Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk • Assistent Suné Esterhuizen

WIE WOON HIER? Suzette Nieuwoudt en haar seuns, Rian (23) en Bennie (30)
WAAR Stilbaai
GROOTTE 140 m²

As vlieënier het Suzette Nieuwoudt die wêreld gesien. Daarom het die moontlikhede eindeloos gelyk toe sy moes besluit op ’n vakansiehuis wat ook eendag haar aftreeplek sou word.

In haar soektog na die perfekte eiendom het sy ’n advertensie gesien van ’n skuurstyl-huis op Stilbaai, en gaan kyk. Geïnspireer deur die baanbreker-vlieënier Amelia Earhart het die eienaars hul dogter Amelia genoem, en die eiendom Amelia House. Suzette het dit as ’n voorteken gesien en daar en dan ’n huurkontrak geteken.

Tien dae later het sy die eiendom gekoop.

“Dié huis is presies soos ek my ideale wegbreekplek voorgestel het,” sê Suzette. Die oopplan-leefarea is perfek vir gesellige kuiers, en sy het ook gehou van die afwerkings wat die oorspronklike huiseienaars gekies het.

1. Die rustieke dubbeldeur by die ingang kom uit ’n ou gebou; dis liggies afgeskuur en verseël om dit teen die elemente te beskerm.

2. ’n Neutrale palet met subtiele teksture en patrone skep ’n rustige atmosfeer in die oopplan-leefarea. Teëls van The Railway House in Kalkbaai verbind dié ruimte met die buite-kuierarea.

Geoff en Gina Ross het die huis in 2012 deur Jack Andrew van Cape Heritage Architecture & Construction laat bou volgens die struktuur van ou Argentynse en Suid-Afrikaanse kerke.

Die interessante ontwerp, asook die afgewitte buite- en binnemure, het Suzette se aandag getrek. Nadat sy en haar seuns, Rian en Bennie, met verloop van tyd hul eie herinneringe in dié lieflike ruimte bymekaargemaak het, is dit nou ongetwyfeld ’n tweede tuiste vir die gesin.

“Hier doen ons alles wat ons nie altyd deur die jaar kan doen nie,” sê Suzette. “Ons gaan strand toe, stap lang ente, geniet luilekker, dekadente maaltye of sit net en lees. Hier sal ons mekaar altyd vind, maak nie saak in watter rigting die lewe ons stuur nie.”

Rondom dié lang eetkamertafel, met sy herwinde kerkbanke vir sitplek, is al menige ete geniet. Die kunswerke bo die kaggel is deur die plaaslike kunstenaar Nadine Hansen en die vuurkonka is gekoop by ’n kunstenaar in Botswana wat metaalplate hergebruik.

In die oopplankombuis kontrasteer die kaste van herwinde rou hout met die sement-werkblaaie en titsels groenigheid. Die werkblaaie is afgewerk met wit emaljeverf en verseël met wit glans-epoksiverf vir ’n gladde voorkoms.

Droë olyf- en amandeltakke dra by tot die rustieke atmosfeer van die kombuis.

’n Swierige spiraaltrap lei na ’n tussenvlak met slaapplek vir gaste.

Nuwe herinneringe

Die gesin is aktief en verken graag die kusdorp en sy omgewing, maar volgens Suzette is Amelia House se oopplan-leefarea die plek waar hulle “onvergeetlike tye” met familie en vriende deurbring.

Die leefarea bestaan uit die kombuis, eetarea en sitkamer.

“Danksy die ontwerp kry die ruimte tonne lig, wat vir my lieflik is,” sê sy. “Al die skakerings van wit weerkaats die sonlig wat hier instroom en dis op sy mooiste teen sononder en saans wanneer die antieke kristalkandelaber in die middel van die dubbelvolume-ruimte die mure laat sprankel.

“Die kombuis is die middelpunt van al die aksie. Dis juis só geposisioneer dat al die leefareas met mekaar skakel,” verduidelik Suzette.

Direk oorkant die kombuis is groot stapeldeure van aluminium en glas wat op die stoep oopmaak. “Dan voel dit omtrent of die tuin deel is van die huis,” sê sy

Ou steierplanke is as vloerplanke gebruik en is liggies geskuur omdat almal hier kaalvoet loop.

Vakansietye vervul die solderruimte verskeie funksies, benewens slaapplek vir gaste. “Saans rol ons die verdonkerblinding voor die ronde venster af om flieks te kyk,” verduidelik Suzette. “Dis ook waar ek wegkruip en tjello oefen. Dalk word dit eendag selfs ’n ateljee waar ek weer in voeling kan kom met my kunstige verlede.” Die herwinde antieke balkonreling en spiraaltrap kom uit ’n gebou in Buenos Aires.

So mooi!
Kunstenaars in Botswana maak dié groot bêrehouers uit ou advertensieborde. “Dit verskaf tekstuur en ’n interessante industriële element,” voeg Suzette by.
Ek kan skaars glo hoe gelukkig ek is om die plekkie my eie te noem. Dit tref my elke keer as ek hier instap. – Suzette

Die hoofslaapkamer spog met ’n luukse losstaande koperbad. Antieke vloerteëls verleen eksotiese styl aan die stortvertrek, een van Suzette se gunstelingruimtes. Nog ’n kamer op die grondvloer verseker daar’s slaapplek vir almal.
Bad en wasbak van Copper Bath; teëls van The Railway House

’n Knus ruimte

Suzette het ’n neutrale palet van hout en effens verweerde skakerings van wit gekies, met tonne ryk tekstuur en subtiele patrone om die ruimte knus in te rig. Steierplanke is deur die hele huis gebruik vir onder meer kasdeure, rakke en kopstukke; dis ook ingespan om tuinbeddings af te baken.

Die dekor bestaan uit ’n kombinasie van voorwerpe uit Suzette se vorige huise in Pretoria en Botswana, haar huidige hoof- blyplek in Swaziland, asook hartsgoed wat sy tydens haar vele reise bymekaargemaak het. “Vir my verteenwoordig die huis hoe kreatief jy kan werk met verskillende items uit verskillende oorde. En dis natuurlik deel van die groter doel: om ’n tuiste te skep – nie net vir nou nie, maar ook vir wanneer ek eendag aftree.

“Ek het nou daardie punt bereik waar ek die voordeur kan oopsluit, instap en ontspan! Die vakansiehuis-sindroom, waar jy met jou aankoms moet afpak en dan weer als moet inpak wanneer jy loop, is iets van die verlede. Ek en my twee seuns beskou Amelia House as ons tuiste; ons woon deur die jaar apart, maar kom so gereeld moontlik hier bymekaar.”

Soos wat ek mettertyd meer stukke ingebring het, het die huis regtig begin vorm aanneem. – Suzette

Die hoofslaapkamer maak op die stoep oop. “Dis lieflik om soggens wakker te word en te luister na die voëls se getjirp in die melkhoutbome,” sê Suzette.

1. Geboë aluminiumraam-vensters kontrasteer met die afgewitte buitemure. Die ontwerp herinner aan dié van ou Argentynse kerke. 2. Groot koffiesakke dien as voordeurmatjie.

KONTAK EN VERSKAFFERS