Foto’s Elza Cooper • Stilering Juané Scheepers

WIE WOON HIER? Johan en Lydia Maree met hul kinders, Emily (8), Juli (7) en Leroux (3)
WAAR Southdowns-landgoed, Centurion
GROOTTE 600 m²

Kort nadat Johan en Lydia Maree ’n erf in Centurion gekoop het met die plan om hul droomhuis daar staan te maak, het Johan se werk as aktuaris hulle die geleentheid gegee om vir ’n paar jaar Zambië toe te verhuis. Hulle wou nie die kans van ’n nuwe avontuur laat verbygaan nie, maar hulle wou ook nie die projek uitstel nie. Toe doen hulle iets waarvoor min mense sou kans sien – hulle is sak en pak weg, en het die huis in hul afwesigheid laat bou!

“Almal het gedink ons is gek,” sê Lydia. “Ons het wel elke drie maande kom inloer, maar al die kommunikasie met ons kontrakteurs – van die planne optrek tot die kies van afwerkings – moes oor WhatsApp en Skype gebeur!”

Die proses was veral moeilik omdat Lydia ’n spesifieke visie gehad het vir die huis se argitektuur en dekor. Daarom het sy in 2014, ses maande voor hul vertrek, ’n lêer begin saamstel wat alles in noukeurige detail uiteensit: van die vierslaapkamerhuis se uitleg, beligting en sanitêre toebehore tot toestelle en verfkleure. Dít het sy ’n paar dae voor hul vertrek aan die argitek, Len Joubert, en die kontrakteurs Kosie Combrinck en Johann Bodenstein van Elcon Projects, oorhandig.

“Kosie het gesê hy sou nie die projek daarsonder kon voltooi nie, en hy het nie ’n voet op die perseel gesit sonder daardie lêer onder sy arm nie,” sê Lydia. “Ek dink hulle was baie dapper om ’n projek aan te pak terwyl die eienaars in die buiteland is, maar hulle het hulle regtig oortref.”

Die voordeur met sy loodglasvensters maak oop op ’n ruimte van dubbel-volume. “Dié deur was een van ons eerste kopies nadat ons die erf gekoop het,” sê Lydia. “ ’n Vriendin het dit by ’n antiekwinkel in Dunkeld gesien. Sy’t vir my ’n foto gestuur en ons het dit sommer die volgende dag gaan koop. Dit is 150 jaar oud en was voorheen die ingang van ’n boetiekhotel in Argentinië. Die spieël regoor die voordeur is ook antiek – dit was ’n venster in ’n klein katedraal in Europa en ek het dit by Koöperasie Stories op Franschhoek gekoop.” Loodglas-kunswerk deur Fanus Boshoff; hanglampe van Amatuli, @home en Weylandts; Huis is geverf in die kleur Plascon Offshore

“Geel inspireer ons en laat ons opgewek voel, so dis ’n goeie keuse vir ons studeerkamer,” sê Lydia. Die wit streep was eintlik ’n glips. “Ek was besig om die wit muur geel te verf toe my vriendin Leonie inloer vir ’n koppie koffie. Nadat ons verwer klaargemaak het met die boonste deel, het ek van onder af boontoe begin werk. Ek was amper klaar toe Leonie hier kom; daar was net ’n smal wit strook oor. Sy’t gesê: ‘Sjoe, dit lyk so koel! Waar het jy die idee vir ’n wit streep gekry?’ Toe los ek dit so!”

Dié uitspan-hoekie kyk uit op ’n swembad in die agterplaas. “Ons kuier graag hier saam met vriende oor ’n drankie en iets te ete; dis perfek omdat die ouers rustig kan kuier en steeds ’n oog oor hul kinders kan hou terwyl hulle swem,” sê Lydia. Die vertrek het ook ’n uitsig op die inheemse groen strook daar naby. Stoele, rusbank en hanglampe van Weylandts; tafel van Sevens; mure geverf in die kleur Plascon Mandarin Tusk

Ontblote bakstene, sement en aluminium weerspieël die paartjie se voorliefde vir industriële dekor, terwyl die kombuiskaste van eike- en okkerneuthout warmte verleen. Lydia het die kombuis ontwerp om kompak te wees. Hortjiedeure van eikehout aan die linkerkant lei na ’n opwaskamer; aan die regterkant maak die ruimte oop op ’n toegeboude stoep met ’n koffiehoekie/wynkroeg, formele eetkamer, asook ’n braaivertrek. Kombuis geïnstalleer deur Martin Meyer Kitchens

Ons is dol hieroor!
Van die vloere is afgevlak vir ’n industriële voorkoms en om die plafonne van rou bekiste beton te komplementeer. Vloer afgevlak met Saint-Gobain Weber in die kleur Pebble

Industrieel sjiek

Lydia het haar passie vir binneontwerp, wat sy al sedert haar kinderdae slyp, ingespan om die dekor vir haar gesin se huis tot in die fynste detail te beplan.

“Ek onthou hoe ek een keer my pa se hele garage pastelpienk geverf het. Ek was maar agt, en soos jy jou kan indink, was dit op die ou end nie net die mure wat pienk was nie,” sê sy laggend. “Dit was nog altyd vir my lekker om ruimtes mooi te maak; my ma was altyd aan’t dekorstukke verf en sy het ’n natuurlike flair vir binneversiering.”

Lydia kry haar inspirasie uit tydskrifte, op Pinterest en van foto’s wat sy neem wanneer sy met vakansie is. Vir haar eie huis wou sy ’n kenmerkend industriële voorkoms buite hê, asook industriële dekorelemente binne om die ruimtes met mekaar te verbind. “Len, ons argitek, het konsepsketse gemaak van ’n huis met ’n moderne, industriële gevoel, met tipies vierkantige argitrawe en meer reguit lyne,” verduidelik Lydia.

“Dit was pragtig, maar ek wou ook hê ons huis moes weerspieël wie ons is. Ons het juis vir Len gekies weens sy kunstige flair en vermoë om interessante ruimtes met gemaklike vloei te skep. Hy het ons toe gehelp om ons stempel op die ontwerp af te druk, byvoorbeeld met geboë argitrawe van rooi sierstene om die buitedeure en vensters.”

Die meubels is ’n mengsel van moderne stukke en tweede-handse kopies met sagter fatsoene. “Die truuk is om ’n duidelike visie te hê en nie kop te verloor met mooigoed wat nie by jou styl pas nie,” sê Lydia. “Ek voeg graag moderne en antieke stukke met interessante lyne en materiaal van goeie gehalte saam.”

Die Marees is ’n gesin van vyf, wat ’n groot invloed op die huis se beplanning gehad het. Dit moes mooi én gemaklik wees. “Ek wou hê die kinders moet dit geniet om tyd by die huis deur te bring, so ek is nie gepla as hulle speelgoed ondertoe bring of ’n tent in die sitkamer opslaan nie. Hulle geniet dit om die toegeboude stoep as verhoog te gebruik met rekwisiete en al. En my driejarige ry selfs sy fiets in die huis,” sê sy.

Ons is dol hieroor!
Toe ’n klein, ongebruikte stoep naby die kombuis toegebou is vir dié koffiestasie/wynkroeg, het Lydia besluit om die baksteenvloer te behou.

Onder die eiland is eikehoutlaaie, asook ’n uitstalrak met slim glasskuifdeurtjies. Eiland se blad gemaak van gesinterde klip (saamgeperste klipstof) in Calacatta Silk van Neolith; eetkamertafel van okkerneuthout pasgemaak deur Martin Meyer; stoele van Weylandts; hanglampe van African Affair

Ons is dol hieroor!
Vir trefkrag by die beton-plafon bo die eiland en om die oopplanruimte te help afbaken, het Lydia ’n struktuur van donker staal en eikehoutplanke laat installeer.

Lydia wou ’n glansryke koffiestasie/wynkroeg skep, daarom het sy besluit op die spatpaneel van gepoleerde koper, en donkergroen krytverf op die kasdeure. Die staal-sweefrakke skakel in by die industriële styl in die res van die huis. Installering deur Easylife Kitchens

Hanglampe van African Affair
Dis in die detail
Die geboë siersteen-argitrawe weerspieël die eienaars se persoonlike styl.

Lydia probeer altyd ’n balans handhaaf tussen harde industriële en sagter elemente, daarom het sy die swaar staalrame van die stortdeur gekombineer met ’n klassieke losstaande bad in die hoofslaapkamer se en suite. Stortdeur deur JM Steel Construction; Eikehout-wasbakkas van Cottonwood Trading

Om warmte in te bring by dié groot ruimte met sy wit mure en ontblote balke het Lydia ’n deel van die muur tussen die slaapkamer en sy en suite in ’n donker skakering geverf. Bed van Weylandts; bedkassie van @home; lampe van Woolworths

Lydia het klein Leroux se bed met die hulp van ’n plaaslike skrynwerker gemaak terwyl hulle in Zambië gewoon het.

Twee sleebeddens, ’n antiekwinkel-vonds, het die tema van Emily en Juli se pragtige slaapkamer geïnspireer. Soos in die ander slaapkamers is een muur ongepleister gelaat vir tekstuur; vir ’n ander muur het Lydia hartjies laat sny uit goue viniel wat sy by Maizey Plastics gekoop het. Blou beddegoed van Country Road; laaikas van Big Blue Furniture; lamp van die Irene Market

VERSKAFFERS