is alles tweedehandse kopies, buiten die groot ovaal een van Hadeda. Kruike op vloer en wit-en-blou vas van Milieu 

Die bed in die hoofslaapkamer, ’n geskenk, is meer as ’n eeu oud. Aldridge het die laaikas vir Christina gekoop: “Toe ek by die huis kom, het hy dit klaar geverf ook.” Die gehekelde deken – eintlik ’n tafeldoek – het Christina vir klere en linne by ’n smous geruil. Sy het die strooikussings gemaak van ’n U&G Fabrics-reeks (gestaak), en ook self die bedlinne gemaak. 

“Ons kamer is vir my ’n absolute ontvlugtingplek. Dis agter in die huis, perfek vir middagslapies,” sê Christina.

Die klerekaste was blink imbuia wat Christina sowat 20 jaar gelede laat spuitverf het. Die borsel en handspieël was haar ouma s’n. 

Die badkamer het ’n Franse gevoel, ’n styl waarvoor Christina lief is. Die wastafel is haar ouma s’n. Die muurplate het sy by haar suster, Maureen Harwood, gekry toe sy en Charlotte in Amerika by haar gaan kuier het. “Charlotte moes met die´ plate op haar skoot terugvlieg omdat ek ’n stapel handgeverfde bakke op myne gehad het!” 

’N KREATIEWE ENTREPRENEUR

Haar liefde vir harde werk en haar kreatiewe streep het van Christina ’n ware entrepreneur gemaak. Toe wit bedlinne nie geredelik beskikbaar was in Suid-Afrika nie, het sy beddegoed met die e ket Kamore Designer Linen van gehalte-perkalkatoen gemaak en landwyd versend. Tussendeur het sy en Aldridge ’n kleuterskool in hul buurt gebou en bedryf. Maar ná 15 jaar was sy gereed vir ’n nuwe uitdaging.

“In 2007 het ek my eie meubel-en-dekorwinkel, The Black Rose Interior, op Stellenbosch oopgemaak. Teen 2008 het ons uitgebrei tot The Black Rose Café, Art and Décor.”

Einde April 2013 het sy dié gewilde eet-en-kuierplek verkoop. Deesdae is sy en Aldridge saam betrokke by hul CJA Training Academy. Hy lei onderwysers op en Christina doen spyseniering en gee kooklesse – enigiets van vinnige etes tot Mexikaanse, Kaaps-Maleise en Suid-Afrikaanse geregte.

“Maar almal soek altyd my kerrie; my kinders ook.” (Die Tuis-span sukkel juis om op die fotosessie te fokus, want in die kombuis prut ’n lamskerrie met die hemelse geure van gebraaide uie, kardemom, steranys ...)

Stilsit is sowaar nie haar ding nie. Sy lees ook graag, skryf gedigte, doen naaldwerk, brei en hekel. En ja, sy het reeds met ’n uitgewer gesels oor haar kookboek. “Back to Basics, wil ek dit noem ... Maar kom sit eers vir kerrie. ’n Kuier was nie volmaak as jy nie geëet het nie,” nooi sy, en se^ kwaai: “Moet net nie dink julle gaan nou stadiger foto’s neem ná ete nie, nè?” 

In dié video kan jy in haar sag en romantiese huis inloer, en vertel Christina so ’n bietjie oor haar dekor-filosofie.

VERSKAFFERS

Annie SloanCJA Training Academy 060 715 6381
Frantique 072 439 3933
Lula Fabrics 021 797 7472
Hadeda 011 788 9859  
Milieu 021 883 3441  
U&G Fabrics 011 444 616


Deur Marian van Wyk

Foto's Francois Oberholster

Video Shané Barnard