Wie woon hier? Andries en Jayne Brink en hul seun, Ben (20 maande)
WAAR Hunter’s Home, Knysna
GROOTTE 380 m2

In 2012 het Andries en Jayne Brink hul eerste huweliksherdenking gevier met ’n naweek weg op Knysna. Maar dié naweek was nie net ’n romantiese wegbreek nie – die jong getroudes was vuisvoos ná ’n hoogs onsuksesvolle huissoek-ervaring in “Kaapstad se genadelose eiendomsmark”.

“Ons harte is keer op keer gebreek en ons het gou besef ons moet ons begroting verdubbel en ons verwagtinge oor grootte en buiteruimtes halveer,” sê Jayne.

“Op Knysna het ’n advertensie vir ’n interessante eiendom ons oog gevang,” onthou Jayne. “Maar daar was ’n misverstand, en uiteindelik het die huisagent ons na dié huis toe gebring.”

Dit was liefde met die eerste oogopslag, en soos die geluk dit wou hê, het die provinsiale hospitaal ’n pos gehad vir Andries – hy is nou die kliniese bestuurder daar. Hy het hoeka sy gemeenskapsdiens van 2009 tot 2011 op dié lieflike kusdorpie voltooi, so vir hulle was die skuif soos ’n tuiskoms.

Die sit- en eetkamer maak oop op die groot buite-area waarvoor die Brinks ’n eetkamertafel laat pasmaak het. “Dit moes smal genoeg wees dat genoeg mense gemaklik kan gesels, glasies klink en borde oor en weer aangee, maar lank genoeg dat dit soos ’n fees voel wanneer die tafel kreun onder die kos en oorloop van samesyn.” Hulle het die tafel en buffetkas dieselfde grys laat maak omdat dit van verskillende soorte hout is.

Ons gebruik elke liewe dag ons stoep, ongeag die weer. Ons kuier graag ’n paar keer per week saam met vriende om die braai, regdeur die jaar. – Jayne
Foto: Francois Oberholster
Die stoep is Andries se gunsteling-plek. Hy is ’n kranige voëlkyker en sit graag hier met ’n koppie koffie terwyl hy die Knysna-loeries dophou. Rottangstoele van Ffiago (wat intussen toegemaak het); hanglamp van Weylandts
Jayne se passie vir tafel dek het as kind begin – daar was altyd gaste aan haar ouers se eetkamertafel. “Ek glo ’n tafel wat met sorg gedek is, kan ’n eenvoudige maaltyd soos ’n koningsmaal laat voel.” Messegoed, voël-bord en servet van Madam Botany

“Ons sou nooit kon dink dat ons herdenkingsnaweek op Knysna ons weer hierheen sou bring nie, en ons glo steeds die huis was die beslissende faktor!”

Hulle het in Junie 2012 oordrag geneem. “Ná ons maande lange soektog na ’n huis wat ons sak sou pas in Kaapstad, is ons so beïndruk met die gevoel van ruimte en privaatheid wat dié eiendom bied. Die huis is reg langs ’n groen strook geleë, wat dit heerlik afgesonder laat voel, en danksy die welige tuin hoor of sien ons nooit bure of verbygangers nie.”

Danksy die welige kusplantegroei wat die staalraamvensters van vloer tot plafon in ’n treffende fokuspunt omskep, is gordyne in die sitkamer onnodig. ’n Ou weermagkampbed (’n tweedehandse vonds) doen diens as koffietafel. Die vloere in die kombuis, sit- en eetkamer is alles sement. Sementvloere afgewerk met Cemcrete Cretecote in grys; houtskool muur geverf met Plascon Inspired in Magic Noir; metaalraamwerk deur Knysna Steelworks (intussen toegemaak); rusbank van Klooftique
Kyk hoe mooi!
Jayne het die staalraamwerk vir die rakke op maat laat maak om die groot muur te bedek. “Dit was ’n bekostigbare en doetreffende oplossing,” sê sy.
Vir die ingang het die Brinks eenvoudige, dog funksionele meubels gebruik. “Dit het ’n rukkie geneem om die regte elemente bymekaar te sit,” sê Jayne. Die William Kentridge-afdruk bo die konsoletafel – ’n trougeskenk – was die enigste kunswerk wat Jayne gegryp het toe sy in Junie voor die rampspoedige brande moes vlug.
Toe die paartjie die huis gekoop het, was die kombuiskaste helderpienk; hulle het dit in mat swart laat spuitverf.
Ek hou daarvan dat ons kombuis nie afgesonder van die res van die huis is nie en dat ons gaste kan saamkuier terwyl ek ’n maaltyd aanmekaarslaan. As ’n taamlik ongeorganiseerde kok is ons opwaskamer ’n uitkoms! – Jayne

Een met die natuur

Die huis het min werk nodig gehad – niks meer as ’n laag verf nie.

Daar was heelwat argitektoniese detail wat die Brinks aangestaan het, een daarvan die swart staalraamvensters.

En dan natuurlik die ruim buitekuier-area. “Ons het dit nog altyd geniet om te onthaal en ons het met die intrapslag geweet dít gaan ’n heerlike kuierplek wees,” sê Jayne. Die ruimte front noordwes, maar in die somer hou die dak die son uit terwyl die welige kusplantegroei die ruimte koel hou.

Met die lang tafel, gemaklike sitplek en kaggel is dit die ideale plek om tyd deur te bring met familie en vriende, of om ná ’n besige dag saam te ontspan. “Ons kuier graag ’n paar keer per week saam met vriende om die braai, regdeur die jaar. Daar was al op ’n keer meer as 20 mense aan tafel, maar ons sit gereeld hier aan, al is dit net ons drie.”

Jayne glo dat selfs die mees funksionele artikels ook mooi moet wees, en het dié filosofie regdeur haar huis toegepas.

“Ek omring my graag met interessante, ongewone en pragtige items. Ek en Andries het albei in mooi huise grootgeword en ek dink dit beïnvloed regtig hoe ’n mens lewe,” verduidelik sy.

Tafel

Ons hartsgoed

“Ons huis vertel beslis die verhaal van ons lewe saam en dit verander heeltyd,” sê Jayne. “Toe ons die huis gekoop het, het ons ’n klein begroting vir dekor gehad, so ons het oor die afgelope vyf jaar geleidelik dinge bygevoeg. Ons hou van tweedehandse meubels met karakter en snuffel gedurig deur Knysna se tweedehandswinkels op soek na ongewone winskope.

“Ons is nou eers halfpad, maar het die bewuste besluit geneem om vir eers sonder goed klaar te kom tot ons iets kan koop wat ons regtig na aan die hart lê.” In die eetkamer vorm die baksteenmuur ’n tekstuurryke agtergrond vir die meubels, ’n gebalanseerde mengsel van oud en nuut.

Andries het die tweedehandse vertoonkas in die eetkamer self afgeskuur. Die paartjie is dol oor die verweerde voorkoms van die Cemcrete Cretecote-vloer. Die paar Mothmask-litografieë deur Judith Mason was ’n geskenk van Andries se ma, Marieta Brink.

Die vorige eienaars het die garage omskep in ’n sonnige hoofslaapkamer met sy eie aantrekkamer en badkamer en suite. Die neutrale dekor skep die rustige atmosfeer waarvoor die paartjie so lief is. Bedlamp, staanlamp en ronde mat van Weylandts.

Ek sal eerder tyd by die huis deurbring as om rond te ry. – Andries

Sonder fieterjasies

Die naweek op Knysna het die paartjie veel meer as net ’n nuwe huis en werk vir Andries in die sak gebring. Sunshine die Labrador was deel van die transaksie, want die vorige eienaars kon haar nie met hulle saamvat nie.

Dit het ook die weg gebaan vir ’n nuwe loopbaan vir Jayne, wat nou saam met haar goeie vriendin Gina Potgieter die mede-eienaar is van ’n klereboetiek genaamd Two on Toast, en ’n leefstylwinkel, Madam Botany, wat spesialieer in botaniese kuns, geskenke, asook tuin- en ander bykomstighede.

Jayne se pa, Roger Naisby, is ’n kranige tuinier wat haar liefde geïnspireer het vir als wat groen is en groei. “Ongelukkig het ek nie sy groen vingers geërf nie,” lag sy. “Maar ek deel sy passie vir groenigheid en bring graag die natuur se mooi by die huis in.

“Die teksture en kleure van Afrika is vir ons so mooi en speel ’n rol in hoe ons ons huis inrig. Ons hou van leer en dierevelle, mandjies, hout en seil, warm, natuurlike kleure en patrone hier en daar ...”

Jayne erken dat ’n baba en twee honde – hulle het ook ’n rifrug, Hunter – jou dekorkeuses kan inperk. “Maar ek en Andries voel albei dat ons ’n huis wil hê waar ons lekker kan leef, pleks van een wat perfek is; ons moes eenvoudig duursame meubels en lap kies.

“Ons leerbank was ’n briljante keuse wat die honde en Ben betref. Die plooie en krapmerke gee dit karakter. Om eerlik te wees, ek dink die bank lyk die heel beste wanneer ons rifrug hom daarop uitstrek. Die kleurryke kelim was nog ’n wonderlike keuse omdat dit nie elke glipsie of voetspoor wys nie.

“Ons het so baie glas-oppervlakke in ons huis, maar ek weet dit gaan vir die volgende paar jaar oortrek wees met taai vingerafdrukke – en dis oukei.”

Verskaffers