Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

Bernie het die ou tuinstel op die agterstoep juis gekoop vanweë die verskillende kleure waarin dit geverf is. Die muurtjie het hy om “suiwer estetiese redes” gebou. Dit stut niks nie en sy enigste doel is om die huis karakter te gee. Hy het die ontwerp op karton geteken, uitgesny en toe gebou. Tuinstel van Milnerton-vlooimark; handdoek van The Cotton Company

Die graffiti-bekrapte tafeltjie voor die komvenster in die gastekamer het Bernie by ’n “stokou Chinese omie” in Observatory gekoop. Die stoel het hy gekoop by ’n bergie wat eendag in Woodstock daarmee verbygestap het in ’n winkeltrollie. Een van die pote was af en ’n plaatjie agterop het gelees “Parliament”. Bernie het dit reggemaak en laat oortrek.  

WIE WOON HIER?

Bernie Diedericks

WAAR Villiersdorp

GROOTTE 252 m²


’n Droë wildedaggatak uit die tuin word ’n beeldhouwerk in die son-/eetkamer. Die Queen Anne-tafel is op ’n veiling gekoop en die leeu-beelde op die rak kom uit Indië.

Dié twee lang, smal tafels is toentertyd spesiaal gemaak vir die uitstal van foto’s deur die Kaapstadse fotografievereniging. Vandag dien hulle sy aan sy as eetkamertafel. Stoele van Ashbey’s Galleries

Bernie versamel ou deure en span dit in as muurpanele. Stoele van Gister

Dié keer het Bernie Diedericks byna sy moses teëgekom. Hy het in sy lewe al hoeveel huise gebou of opgeknap en sy hande staan werklik vir niks verkeerd nie, maar met dié kasarm op Villiersdorp was hy ná aan moed verloor.

Die huis, wat hy by die bank gekoop het, het drie jaar lank leeggestaan. “Dit was vieslik, ’n nagmerrie,” sê Bernie. “Ook die tuin was ’n bosgasie; jy kon nie jou voet daarin sit nie.” Nou hoekom dan so ’n stukkende plek hoegenaamd koop? “As jy vir my al die geld in die wêreld gee, maak ek al die ou huise in die wêreld reg. Ek raak kwaad as ek sien hoe plekke agteruitgaan,” sê hy.

“Maar hierdie huis... Ek was nie by my volle positiewe nie! Die dromer in my het nie in gedagte gehou hoeveel dit gaan kos om dit van voor tot agter oor te bou nie. Maar ek het mos delusions of grandeur.”

Bernie het tevore twee huise uit die grond gebou: een op Riebeek-Kasteel in die Swartland, die ander in die Lynedoch-ekodorp buite Stellenbosch. Ses huise het hy opgeknap: in Kaapstad, die Paarl en Greyton, asook drie eenhede op Kylemore buite Stellenbosch.

En toe gebeur Villiersdorp, “want dit was die naaste aan die Kaap wat ek kon bekostig”. Hy het in Maart 2016 met die projek begin en eers drie jaar later, net betyds vir ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, was hy tevrede met sy handewerk. En toe kon Tuis uiteindelik sy nuutste blyplek kom afneem… 

Bernie Diedericks, eienaar, bouer en opknapper, op die voorstoep van sy spierwit Victoriaanse huis. Die “bitterswaar” goue sementleeu langs hom op die muurtjie het hy by Artefact in Wynberg raakgeloop.

Die wasbak op ’n bokkietafel was ’n tydelike oplossing toe Bernie in die onklaar hoofhuis gaan woon het omdat hy die woonstel verhuur het. Hy glo as jy ’n wasbak het, het jy ’n kombuis; die res kan alles losstaande kaste wees. Die swart ster teen die muur is na bewering van metaal uit Tweede Wêreldoorlog-vliegtuie gemaak.

Ek vereenvoudig altyd eers ’n plek en verwyder alles wat dit toe- of volmaak sodat ek van voor af kan begin. – Bernie

In die son-/eetkamer gebruik Bernie ’n bliktrommel wat hy êrens op ’n veiling gekoop het as koffietafel. Rusbank van Onsite Gallery

In die studeerkamer werk Bernie by ’n tafel wat hy op blokkies gesit het, want hy verkies om by ’n hoë tafel te werk (“dit het niks met die tokkelossie te doen nie!”). Die mat was ’n veilingkopie.

Eiesoortige styl

Wanneer ’n mens Bernie se huis binnestap, is dit nie net die gestrooptheid wat jou opval nie, maar hoe slim hy met dekor werk. “Ek verkies funksionaliteit bo estetika. Dinge moet werk, gebruik word. Nie net mooi lyk nie.”

Iemand het jare gelede sy styl as Voortrekker-Zen beskryf; self noem hy dit ’n styl “uit noodsaak gebore”. “Ek gebruik maar net wat ek het. Dit is maar toevallig dat my besittings alles oud is.”

Miskien is sy laaste stelling ’n bietjie te beskeie, want hy is ’n man met ’n oog vir hoe ’n outydse voorwerp ingespan kan word vir ’n aantreklike interieur. Hy het ook ’n onfeilbare oog vir die uitsnuffel van skatte in tweedehandswinkels – ook al is iets stukkend, want dié herstel hy self tot hul eertydse glorie.

Om bruin jou hoofkleur te maak is ’n waagstuk waarmee nie baie mense sukses sal behaal nie. Maar Bernie kry dit perfek reg. “Dis die skoon doek wat die dekor so treffend maak. Dit is soos ’n uitstalruimte of kunsgalery. Mens kan enigiets hier binne sit en dit sal mooi lyk.”

As hy eendag sy droomhuis kan opknap of bou, sal alles net nog eenvoudiger word.

“Ek kan vier mure vat en dit regmaak, dis nie vir my ’n probleem nie. Een muur van bakstene en die ander drie van glas of met vensters. So goedkoop en so mooi as moontlik. En ’n groentetuin is baie belangrik. Eintlik wil ek maar net tuinmaak.”

En mooimaak voor hy weer verkoop en aanbeweeg. Soos nou, want hy het reeds ook hierdie lieflik opgeknapte huis in die mark gesit. “Elke keer dek ek die tafel vir iemand anders.”

Die deure uit die leefvertrekke na die agterstoep was tweedehandse kopies; Bernie het nuwe kosyne daarvoor laat pasmaak.

Prente en houtboks van Milnerton-vlooimark

Tafel en stoel van Wauhaus; plakkaat van mediese skelet van White Elephant Collectables

Soveel vreugde!

Bernie was gewoond daaraan om tydens sy vorige bouprojekte in die chaos te woon, maar hierdie keer het hy heel eerste die buitekamer op die werf omskep in ’n gerieflike enkelwoonstel vir homself. “Ek het nog elke keer in ’n bouval gewoon. Ek woon in die stukkende huis en maak reg rondom my. Maar dit vat aan ’n mens. Hier het ek vir die eerste keer ’n normale lewe gehad terwyl ek gebou het.”

In die oorspronklike huis was drie slaapkamers en twee badkamers. Nou is daar vier slaapkamers en drie badkamers, ingesluit die aparte woonstel. Dié verhuur hy deesdae op Airbnb. “Daar is ook ’n koue buitestort onder die pruimboom vir snikhete somersdae.”

Die spierwit Victoriaanse huis wat  nou in sy eenvoudige glorie pronk, maak hom bly, vertel Bernie.

pronk, maak hom bly, vertel Bernie. “Die gevoel van ruimte en hope natuurlike lig voel vir my amper soos ’n kunsgalery – al die mooi, eenvoudige, skoon lyne.” Hy het nog nooit ’n argitek of tekenaar gebruik nie. “Die planne kom net na my toe. Dis vir my so duidelik soos daglig wat met ’n huis moet gebeur.

“Tussen die sitkamer en ’n gastekamer het ek ’n ou groen ovaal venster ingebou en die oggendlig vang dit besonder mooi. En dan is daar die pragtige agtergrond waarteen die huis gebou is: ’n lowerryke groen straat, omring deur majestueuse berge en ’n tuin vol mossies, suikerbekkies, selfs ’n uil of twee wat party aande kom kuier.

“Ek het eendag op die agterstoep uitgestap om ’n ruskans te vat en toe ek opkyk, was daar twee visarende teen die mooiste blou lug, met die imposante berg op die agtergrond. Ek het nooit besef die uitsig van my agtertuin af sou so mooi wees nie.”

Tafel vir ’n junior klerk van King Olaf op Riebeek-Kasteel; prent van Milnerton-vlooimark; ronde rak van Ashbey’s Auction House

Bernie sê voor hy die ou skuifraamvenster ingesit het, was die hoofbadkamer so donker “jy kon ’n rillerrolprent daarin skiet”.

’n Houttafel is deurgesaag en word in twee badkamers as wasbakblaaie gebruik. Elkeen het nou net twee pote, wat skoonmaak vergemaklik.

Dié slaapkamer het ook ’n nuwe venster gekry. Die tikmasjien en bord teen die muur was ’n geskenk van “’n vriendin met goeie smaak” en die stoel het Bernie by ’n antiekwinkel in Kalkbaai afgerokkel. Hy het die handgemaakte bokkies (met ’n deur as blad) by sy ma geërf.

Kennersraad

Opknapwerk aan ’n huis wat met ongebakte kleibakstene gebou is – soos Bernie s’n – verg spesiale sorg. “As jy enigsins twyfel, vermy enige produkte wat nie beskikbaar was vir die ‘ou mense’ nie!” is Henry Paine, ’n bewaringsargitek en erfenispraktisyn van George, se raad.

Sement Dis belangrik om so min moontlik sement in ou huise te gebruik. Sement word baie hard wanneer dit droog is en is taamlik bros. Dit kleef nie aan klei- of songedroogde stene nie en het nie dieselfde inkrimping- en uitsettingskoëffisiënt nie.

Gebluste kalk, die oudste waterdigtingsmetode vir mure, asook die nokke van grasdakke, is die beste vir buitemure. Dis waterdig, maar anders as gewone verf laat dit die muur toe om asem te haal. Omdat dit teen min of meer dieselfde tempo as ou moddermure of -pleister uitsit en inkrimp, skilfer dit nie af soos ’n moderne verf met ’n PVA-basis nie. Onthou, jy kan nie kalk bo-oor PVA aanwend nie en dit moet hééltemal verwyder word voor jy gebluste kalk aanwend. Die proses moet minstens een keer per jaar herhaal word, maar dis maklik en goedkoop.

BreatheCote is ’n goeie verf vir ’n ou huis se binnemure. Dit bevat geen plastiek nie en haal regtig asem. Die produk werk baie goed op mure met ’n vogprobleem, veral waar die vogwerende laag by die basis al gedisintegreer het. Ernstiger probleme met klammigheid kan wel ’n vogweringslaag vereis.

KONTAK 044 880 1133, henrypainearchitects@gmail.com

Die bed se kopplank en voetstuk was ’n geskenk van ’n voormalige tuinwerker, die 72-jarige Moos Parsley; die deken is vintage-Sanderson. Bernie wil nog die bedkassie, wat uit ’n brandende gebou in Kaapstad gegooi is, restoureer. Soortgelyke Sanderson-reekse te kry by Hertex

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Artefact Antiques & Interiors 021 762 6793

Ashbey’s Galleries 021 423 8060

Bernie Diedericks 082 782 4936

Gister 021 852 4827

Hertex 021 914 3390

King Olaf Furniture & Collectables 082 517 3249

Milnerton-vlooimark 021 551 7879

Onsite Gallery 021 462 1357

The Cotton Company

Wauhaus 021 448 2884

White Elephant Collectables 083 305 8249